Showing posts with label boeke. Show all posts
Showing posts with label boeke. Show all posts

Friday, 3 February 2017

15 Minuut Afrikaans

15 Minuut Afrikaans is 'n wonderlike Afrikaanse Taalprogram wat aan die einde van 2016 deur bekroonde skrywer en Tuisonderwys moeder Marisa Haasbroek geloods is.


15 Minuut Afrikaans is presies net wat dit sê. Dit neem jou slegs 15 minute elke dag om taalwerk te oefen deur 'n storieboek stukkie vir stukkie te ontleed. Die program bestaan uit 'n Onderwysergids en 'n Studentegids. Alles wat jy benodig word saamgevat in die twee boeke. Ek stel egter voor dat jul 'n HAT of HAT Afrikaanse sakwoordeboek aanskaf, indien jul nog nie een het nie. 'n Lyntjieboek moet ook aangeskaf word.

Daar is ook kaartjies wat jy kan uitdruk wat die Woordsoorte opsom vir maklike gebruik en om na terug te verwys. 

Die program bestaan uit 30 lesse (weke). Genoeg om jou die hele jaar besig te hou. Elke les/week word in dae opgedeel. Daar is dus 5 'lesse/dae' binne 'n les/week.

Diegene wat al Fix It Grammar van die IEW (Institute of Excellence in Writing) gedoen het, sal presies die formaat van die program ken. Ek verduidelik kortliks vir diegene wat nie bekend is met dit nie.

Elke week word 'n nuwe woordsoort bekend gestel. Soos bv. week 1 leer die kinders van selfstandige naamwoorde. Elke dag gaan hulle dan 'n sin uit die boek Die klein kleremakertjie word koning gebruik. Uit die sin gaan hul leer om al die selfstandinge naamwoorde te merk. 'n Woordeskat woord word opgesoek en dit word agter in 'n lyntjieboek neergeskryf. Voor in daai boek sal die kinders die sin oorskryf, met al die nodige hoofletters, punte en die regte homofone ens. So word taalwerk happie vir happie bekend gestel en die kind raak vertroud met Afrikaanse taalwerk.



Ons gebruik die program al vir 'n paar weke en geniet dit vreeslik baie. Dit is eenvoudig uiteengesit en daar is niks wat die ouer verder nodig het om te doen behalwe om die nodige lesse uit te druk. Omdat die lesse vinnig gedoen kan word, word die nodige taalwerk geoefen en die kinders raak natuurlik nie verveeld met taal nie. Dit laat natuurlik ekstra ruimte in die dag om ander goed by te voeg en ook te doen.

Kyk gerus na die promo video oor 15 Minuut Afrikaans. Daar is ook 'n Facebook bladsy wat jy van kan gaan hou en skryf ook sommer in op die nuusbrief wat oulike brokkies en ook bonus blokraaisels bevat. 

Ek sal aanbeveel dat die program eers gebruik word na die kinders hul fondasie in Afrikaans vasgelê het. Dit kan egter op enige stadium gebruik word, self hoërskool.

Hierdie is tans een van die Afrikaanse programme wat ek hoogs aanbeveel.

Laaste nota: Omdat die program in elektronies formaat beskikbaar is, vra ek dat julle asseblief die kopiereg hierop sal respekteer dit nie sal aanstuur vir ander mense nie. Indien iemand belangstel laat hulle dit self aankoop. Daar is baie tyd in die samestelling van die program belê.

Lekker leer.

Groete

Maryna


Wednesday, 25 January 2017

Toetentaal Taalkunste Program


Toetentaal Taalkunste Program is 'n nuwe Afrikaanse Taalkunste Program. 

Die program is saamgestel deur Erika Nothnagel en haar moeder. Die program is glad nie in lyn met CAPS nie en gebruik die Charlotte Mason se benadering. Neem kennis ek het geen ondervinding met die Charlotte Mason se program nie, ek kan dus nie uitlating gee oor hoe dit in lyn met die metode is nie.

