Ek het onlangs op 'n baie oulike Youtube kanaal afgekom Hou Net Op Sukkel. Die kanaal is vir Graad 10 tot 12 leerlinge en het videos vir Wiskunde, Wetenskap, Chemie en Fisika. Hierdie is een van daai moet volg kanale. Die verduidelikings is puik.Dit word aangebied op 'n manier waarvan jong mense sal hou en is nie afgewater of vervelig nie. Gaan loer gerus op Youtube na die kanaal en volg hul, daar is baie videos om van te kies. Kyk gerus hier na die inleidings video.
Tuisonderwys moeder Lizelle Rademeyer het 'n oulike reeks boekies saamgestel vir Wiskunde Pret aka Somme(r) Pret. Die reeks bestaan uit vier boekies: (Informasie geneem uit Lizelle se blog) Somme(r) Pret Begin is vir 5-6 jariges. Dit fokus op tel, getalbegrippe en ander basiese vaardighede waarop wiskunde van graad 1 af gebou word. Somme(r) Pret 1bevat graad 1 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-20) Somme(r) Pret 2
bevat graad 3 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-100,
maaltafels van 1 tot 5 en 10.) – Daar is heelwat in Somme(r) Pret 2 wat
graad 2 kinders sal geniet, maar omdat hulle nog die 3 en 4 maaltafels
geleer het nie is daar aktiwiteite in wat hulle nog nie sal kan doen
nie. Somme(r) Pret 3
bevat graad 6 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-999,
maal en deel tot die 12 maaltafel en breuksomme) – Daar is heelwat in
Somme(r) Pret 3 wat graad 4 en 5 kinders sal geniet, maar omdat hulle
nog net maaltafels tot 10x doen en eenvoudiger breuksomme is daar
aktiwiteite in wat hulle nog nie sal kan doen nie.
Lizelle Rademeyer was so gaaf gewees om Boek 3 aan ons beskikbaar te stel om 'n gevoel te kry van hoe die boek is en wat die kinders daarvan dink. Ek moet egter net bynoem dat my kinders wel bietjie ouer is, maar ek steeds van die aktiwiteite gekies en vir hul gegee om te doen.
Hier is 'n paar voorbeelde uit die boekie.
Wat dink ons van die boekie? Dit is baie goed uiteengesit. Lizelle het ongelooflik baie moeite gedoen met die samestelling van die boekie en aan alles probeer dink wat nuttig en prettig sal wees. Dit bevat ook die nodige instruksie van wat gedoen moet word en ook antwoordbladsye. Die kinders sê dat dit lekker aktiwiteite is. Die boekie is ideaal om sommer oor die vakansie tyd te gebruik te word of vir ekstra verryking. Vir meer inligting oor al die boekies, volledige uiteensetting en meer voorbeelde gaan loer gerus op haar blog en ook op haar Facebook bladsy. Jy kan ook die boekies bestel deur 'n e-pos te stuur aan info@lomi.co.za.
Alhoewel die boekies 'n digitale produk is vra ons dat ouers asseblief die Kopiereg sal respekteer en die tyd in ag neem wat Lizelle daaraan spandeer het. Moet dit dus nie vir mekaar aanstuur nie, ondersteun haar en koop jou eie kopie aan.
Neem kennis ek kry geen beloning vir my terugvoering oor die boekies nie, dit is slegs my eie opinie.
As jy een van die mense is wat Math U See Wiskunde program gebruik, sal jy weet van watter onskagbare waarde die blokkies is. Ek het 'n stel 'blokkies' saamgestel wat afgelaai kan word.
Maak so: Druk die bladsye uit van jou keuse - inkleur of volkleur (11 bladsye in die stel) - verkieslik op karton. Die voorkante is die een kleur blokkie. Die agterkant is die met die kleiner donkerder blokkie binne in. Na dit ingekleur is/indien jy die volkleur aflaai volg net die stappe verder, knip die stroke van mekaar en plak dit rug teen rug. Jou blokkie stroke gaan dus 'n voor en agterkant hê. Lamineer dit om te verseker dit hou baie lank. Dit kan maklik op 'n witbord gebruik word, sit net bietjie wondergom agterop. *Die eenkleur kant voor is natuurlik plus (+) en die met die kleiner blokkie binne, die donkerder deeltjie is minus (-). Daar is twee weergawes. Die eerste een kan jy self inkleur.
Menigte Tuisonderwys ouers is oortuig dat hul eenvoudig net nie genoeg doen nie. Daar is twee sye van die onderwerp, wanneer jy regtig net amper niks doen en wanneer jy besig is om jou kind dood te maak - op meer as een manier.
