Showing posts with label Kurrikulum. Show all posts
Showing posts with label Kurrikulum. Show all posts

Wednesday, 12 July 2017

Woorde met Woema Kursus

Tuisonderwys moeder en skryfster Marisa Haasbroek het vir ons nog 'n wonderlike Afrikaanse kursus saamgestel, Woorde met Woema.

Die mini-kurus is so pas geloods. Hier kan ons 'n insig kry van wat haar volledige kursus gaan bied. Ek het deur die mini-kursus gewerk en dit is absoluut puik. Nes die 15 Minuut Afrikaans kursus het Marisa alles ingesit om ons wat Tuisonderwys te help in Afrikaans. Dit neem nie baie tyd nie en dit is 'n prettige kursus.

Wat presies is Woorde met Woema? Dit is 'n Afrikaanse skryfkursus vir kinders (maar ma kan ook baie daaruit leer).  Hul neem 'n kort sin (wat deel uitmaak van 'n storie) en kikker dit 'n bietjie op in 'n unieke opwinende storielyn.

Kyk na die Woorde met Woema bekendstellingsvideo.


Die mini-kursus is GRATIS. Ja totaal gratis. Die volledige kurus is in werking en sal eersdaags te koop beskikbaar wees. Moet nie die een mis nie. 

Skryf HIER in by die gratis mini-kursus. 

Lekker leer.

Groete

Maryna

Thursday, 6 July 2017

Slakkepas deur die jaar

2017 Het verseker sy uitdagings opgelewer. Nie net op die huis front nie maar selfs in Tuisonderwys. Daar is so baie dinge wat eenvoudig net nie gewerk het nie en met ander is ons nog nie nastenby waar ons, of altans ek wou gewees het nie.

Het jul al ooit ook so gevoel? Jy het jou plan en jy is seker dit gaan so vir jou werk. Voor jy jou oë uitvee het jy of dinge verander, of jy het nie eens by iets uitgekom nie.

Ons is in die helfde van die jaar en in sekere vak areas het dit goed gegaan. In ander was dit nie so suksesvol.

Ons het 'n baie groot verandering in een van ons kurrikulums gemaak, Twee keer! Ja, wraggies, twee keer verander. Was die eerste verandering die regte een, ek is nie so seker, kon dalk harder probeer het. Die tweede verandering was 'n moet, dit was eenvoudig een van daai kop teen die muur stamp slegte besluite om dit in die eerste plek aan te pak. Ek het egter baie navorsing gedoen en 'n besluit geneem. Ek sal oor 'n paar weke meer hieroor deel.

Hoe verloop jou jaar sover? Is jul waar jy gehoop het jul gaan wees? Het jul 'uit' gegooi? Iets nuut in gebring? Deel bietjie jul ervarings.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Wednesday, 17 May 2017

Wat regverdig kurrikulum kostes?

Elke jaar koop ons almal moontlik duisende rande se kurrikulum of verskeie boeke om in ons Tuisonderwys te gebruik.

Dit is geen geheim dat die pragtige kurrikulums met al sy bygevoegde boeke en addisionele bronne meestal van Amerika af kom. Ons monde water behoorlik as ons sien wat alles daar buite beskikbaar is. Bob Jones, Abeka, IEW, Apologia net om 'n paar te noem. Die boeke word gewoonlik saamgestel deur 'n span kenners.

Vir ons om kurrikulum van oorsee aan te koop, beteken nie net boeke in dollar pryse nie, maar natuurlik ook die kostes om dit in Suid Afrika te kry en dan ook doeane kostes. Dit is genoeg om enige persoon te laat sidder of twee keer te laat dink. Tog is ons steeds bereid om daai kostes te betaal. Ons moet in ag neem dat hierdie boeke deur massaproduksie gedruk en versprei word. Duisende boeke word elke jaar verkoop.

Kom ons kyk na ons plaaslike kurrikulum/boeke verskaffers. Hier verwys ek nie na die gewone CAPS boeke ens. Ek verwys na boeke wat Tuisonderwys moeders saam gestel het. Daar word menigte ure in die saamstel van boeke gespandeer. Tyd wat daai moeder saam met haar kinders kon spandeer het (ja, die ander vat ook tyd, alhoewel die ander groot name dit voltyds vir 'n lewe doen). Baie navorsing wat gedoen moet word. Hierdie alles om te verseker dat ons wat in Suid Afrika die produkte aankoop gelukkig sal wees met wat ons ontvang. Hierdie kurrikulum/boeke/kursus is nie massaproduksie nie. Die word op aanvraag gedruk met groot koste uitgawes. Dit word noukeurig verpak en aangestuur.

Wat regverdig die kostes van die plaaslike kurrikulums in vergelyking met buitelands? Dit is bloot die reg op keuse.

Kom ons kyk gou na net 'n paar om te noem 15 Minuut Afrikaans, Footprints of our Land, Omvattende Afrikaans, Toetentaal Afrikaans en Somme(r) Pret (skuus as ek iemand uitlaat) Ons kan probeer vergelyk dat 'n jaar studie boek met Studenteboek en Onderwyser van Platinum bv. R400 sal kos. Waar 'n program soos 15 Minuut Afrikaans wat ook oor 'n jaar strek ook net oor die R400 sal kos. Maar dan bv. 'n engelse skryfprogram sal jou 'n paar duisend uit die sak ruk as jy dit van oorsee bestel.

