Monday 24 March 2014

Waar is ons?

Ek het lank laas 'n plasing gemaak. Wou maar net laat weet dat ons nog hier is.

Ons familie is deur 'n traumatiese tyd en dinge begin nou weer na normaal terug keer.

Skole sluit Vrydag, maar ons neem reeds die week af, dalk ook volgende week. Ek sal die tyd gebruik om alles in orde te kry en die nodige beplanning te doen vir die komende weke.

Ek sal binnekort weer plasings maak. Julle kan uitsien na die laaste SOTW aktiwiteite wat ons gedoen het.

Groete

Maryna

Friday 7 March 2014

Leer Bybel verse op 'n maklike manier

In ons huis word God betrek by elke deel van ons lewe. Dit is vir ons ongelooflik belangrik dat ons kinders moet weet wat van hulle verwag word en hoe om 'n Goddelike karakter te bou en dit toe te pas.

Om 'n verhouding met God te bou moet jy ook die Woord ken.


Ons gebruik tans 'n oulike reeks boeke Learning the Word for Life. Hierdie boeke kan as e-boeke aangekoop word van Bible Draw wat ook beter bekend staan as Picture Bible. Of jy kan die gedrukte boeke koop deur Oikos Ministries in Suid Afrika.

Die doel agter die boek is om vir 'n kind teksverse uit die Bybel te leer deur dit aan 'n prentjie te verbind. Jy kan vir jou kind eers die hele teks lees. Dan net die eerste gedeelte wat hulle kan koppel aan die eerste deel van die prentjie - soos dit uiteengesit word in die boek (sien foto hieronder). Elke dag doen hul net een deel en ook sy ooreenstemmende deel van die vers. Aan die einde van 'n week behoort die kind elke dag 'n stukkie by te geleer het en kan die hele vers aan jou oordra. Daar word dus een kerngedagte per week geleer wat uit meer as een opvolgende verse bestaan.

Die reeks bestaan uit drie boeke. Die opvolg hiervan is die Picture Bible wat in twee boeke beskikbaar is: Die Nuwe Testament en Die Ou Testament.
 
In die foto hieronder kan jy sien hoe elke deel opgebreek word. Aan die linkerkant wys die dele van die prent en ook die teks gedeelte onder dit. Aan die regterkant sien jy hoe die student se bladsy lyk. Ek het in potlood die Afrikaanse teksverse geskryf aangesien ons dit natuurlik in Afrikaans doen. Ons gebruik die 1933/53 vertaling van die Bybel.

Voorbeeld uit die ouergids

Die foto hieronder is uit die studente boek. Aan die linkerkant is daar 'n plek wat jy 'n 'gesprek' met God kan neerpen. Ons gebruik dit egter om die verse in Afrikaans te skryf.


Voorbeeld uit die studente boek

Hier is voorbeelde van hoe die kinders dit gedoen het. Ek moet ook bynoem dat ek ook 'n boek het en dit saam met hulle doen.

Voorbeelde uit Makayla se boek

Voorbeelde uit Matthew se boek



Die kinders geniet dit geweldig om die teksverse te leer en die prentjie te doen. Ja ma ook! Dit is belangrik dat ons nie net altyd vir ons kinders goed gee om te doen en verwag hulle moet net self voortgaan nie. Ons moet self toepas wat ons vir hulle leer en dit saam met hulle geniet.

Maak God deel van julle dag.

Groete

Maryna

Monday 3 March 2014

Sport Aktiwiteite

Die kinders het verlede jaar begin met Figuurskaats, wat hul nogsteeds doen.

Hierdie komende naweek het hulle hul eerste amptelike graderings toetse.

Met hul groot liefde om vinnig op die ys te beweeg het hulle nou ook begin met Yshokkie. Matthew het amptelik besluit om deel te word van die DurbaKnights Ice Hockey Club. Makayla kan nog hierdie week 'n les neem en dan besluit of sy ook die hokkie meer ernstig gaan aandurf.


DurbaKnights is Durban se amptelike Yshokkie Klub. Vir tyd en wyl maak hul gebruik van Galleria in Amanzimtoti se ysskaatsbaan. Die Durban ysskaatsbaan is tans besig met 'n groot transformasie. Dit gaan 'n massiewe olimpiese grootte baan wees as dit klaar wees en ons sien baie uit daarna. (Dit is natuurlik ook baie nader vir ons om te ry)


Huidiglik maak die kinders van die Klub se toerusting gebruik. Indien hul meer gevorderd is sal ons vir hul hul eie toerusting aankoop. Yshokkie is nie vir bangbroeke nie. Dit is 'n baie vinnige kontaksport. Dit is 'n wonderlike spansport en is fantastiese vir kinders se selfvertroue en om uit hulle doppe uit te klim.


Ek sal in die toekoms nog plasings maak oor hul sport.

Groete

Maryna