Ek gaan eers die aspek van nader bekyk van jy doen nie genoeg. Jul doen net Wiskunde elke dag, lees dalk een boek en dit is klaar. Of... jy los jou kind aan sy eie genade oor en hy/sy sit en blaai dalk deur 'n boek, teken 'n prent, speel op die rekenaar. NEE! Dit is nie genoeg nie. Wat is dan te veel? Hierdie is slegs my siening, jammer as ek op tone trap. Voorbeeld: Jy koop die duurste programme van bv Math U See, Teaching Textbooks, Saxon/Singapore en jy gebruik almal om uit te werk. Jy gebruik dalk MUS se video les, TT se oefening op rekenaar, 'n les of twee uit Saxon/Singapore. STOP!!! Jy is besig om jouself en jou kind en jou beursie dood te maak. Elkeen van die bogenoemde is volledige progamme op hul eie. Ek vat MUS en TT as 'n voorbeeld. Hierdie is twee programme wat totaal anders werk. Een is spiraal (TT) en een is 'mastery' (MUS). Jy kan nie die twee saam gebruik. Een program gaan moontlik al aan 'n konsep geraak het wat die ander een nog nie aan gewerk het. Nee een is nie agter die ander een nie, dit is net twee verskillende benaderings. Jou kind gaan later nie weet of hy Harry of Sally is nie. Jou kind gaan oorwerk wees, jy gaan hom uitbrand. Moontlik gaan jou kind Wiskunde en/of skool haat! Dit geld egter nie vir Taal vakke nie. Baie boeke bied bv. goeie vaslegging met letterkunde, gramattika ens, maar dit het baie min of niks vir spelling. Dan voeg jy iets ekstra by. Daar moet 'n balans wees van hoeveel jy doen. Om die duurste kurrikulums te koop maak nie van jou 'n beter Tuisonderwys moeder of van jou kind 'n beter student nie. Glad nie! 'n Kurrikulum moet daar wees as jou gids indien nodig. Jy moet nie 'n slaaf wees vir dit nie, maar dit moet vir jou werk soos nodig. Ek lees gereeld op die buitelandse forums hoe mense so baie goed gebruik en dan sit hul soms tot laat en skoolwerk doen en selfs op naweke. Ek persoonlik dink daai mense is in die bol gepik - jammer. Daar is eenvoudig kurrikulum of boeke waarvoor 'n mens nou maar 'n bietjie baie meer moet spandeer as ander. Maar maak seker dit werk vir jou kinders voor jul besluit om by te voeg of te verander. Meeste plekke bied voorbeelde van hul produkte. Moet nie net daarna loer nie. Laat jou kind 'n voorbeeld les doen en laat hul voel hoe dit voel om die program te gebruik. Wat hul gaan ervaar is die belangrikste. Help nie jy as ouer verander iets omdat Sannie langsaan dit en dit gebruik en of omdat JY voel dit is nie prettig nie. Dalk hou jou kind baie daarvan, dalk doen jou kind baie goed daarin, dalk hou jou kind van vaal goed. Jou kind se opinie is belangrik. MAAR as jou kind vir jou sê hy/sy het nie lus vir dit nie. Dan neem jy beheer! Nou waar is die middel van alles, wat is dan genoeg? As jou kind leer wat nodig is om eendag 'n verantwoordelike volwasse te wees met goeie morele waardes en goeie algemene kennis en 'n groot liefde vir God. Dan is jy reg. Brei jou kind se kennis uit en fokus veral op jou kind se passie.
Ek hoor graag julle opinies.
Groete
Maryna
NB: Ek het TT en MUS as basiese voorbeeld gebruik aangesien ek onlangs daaroor geskryf het.
Ons het laat in verlede jaar oorgeskakel na Teaching Textbooks toe. Math7 om presies te wees.
Voor ek my hele opinie oor die program gee, wil ek net weer noem ons rede hoekom ons dit begin gebruik het. My kinders het vir 'n hele paar jaar Math U See gebruik waaroor ek nooit genoeg kan praat nie. Hul het egter met tye lank gedraai en dit het 'n groot hap uit ons dag geneem en dan kom ons nie by al die ander dinge uit nie. In alle eerlikheid wil ek nie tot laat middag nog skoolwerk doen nie ;) Ek het dit gesien as 'n tyd waar die kinders op hul eie kan werk, verantwoordelikheid neem vir hul werk en pogings en bietjie meer tyd beskikbaar maak. Hier is my vorige skrywe oor my besluit om Teaching Textbooks te probeer en hoe dit werk. Die kinders het ongeveer 'n week of twee terug klaar gemaak met Math7 en hier sit ons nou. Ek het gewik en geweeg en was onseker Teaching Textbooks of Math U See vir Pre-Algebra. Watter besluit ek ookal sou neem sou bepaal wat ons vir die hele Hoërskool gaan gebruik want ons verander nie weer nie. Teaching Textbooks is baie duur nuut. Math U See kan ook taamlik prysig wees afhangende van wat jy moet aankoop. Ek koop twee studente boeke altyd aan wat die prys baie meer maak. Ek het altyd probeer om boeke tweedehands te kry om kostes te bespaar. Na baie oorwegings het ek my finale besluit gemaak vir die pad vorentoe. Math U See het weer gewen. Ons begin binne die volgende paar weke met MUS Pre-Algebra.