Indien jy 'n plaaslike Tuisonderwys moeder wil ondersteun of dalk net eenvoudig daai spesifieke program gebruik. Hou die volgende in gedagte voor jy dalk voel die prys is nie bekostigbaar nie.
- Is die boeke gedruk en hoe?
- Word dit per aanvraag gedruk? Boeke wat honderde op 'n slag gedruk word kos goedkoper, dit is egter net nie prakties vir die Tuisonderwys ouer of samesteller om dit te doen tensy jou beursie nie 'n bodem het nie.
- Waaruit bestaan die program?
- Oor hoe lank tydperk strek die program?
- Kan 'n opvolg kind dit weer gebruik?
- Uit hoeveel bladsye bestaan die program? Wat het jy addisioneel nodig?
- Indien 'n elektroniese formaat beskikbaar is, hou in gedagte dat jy geen posgeld op dit betaal nie en is dadelik beskikbaar.

Baie ouers koop boeke aan met die wete dat hul dit weer kan verkoop. Sommiges voel dat elektroniese boeke nie die prys waardig is omdat hul 'niks' weer daaruit kan kry. Jou kind het egter 'n hele jaar se kennis ontvang danksy 'n ander ouer se deursettings vermoë. As jou kind in 'n publieke skool was, sou jy ook niks terug kry na jy 'n jaar R20000 plus aan net skoolfonds betaal het nie, behalwe 'n rapport en 'n kind wat hopenlik gevorder het.

Ondersteun gerus om plaaslike kurrikulum/boek/kursus verskaffer. Hul skryf die produkte juis vir ons wat Tuisonderwys.

Ek sal graag julle insette wil hoor.

Groete

Maryna

NB: Indien jy 'n produk elektronies koop, moet dit asb nie aangestuur vir iemand anders nie. Respekteer die kopiereg daarop.

Friday, 3 February 2017

15 Minuut Afrikaans

15 Minuut Afrikaans is 'n wonderlike Afrikaanse Taalprogram wat aan die einde van 2016 deur bekroonde skrywer en Tuisonderwys moeder Marisa Haasbroek geloods is.


15 Minuut Afrikaans is presies net wat dit sê. Dit neem jou slegs 15 minute elke dag om taalwerk te oefen deur 'n storieboek stukkie vir stukkie te ontleed. Die program bestaan uit 'n Onderwysergids en 'n Studentegids. Alles wat jy benodig word saamgevat in die twee boeke. Ek stel egter voor dat jul 'n HAT of HAT Afrikaanse sakwoordeboek aanskaf, indien jul nog nie een het nie. 'n Lyntjieboek moet ook aangeskaf word.

Daar is ook kaartjies wat jy kan uitdruk wat die Woordsoorte opsom vir maklike gebruik en om na terug te verwys. 

Die program bestaan uit 30 lesse (weke). Genoeg om jou die hele jaar besig te hou. Elke les/week word in dae opgedeel. Daar is dus 5 'lesse/dae' binne 'n les/week.

Diegene wat al Fix It Grammar van die IEW (Institute of Excellence in Writing) gedoen het, sal presies die formaat van die program ken. Ek verduidelik kortliks vir diegene wat nie bekend is met dit nie.

Elke week word 'n nuwe woordsoort bekend gestel. Soos bv. week 1 leer die kinders van selfstandige naamwoorde. Elke dag gaan hulle dan 'n sin uit die boek Die klein kleremakertjie word koning gebruik. Uit die sin gaan hul leer om al die selfstandinge naamwoorde te merk. 'n Woordeskat woord word opgesoek en dit word agter in 'n lyntjieboek neergeskryf. Voor in daai boek sal die kinders die sin oorskryf, met al die nodige hoofletters, punte en die regte homofone ens. So word taalwerk happie vir happie bekend gestel en die kind raak vertroud met Afrikaanse taalwerk.



Ons gebruik die program al vir 'n paar weke en geniet dit vreeslik baie. Dit is eenvoudig uiteengesit en daar is niks wat die ouer verder nodig het om te doen behalwe om die nodige lesse uit te druk. Omdat die lesse vinnig gedoen kan word, word die nodige taalwerk geoefen en die kinders raak natuurlik nie verveeld met taal nie. Dit laat natuurlik ekstra ruimte in die dag om ander goed by te voeg en ook te doen.

Kyk gerus na die promo video oor 15 Minuut Afrikaans. Daar is ook 'n Facebook bladsy wat jy van kan gaan hou en skryf ook sommer in op die nuusbrief wat oulike brokkies en ook bonus blokraaisels bevat. 

Ek sal aanbeveel dat die program eers gebruik word na die kinders hul fondasie in Afrikaans vasgelê het. Dit kan egter op enige stadium gebruik word, self hoërskool.

Hierdie is tans een van die Afrikaanse programme wat ek hoogs aanbeveel.

Laaste nota: Omdat die program in elektronies formaat beskikbaar is, vra ek dat julle asseblief die kopiereg hierop sal respekteer dit nie sal aanstuur vir ander mense nie. Indien iemand belangstel laat hulle dit self aankoop. Daar is baie tyd in die samestelling van die program belê.

Lekker leer.

Groete

Maryna


Wednesday, 25 January 2017

Toetentaal Taalkunste Program


Toetentaal Taalkunste Program is 'n nuwe Afrikaanse Taalkunste Program. 

Die program is saamgestel deur Erika Nothnagel en haar moeder. Die program is glad nie in lyn met CAPS nie en gebruik die Charlotte Mason se benadering. Neem kennis ek het geen ondervinding met die Charlotte Mason se program nie, ek kan dus nie uitlating gee oor hoe dit in lyn met die metode is nie.

