Showing posts with label algemeen. Show all posts
Showing posts with label algemeen. Show all posts

Monday, 8 January 2018

Welkom 2018

Welkom in 2018. Watter nuwe avonture gaan die jaar vir ons almal in ons Tuisonderwys reis oplewer?

Groot verskoning vir die min inskrywings die laaste paar maande.

Vir diegene wat nuut is met die avontuur en ook by my blog, loer gerus rond. Daar is baie oulike bronne wat ek alreeds in Afrikaans oor vertaal het en ek hoop om nog nuwes te plaas.

My raad aan die nuwelinge: vat elke dag soos dit kom. Los die klokkie en horlosie, geniet elke dag en maak die beste van elke dag. Al kon jul nie in 'n dag vermag het soos wat jy dit beplan het nie, elke bietjie tel op die einde.

Aan almal wat Tuisonderwys, wat is julle doelwitte vir 2018? Vir my persoonlik met die laaste paar jaar wat my kinders oor het, beoog ek om werklik dit hul beste jare te maak. Om meer gefokus te wees en dat hul eendag kan terug kyk en vertel hoe ongelooflik die reis was.

Deel gerus jul drome en doelwitte.

Groete

Maryna

Tuesday, 24 October 2017

Oop brief vir die veterane

Dit is ongelooflik om te sien hoeveel mense daar nou is wat Tuisonderwys of oorweeg om te Tuisonderwys vandat ons begin het.

Net soos ons begin het, het enige ouer baie vrae en navorsing wat hulle doen. Met die vinnige lewe waarin ons vandag lewe is dit soveel makliker om vinnig antwoorde op Facebook groepe te ontvang van soveel verskillende ouers.

Daar is nou al baie veteraan moeders. Diegene wat al meer as 7+ jaar hul kinders Tuisonderwys. Dit is gewoonlik hulle na wie nuwe ouers graag draai vir raad en advies.

Ek was onlangs in 'n situasie wat my vir die eerste keer so laat skaam het om myself 'n Tuisonderwys moeder te noem. 'n Dame wat navorsing doen oor Tuisonderwys, was so aangeval op 'n Facebook groep dat ek wonder of sy dit nou ooit eens gaan oorweeg. Hierdie was 'n plaaslike dorp groen, nie eens 'n Tuisonderwys groep nie.

In my poging om die dame te verwys na 'n instansie, word ek gebombadeer deur die ander veteraan moeder. Ek het die dame persoonlik probeer kontak en sy het my dood eenvoudig geblok. Die kersie op die koek, amper twee dae later kom daar iemand anders te voorskyn wat my uit my sokkies uit vloek. Dit alles net omdat ek iemand verwys het na 'n plek.

Ek Tuisonderwys nou amper 9 jaar. In my lewe het ek my nog nooit so geskaam om eens deel te wees van die Tuisonderwys beweging nie. Hierdie vrou wat haar soos 'n vark op sosiale media gedra het, staan as 'n bekende onder die Tuisonderwys gemeenskap in ons dorp. Dieselfde dame wat my en ander aanval en van dinge beskuldig doen inteendeel die ding wat sy uitwys as onwettig.

Dit is die plig van 'n veteraan of enige ander Tuisonderwys moeder om op 'n mooi manier ander te help. Vandag is daar so baie opsies ens dat dit maklik oorweldigend kan wees vir enige persoon wat Tuisonderwys oorweeg.

Wie gee ons veterane die reg om ander 'af te skiet' en soos 'n buffel op te tree. As jy iemand is wat geirriteerd raak oor dalk dieselfde vrae oor en oor. Moet eenvoudig nie op plasings kommentaar lewer nie, lees verby en gaan aan met jou lewe.

Tuisonderwys kry reeds baie aanvalle, ons het werklik nie nog nodig dat ouers in opstanding met mekaar raak nie. 

Elke persoon het hul eie siening en jy kan nie jou siening en wat vir jou werk soos 'n formule ook op ander afdruk nie. Indien jy ander wil help en raad gee, doen dit op 'n mooi manier. 

Ons, of aldan ek is daar om mense by te staan en te help. Met graagte en met liefde ;) Vra jouself dit, waar pas jy in? Hoe sien die gemeenskap jou? Jy mag dalk dink jy beweeg onder die rader. Maar sodra jy 'n lelike woord op sosiale media plaas, word jy gebrandmerk en 'n beeld word van jou geskep.

Wees die Tuisonderwys ouer op wie jou kinders kan trots wees.