Die volledige program is gepas vir kinders vanaf graad 4 tot graad 10. Daar sal in totaal ses boeke wees. Huidiglik is boek 1 beskikbaar. Die boeke kan nie net deur Afrikaanse eerstetaal leerders gebruik word nie, maar ook deur tweedetaal leerders vanaf ongeveer 11 jaar oud.

Aangesien ons Boek 1 deurwerk gaan ek ons ervaring en terugvoering oor boek 1 gee. Huidiglik is ek onseker of ons die opvolg boeke gaan doen, afhangende van wat gedek gaan word ens.

Elke boek het verskillende temas. Boek 1 het Kosstories, Reisigers, Grensloos, Het jy geweet...? Elke afdeling is in lesse opgedeel. Jy kan so lank of so vinnig deur die boek werk soos wat nodig is. 

Aangesien my kinders al heelwat ouer is as die teikenmark vir boek 1 werk ons baie vinnig daardeur aangesien konsepte nie nuut is. Ek moet byvoeg dat ons maar 'n paar kort weke aan die boek werk waar ons een les per dag doen (ons het een les uitgerek oor twee dae) en ons het reeds amper helfde van die boek deurgewerk. Jy kan die boek langer behandel deur die voorgestelde boeke voor te lees ens.
Taalwerk word sagkuns deur die loop van 'n tema/eenheid aan die kind voorgestel. Uittreksels uit stories, gedigte ens word verkaf. Daar is ook 'n lys van aanbevele boeke wat aangeskaf kan word. Ek moet net egter noem, dit is nie maklik bekombare boeke nie. Die boeke is nie 'n moet nie en jy kan steeds die program suksesvol voltooi sonder die voorgestelde boeke. Jy kan jou eie boeke ook gebruik. 
Ek moet dit net duidelik maak, (dit is my opinie). Jou kind moet kan lees en skryf voor jul met die boek begin. Alhoewel die ouer alle stukke voorlees sou dit baie moeilik wees om deur die boek te werk sonder die nodige lees vaardighede. As jou kinders dus nou eers met fondasie begin, wag dan eerder eers met die boek.
Ons hou van die navorsings, en dialoog dele. Baie geskiedkundige persone en gebeure word bekend gestel en hulle leer hulle taalwerk, woordeskat, spelling en nog meer sommer sonder dat hulle dit agter kom. 


Ek sou voorstel dat bv. die gonswoorde wat in elke afdeling agter aangegee word, op 'n manier gebruik word as spelwoorde. In my opinie sal spelling apart hanteer moet word en nog sal bygevoeg moet word.

Die taal is suiwer ou Afrikaans. As dit iets is wat jul geniet dan jul van die boek hou. Vir ander kan dit moontlik vreemd wees. 
Die boek is gedruk as hardeband in kleur en bevat die student en onderwyser in een. Al die nodige instruksies is in die boek en ook al die nodige plekke vir die kind om antwoorde neer te skryf. Indien jy die boek wil hou vir verdere kinders, sou ek eerder aanbeveel dat die kind dan in 'n aparte lyntjie boek skryf.

Die Facebook bladsy vir Toetentaal en dan ook die webwerf vir Toetentaal. Jy kan ook 'n e-pos stuur vir meer les voorbeelde en om bestellings te plaas aan toetentaaltuisskool@gmail.com. 


As 'n laaste punt, ek het die boek gratis ontvang om te evalueer en my eerlik terugvoering oor die program te gee. Dit is hoe ons die boek ervaar en dit is my eie persoonlik opinie. Ander sal verskil wie se kinders heelwat jonger is. Gaan kyk na die voorbeelde en doen 'n toetslopie om self te bepaal of die program reg is vir jou kinders. 


Lekker leer.

Groete

Maryna

Nota: ek het die skrywe opgedateer op 7 Feb 2017.