Die volledige program is gepas vir kinders vanaf graad 4 tot graad 10. Daar sal in totaal ses boeke wees. Huidiglik is boek 1 beskikbaar. Die boeke kan nie net deur Afrikaanse eerstetaal leerders gebruik word nie, maar ook deur tweedetaal leerders vanaf ongeveer 11 jaar oud.

Aangesien ons Boek 1 deurwerk gaan ek ons ervaring en terugvoering oor boek 1 gee. Huidiglik is ek onseker of ons die opvolg boeke gaan doen, afhangende van wat gedek gaan word ens.

Elke boek het verskillende temas. Boek 1 het Kosstories, Reisigers, Grensloos, Het jy geweet...? Elke afdeling is in lesse opgedeel. Jy kan so lank of so vinnig deur die boek werk soos wat nodig is. 

Aangesien my kinders al heelwat ouer is as die teikenmark vir boek 1 werk ons baie vinnig daardeur aangesien konsepte nie nuut is. Ek moet byvoeg dat ons maar 'n paar kort weke aan die boek werk waar ons een les per dag doen (ons het een les uitgerek oor twee dae) en ons het reeds amper helfde van die boek deurgewerk. Jy kan die boek langer behandel deur die voorgestelde boeke voor te lees ens.
Taalwerk word sagkuns deur die loop van 'n tema/eenheid aan die kind voorgestel. Uittreksels uit stories, gedigte ens word verkaf. Daar is ook 'n lys van aanbevele boeke wat aangeskaf kan word. Ek moet net egter noem, dit is nie maklik bekombare boeke nie. Die boeke is nie 'n moet nie en jy kan steeds die program suksesvol voltooi sonder die voorgestelde boeke. Jy kan jou eie boeke ook gebruik. 
Ek moet dit net duidelik maak, (dit is my opinie). Jou kind moet kan lees en skryf voor jul met die boek begin. Alhoewel die ouer alle stukke voorlees sou dit baie moeilik wees om deur die boek te werk sonder die nodige lees vaardighede. As jou kinders dus nou eers met fondasie begin, wag dan eerder eers met die boek.
Ons hou van die navorsings, en dialoog dele. Baie geskiedkundige persone en gebeure word bekend gestel en hulle leer hulle taalwerk, woordeskat, spelling en nog meer sommer sonder dat hulle dit agter kom. 


Ek sou voorstel dat bv. die gonswoorde wat in elke afdeling agter aangegee word, op 'n manier gebruik word as spelwoorde. In my opinie sal spelling apart hanteer moet word en nog sal bygevoeg moet word.

Die taal is suiwer ou Afrikaans. As dit iets is wat jul geniet dan jul van die boek hou. Vir ander kan dit moontlik vreemd wees. 
Die boek is gedruk as hardeband in kleur en bevat die student en onderwyser in een. Al die nodige instruksies is in die boek en ook al die nodige plekke vir die kind om antwoorde neer te skryf. Indien jy die boek wil hou vir verdere kinders, sou ek eerder aanbeveel dat die kind dan in 'n aparte lyntjie boek skryf.

Die Facebook bladsy vir Toetentaal en dan ook die webwerf vir Toetentaal. Jy kan ook 'n e-pos stuur vir meer les voorbeelde en om bestellings te plaas aan toetentaaltuisskool@gmail.com. 


As 'n laaste punt, ek het die boek gratis ontvang om te evalueer en my eerlik terugvoering oor die program te gee. Dit is hoe ons die boek ervaar en dit is my eie persoonlik opinie. Ander sal verskil wie se kinders heelwat jonger is. Gaan kyk na die voorbeelde en doen 'n toetslopie om self te bepaal of die program reg is vir jou kinders. 


Lekker leer.

Groete

Maryna

Nota: ek het die skrywe opgedateer op 7 Feb 2017.


Tuesday, 17 January 2017

Nuwe Afrikaanse Taalprogramme

2017 Het beslis baie goed vir ons begin wat ons Tuisonderwys betref.

Die lekker sappige kersie op die koek is ons gebruik twee splinternuwe Afrikaanse taalprogramme. Hoe lekker is dit. Tuisonderwysers sukkel werklik om goeie Afrikaanse taalprogramme in die hande te kry en hier is ons in 2017 met sommer twee splinternuwe programme.

15 Minuut Afrikaans en Toetentaal Taalkunste Program. Alhoewel albei Afrikaanse taalprogramme is, verskil hulle hemelsbreed van mekaar. En ons is mal oor albei en gebruik albei. 

15 Minuut Afrikaans Voorbladsye van Onderwyserboek en Studenteboek
Ek kan sommer al hoor dat mense vra, hoekom gebruik ek albei, is een nie voldoende? Ja, een is voldoende op sy eie. Maar soos ek genoem het hulle verskil so baie van mekaar. Ons het besluit om albei te gebruik om die volgende redes:

Toetentaal Taalkunste Program Voorblad van Boek 1
Ek toets graag nuwe produkte in die mark. Dit is die enigste manier om werklik eerlike terugvoering en aanbevelings te gee. 

15 Minuut Afrikaans is gebaseer op die Engelse Fix It program van IEW. Ons is bekend daarmee, ons hou van die formaat en hoe elke woordsoort bekendgestel en geoefen word. 

Alhoewel my kinders al heelwat ouer is as die teikenmark vir die eerste boek van Toetentaal Taalkunse Program, het ek steeds besluit om dit te gebruik om die gevoel te kry en deur die benadering te werk. Ons het nog nie tevore Charlotte Mason se benadering gebruik nie en geniet nou hierdie manier van werk.

