Showing posts with label Engels. Show all posts
Showing posts with label Engels. Show all posts

Saturday, 13 February 2016

Formele skryf program (Engels) - IEW

Ek het 'n geruime tyd terug al die IEW (Institute for Excellence in Writing) se SWI (Student Writing Intensive) level b program gekoop.

Ek was bang om dit te gebruik. Ek was bang dit is bo my kinders se vlak en dat ek nie gaan weet waar om te vat en waar om te los nie. 

Die waarheid is eintlik dat ek totaal my kinders onderskat het.

'n Paar weke gelede het ek alles bymekaar gekry en vir die kinders elkeen hul stel uitgedruk. Ons het begin deur die video les te kyk waar Andrew Pudewa presies stap vir stap verduidelik wat die kinders moet doen. Dit is asof hul saam met hom in die klas sit.

Tot my verbasing het die kinders sommer dadelik gesnap en dadelik weg gespring met hul werkstukke.

Die eerste les storie doen Mnr Pudewa met hul. Daarna is daar twee addisionele storie stukke wat die ouer met die kind moet doen.

Die lesse word begin deur te leer van kernwoorde wat hul uit die stuk haal. Daarna moet hul kan terug vertel uit hul kernwoorde presies waaroor die stuk gegaan het. Woorde kan geskuif en vervang word, solank die storie of feite dieselfde boodskap oordra. Daarna word twee-twee sinne met mekaar verbind deur 'n 'dress-up' woord. Die kinders skryf dan hul eerste konsep storie. Die volgende dag hersien ons alle foute en skuif woorde rond en dan tik hul dit oor. Die keuse is daar om dit netjies oor te skryf, maar die kinders het gevra om die finale een uit te tik.

Met elke nuwe video les word daar nuwe 'dress-ups' bekend gestel. Hul leer ook meer oor die skryf proses en hoe hul kan verbeter.

Die program beveel aan dat jy ook die TWSS (Teaching Writing Structure and Style) dvd's saam gebruik om die ouer te help met die leer van die hele skryf proses. Ek het die DVD's MAAR dit is moontlik om die SWI lesse te doen sonder die TWSS. Ek persoonlik sien dit as groot waarde, maar dit hang van ouer tot ouer se behoefte af.

In ons persoonlike ervaring dink ek dit is 'n uitstekende program. Die kinders verbaas my elke dag meer en meer. Ons werk elke dag aan die program, party dae bietjie langer as ander. Ons rek 'n les uit oor ongeveer drie tot vier dae.

Wat vir my opvallend is, is dat die kinders altyd gretig is om dit te doen. Ek hoef nie eens te vra nie. Die video aanbieding is baie snaaks, wat dit natuurlik prettig maak. Die kinders dink werklik en verbreed hul woordeskat ongelooflik uit. Dit help ook met begrip. Ek moet net bynoem die speltoetser is nie opgestel op ons rekenaars nie, so hul moet self die woorde kan spel. Ons maak egter nie 'n hele spel les hieruit nie, dit kom apart. 

Ek is baie trots oor wat my kinders tot dusver vermag het met die progam.

SWI kom in drie vlakke. A, B en C. Sien asb hul webblad vir meer besonderhede en voorbeelde. Dit kan aangekoop word by IEW direk van oorsee of deur Oikos Ministries hier in Suid Afrika.



Groete

Maryna

Monday, 9 March 2015

Engelse Grammatika Fix It! Grammar

Begin van die jaar het ek baie onrustigheid gehad oor ons Engelse program. Ek het rond gesoek, na voorbeelde gekyk en hier en daar iets vir 'n toetsloop geneem.Dit was werklik nie 'n besluit wat ek ligtelik geneem het nie.

Ons het dus LLATL (Learning Language Arts through Literature) heeltemal gestaak en oorgegaan na die IEW (Institute for Excellence in Writing).

Dit is 'n groot verandering en ek wil graag my opwinding van ons nuwe Grammatika program met jul deel.



Fix It! Grammar is al 'n geruime tyd beskikbaar van IEW. Hul het egter dit uitgebrei en daar is nou ses boeke beskikbaar. Ek het dus die nuwe weergawe aangekoop. Hierdie was my eerste bestelling van oorsee wat skoolboeke betref.

Fix It! Grammar werk so: Dit word vier keer per week gedoen. Elke dag kry die kind een sin. Uit daai sin is daar 'n woordeskat woord wat hul moet opsoek. Die sinonieme wat die beste by die sin pas word dan geneem en agter in 'n boek geskryf. Daar word elke week 'n nuwe konsep/reël bekend gestel. Die kind leer hoe om op te let vir paragraaf merke. Hul leer bv in week een van Indent, nouns, end marks en homofones

Elke week is daar 'n nuwe kaartjie wat vir die kind gegee word. Voor op die kaartjie staan die naam en letters. Agterop 'n verduideliking van wat dit is. Soos bv met noun is daar 'n n by. 
 