Sunday, 27 November 2016

Boek loer: Somme(r) Pret (Wiskunde)

Tuisonderwys moeder Lizelle Rademeyer het 'n oulike reeks boekies saamgestel vir Wiskunde Pret aka Somme(r) Pret.

Die reeks bestaan uit vier boekies: (Informasie geneem uit Lizelle se blog)
Somme(r) Pret Begin is vir 5-6 jariges. Dit fokus op tel, getalbegrippe en ander basiese vaardighede waarop wiskunde van graad 1 af gebou word.
Somme(r) Pret 1 bevat graad 1 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-20)
Somme(r) Pret 2 bevat graad 3 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-100, maaltafels van 1 tot 5 en 10.) – Daar is heelwat in Somme(r) Pret 2 wat graad 2 kinders sal geniet, maar omdat hulle nog die 3 en 4 maaltafels geleer het nie is daar aktiwiteite in wat hulle nog nie sal kan doen nie.
Somme(r) Pret 3 bevat graad 6 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-999, maal en deel tot die 12 maaltafel en breuksomme) – Daar is heelwat in Somme(r) Pret 3 wat graad 4 en 5 kinders sal geniet, maar omdat hulle nog net maaltafels tot 10x doen en eenvoudiger breuksomme is daar aktiwiteite in wat hulle nog nie sal kan doen nie.

Lizelle Rademeyer was so gaaf gewees om Boek 3 aan ons beskikbaar te stel om 'n gevoel te kry van hoe die boek is en wat die kinders daarvan dink. Ek moet egter net bynoem dat my kinders wel bietjie ouer is, maar ek steeds van die aktiwiteite gekies en vir hul gegee om te doen.


Hier is 'n paar voorbeelde uit die boekie.



Wat dink ons van die boekie? Dit is baie goed uiteengesit. Lizelle het ongelooflik baie moeite gedoen met die samestelling van die boekie en aan alles probeer dink wat nuttig en prettig sal wees. Dit bevat ook die nodige instruksie van wat gedoen moet word en ook antwoordbladsye. Die kinders sê dat dit lekker aktiwiteite is.

Die boekie is ideaal om sommer oor die vakansie tyd te gebruik te word of vir ekstra verryking. 

Vir meer inligting oor al die boekies, volledige uiteensetting en meer voorbeelde gaan loer gerus op haar blog en ook op haar Facebook bladsy. Jy kan ook die boekies bestel deur 'n e-pos te stuur aan info@lomi.co.za. 

Alhoewel die boekies 'n digitale produk is vra ons dat ouers asseblief die Kopiereg sal respekteer en die tyd in ag neem wat Lizelle daaraan spandeer het. Moet dit dus nie vir mekaar aanstuur nie, ondersteun haar en koop jou eie kopie aan.

Neem kennis ek kry geen beloning vir my terugvoering oor die boekies nie, dit is slegs my eie opinie.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Thursday, 26 May 2016

Boekloer: Ensiklopedie van Kennis

Boekloer oor die Ensiklopedie van Kennis - Alles wat jy oor die wêreld wil weet.

Dit is 'n pragtige groot volkleur boek. Dit bestaan uit die volgende afdelings (altesaam 360 bladsye):

Ruimte: Die Heelal, Ruimteverkenning

Aarde: Planeet Aarde, Tektoniese Aarde, Die Aarde se bronne, Weer, Vorming van land, Aarde se Oseane

Natuur: Hoe lewe begin het, Die lewende wêreld, Ongewerweldes, Werweldiere, Geheime van oorlewing

Menslike Liggaam: Basiese Liggaamsfeite, Aandrywing van die liggaam, In beheer, Lewensiklus

Wetenskap: Materie, Kragte, Energie, Elektronika 

Geskiedenis: Die Antieke Wêreld, Die Middeleeuse Wêreld, Die Era van Ontdekkings, Die Moderne Wêreld

Dan is daar ook agter in die boek, naslaanbronne en 'n woordelys.