My kinders geniet werklik albei baie. Dit neem nie so baie tyd in beslag nie. 

15 Minuut Afrikaans is in e-formaat beskikbaar. (Weereens net almal daaraan herhinner asseblief respekteer die skryfster se harde werk en moet nie die boeke vir jou vriende aanstuur nie. Ondersteun haar deur dit nuut te koop. Dit is egter teen die wet om digitale produkte weer te verkoop ens.)

Toetentaal Taalkunste Program is in 'n gedrukte boekformaat beskikbaar.

Ek sal binnekort meer volledige terugvoering plaas oor elke program in afsonderlike skrywes. Gaan loer gerus solank na die boeke en waaroor dit gaan.


Groete

Maryna



Friday, 13 January 2017

Kurrikulum vir 2017

My voorgestelde kurrikulum wat ons gaan gebruik vir 2017.

Ek gaan moontlik 'n paar veranderings aanbring. Alles hang af hoe die jaar gaan verloop. 

Wiskunde:
Math U See Pre-Algebra. Julie maand gaan ons begin met Algebra 1 (MUS)

Engels:
Student Writing Intensive Level B (IEW)
Structure and Style (IEW) vir my
Spelling: Ons gaan Phonetic Zoo 'n probeer gee. Andersins weer Sequential Spelling
Gedigte: Poetry Memorization (IEW) Ek het net die eerste deel wat ons gaan probeer voor ek die finale aankoop maak.
Lees: Diary of a Wimpy kid se reeks klaar lees. Gaan nog boeke byvoeg.

Afrikaans:
15 Minuut Afrikaans
Addisionele bronne: Kominpas met Afrikaans, HAT, Rymwoordeboek
Rapport Junior Blokraaiboek
Speletjies, kaartjies wat ek self saamgestel het.
Lees: Makayla gaan die Stalmaats reeks klaar lees. Matthew gaan Gedaantes en Geraamtes lees. Ek beoog ook om nog 'n reeks te kry en moontlik ander by voeg.

Bybel:
Learning the Word Through life (ons gebruik dit in Afrikaans)
Net jy en Jesus dagstukkies
Picture Smart Bible (Nuwe Testament) Afhangende van hoe die jaar verloop.

Geskiedenis:
Story of the World
Addisionele bronne sal bygevoeg word.

Wetenskap:
The Elements van Ellen J McHenry (nie klaar gemaak verlede jaar)
The Cells of Botany van Ellen J McHenry
Verskeie eksprimente en praktiese speletjies vir vaslegging

Aardrykskunde:
Verskeie bronne. (Sal later meer besonderhede plaas)

Rekenaar Tegnologie:
Html & CSS (basiese beginners kursus)
Python (basiese beginners kursus)
Matthew sal ook steeds aangaan met Blender en ook Unity

Buitemuurse Aktiwiteite:
Yshokkie vir Matthew (DurbaKnights Ice Hockey Club)
Kook Klasse vir Makayla (Back2Basics in Amanzimtoti)
Woensdae aande is Koffie, Woord en Koekies (ons kerk jeug se Woord studie program)
Vrydae aande Jeug

Dit is dit so in 'n neutedop. 

Groete

Maryna


Saturday, 10 September 2016

Jy doen dalk te veel?

Menigte Tuisonderwys ouers is oortuig dat hul eenvoudig net nie genoeg doen nie. Daar is twee sye van die onderwerp, wanneer jy regtig net amper niks doen en wanneer jy besig is om jou kind dood te maak - op meer as een manier.

Ek gaan eers die aspek van nader bekyk van jy doen nie genoeg. Jul doen net Wiskunde elke dag, lees dalk een boek en dit is klaar. Of... jy los jou kind aan sy eie genade oor en hy/sy sit en blaai dalk deur 'n boek, teken 'n prent, speel op die rekenaar. NEE! Dit is nie genoeg nie.

Wat is dan te veel? Hierdie is slegs my siening, jammer as ek op tone trap. Voorbeeld: Jy koop die duurste programme van bv Math U See, Teaching Textbooks, Saxon/Singapore en jy gebruik almal om uit te werk. Jy gebruik dalk MUS se video les, TT se oefening op rekenaar, 'n les of twee uit Saxon/Singapore. STOP!!! Jy is besig om jouself en jou kind en jou beursie dood te maak. Elkeen van die bogenoemde is volledige progamme op hul eie. Ek vat MUS en TT as 'n voorbeeld. Hierdie is twee programme wat totaal anders werk. Een is spiraal (TT) en een is 'mastery' (MUS). Jy kan nie die twee saam gebruik. Een program gaan moontlik al aan 'n konsep geraak het wat die ander een nog nie aan gewerk het. Nee een is nie agter die ander een nie, dit is net twee verskillende benaderings. Jou kind gaan later nie weet of hy Harry of Sally is nie. Jou kind gaan oorwerk wees, jy gaan hom uitbrand. Moontlik gaan jou kind Wiskunde en/of skool haat!

Dit geld egter nie vir Taal vakke nie. Baie boeke bied bv. goeie vaslegging met letterkunde, gramattika ens, maar dit het baie min of niks vir spelling. Dan voeg jy iets ekstra by. Daar moet 'n balans wees van hoeveel jy doen.

Om die duurste kurrikulums te koop maak nie van jou 'n beter Tuisonderwys moeder of van jou kind 'n beter student nie. Glad nie! 'n Kurrikulum moet daar wees as jou gids indien nodig. Jy moet nie 'n slaaf wees vir dit nie, maar dit moet vir jou werk soos nodig.