Hoe die kaartjies lyk

Die kind lees die sin en bo die sin merk hul al die nouns met 'n n. Hul doen ook dieselfde later vir articles ens. Hul voeg ook die end merke aan die einde van die sin, soos bv 'n punt, uitroepteken of vraagteken.Indien daar 'n homofoon sou wees soos bv there/their/they're moet hulle die regte een onderstreep en die twee wat nie pas dood getrek. Elke week kom daar iets nuuts by. Heelwat later moet hul dele van die sin verander. Die kind leer dus hoe om die nodige wysigings in hul skryfstukke te maak.

Voorbeeld uit die Onderwyserboek
Nog 'n voorbeeld uit Onderwyserboek
Voorbeeld uit Studenteboek wat gemerk is
 Die sin word dan in 'n boek oorgeskryf sonder die merke wat bo gemaak was. Hul leer hoe om korrek die sin te skryf, dubbel spasies en om die end merke by te voeg. Homofone word slegs die korrekte een in die sin geskryf.

Voorbeeld uit Matthew se boek

Elke dag is daar 'n sin en aan die einde van die jaar het hulle 'n hele storie geskryf.

Hoekom gebruik ons nou juis die program? Dit neem niks meer as 15 - 20 minute per dag nie. Die eerste dag van die week verduidelik ek vir die kinders die nuwe grammatika en hersien die wat reeds gedoen is. Die kinders leer op 'n maklike manier hoe om grammatika te doen deur dit fisies toe te pas uit 'n storie en nie net onderstreep hier en vul in daar nie. Die program is anders as enige ander programme wat ek ooit gesien het. Die kinders is absoluut mal oor die program. 'n Bonus is dat dit help met spelling en dit help hul ook om te dink.

Die reeks bestaan uit die volgende boeke:
Boek 1: The Nose Tree
Boek 2: Robin Hood
Boek 3: Frog Prince, or Just Deserts
Boek 4: Little Mermaid
Boek 5: Chanticleer
Boek 6: Sir Gawain and the Green Knight

Almal moet verkieslik met boek 1 begin. Indien 'n kind nie sou, glo ek sal hul totaal verlore wees in die program en nie weet hoe om wat en wanneer te doen nie. Die boeke bou op mekaar. 

Ek stel voor dat julle na die voorbeelde van die boeke kyk.

Die fisiese onderwyser boek moet aangekoop word. Voor in die boek is daar die skakel na die studente boek in e-formaat wat gratis afgelaai en dan natuurlik uitgedruk word. Jy benodig ook 'n lyntjie boek vir elke kind.

Groete

Maryna

Friday, 22 August 2014

Hoe gemaak met Engelse Spelling?

Vir ons Engelse kurrikulum gebruik ons LLATL (Learning Language Arts through Literature). Ek en die kinders is mal oor die kurrikulum.

Spelling is 'n bietjie lig in die broek met LLATL. Dit is slegs ons persoonlike ondervinding en ek weet baie ouers verskil van my.  Die kinders is in 'n fase waar hulle skryfstukke moet doen, maar kan nie eens behoorlik spel nie. Met die gevolg skryf kan 'n traumatiese ervaring wees.

Ek het gesoek en rond gevra, na voorbeelde gekyk en nog meer. Ek moes iets vind wat die kinders geniet om te doen, wat nie vervelig is nie, waar hulle werklik leer hoe om te spel en dit moet natuurlik bekostigbaar wees.

Ek het verskeie kere gelees van Sequential Spelling. Ek het na die voorbeelde gekyk en die e-boek van die eerste boek in die reeks gekoop .



Ek is werklik baie aangenaam verras. Die kinders is mal daaroor, hulle vra elke keer om nog woorde te doen of as die dag begin wil hul die graagste spelling doen. Ek moet eerlik sê is nie aldag dat sulke goed gebeur nie. :)

Hoe ons die program volg:
Die kinders het elk 'n hardeband boek waarin hulle skryf. Heel bo aan elke bladsy skryf hulle Day 1, Day 2 ens. Slegs 1 dag per bladsy - al is dit net 'n paar woorde. Die eerste paar dae het 'n paar woorde, van dag ses is dit 20 woorde en later beweeg dit aan na 25 woorde per dag.
Ek sê vir hul die woord, ek gee 'n sin vir die woord en herhaal die woord. Sonder dat hul ooit die woord gesien het skryf hul die woord soos hulle dink dit gespel word. 
Ek skryf dan die hoof woord waaruit gebou word soos bv 'in' op die witbord neer in groen en dan die ander letters in blou of rooi. 
As hulle woord verkeerd is, vee hulle dit uit en skryf die regte woord neer. As hul woord reg was, maak hulle 'n regmerkie langs die woord.
Dan beweeg ons aan na die volgende woord. Elke woord word eers geskryf en dan wys ek en hul maak reg en dan eers bewees ons aan.
Die hele doel is dat hulle dit dadelik reg maak en dadelik die regte spelling daarvoor sien en skryf.
Moet nie dat hulle die hele lys skryf en dan eers reg maak nie, hulle gaan nie so leer nie.