Hieronder is voorbeelde uit die boek om vir julle te wys hoe dit lyk.

Voorbeeld uit die gedeelte oor Soogdiere
Voorbeeld uit die gedeelte van die Skelet

Voorbeeld uit die afdeling oor Materie
Voorbeeld ut die afdeling oor Die Middeleeuse Wêreld
Hierdie boek is geskik vir jonk en oud. Daar is onderwerpe wat baie jong kinders moontlik nie kan verstaan nie. Die boek is baie goed uiteengesit met baie besonderhede.

Die Ensiklopedie van Kennis kan maklik as 'n steunboek gebruik word en nog meer lesse kan om 'n onderwerp uitgewerk word om nog dieper daarin te delf.

Ek beveel die boek hoogs aan vir almal.

Lekker lees en leer.

Groete

Maryna

Friday, 15 January 2016

Boekloer: Kominpas met Afrikaans

Kominpas met Afrikaans is werklik 'n handige boek.

Dit is saamgestel deur Onderwysers vir Graad 4 tot 7. Daar is 'n huistaal en tweedetaal uitgawe van die boek beskikbaar.

Hierdie is een van daai wat ek glo, 'n moet boek. Die boek dek 'n goeie basis van taalwerk. 

Dit dek onder taalleer; alfabetisering, woordeboekgebruik, klankleer, spelling, hoofletters en lettergrepe, woordvorming, woordsoorte, sinsleer, betekenisleer, woordeskat en afkortings.

Dit dek ook leesvaardigheid, letterkunde - prosa en poësie.

Onder is voorbeelde uit die boek.

Leestekens

Intensiewe vorme

Lydende en Bedrywende vorm
 Die leer van Afrikaanse taalwerk toegepas word uit leesstukke. Jy kan self van die Bybel gebruik maak. Ek stel voor om altyd eers een konsep op 'n slag bekend te stel en later aan te gaan sodra die kinders dit volkome verstaan. Maak seker hul hou aan hersien.

Hier is kaartjies wat ek gemaak het vir woordsoorte, opgesom in 'n neutedop.

Jy kan Kominpas aankoop deur Takelot.com.

Groete

Maryna

Wednesday, 13 January 2016

Boekloer: Pharos AWS

Ek het onlangs die nuwe Pharos: Afrikaanse Woordelys en Spelreëls aangeskaf. (10de Omvattende herbewerkte uitgawe)


As jy 'n boek soek wat vir jou die Afrikaanse Spelreëls goed uiteensit is die AWS beslis die boek om te hê. Dit dek natuurlik nie net die spelreëls nie maar ook 'n goed saamgestelde woordelys, afkoringslys, buitelandse geografiese name met afleidings en nog meer.

Onder is 'n paar voorbeelde uit die boek van wat om te verwag.


Spelreëls
Spelreëls
Woordelys

Afkortings
Geografiese name
Wanneer jul die spelreëls en woordsoorte aan die kinders leer, pas dit op skryfstukke toe. Moet nie dat hul net tonne bladsye hier invul en daar invul nie. Gebruik 'n leesstuk en laat hul dit redigeer. Dus gaan jy die tyd moet neem om foute in 'n stuk te plaas sodat hul dit reg maak. Stel elke nuwe reël een vir een bekend en laat hul dit beoefen tot hul vertroud is daarmee voor jy na die volgende een gaan. Onthou om steeds die ou reëls wat reeds bekendgestel was te hersien. 

Ek sal met verloop van tyd kort opsommings kaartjies maak van die spelreëls soos wat ek vir die woordsoorte gemaak het.

Ek hoop die AWS sal van nut wees.

Groete

Maryna


Wednesday, 30 September 2015

Boekloer: Blokraaisels vir Aapsterte

'n Baie goeie en oulike manier om kinders te help met hul woordeskat en spelling is deur blokraaisels te voltooi.