Ek lees gereeld op die buitelandse forums hoe mense so baie goed gebruik en dan sit hul soms tot laat en skoolwerk doen en selfs op naweke. Ek persoonlik dink daai mense is in die bol gepik - jammer.

Daar is eenvoudig kurrikulum of boeke waarvoor 'n mens nou maar 'n bietjie baie meer moet spandeer as ander. Maar maak seker dit werk vir jou kinders voor jul besluit om by te voeg of te verander. Meeste plekke bied voorbeelde van hul produkte. Moet nie net daarna loer nie. Laat jou kind 'n voorbeeld les doen en laat hul voel hoe dit voel om die program te gebruik. Wat hul gaan ervaar is die belangrikste. Help nie jy as ouer verander iets omdat Sannie langsaan dit en dit gebruik en of omdat JY voel dit is nie prettig nie. Dalk hou jou kind baie daarvan, dalk doen jou kind baie goed daarin, dalk hou jou kind van vaal goed. Jou kind se opinie is belangrik. MAAR as jou kind vir jou sê hy/sy het nie lus vir dit nie. Dan neem jy beheer!

Nou waar is die middel van alles, wat is dan genoeg? As jou kind leer wat nodig is om eendag 'n verantwoordelike volwasse te wees met goeie morele waardes en goeie algemene kennis en 'n groot liefde vir God. Dan is jy reg. Brei jou kind se kennis uit en fokus veral op jou kind se passie. 

Ek hoor graag julle opinies.

Groete

Maryna 

NB: Ek het TT en MUS as basiese voorbeeld gebruik aangesien ek onlangs daaroor geskryf het.

Thursday, 8 September 2016

Teaching Textbooks vs. Math U See

Ons het laat in verlede jaar oorgeskakel na Teaching Textbooks toe. Math7 om presies te wees.


 

Voor ek my hele opinie oor die program gee, wil ek net weer noem ons rede hoekom ons dit begin gebruik het. My kinders het vir 'n hele paar jaar Math U See gebruik waaroor ek nooit genoeg kan praat nie. Hul het egter met tye lank gedraai en dit het 'n groot hap uit ons dag geneem en dan kom ons nie by al die ander dinge uit nie. In alle eerlikheid wil ek nie tot laat middag nog skoolwerk doen nie ;) Ek het dit gesien as 'n tyd waar die kinders op hul eie kan werk, verantwoordelikheid neem vir hul werk en pogings en bietjie meer tyd beskikbaar maak. Hier is my vorige skrywe oor my besluit om Teaching Textbooks te probeer en hoe dit werk.

Die kinders het ongeveer 'n week of twee terug klaar gemaak met Math7 en hier sit ons nou. Ek het gewik en geweeg en was onseker Teaching Textbooks of Math U See vir Pre-Algebra. Watter besluit ek ookal sou neem sou bepaal wat ons vir die hele Hoërskool gaan gebruik want ons verander nie weer nie.

Teaching Textbooks is baie duur nuut. Math U See kan ook taamlik prysig wees afhangende van wat jy moet aankoop. Ek koop twee studente boeke altyd aan wat die prys baie meer maak. Ek het altyd probeer om boeke tweedehands te kry om kostes te bespaar. Na baie oorwegings het ek my finale besluit gemaak vir die pad vorentoe. Math U See het weer gewen. Ons begin binne die volgende paar weke met MUS Pre-Algebra.



Nou wat dink ek eerlikwaar van Teaching Textbooks? Dit is oulik! Die kinders geniet dit. Matthew het sy Wiskunde jaar geeindig met 93% en Makayla met 94%, dit werk dus.

Maar, ja daar is 'n maar ongelukkig. Die prys het 'n baie groot rol gespeel. Dit is eenvoudig net nie bekostigbaar vir ons nie. Ek hou nie van die spirale sisteem nie. Soos wat die skole werk, bietjie dit, bietjie dat. Daar is in my opinie net nie genoeg oefening van nuwe probleme nie. Matthew het baie dae hande in die hare gesit. Daar was trane en daar was oplossings.

My opinie, is presies dit, net myne. Baie mense sal sê dit is vrot, dit is agter. Ander sal sê dit is fantasties. Dit is baie belangrik om mooi te besluit wat jul wil doen en wat jul wil bereik voor jul sulke groot finansiële besluite neem. As iets werk, hou by dit!! Moet nie baie rond kyk wat alles op die mark is nie. Dit kan 'n mens se kop behoorlik deurmekaar krap.

Lekker somme doen :)

Groete

Maryna 

Saturday, 13 February 2016

Formele skryf program (Engels) - IEW

Ek het 'n geruime tyd terug al die IEW (Institute for Excellence in Writing) se SWI (Student Writing Intensive) level b program gekoop.

Ek was bang om dit te gebruik. Ek was bang dit is bo my kinders se vlak en dat ek nie gaan weet waar om te vat en waar om te los nie. 

Die waarheid is eintlik dat ek totaal my kinders onderskat het.

'n Paar weke gelede het ek alles bymekaar gekry en vir die kinders elkeen hul stel uitgedruk. Ons het begin deur die video les te kyk waar Andrew Pudewa presies stap vir stap verduidelik wat die kinders moet doen. Dit is asof hul saam met hom in die klas sit.

Tot my verbasing het die kinders sommer dadelik gesnap en dadelik weg gespring met hul werkstukke.

Die eerste les storie doen Mnr Pudewa met hul. Daarna is daar twee addisionele storie stukke wat die ouer met die kind moet doen.