Groete

Maryna

Thursday, 6 July 2017

Slakkepas deur die jaar

2017 Het verseker sy uitdagings opgelewer. Nie net op die huis front nie maar selfs in Tuisonderwys. Daar is so baie dinge wat eenvoudig net nie gewerk het nie en met ander is ons nog nie nastenby waar ons, of altans ek wou gewees het nie.

Het jul al ooit ook so gevoel? Jy het jou plan en jy is seker dit gaan so vir jou werk. Voor jy jou oë uitvee het jy of dinge verander, of jy het nie eens by iets uitgekom nie.

Ons is in die helfde van die jaar en in sekere vak areas het dit goed gegaan. In ander was dit nie so suksesvol.

Ons het 'n baie groot verandering in een van ons kurrikulums gemaak, Twee keer! Ja, wraggies, twee keer verander. Was die eerste verandering die regte een, ek is nie so seker, kon dalk harder probeer het. Die tweede verandering was 'n moet, dit was eenvoudig een van daai kop teen die muur stamp slegte besluite om dit in die eerste plek aan te pak. Ek het egter baie navorsing gedoen en 'n besluit geneem. Ek sal oor 'n paar weke meer hieroor deel.

Hoe verloop jou jaar sover? Is jul waar jy gehoop het jul gaan wees? Het jul 'uit' gegooi? Iets nuut in gebring? Deel bietjie jul ervarings.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Wednesday, 17 May 2017

Wat regverdig kurrikulum kostes?

Elke jaar koop ons almal moontlik duisende rande se kurrikulum of verskeie boeke om in ons Tuisonderwys te gebruik.

Dit is geen geheim dat die pragtige kurrikulums met al sy bygevoegde boeke en addisionele bronne meestal van Amerika af kom. Ons monde water behoorlik as ons sien wat alles daar buite beskikbaar is. Bob Jones, Abeka, IEW, Apologia net om 'n paar te noem. Die boeke word gewoonlik saamgestel deur 'n span kenners.

Vir ons om kurrikulum van oorsee aan te koop, beteken nie net boeke in dollar pryse nie, maar natuurlik ook die kostes om dit in Suid Afrika te kry en dan ook doeane kostes. Dit is genoeg om enige persoon te laat sidder of twee keer te laat dink. Tog is ons steeds bereid om daai kostes te betaal. Ons moet in ag neem dat hierdie boeke deur massaproduksie gedruk en versprei word. Duisende boeke word elke jaar verkoop.

Kom ons kyk na ons plaaslike kurrikulum/boeke verskaffers. Hier verwys ek nie na die gewone CAPS boeke ens. Ek verwys na boeke wat Tuisonderwys moeders saam gestel het. Daar word menigte ure in die saamstel van boeke gespandeer. Tyd wat daai moeder saam met haar kinders kon spandeer het (ja, die ander vat ook tyd, alhoewel die ander groot name dit voltyds vir 'n lewe doen). Baie navorsing wat gedoen moet word. Hierdie alles om te verseker dat ons wat in Suid Afrika die produkte aankoop gelukkig sal wees met wat ons ontvang. Hierdie kurrikulum/boeke/kursus is nie massaproduksie nie. Die word op aanvraag gedruk met groot koste uitgawes. Dit word noukeurig verpak en aangestuur.

Wat regverdig die kostes van die plaaslike kurrikulums in vergelyking met buitelands? Dit is bloot die reg op keuse.

Kom ons kyk gou na net 'n paar om te noem 15 Minuut Afrikaans, Footprints of our Land, Omvattende Afrikaans, Toetentaal Afrikaans en Somme(r) Pret (skuus as ek iemand uitlaat) Ons kan probeer vergelyk dat 'n jaar studie boek met Studenteboek en Onderwyser van Platinum bv. R400 sal kos. Waar 'n program soos 15 Minuut Afrikaans wat ook oor 'n jaar strek ook net oor die R400 sal kos. Maar dan bv. 'n engelse skryfprogram sal jou 'n paar duisend uit die sak ruk as jy dit van oorsee bestel.

Indien jy 'n plaaslike Tuisonderwys moeder wil ondersteun of dalk net eenvoudig daai spesifieke program gebruik. Hou die volgende in gedagte voor jy dalk voel die prys is nie bekostigbaar nie.
- Is die boeke gedruk en hoe?
- Word dit per aanvraag gedruk? Boeke wat honderde op 'n slag gedruk word kos goedkoper, dit is egter net nie prakties vir die Tuisonderwys ouer of samesteller om dit te doen tensy jou beursie nie 'n bodem het nie.
- Waaruit bestaan die program?
- Oor hoe lank tydperk strek die program?
- Kan 'n opvolg kind dit weer gebruik?
- Uit hoeveel bladsye bestaan die program? Wat het jy addisioneel nodig?
- Indien 'n elektroniese formaat beskikbaar is, hou in gedagte dat jy geen posgeld op dit betaal nie en is dadelik beskikbaar.