Nou wat dink ek eerlikwaar van Teaching Textbooks? Dit is oulik! Die kinders geniet dit. Matthew het sy Wiskunde jaar geeindig met 93% en Makayla met 94%, dit werk dus. Maar, ja daar is 'n maar ongelukkig. Die prys het 'n baie groot rol gespeel. Dit is eenvoudig net nie bekostigbaar vir ons nie. Ek hou nie van die spirale sisteem nie. Soos wat die skole werk, bietjie dit, bietjie dat. Daar is in my opinie net nie genoeg oefening van nuwe probleme nie. Matthew het baie dae hande in die hare gesit. Daar was trane en daar was oplossings. My opinie, is presies dit, net myne. Baie mense sal sê dit is vrot, dit is agter. Ander sal sê dit is fantasties. Dit is baie belangrik om mooi te besluit wat jul wil doen en wat jul wil bereik voor jul sulke groot finansiële besluite neem. As iets werk, hou by dit!! Moet nie baie rond kyk wat alles op die mark is nie. Dit kan 'n mens se kop behoorlik deurmekaar krap. Lekker somme doen :)
Ek sou nooit in my lewe dink dat ek ons huidige en wonderlike Math U See program eenkant gaan skuif. Ja ons maak klaar die jaar met MUS en gaan volgende jaar Teaching Textbooks 'n kans gee. Maar hoekom op des aarde wonder julle seker aangesien ek net met lof van MUS praat? Tyd! Dit het alles te doen met tyd. Alhoewel MUS fantasties is en ek dit vir enige een sal aanbeveel en my kinders baie goed doen, draai hulle stokkies. Ja regtig! Ons kyk ons les op die DVD, ek kyk altyd saam. Hulle doen dan elke dag 2 dele (4 bladsye) van die oefeninge. MAAR hulle babbel, speel met die hond ens. Nee ek is nie so streng nie, maar soms gaan tot 2 ure verby en dan is hul eers klaar. Dit beteken vir my daar is minder tyd vir ander goed. Ons kan nie elke dag so lank spandeer op net een vak nie.
Teaching Textbooks werk op die rekenaar. En ja ek het nooit gedink ek sou die roete gaan nie. Die kinders kyk die les, die ou verduidelik baie goed en ook stap vir stap. Tussenin kry hul 'n kans om te 'antwoord' en dan daarna begin 'n paar oefeninge en dan die amptelike werk. Die rekenaar program merk alles. As hul iets verkeerd het, het hul die opsie om te kyk na die oplossing. Dit wys nie net die regte antwoord nie, maar hy verduidelik presies hoe om by dit uit te kom. Op die ouer se profiel kan sy ingaan en kyk wat het die kind alles gedoen, wat het hy verkeerd, het hy na oplossings gekyk ens. Daar is ook 'n werkboek wat basies presies dieselfde is as op die rekenaar, dus het kinders nog die opsies om dit te gebruik maar is nie 'n moet. In die program word die som gevra en die finale antwoord moet ingetik word, dus moet die som tog uitgewerk word of in die werkboek of op 'n stukkie weggooi papier. Ek het baie kommentaar gelees oor die program, baie is nie so beïndruk (en baie was van mense wat dit nie eens gebruik het nie - aai aai) en baie is mal daaroor. Ek moet sê almal hier in SA wat dit gebruik is hoogs gelukkig en dit maak my hart gelukkig. Ons gaan dit 'n kans gee volgende jaar en kyk hoe dit gaan. As dit nie goed werk gaan ons terug na MUS. Daar is oulike voorbeelde (demo) wat jy kan doen om te sien hoe dit werk op hul webblad. Ek sê altyd 'try before you buy'. As iets nie 'n voorbeeld het nie koop ek dit nie. TT begin eers van Graad 3 af.
Dit is nie 'n goedkoop program nie, veral as jy dit van oorsee bestel. Ek het egter 'n tweedehandse kopie gekoop.
Ek sal julle volgende jaar op hoogte hou van ons amptelike ondervinding met die program. Groete Maryna
Ek is 'n Tuisonderwys ma van twee pragtige kinders. Ons woon in Amanzimtoti - KwaZulu Natal. Ek is ook 'n vryskutskrywer, vertaler en kunstenaar. Indien jy met my wil kontak maak stuur gerus vir my 'n e-pos na moolmanmaryna@gmail.com.