Die lesse word begin deur te leer van kernwoorde wat hul uit die stuk haal. Daarna moet hul kan terug vertel uit hul kernwoorde presies waaroor die stuk gegaan het. Woorde kan geskuif en vervang word, solank die storie of feite dieselfde boodskap oordra. Daarna word twee-twee sinne met mekaar verbind deur 'n 'dress-up' woord. Die kinders skryf dan hul eerste konsep storie. Die volgende dag hersien ons alle foute en skuif woorde rond en dan tik hul dit oor. Die keuse is daar om dit netjies oor te skryf, maar die kinders het gevra om die finale een uit te tik.

Met elke nuwe video les word daar nuwe 'dress-ups' bekend gestel. Hul leer ook meer oor die skryf proses en hoe hul kan verbeter.

Die program beveel aan dat jy ook die TWSS (Teaching Writing Structure and Style) dvd's saam gebruik om die ouer te help met die leer van die hele skryf proses. Ek het die DVD's MAAR dit is moontlik om die SWI lesse te doen sonder die TWSS. Ek persoonlik sien dit as groot waarde, maar dit hang van ouer tot ouer se behoefte af.

In ons persoonlike ervaring dink ek dit is 'n uitstekende program. Die kinders verbaas my elke dag meer en meer. Ons werk elke dag aan die program, party dae bietjie langer as ander. Ons rek 'n les uit oor ongeveer drie tot vier dae.

Wat vir my opvallend is, is dat die kinders altyd gretig is om dit te doen. Ek hoef nie eens te vra nie. Die video aanbieding is baie snaaks, wat dit natuurlik prettig maak. Die kinders dink werklik en verbreed hul woordeskat ongelooflik uit. Dit help ook met begrip. Ek moet net bynoem die speltoetser is nie opgestel op ons rekenaars nie, so hul moet self die woorde kan spel. Ons maak egter nie 'n hele spel les hieruit nie, dit kom apart. 

Ek is baie trots oor wat my kinders tot dusver vermag het met die progam.

SWI kom in drie vlakke. A, B en C. Sien asb hul webblad vir meer besonderhede en voorbeelde. Dit kan aangekoop word by IEW direk van oorsee of deur Oikos Ministries hier in Suid Afrika.



Groete

Maryna

Monday, 16 November 2015

Kurrikulum vir 2016

Ons voorgestelde program vir 2016 lyk soos volg.

Wiskunde
Teaching Textbooks Math 7
(Later in die jaar oorgaan na Teaching Textbooks se Pre-Algebra afhangende hoe Teaching Textbooks vir ons werk. Huidiglik is dit 'n sukses en kinders geniet dit baie. Hul het reeds met Math 7 begin)

Engels
Fix it Grammar! Book 2 Robin Hood
Student Writing Intensive level B
Teaching Writing Structure and Style (vir my)
Spelling: Sequential Spelling

Afrikaans
Gebruik verskeie bronne om n volledige program te kan maak, bronne is:
Maak spelling maklik (daar is baie idees in om op ander werk toe te pas)
Kominpas met Afrikaans
Taal Oefenboek deur Japie Stander
Blokraaisels
HAT
Afrikaanse woord en spelreel boek
Leesboeke
Speletjies soos antonieme, idiome ens

Aardrykskunde
Aarde Ensiklopidie
Geography through art
Lewende planeet

Geskiedenis
Story of the world

Wetenskap
Verskeie eksprimente
Ellen McHenry bronne: The Elements, Botany en ander aktiwiteite van haar (ek sal Afrikaanse vertalings plaas soos ek dit vertaal het van haar gratis bronne/speletjies.)

Kuns
Bronne/idees uit Pinterest
Aktiwiteite wat gepaard gaan met lesse uit Aardrykskunde en Geskiedenis.


Rekenaar
Blender vir Matthew

Sport
Yshokkie

Daar mag moontlik nog ander bronne bygevoeg word. 

Ek sal 'n skrywe plaas oor Afrikaans en hoe 'n mens dit kan maak werk sonder om 'n formele kurrikulum (CAPS - gaap) te gebruik.

Dit is ons beplanning sover in 'n neutedop. As jy enige vrae dalk het oor enige van die, vra gerus.

Groete

Maryna

Thursday, 30 April 2015

Gunstelling kurrikulum wat werk!

Ek het in die jare wat ons Tuisonderwys werklik al baie boeke aangekoop. Sommiges was goed, sommiges nie so goed. 

Ons het ook al 'n paar verskillende kurrikulums probeer van verskeie buitelandse verskaffers. Ek deel graag ons gunstelling en beste beleggings wat ons nog gemaak het.

My top twee gunstellinge is Math U See Wiskunde program en Fix It! Grammar van die IEW (Institute Excellence in Writing).

Hoekom is hierdie gunstellinge? Want dit werk! My kinders is elke dag opgewonde om albei hul Wiskunde en Grammatika werk te doen. Hulle leer daaruit, bou daarop en onthou dit. Die vrugte word gepluk van albei die programme, ek sien hoe hulle vorder. Daar was nog nie een dag waar ons wou hare uit ons koppe trek oor enige van die vakke nie.

Dink hieroor:Daar is so baie programme wat oulik is, die kinders kan dit getrou elke dag doen. Eendag probeer jul weer terug gaan na iets wat 'n ruk terug behandel was en dan onthou hul niks. Dit is die laaste ding wat enige ouer wil hê. Daai vaslegging van iets is so belangrik. Daarom geniet ons MUS en Fix It so baie, want hulle onthou alles.

Ek moet erken ek self leer ook so baie met die programme.