My kinders geniet die boek vreeslik. Ons het na aanbeveling van Lindi Malan van Beithasefer die boek aangeskaf. Ons het egter besluit om eers boek drie te probeer.



Ek het die antwoord gedeeltes in die boek uitgehaal sodat die kinders nie na dit kan loer nie. Ons doen dit saam en die kinders kry elkeen 'n beurt om te lees en te antwoord. Ek kan al klaar 'n verbetering in hul spelling sien.


Voorbeeld uit die boek
Sodra daar iets nuuts opkom wat ons dalk nie behandel het nie, staan ons 'n oomblik stil by dit en ons bespreek dit.


Antwoorde vir elke blokraaisel
Die boek het vyftig blokraaisels in en daar is tans drie boeke in die reeks.

Opdateer Julie 2017: Blokraaisels vir Aapsterte is ongelukkig uit druk uit. Jy kan egter die boekies Blokkies vir Slimkoppies in e-formaat HIER bestel. Dit is saamgestel deur dieselfde dame wat Blokraaisels vir Aapsterte saamgestel het.

Gee dit gerus 'n kans.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Thursday, 30 April 2015

Gunstelling kurrikulum wat werk!

Ek het in die jare wat ons Tuisonderwys werklik al baie boeke aangekoop. Sommiges was goed, sommiges nie so goed. 

Ons het ook al 'n paar verskillende kurrikulums probeer van verskeie buitelandse verskaffers. Ek deel graag ons gunstelling en beste beleggings wat ons nog gemaak het.

My top twee gunstellinge is Math U See Wiskunde program en Fix It! Grammar van die IEW (Institute Excellence in Writing).

Hoekom is hierdie gunstellinge? Want dit werk! My kinders is elke dag opgewonde om albei hul Wiskunde en Grammatika werk te doen. Hulle leer daaruit, bou daarop en onthou dit. Die vrugte word gepluk van albei die programme, ek sien hoe hulle vorder. Daar was nog nie een dag waar ons wou hare uit ons koppe trek oor enige van die vakke nie.

Dink hieroor:Daar is so baie programme wat oulik is, die kinders kan dit getrou elke dag doen. Eendag probeer jul weer terug gaan na iets wat 'n ruk terug behandel was en dan onthou hul niks. Dit is die laaste ding wat enige ouer wil hê. Daai vaslegging van iets is so belangrik. Daarom geniet ons MUS en Fix It so baie, want hulle onthou alles.

Ek moet erken ek self leer ook so baie met die programme.

Die aankoop kostes is gewoonlik prysig, maar dit is elke sent werd. MUS kan aangekoop word deur Oikos wat in Howick is. Hul lewer sommer binne 'n paar dae by jou deur af. Fix it moet jy egter van oorsee bestel. Gee jouself meer as 'n maand. Ek het die hele reeks op een slag bestel om posgeld te bespaar. 

Ons probeer soveel as moontlik om nie heeltyd boekwerk te doen nie, maar te leer deur te ontdek en dieper in verskillende onderwerpe te delf. Ons maak ook baie gebruik van speletjies, allerhande soorte. Dit sluit taalwerk in ;)


Wat is julle gunstelling? Gesels laat ons hoor :)

Groete

Maryna

Boek: Papier vliegtuie

Na 'n besoek aan ons plaaslike Bargain Books het Matthew hierdie oulike boek gesien oor papier vliegtuie. Nes enige seun wil hy net goed bou en maak. As dit van papier is, nog beter.

Die boek is baie eenvoudig saamgestel. Dit begin met die basiese stap vir stap voue. Dit beweeg aan na meer ingewikkelde vliegtuie. Agter in die boek is daar speletjies wat jy met die vliegtuie kan speel. Daar is verskeie bladsye met pragtige gedrukte patrone wat hul kan uitskeer om die vliegtuie mee te bou.