Baie ouers koop boeke aan met die wete dat hul dit weer kan verkoop. Sommiges voel dat elektroniese boeke nie die prys waardig is omdat hul 'niks' weer daaruit kan kry. Jou kind het egter 'n hele jaar se kennis ontvang danksy 'n ander ouer se deursettings vermoë. As jou kind in 'n publieke skool was, sou jy ook niks terug kry na jy 'n jaar R20000 plus aan net skoolfonds betaal het nie, behalwe 'n rapport en 'n kind wat hopenlik gevorder het.

Ondersteun gerus om plaaslike kurrikulum/boek/kursus verskaffer. Hul skryf die produkte juis vir ons wat Tuisonderwys.

Ek sal graag julle insette wil hoor.

Groete

Maryna

NB: Indien jy 'n produk elektronies koop, moet dit asb nie aangestuur vir iemand anders nie. Respekteer die kopiereg daarop.

Friday, 18 November 2016

'n Terug kyk na 2016 en...

Kan julle glo die jaar is so te sê op sy rug. Sjoe watter jaar was dit nie. 

Ons het seker nie alles vermag wat ek wou in die skool jaar nie. Met Wiskunde het ons egter so ver verooruit al gewerk dat ek eenvoudig nou net moes stop. Weereens het die kinders fantastiese punte opgelewer.

Dit is ongelooflik om te sien hoe ons kinders groei, nie net in lengte nie, maar hoe hul karakters vorm en hul persoonlikhede verander.

Ek is ongelooflik trots op my kinders. Hulle is fluks, nie net by die huis nie, maar help ook altyd by die kerk. Help skoonmaak, tafels opruim en nog veel meer, sonder om te boe of te ba. Hulle is vriendelik en gee om vir ander. Wat meer kan 'n ma wil hê.

Op 'n persoonlike noot was die jaar baie swaar. Deur baie moeilike tye gegaan, maar God het ons staande gehou en ons kan net vasklou aan Sy beloftes en Woord.

In die volgende paar weke gaan ek resensies (of aldan my boekloer) plaas oor twee produkte van moeders. Ek gaan ook  'n paar nuwe aflaaibare hulpmiddels plaas wat ek met toestemming vertaal het. Ek gaan ook bietjie terugvoer gee oor 'n ander produk waaroor ons baie gek was en dalk nie so meer. So hou die spasie dop.

Groete

Maryna

Saturday, 10 September 2016

Jy doen dalk te veel?

Menigte Tuisonderwys ouers is oortuig dat hul eenvoudig net nie genoeg doen nie. Daar is twee sye van die onderwerp, wanneer jy regtig net amper niks doen en wanneer jy besig is om jou kind dood te maak - op meer as een manier.

Ek gaan eers die aspek van nader bekyk van jy doen nie genoeg. Jul doen net Wiskunde elke dag, lees dalk een boek en dit is klaar. Of... jy los jou kind aan sy eie genade oor en hy/sy sit en blaai dalk deur 'n boek, teken 'n prent, speel op die rekenaar. NEE! Dit is nie genoeg nie.

Wat is dan te veel? Hierdie is slegs my siening, jammer as ek op tone trap. Voorbeeld: Jy koop die duurste programme van bv Math U See, Teaching Textbooks, Saxon/Singapore en jy gebruik almal om uit te werk. Jy gebruik dalk MUS se video les, TT se oefening op rekenaar, 'n les of twee uit Saxon/Singapore. STOP!!! Jy is besig om jouself en jou kind en jou beursie dood te maak. Elkeen van die bogenoemde is volledige progamme op hul eie. Ek vat MUS en TT as 'n voorbeeld. Hierdie is twee programme wat totaal anders werk. Een is spiraal (TT) en een is 'mastery' (MUS). Jy kan nie die twee saam gebruik. Een program gaan moontlik al aan 'n konsep geraak het wat die ander een nog nie aan gewerk het. Nee een is nie agter die ander een nie, dit is net twee verskillende benaderings. Jou kind gaan later nie weet of hy Harry of Sally is nie. Jou kind gaan oorwerk wees, jy gaan hom uitbrand. Moontlik gaan jou kind Wiskunde en/of skool haat!