Die aankoop kostes is gewoonlik prysig, maar dit is elke sent werd. MUS kan aangekoop word deur Oikos wat in Howick is. Hul lewer sommer binne 'n paar dae by jou deur af. Fix it moet jy egter van oorsee bestel. Gee jouself meer as 'n maand. Ek het die hele reeks op een slag bestel om posgeld te bespaar. 

Ons probeer soveel as moontlik om nie heeltyd boekwerk te doen nie, maar te leer deur te ontdek en dieper in verskillende onderwerpe te delf. Ons maak ook baie gebruik van speletjies, allerhande soorte. Dit sluit taalwerk in ;)


Wat is julle gunstelling? Gesels laat ons hoor :)

Groete

Maryna

Friday, 24 October 2014

Kurrikulum vir 2015

Die jaar is amper op sy rug en ek is besig om my beplanning saam te stel vir 2015.
Vir diegene wat wil weet wat ons gaan doen/besig is om te doen.

Engels: IEW (verskeie)


Grammatika: Fix It! Grammar Boek 1: The Nose Tree










Onderwyser hulpmiddel (myne) Teaching Writing Structure and Style 





Skryf: Student Writing Intensive vlak B
 
Engelse Spelling: Sequential Spelling


Maak klaar met vlak 1 en beweeg dan oor na die vlak 2 boek.




Wiskunde: Math U See

Maak klaar met Delta vroeg 2015, gaan oor na Epsilon.



Afrikaans:
'n Mengsel van boeke en aktiwiteite. Moontlik verskeie speletjies, Afrikaanse reëls, gedigte, lees verskeie boeke.


Geskiendenis: SOTW


Nog besig met Volume 1, sal deur jaar oorgaan na Volume 2.







Wetenskap: Science in the Beginning
 

Maak klaar met Science in the Beginning deur die loop van die jaar en beweeg dan aan na aktiwiteite van Ellen McHenry's Basement Workshop.




Aardrykskunde: Die Aarde Ensiklopedie



Die Aarde Ensiklopedie gaan een van ons bronne wees en met dit gaan ons verskeie aktiwiteite doen en lesse om dit bou. Hou die blog dop vir indiepte studie van die boek.




 
Bybel: Learning the Word in Life



Ons gaan boek een klaar maak en oorbeweeg na boek twee.




Kuns:
Lesse verskeie crafts en idees van Pinterest en uit verskeie boeke. Ook formele lesse van Paint Basket.

Addisioneel:
Matthew neem formele klasse/kursusse deur CG Cookie, wat die program Blender aanbied. Dit is 'n 3D ontwerp en animasie program. Sal 'n post inskrywing hieroor doen.

Sport:
Yshokkie.  

Hier mag moontlik 'n paar dinge verander of bygevoeg word met tyd.

Groete

Maryna

Monday, 13 January 2014

2014 Kurrikulum

Baie mense vra altyd vir my wat ons gebruik. Vandag deel ek so vinnig hoe ons plan lyk.

Afrikaans: sal ons 'n kombinasie van boeke gebruik. Onder ander die Clever werkkaarte en ook 'n boek Maak Spelling Maklik (ontvang dit binnekort). Saam met dit lees ons uit verskillende boeke. Ons probeer ons Taalwerk prettig maak deur speletjies en woordbou met letterkaarte.

Engels: Ons het verlede jaar begin met LLATL (Learning Language Arts through Literature). Ons is nog besig met die rooi boek. Ons het nie baie streng fokus op Engels geplaas verlede jaar nie, net begin voete nat maak. Hierdie jaar gaan ons egter hard werk. LLATL word in Suid-Afrika versprei deur Oikos Family Ministries. Vir die eerste twee boeke in die reeks, die blou en rooi moet die boeke deur Oikos aangekoop word aangesien daar ander leesboekies ingesluit is in die pakket. Daarna kan die e-boeke indien jy dit so verkies aankoop deur Common Sense Press. Daar is addisionele leesboeke wat nogsteeds ekstra by gekoop moet word.

Wiskunde: MUS (Math U See) is ons gunstelling Wiskunde program en ons gaan voortgaan met dit tot die laaste jaar. Hierdie jaar gaan ons begin met die Gamma boek. Ons het verlede jaar die groot stap geneem om hierdie buitelandse program te gebruik. Ek was baie onseker oor die Engelse faktor, maar ek was verbaas om te sien hoe baie my kinders die program geniet. Ons het wel 'n paar 'tree' terug gegee in Wiskunde sodat ons eers hulle manier van werk kon leer en vertroud raak met die Engels. Ons kyk saam die DVD, ek verduidelik vir die kinders en hulle werk dan in die werkboek. Ek is baie beindruk met MUS.



Geskiedenis - Ek het baie lank deur baie voorgestelde Geskiedenis boeke en programme gekyk en het werklik moeilik besluit wat om te gebruik. Ek het toe besluit om SOTW (Story of the World) te probeer en kyk of my kinders daarvan hou. My grootste vrees met die boek is omdat dit natuurlik in Engels is. Ek het verlede week die inleiding gelees vir die kinders om te verduidelik wat Geskiedenis is en 'n kykie na Argeologie. Hulle het gelyk of hulle daarvan hou. Ek het weer daarna Hoofstuk een vir hulle gelees oor die Nomades. Soos 'n mens van die naam van die boek kan aflei, word dit vertel in 'n storie formaat. Die kinders is baie opgewonde daaroor en ek voel ook baie meer gerus gestel. Ons gaan dus amptelik met SOTW werk en sien hoe dit gaan. Hou die spasie dop vir lekker aktiwiteite. Ek het die boeke aangekoop in e-boek formaat deur Peace Hill Press.