Hier is 'n voorbeeld van die eerste paar dae.

Om meer te verduidelik:
Hulle begin by die woord 'in'. Dan is 'in' die basis van alle woorde wat volg, 'pin', 'sin', 'spin' ensovoorts. Die woorde word in groepe aangebied.

Ons het vandag dag 6 gedoen en albei my totale Afrikaanse kinders het 'beginnings' geskryf sonder om 'n fout te maak. Ja, dit is hoe goed die program werk. Om die waarheid te sê is ek skoon uit die veld geslaan oor hoe vinning hulle in 'n kort tyd vorder. Die wonderlikste vir my is dat hulle dit so baie geniet. 

Die kinders leer ook die homofone van woorde wat dieselfde klink maar anders geskryf word. As so 'n woord voorkom, verduidelik ek wat dit is en wys vir hulle hoe dit gespel word.

Almal onthou seker hoe ons spelling geleer het op skool, skryf die woord x keer uit, maar 'n sin met dit. Vrydag skryf jy toets. *Gaap* Nie met die program nie.

Doen gerus die eerste paar dae wat jy gratis as voorbeeld kan aflaai. Almal moet by boek 1 begin maak nie saak hoe goed hul al kan spel nie.

Indien jul dit gaan aanpak, laat weet my hoe dit gaan.

Groete

Maryna

Monday, 28 October 2013

Gebruik van Engelse materiaal

’n Geruime tyd terug was daar op die Tuisonderwys in Afrikaans groep gevra hoekom gebruik van ons ouers Engelse Kurrikulums om ons kinders te leer. Is dit wat in Afrikaans beskikbaar is nie voldoende?

In my opinie is daar een reg of verkeerd nie. Elke gesin gebruik wat werk vir hulle. 

Hierdie is ons persoonlike ervaring: Ons het 'n Afrikaanse Wiskunde program gebruik wat baie goed is MAAR dit gee nie genoeg fondasie nie en ek het oorbeweeg na die Engelse program Math-U-See. (dit help ook vir die tipe kind wat ek het) 

Al die ander vakke gebruik ek Konos (Engels) maar vertaal dit in Afrikaans en ons verwysings boeke wat ons uitneem is Afrikaans of ek vertaal as ek nie 'n goeie Afrikaanse een kan kry. 

Hoekom gebruik ek Engels? Die Afrikaanse goed in my opinie is so vas aan die Dept se riglyne dat dit nie veel ruimte gee vir ekstra ontdek en bietjie meer 'hands-on' leer nie. Ons gebruik nog steeds 'n goeie Afrikaanse program vir Afrikaans. 

Engels as vak gebruik ons 'n 1ste taal program van Amerika. Hoekom? - omdat my kinders moontlik die GED/SAT gaan doen. 

Weereens vra jy seker hoekom, wat is fout met SA se matriek? Seker niks behalwe dat hul eendag so besluit en volgende dag so, omdat matrieks verlede jaar van bakboord na stuurboord gestuur was met goed wat moes gedoen word.   

OOK om my kinders in te skryf by 'n formele verskaffer beteken dat ek R120000 (inskryf van Gr9-12) gaan moet opdok op hul (al twee skryf saam) matriek te laat skryf (bereken teen hierdie jaar se pryse) in vergelyking met ongeveer R20000 vir die GED en SAT (vir albei). Ek weet geld is nie alles nie MAAR as my kinders moontlik verder wil leer gaan ons na matriek geen fondse hê vir hul om dit te doen, daarom spaar ons eerder daai ekstra geld. 

Ek wil ook net dit noem ek was baie anti-Engels, tot ek gesien het wat vir ons alles beskikbaar is. Ons kan nog steeds lekker goed leer uit Engelse materiaal, die enigste verskil vir ons Afrikaanse mense is net bietjie meer moeite van ma se kant af om te vertaal (en ons varkies bymekaar te hou). Ja ek erken my voorbereidings ens vat tyd maar dit is die moeite werd. 

Ek glo ’n mens moet ’n basiese plan hê. Wat alles beskikbaar is vir tuisonderwys oorsee is ongelooflik en dit kan ’n mens geweldig oorweldig. Besluit wat dit is wat julle wil doen en gaan so voort. As iets werk vir julle moet dit NIE verander net om te verander nie.

Dit is ons rede vir die gebruik van Engelse materiaal.

Groete

Maryna