Dit geld egter nie vir Taal vakke nie. Baie boeke bied bv. goeie vaslegging met letterkunde, gramattika ens, maar dit het baie min of niks vir spelling. Dan voeg jy iets ekstra by. Daar moet 'n balans wees van hoeveel jy doen.

Om die duurste kurrikulums te koop maak nie van jou 'n beter Tuisonderwys moeder of van jou kind 'n beter student nie. Glad nie! 'n Kurrikulum moet daar wees as jou gids indien nodig. Jy moet nie 'n slaaf wees vir dit nie, maar dit moet vir jou werk soos nodig.

Ek lees gereeld op die buitelandse forums hoe mense so baie goed gebruik en dan sit hul soms tot laat en skoolwerk doen en selfs op naweke. Ek persoonlik dink daai mense is in die bol gepik - jammer.

Daar is eenvoudig kurrikulum of boeke waarvoor 'n mens nou maar 'n bietjie baie meer moet spandeer as ander. Maar maak seker dit werk vir jou kinders voor jul besluit om by te voeg of te verander. Meeste plekke bied voorbeelde van hul produkte. Moet nie net daarna loer nie. Laat jou kind 'n voorbeeld les doen en laat hul voel hoe dit voel om die program te gebruik. Wat hul gaan ervaar is die belangrikste. Help nie jy as ouer verander iets omdat Sannie langsaan dit en dit gebruik en of omdat JY voel dit is nie prettig nie. Dalk hou jou kind baie daarvan, dalk doen jou kind baie goed daarin, dalk hou jou kind van vaal goed. Jou kind se opinie is belangrik. MAAR as jou kind vir jou sê hy/sy het nie lus vir dit nie. Dan neem jy beheer!

Nou waar is die middel van alles, wat is dan genoeg? As jou kind leer wat nodig is om eendag 'n verantwoordelike volwasse te wees met goeie morele waardes en goeie algemene kennis en 'n groot liefde vir God. Dan is jy reg. Brei jou kind se kennis uit en fokus veral op jou kind se passie. 

Ek hoor graag julle opinies.

Groete

Maryna 

NB: Ek het TT en MUS as basiese voorbeeld gebruik aangesien ek onlangs daaroor geskryf het.

Thursday, 11 August 2016

Moet leer altyd pret wees?

Ek moet erken, ons hou daarvan om pret te hê terwyl ons leer. Daar is egter sekere leerareas wat 'n mens net nie verby kan kom en dinge baie meer ernstig moet opneem en ekstra hard werk.

Kyk gerus na Diana Waring se video oor die onderwerp.


Loer ook gerus na die video.


Groete

Maryna

Thursday, 17 March 2016

Te veel, te gou

Is jy dalk skuldig daaraan dat jy te veel skoolwerk, te gou vir jou kind gee?

Alles moet nou en dan gebeur. Kyk na die video hieronder. Diana Waring wys vir ons hoe te vee,l te gou 'n negatiewe impak kan hê.

Groete

Maryna

Monday, 14 March 2016

Nie volgens plan

Ek het hierdie jaar behoorlik uitgewerk vir ons en het geweet daar sal moontlik tye wees wat dinge net nie volgens plan verloop nie.

Verlede week in nood moet Makayla by 'n hospitaal kom wees haar Blindederm wat moet uit. Dit was 'n taamlik traumatiese ervaring, nie net vir haar nie, maar vir ons ook. Die feit dat ons na 'n staatshospitaal moes gaan was beslis nie wat ek vir my kind wou gehad het nie. Ek het heeltyd myself blameer en skuldig gevoel omdat sy daar moes wees en dat ons nie vir haar beter kon doen nie. Die realiteit is egter dit wat dit is, as jy nie anders kan nie, kan 'n mens nie. Sy is Vrydag ontslaan en herstel goed by die huis. 

Intussen is Matthew ook nog siek met griep en mangelonsteking. 

Ons vat nou maar die week ook af. Ons sal moontlik in die vakansie werk. Dit is seker nie 'n moet nie, maar daar sommige dinge waarby ek graag sou wou hou. Op die stadium gaan ons dit maar vat soos dit kom, dag vir dag.