Geografie - Ons gaan 'n groot verskeidenheid boeke gebruik. Onder ander Geography Through Art wat 'n kunstige boek is, teken en maak. Ek het dit in e-formaat gekoop deur Currclick. Ons gaan moontlik ook gedeeltes van Expedition Earth deur Confessions of a Homeschooler gebruik. Moontlik ook 'n paar eenheid studies van Amanda Bennett's unit studies. Ons is ook tans besig om te leer van planete en gebruik die boek My Reisgids tot die Sonnestelsel en daarbuite.




Bybel - Learning the World through Life book 1 en 2. Hierdie is 'n oulike boek om Bybel teksverse te memoriseer. Alhoewel die boek in Engels is, gaan ons dit in Afrikaans gebruik. Die kinders leer gedeeltes van 'n teksvers deur te teken en 'n prent te koppel aan 'n kernvers. Hierdie boek kan gekoop word deur Oikos. Op Oikos se webblad kan julle 'n kort  video kyk van waaroor dit gaan.
 
Ons Bybels wat ons saam met die gaan gebruik is Bybel@Kinders. Dit is 'n pragtige Bybel geskryf sodat jong kinders die Woord van God kan verstaan. Ek maak ook gebruik van 'n 1933/53 vertaling.



 

Kuns: Alhoewel ons baie kuns aktiwiteite doen, gaan ons ook 'n meer formele kuns klas doen. Ek gaan die boek Drawing with Children as een van my verwysings gebruik. Kuns is ongelooflik belangrik vir my en my kinders geniet dit geweldig baie. 



 
Wetenskap: Sjoe dit is nou 'n lekker een. Baie mense sidder as hulle aan Wetenskap dink. Ons spring behoorlik op en af. Daar is baie boeke waaruit ons werk. Een van hulle wat ek uit voorlees en meer ontdek is Geheimenisse van die Natuur en die Wetenskap. Ons het 'n magdom ander boeke waaruit ons gaan voorlees. Ons gaan ook buite natuurstudie doen. Dan ook 'n lekker prettige studie doen van die menslike liggaam.

Dit is alles so in 'n neutedop. Dit gaan 'n wonderlike jaar wees met nuwe uitdagings en nuwe projekte. Ek sien uit daarna om alles nog met julle te deel. Hou maar die blog dop, ek sal nog meer besonderhede oor die boeke plaas.

Volg gerus my blog - leer en ontdek saam met ons. 

Groete

Maryna



Monday, 28 October 2013

Gebruik van Engelse materiaal

’n Geruime tyd terug was daar op die Tuisonderwys in Afrikaans groep gevra hoekom gebruik van ons ouers Engelse Kurrikulums om ons kinders te leer. Is dit wat in Afrikaans beskikbaar is nie voldoende?

In my opinie is daar een reg of verkeerd nie. Elke gesin gebruik wat werk vir hulle. 

Hierdie is ons persoonlike ervaring: Ons het 'n Afrikaanse Wiskunde program gebruik wat baie goed is MAAR dit gee nie genoeg fondasie nie en ek het oorbeweeg na die Engelse program Math-U-See. (dit help ook vir die tipe kind wat ek het) 

Al die ander vakke gebruik ek Konos (Engels) maar vertaal dit in Afrikaans en ons verwysings boeke wat ons uitneem is Afrikaans of ek vertaal as ek nie 'n goeie Afrikaanse een kan kry. 

Hoekom gebruik ek Engels? Die Afrikaanse goed in my opinie is so vas aan die Dept se riglyne dat dit nie veel ruimte gee vir ekstra ontdek en bietjie meer 'hands-on' leer nie. Ons gebruik nog steeds 'n goeie Afrikaanse program vir Afrikaans. 

Engels as vak gebruik ons 'n 1ste taal program van Amerika. Hoekom? - omdat my kinders moontlik die GED/SAT gaan doen. 

Weereens vra jy seker hoekom, wat is fout met SA se matriek? Seker niks behalwe dat hul eendag so besluit en volgende dag so, omdat matrieks verlede jaar van bakboord na stuurboord gestuur was met goed wat moes gedoen word.   

OOK om my kinders in te skryf by 'n formele verskaffer beteken dat ek R120000 (inskryf van Gr9-12) gaan moet opdok op hul (al twee skryf saam) matriek te laat skryf (bereken teen hierdie jaar se pryse) in vergelyking met ongeveer R20000 vir die GED en SAT (vir albei). Ek weet geld is nie alles nie MAAR as my kinders moontlik verder wil leer gaan ons na matriek geen fondse hê vir hul om dit te doen, daarom spaar ons eerder daai ekstra geld. 

Ek wil ook net dit noem ek was baie anti-Engels, tot ek gesien het wat vir ons alles beskikbaar is. Ons kan nog steeds lekker goed leer uit Engelse materiaal, die enigste verskil vir ons Afrikaanse mense is net bietjie meer moeite van ma se kant af om te vertaal (en ons varkies bymekaar te hou). Ja ek erken my voorbereidings ens vat tyd maar dit is die moeite werd. 

Ek glo ’n mens moet ’n basiese plan hê. Wat alles beskikbaar is vir tuisonderwys oorsee is ongelooflik en dit kan ’n mens geweldig oorweldig. Besluit wat dit is wat julle wil doen en gaan so voort. As iets werk vir julle moet dit NIE verander net om te verander nie.

Dit is ons rede vir die gebruik van Engelse materiaal.

Groete

Maryna