Alles wat benodig word is in die boek. Indien jou kind jonk is en nie kan lees nie, is dit nie 'n probleem aangesien alles met prentjies aangedui word. Die ouer kan die speletjie instruksies vir die kind voorlees. Die boek is werklik 'n fees vir enige seun of dalk dogter ;) 

Basiese voue
Verskeie speletjies wat gespeel kan word.



Papier om die vliegtuie mee te bou.



Van die items wat in die boek ingesluit is.


Die boek is 'n oulike geskenk idee. Daar was 'n groot verskeidenheid boeke van papiervliegtuie, hierdie was die een wat ons egter nou gekies het. Gaan loer bietjie by Bargain Books, daar is oulike boeke. 

Geniet dit!

Groete

Maryna

Monday, 2 February 2015

Boek loer: Waar kom babas vandaan?

Ek is seker dat meeste ouers slaan behoorlik in sweet uit as dit by die onderwerp van babas en seks kom. Hoe vertel jy vir jou kind sonder om jou kind te laat kopkrap of jouself so opwerk dat jy skaars kan asemhaal.Dan praat ons nie eens van bloos van oor tot oor nie.

Ek het hierdie oulike boek Kom ons praat oor waar babas vandaan kom deur Robbie H. Harris lank gelede by Bargain Books raak geloop.

Kom ons praat oor waar babas vandaan kom
Ek gaan nie jok nie, ek het dit baie lank uitgestel en het werklik baie opgesien na hierdie onderwerp. Die boek is baie oulik, maar hierdie ma was net nie reg vir dit nie. Ek meen ek wil mos hê my kinders moet in 'n mate onkundig en onskuldig bly. Ongelukkig is die realiteit dat hulle groot word en ons moet dit aanvaar.

Ek het onlangs die onderwerp aangedurf. Ek het self die boek vir die kinders gelees en dit het baie goed verloop. Hulle het alles verstaan en wou net meer weet. Dit was toe glad nie so erg as wat ek gedink het nie. Niks sweet op my voorkop en geen rooi gesigte.

Hier onder is 'n kykie na die inhoudsopgawe.

Inhoudsopgawe
Inhoudsopgawe

Die boek is in 'n mate soos 'n strokiesprent maar ook nie heeltemal. Die prentjies is oulik geillustreer. Die karakters is 'n voëljie wat alles wil weet en 'n bytjie wat niks wil weet. Die voëltjie is glad nie skaam en die bytjie wil net heeltyd weghardloop.

Daar word eenvoudig vir die kinders verduidelik wat alles is, hoe alles werk, die wat en die hoekom en waarom. Dit is smaakvol verduidelik. Die boek verduidelik ook mooi dat seks vir grootmense is wat getroud en lief is vir mekaar. 

Die eier se ongelooflike rit
 Ek het nog nooit enige ander sulke tipe boeke onder oë gehad nie, kan dus nie vergelyk nie. Maar ek glo as daar nou werklik een boek is wat ek vir enige iemand kan aanbeveel is dit die een. As jy vir jou kinders die blomme en bye moet vertel KRY DIE BOEK!

Die boek is geskik vir kinders tussen 8 en 12 jaar. Maar ek sal voorstel wag tot jou kind werklik emosioneel en verstandelik reg is vir die onderwerp. Eerder van so 10 of 11 jaar. (is net my opinie)

Voorspoed en laat weet hoe dit gegaan het.

Groete

Maryna

Tuesday, 21 October 2014

Natuurwetenskappe Graad 4 tot Graad 12

Vir diegene wat moontlik van die CAPS boeke wil gebruik maak. Hier is die skakels na GRATIS e-boeke.