Om eerlik te sê is ek baie uitgeput. Die enigste dag wat ons nie op en af ry vir een of ander iets nie, is op 'n Saterdag. Elke dag is besig, sport, jeug, woordskool ens. Alhoewel ek fisies moeg is, is dit tog eintlik 'n groot voorreg wat ons het dat ons kinders so betrokke kan wees met die dinge van die Here (wat natuurlik meeste van ons tyd in besit neem). Dink nie daar is enige iets wat 'n ouer se hart blyer maak nie.

As jy deur 'n tyd gaan van moeg of nood, staan terug en neem 'n breuk. Dit is ok! Regtig dit is! Onthou 'ons is tot alles in staat deur God wat ons krag gee'

Groete

Maryna

Thursday, 4 February 2016

Ons eerste maand 2016

Sjoe, en so is Januarie maand ook reeds verby. Wat 'n ongelooflike maand was dit nie gewees nie.

Ek moet eerlik terug kyk en sê hierdie was moontlik een van ons beste maande nog ooit gewees. Alles het net reg verloop. Kinders leer soveel meer, nuwe dinge is bekend gestel en hul het totaal en al my verwagtinge oortref.

Ons het begin werk aan ons nuwe Wetenskap studie - The Elements van Ellen McHenry (Basement workshop). Dit is 'n inleiding tot chemie en 'n bekendstelling aan die periodieke tabel ens. Ek sal 'n meer volledige skrywe nog hieroor plaas. Al wat ek net gou daaroor kan sê is wow en al te lekker!

Ons het ook uiteindelik begin met IEW (Institute for Excellene in Writing) se Student Writing Intensive level B skryf program. Ek het dit lank uitgestel en is so bly ons het uiteindelik met dit begin. Ek is in my noppies en die kinders verbaas my elke dag net meer en meer. Ek sal ook 'n meer volledige skrywe hieroor plaas.

Ons is geneig om soms ons kinders te onderskat met werk. Ek is self skuldig daaraan. As 'n mens nie gaan probeer en iets nuuts bekend stel nie, sal hul nie groei en verder ontwikkel nie.

Ek sien uit na die res van die jaar en alles wat ons nuut gaan ontdek

Groete

Maryna

Tuesday, 5 January 2016

2016 wyshede uit die Woord

Wow...2016... kan julle glo?

Mag almal 'n wonderlike jaar beleef en mag God sy hand van beskerming en oor jul hou. Onthou soek eers die Koningkryk van God en al die ander dinge sal vir jul gegee word.

Hier is 'n paar wyshede uit die Bybel om jul deur die jaar te dra.

Die Here bepaal die koers van die mens
met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.
As so iemand val, bly hy nie lê nie,
want die Here help hom op.  (Psalm 37:23-24)


Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.  (Jesaja 41:10)


“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet
of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles
dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader
weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir
die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook
al hierdie dinge gee.”  (Matteus 6:31-33)


Kennis begin met die dien van die Here;
dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. (Spreuke 1:7)


Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here
en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as
beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se
diens julle staan.  (Kolossense 3:23-24)


Groete

Maryna

Thursday, 26 November 2015

2015

Die 'skooljaar' is op sy rug en ek moet werklik myself knyp om te glo die jaar is verby.

As ek terug kyk na die jaar, skuld ek eintlik my kop. Dit was wel...ek weet nie, nie een van die beste jare wat skoolwerk betref nie. Ons het wel nie baie af geneem in die jaar soos vorige jare nie en het ongelukkig ook nie juis op uitstappies gegaan nie. 

Die jaar voel werklik nog net nie afgehandel nie. Het julle ook al so gevoel? Dit voel of ons soveel meer moes vermag het. My kinders het gegroei in baie aspekte, maar daar is nog baie ruimte vir verbetering in sommige dinge.

Met die leemte in my hart bring dit my net terug op my kniee. 

2016 Sal 'n jaar met hoop en vreugde wees. 'n Jaar vol opwinding en baie kennis, 'n jaar van ontdekking.

Met my persoonlik was dit 'n taamlike emosionele jaar met tye. My ouers het verhuis van Richardsbaai (wat sommer naby was) na Saldanha (wat nou so ver is). Ons het 'n baie spesiale familielid verloor weens kanker. Dit voel steeds onwerklik.

Met die positiewe het ons uiteindelik ons eie huis, 'n plekkie vir ons voet. Stukkie vir stukkie maak ons mooi, verf hier, plant daar.


Ek beplan om die vakansie te gebruik om 'n paar opwindende en lekker aktiwiteite saam te stel en daar is baie om te vertaal. Ek glo 2016 gaan sommer 'n donkie skop jaar wees.

Baie sterkte aan almal vir die jaar wat voorlê!

Groete

Maryna

Tuesday, 4 August 2015

Om te knutsel

Die woord knutsel mag moontlik vreemd wees vir sommiges. Meeste ken dit maar as die Engelse woord Tinker.

Nou wat presies is knutsel en hoekom is dit so belangrik?

Knutsel gee jouself en jou kinders die vryheid om te kreatief te raak, om 'n oplossing te vind vir moontlike struikelblokke, om te leer terwyl hul met hul hande werk. Hul leer om hul verstand te gebruik en toe te pas wat hul ontdek of leer het.

Kom ons neem die Disney karakter Tinkerbell vir 'n oomblik, sy Tinker, sy skep, maak iets uit niks.

Stel jul skooldae so voor: Wiskunde werkboek, taal werkboek, Wetenskap - vul hier, kyk 'n video daar, ma wys en hulle sit en gaap. Dit geld vir menigte vakke.

MAAR stel jouself nou dit voor: Jul haal 'n boks uit die kas vol verrassings. Dit is nou natuurlik as jy nie reeds 'n knutsel ruimte het nie. Binne is daar draadjies, batterye, liggies, ratte, wieletjies, waaiertjies en nog vele meer. Jou kinders se oë rek van opgewondenheid.

Hulle pas en toets en speel. Dit werk saam, dit werk nie saam nie, dit kan so beweeg en dit hop op en af. Ma antwoord net nou en dan as die kind 'n vraag vra. Baie belangrik ma help nie, ma bou nie. Ma kyk hoe haar kinders ontdek en skep.

Nie net kan knutsel gebruik word in Wetenskap nie, maar hul kan ook Wiskunde daaruit leer, of Aardrykskunde of self hul taalvermoë uitbrei en opbou. Knutsel stel hul in staat om 'n wye spektrum van dinge te leer sonder dat hul besef hul leer.

In die Ted video hieronder wys die kunstenaar CH Huang wat hy alles met sy geknutsel maak.


Dit klink en lyk opwindend!

In my volgende inskrywing gaan ek jul wys hoe om basiese elektroniese komponente saam te stel vir die kinders om mee te knutsel. Dit gaan vet pret wees.

Groete

Maryna

Tuesday, 21 July 2015

Nuwe kwartaal skop af

En so het die nuwe kwartaal afgeskop.

Ons het getrek, ons is rustig in ons eie huisie. Sondag hardloop ek toe rond en kry bokse uit die motorhuis om ons boeke, potlode, penne ens bymekaar te skraap. Die kas het net soveel plek, waar pak ek alles, wat kies ek, wat sit ek eers terug in 'n boks? My kop het behoorlik gedraai.

Hier sit ons en doen Wiskunde en taal by die eetkamertafel en op die bank. Ons het nie 'n skoolkamer en alles voel net nie lekker vir my. Ek soek my plek, my plek waar ek op 'n witbord vir die kinders kan verduidelik, goed skryf, dinge daarteen plak. Waar sit ek die skeppings?

Ja ek neem baie die rol van juffrou in, my kinders hou van orde, hulle hou van ma wat saam leer.

Lui lui begin ons die nuwe kwartaal, ek het baie planne ja, maar vir die week sleep ek nog die voete.

Verder plant ons blomme en plante uit, ontdek plante en bome se name, bekyk die tuin, voer die magdom voëls wat hul ete kom haal. Ons leer om ons papier, plastiek en karton te hernu en geniet net die lewe.

Is dit nie wonderlik om te Tuisonderwys nie ;)

Groete

Maryna

Monday, 15 June 2015

Nuwe hoofstuk

Ons is die laaste paar weke stadig maar seker besig om al ons laaste besittings in te pak. 

Wel eintlik kan ek nie regtig sê stadig nie want meederheid is al weke gelede gepak. Bokste staan die huis vol en dit lyk behoorlik woes.

Ons verhuis die 25ste na ons eie huis. Ons eerste huis wat ons eie is. Dit is natuurlik my (ons) grootste droom wat waar geword het. Na baie jare se bid het dit uiteindelik waar geword.

Ons is al meer as 7 jaar in Durban (area) en het al menigte kere getrek waarvan ons verlede jaar in 3 verskillende huise gewoon het. Die trek na ons eie huis is absoluut 'n nuwe hoofstuk in ons lewens.

Ons het uiteindelik 'n holte vir ons voet, 'n tuiste, 'n plek waar die kinders kan weet daar is altyd vir hul heenkome.