Graad 4 tot 6 Thunderbolt kids - Studente en Onderwysergids

*Graad 7 - MTS Workbooks Natuurwetenskappe (aanlyn in Afrikaans)
*Graad 7 - MTS Workbooks Tegnologie (aanlyn in Afrikaans) 
*Graad 8 - MTS Workbooks Natuurwetenskappe (aanlyn in Afrikaans)
*Graad 8 - MTS Worksbooks Tegnologie (aanlyn in Afrikaans)
*Graad 9 - MTS Worksbooks Natuurwetenskappe (aanlyn in Afrikaans)
*Graad 9 - MTS Worksbooks Tegnologie (aanlyn in Afrikaans)
**Graad 10 - Everything Science (in Afrikaans)
**Graad 11 - Everything Science (in Afrikaans)
**Graad 12 - Everything Science (in Afrikaans)

*Neem kennis: Die MTS Workbooks vir Tegnologie en Natuurwetenskappe Graad 7 tot 9 se skakels soos hierbo is om die aanlyn weergawe te sien. Indien jy die pdf boeke wil aflaai gaan na die skakel Aflaaibares
**Neem kennis die Graad 10 tot 12 Everything Science boeke in Afrikaans - Aan die regterkant is die skakel na die pdf Afrikaanse Handboek en Onderwyserboek.

Vertrou hierdie sal van nut wees vir iemand.

Groete

Maryna 

Skakels opgedateer 25 Augustus 2015

Monday, 4 August 2014

Boek loer: Geheimenisse van die Natuur en die Wetenksap

Dit is geen geheim dat ons 'n voorliefde vir Wetenskap het nie. Die wêreld is so ongelooflik en daar is so baie om te ontdek.


Die boek Geheimenisse van die Natuur en die Wetenskap uitgegee deur Protea is 'n ongelooflike boek. Die fotos is uit die boonste rakke, kleurvol en propvol inligting. Op elke bladsy kan jy ook verder gaan soek by die internetskakels vir verdere inligting, videos en nog veel meer.

Die boek bestaan uit twee dele: Geheimenisse van die natuur en Geheimenisse van die Wetenskap.
Onder die natuur kan jy vind: Voeding; Beweging; Aanval; Verdediging; Verhoudings; Kommunikasie; Lewensloop; Tuistes; Uiterstes; Sintuie en spesial kenmerke.
Onder die wetenskap kan jy vind: Van nader gesien; Maar dis mos materie; Reg en weg; Bewegende molekules; Briljante vonke; Sien die lig; Tegnologiese praatjies en Beheerliggaam.

Die boek is 'n stewige 224 bladsye.

Sien hieronder 'n paar voobeelde uit die boek.


Vleisvretendeplante
Hier kan jy 'n video sien hoe die vlieëvanger sy prooi vang.


Glip en gly
Hierdie video wys vir ons hoe geitjies aan 'n muur kan 'vas plak'.



Goggas


Piepklein Pioniers
In die video hieronder kan meer sien oor die Afrika besie.



Robotte

Die Robotte kom!
In die video hieronder is 'n voorstelling van hoe robotbye tot die mensdom se redding sal kom.


Van die videos wat ek hierbo gewys het en nog baie meer kan alles gevind word by die skakels in die boek. 

Ons lees gereeld uit die boek en kyk na al die videos en verken die onderwerpe. Werklik een van ons gunsteling boeke.

Geniet dit!

Groete

Maryna

Monday, 3 February 2014

Boek loer: Maak Spelling Maklik

Maak Spelling Maklik deur Elsabe Visser gepubliseer in 1993 is seker een van min skatte vir die Afrikaanse Taal. Veral as dit by spelling probleme kom.

Die boek is hoofsaaklik saamgestel om jonger kinders te help met verskeie spelling probleme, maar kan maklik aangepas word om ouer kinders ook te help. 