Ek sien uit na die nuwe hoofstuk. God is so goed vir ons, elke dag kan ons net vir Hom dank vir al die seëninge wat Hy oor ons bring. 

Hou altyd aan bid en glo...God antwoord op Sy tyd!

Groete

Maryna

Monday, 2 February 2015

Boek loer: Waar kom babas vandaan?

Ek is seker dat meeste ouers slaan behoorlik in sweet uit as dit by die onderwerp van babas en seks kom. Hoe vertel jy vir jou kind sonder om jou kind te laat kopkrap of jouself so opwerk dat jy skaars kan asemhaal.Dan praat ons nie eens van bloos van oor tot oor nie.

Ek het hierdie oulike boek Kom ons praat oor waar babas vandaan kom deur Robbie H. Harris lank gelede by Bargain Books raak geloop.

Kom ons praat oor waar babas vandaan kom
Ek gaan nie jok nie, ek het dit baie lank uitgestel en het werklik baie opgesien na hierdie onderwerp. Die boek is baie oulik, maar hierdie ma was net nie reg vir dit nie. Ek meen ek wil mos hê my kinders moet in 'n mate onkundig en onskuldig bly. Ongelukkig is die realiteit dat hulle groot word en ons moet dit aanvaar.

Ek het onlangs die onderwerp aangedurf. Ek het self die boek vir die kinders gelees en dit het baie goed verloop. Hulle het alles verstaan en wou net meer weet. Dit was toe glad nie so erg as wat ek gedink het nie. Niks sweet op my voorkop en geen rooi gesigte.

Hier onder is 'n kykie na die inhoudsopgawe.

Inhoudsopgawe
Inhoudsopgawe

Die boek is in 'n mate soos 'n strokiesprent maar ook nie heeltemal. Die prentjies is oulik geillustreer. Die karakters is 'n voëljie wat alles wil weet en 'n bytjie wat niks wil weet. Die voëltjie is glad nie skaam en die bytjie wil net heeltyd weghardloop.

Daar word eenvoudig vir die kinders verduidelik wat alles is, hoe alles werk, die wat en die hoekom en waarom. Dit is smaakvol verduidelik. Die boek verduidelik ook mooi dat seks vir grootmense is wat getroud en lief is vir mekaar. 

Die eier se ongelooflike rit
 Ek het nog nooit enige ander sulke tipe boeke onder oë gehad nie, kan dus nie vergelyk nie. Maar ek glo as daar nou werklik een boek is wat ek vir enige iemand kan aanbeveel is dit die een. As jy vir jou kinders die blomme en bye moet vertel KRY DIE BOEK!

Die boek is geskik vir kinders tussen 8 en 12 jaar. Maar ek sal voorstel wag tot jou kind werklik emosioneel en verstandelik reg is vir die onderwerp. Eerder van so 10 of 11 jaar. (is net my opinie)

Voorspoed en laat weet hoe dit gegaan het.

Groete

Maryna

Monday, 12 January 2015

2015 Skool skop af

Die dag het aangebreek en ons amptelike eerste dag van 'skool' 2015 skop af.

Ons program is vol en die kinders is gretig (lekker).

Ek het baie planne vir die jaar en baie nuwe lekker hulpmiddels wat ek besig is om te vertaal en te maak. Hou die spasie dop vir al die nuwe dinge.

Mag almal 'n vreugdevolle Tuisonderwys jaar hê. Mag jou kinders uitblink en jou voete onder jou uit uitslaan in hul vordering of ontdekking van nuwe talente.

Lekker leer (ja ma leer mos steeds saam :) )

Groete

Maryna

Tuesday, 16 September 2014

Livebinder - jou aanlyn webblad boekmerk kortpad

Meeste mense boekmerk sekere webbladsye in hulle 'browser' om later weer daarna te kyk. Het jy al ooit gevind dat al het jy bladsye geboekmerk dat jy soms nie weet wat dit was of waarvoor nie?

Al ooit gehoor van Livebinder? Livebinder is 'n virtuele lêer, dit is 'n beter manier om gunstelling webbladsye te boekmerk en almal onder een plek te stoor en vinnig kan kyk wat is waar en vinnig iets te soek. Dit is ook 'n bonus indien jou rekenaar nie meer wil saamwerk dat jy steeds al jou gunstelling webbladsye veilig kan stoor.

Jy kan jou 'lêer' stoor as 'n privaat een waar net jy dit kan sien, of jy kan dit oopstel waar almal in die publiek dit kan sien. Keuse is joune. 

Hier onder is 'n voorbeel van een van my 'lêers'. Hier sien jy die boonste gedeelte met elke afdeling en die bladsye wat ek onder die afdeling gestoor het. Jy kan bladsye byvoeg deur dit te 'link' of met die Livebinder se knoppie in jou 'browser' te instaleer. Jy kan maklik en vinnig webbladsye stoor presies onder die afdeling waar jy dit wil hê. 



Bo kan jy sien dat ek die Wetenskap 'Science' vak oop het (Die donker blou gedeelte). Onder dit in grys vertoon die bladsye wat ek onder Wetenskap gestoor het. 



Bo kan jy sien dat ek op ARKive gekliek het. Binne in Livebinder kan jy die webbladsye sien. Jy kan so na alles binne daai webbladsy kyk of jy kan die skakel net bo die prentjie volg om na die amptelike losstaande webbladsy te gaan.   
Om dit so deur Livebinder te stoor kan ek vinnig na elke webbladsy kyk sonder om fisies eers deur net name van boekmerke wat dalk gestoorr is te gaan kyk om te kry wat ek soek - al het ek dit in verskillende afdelings.



Bo is nog 'n voorbeeld van een van my kuns (papierkuns) bladsye.

Jy kan gratis aansluit. Met die gratis rekening kan jy tot 10 'lêers' skep en tot en met 100 MB stoor. Jy kan selfs jou eie dokumente oplaai. Gaan gerus na Livebinder en kyk presies hoe dit werk, speel rond en geniet dit.

Dit is baie eenvoudig en maklik om te gebruik.

Geniet dit en organiseer jou Tuisonderwys skakels op 'n maklike manier.

Groete

Maryna

Saturday, 23 August 2014

Bly Glo

2014 was moontlik sover een van die moeilikse jare ooit vir ons.

Met alles wat oor ons pad gestap het die jaar staan ons steeds sterk. Ons het gelag en ons het baie gehuil, ons was moedeloos en ons het hoop gevind.

Ek is seker almal het al sulke seisoene in hul lewe ervaar. Ongeag hoe omstandighede ons in die grond wil druk moet ons altyd bly glo. Elke probleem is tydelik en elke situasie kan ons na terug kyk en verstaan hoekom dinge gebeur soos dit gebeur.

Ek glo vas dat alles gebeur vir 'n rede. Meeste situasies wat oor ons pad stap is deur 'n keuse wat ons iewers gemaak het en dit die gevolg daarvan was.

Deur alles moet ons altyd bly glo in God. Altyd bly vertrou dat die son more weer sal skyn. Vertrou op uitkoms en glo vir genesing.

Ek deel graag 'n gunstelling teksvers:

"Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand." Jesaja 41:10 

God sien ons raak, Hy hoor ons gebede, Hy antwoord op Sy tyd.

Vertrou en Glo!

Liefde

Maryna

Tuesday, 20 May 2014

Verhuising



Eers wil ek verskoning vra dat hier niks nuuts is nie. Die lewe het ons bietjie rond geskommel en ons is nog nie op ons voete nie.

Ons was baie gelukkig om vir die laaste bietjie meer as drie jaar in 'n pragtige huis te woon. Ongelukkig het die lewe so gedraai dat die eienaar sy stryd teen kanker verloor het. Met die gevolg het sy bejaarde vrou nie kans gesien om nog enige huis te hou nie, dus word die huis verkoop. Met 'n swaar hart moes ons ander heenkome begin soek.

Ons het 'n plek vir ons voet gevind in Winkelspruit (Amanzimtoti). Die noodlot het dit so gelaat dat die huisie meer as die helte kleiner is as waar ons nog huidiglik woon. Met dit beteken dat ons glad nie meer 'n skoolkamer gaan hê, geen studeerkamer/studio vir my en en en... Die kinders gaan nou 'n kamer moet deel en ek is nogsteeds nie seker waar die kinders gaan 'werk' nie aangesien daar ook nie 'n eetkamer is nie. 

In die proses is ons besig om kaste te bou aangesien daar niks is, heinings reg te maak - die vorige huurders daar eenvoudig net nie omgegee het. Ek kan mos nie dat my honde die straat invaar nie.

Ons is hard besig om te pak en trek die einde Mei na ons nuwe huur woning. 

Alhoewel ons hartseer voel om van 'ons' pragtige woning afskeid te moet neem, bly ons altyd dankbaar dat ons 'n heenkome het, dat ons mekaar het, liefde het en natuurlik die belangrikste God het.

Ek sal dus eers weer later in Junie maand begin plasings maak.

Groete

Maryna