Dit is wat jy in die boek sal vind:

1. Inleiding
2. Spellingprobleme en hoe dit behandel kan word.
2.1. Voorbeelde van kinders se spellingfoute
2.2 Stappe wat gevolg kan word ten opsigte van die remediëring van spelling
3. Voorbereiding
3.1 Ouditiewe persepsie (waarneming)
3.2 Visuele persepsie (waarneming)
4. Die aanleer van klanke
4.1. Diagnostisering van probleme
4.2. Die remediëring van klanke
4.3. Kort en lang klanke
4.4 Dubbelklanke
4.5. Die uitspreek van klanke en woorde
4.6. Konsonantgroeperings
5. Lettergreepverdeling
6. Spellingreëls
6.1. Die gebruik van e en i
6.2. Woorde wat op -ig, -ik, en -ing eindig.
6.3. Woorde wat op -ng eindig.
6.4. Woorde wat op -d, of -t eindig.
6.5. Woorde wat op -rm en -lm eindig.
6.6. Verkleinwoorde
6.7. Geslote lettergrepe
6.8. Oop lettergrepe
6.9. Hersiening van spellingreëls wat tot dusver behandel is
6.10. Die gebruik van i of ie in woorde.
6.11. Kappies en deeltekens.
6.12. Die gebruik van f en v
6.13. Die ei/y verwarring
6.14. Sigwoorde
7. Die lees en skryf van lang woorde met toepassing van die spellingreëls.
7.1. Twee medeklinkers
7.2. Een medeklinker
7.3. Die implementering van die reëls.
7.4. Woorde

Hier is 'n voorbeeld uit die boek in die afdeling Spellingprobleme en hoe dit behandel kan word.

naby kyk na die voorbeeld

Hoe spelling probleme behandel word

Klanke

Hierdie is nie 'n werkboek vir 'n kind nie, maar 'n hulpmiddel vir die ouer/onderwyser. Dit is werklik 'n wonderlike boek om te besit. Jy sal nie spyt wees nie. Die boek het oulik idees om spelling te oefen, hoe om blokraaisels te maak, hoe om te help met die b en d verwarring en nog baie meer.


Jy kan die boek aankoop van Beithasefer deur 'n e-pos te stuur aan info@beithasefer.co.za .

Geniet dit.

Groete

Maryna

Friday, 24 January 2014

Boek loer: HAT Aktiwiteite en speletjies boek



Die HAT Aktiwiteite en speletjies by die Afrikaanse skoolwoordeboek en Afrikaanse sakwoordeboek. Die boek is 'n hulpmiddel om met die bogenoemde boeke vertroud te raak.

"Elke werkblad mag gekopieer en na willekeur gebruik word om leerders se woordeskat en spelvermoë uit te brei en hulle speel-speel verskillende soorte inligting uit woordeboeke te leer ontsluit..."

Wat is in die boekie:
- Leer die woordeboek ken (alfabetiese oefeninge)
- Leer om reg te spel
- Ontwikkel 'n begrip van die grammatiese funksies van woorde (bepaal 'n woordsoort)
- Betekenisse van woorde (onderskei tussen definisies)
- Homonieme en homofone
- Hoe woorde gebruik kan word (meervoude, verkleining ens)
- Subtrefwoorde wat met 'n hooftrefwoorde verband hou (bv. musikant en musiek)
- Blokraaisels
- Woordsoek

Voorbeelde van die boekie binne
Hierdie boek is geskik vir kinders vanaf ongeveer Graad 4. Dit is 'n oulike hulpmiddel om kinders te help en kan vir ons ook 'n goeie basis verskaf om soortgelyke aktiwiteite saam te stel.

Daar is nog gratis woordaktiwiteite en speletjies op Pearson se webblad. Registreer gratis op hul blad om toegang tot die aflaai bladsye te kry. Daar is ook aanlyn speletjies.


Voorbeeld van Blokraai speletjie op die webblad

Voorbeeld van Pasmaats speletjie op die webblad


Die boek is A4 grootte met ongeveer 30 bladsye. Die antwoorde/oplossings kan agter in die boek gevind word.

Elke Tuisonderwys ouer moet 'n HAT besit :)

Lekker soek.

Groete

Maryna