Monday 28 October 2013

Museum besoek

Durban Natural Science Museum

 

City Hall: 1st Floor City Hall
234 Anton Lembede Straat, Durban


Ingang is gratis

Hierdie is 'n moet besoek. 





Daar is 'n area vir soogdiere, voëls, reptiele en insekte. Baie mooi vertoon kaste met verskeie diere en baie leersame inligting. 

 
Die kwaliteit van die items is ongelooflik en dit is pynlik netjies.

Net een vloer op kan jul 'n bietjie kuns sien en dan 'n kamer met 'n muur vol politieke mense en bietjie agtergrond.




Bedryging van die Renoster

Bye en hul lewe
 
Miere en hul lewe
 
Verskillende skoenlappers en motte



 Besoek hul gerus.


Groete

Maryna

Wetenskap Sentrum

Kwa-Zulu Natal Science Centre

Legkaart van Suid Afrika se Provinsies

Hierdie wonderlike plek is binne Gateway Winkelsentrum net langs die bioskoop op die boonste vloer. Verskeie wetenskap eksprimente wat hulle kan probeer en dinge wat hul kan bou. 

Leer op 'n interaktiewe manier

Wat vir my lekker is hier is dat die plek vir kinders is. Hulle mag aan alles vat en peuter, alles probeer, in mekaar pas en bou. Hierdie is 'n moet besoek. Maak jou gereed vir 'n paar uur van ontdek.

Daar is ook 'n mobiele planetarium. Jy lê op jou rug en bekyk die sterre en planete in 3D. Daar is 'n video wat wys oor die dae van die Dinosourusse. 


Kostes is R35 per kind en R30 per volwasse . 'n Groep van 4 en meer betaal R30 p/p. Sien hul webblad HIER vir meer inligting.

Groete

Maryna

Phezulu Safari Park


Phezulu Safari Park - Old Main Road, Bothas Hill

Hierdie uitstappie het ons 'n geruime tyd terug gedoen.

Die weer was yssig maar die uitstappies was beslis die moeite werd. Die uitsig is ongelooflik oor die valleie en die mense is baie vriendelik.

Jou dag begin met 'n wonderlike vertoning van tradisionele Zulu dans en die tradisie rondom hul trou proses.


 



 
Daar is 'n krokodil plaas en slange wat gesien kan word.
Vir die met 'n dieper sak kan op 'n safari rit gaan.


 
 
Matthew se beur om die slang om die nek te kry.

Kleine Makayla wil ook voel hoe dit voel.
Ongelukkig was die slag om die nek episode so gejaag oor die hoeveelheid kinders wat daar was. En ja ek het ook 'n beur gekry.

'n Bui reen soos nog nooit gesien het toegesak en ongelukkig kon ons nie die res van die slange sien nie.

Hierdie besoek is beslis 'n belewenis. Sien hulle webblad HIER.
Indien jul ooit Phezulu wil besoek stel ek voor dat jul as 'n groep gaan om met die ingangs kostes te bespaar.

Groete

Maryna

Idioresies - Afrikaanse Idiome Bordspel

 Hierdie oulike bordspel is saamgestel deur Meneer Vermeulen. Op sy blad verduidelik hy hoe om die speletjie saam te stel, hoe dit werk en al die nodige aflaai skakels. Die aflaaie sluit in die bordspel, kaartjies en liedjies.

Ek het vir gemaklikheids doeleindes koevertjies om die kaartjies in te sit gemaak en ook 'n dobbelsteen wat uitgedruk kan word. Sien soos in die fotos.


 Laai die koevertjie se patroon hier af. Die kaartjies pas presies in die koervertjie in. Lees die instruksies om jou opsie te kies voor jy dit uit druk.
Laai die patroon vir die dobbelsteen hier af. Lees eers die instruksies voor jy dit uit druk.



 
Op Papermau is eenvoudige karretjies wat jy kan druk, vou en plak om te gebruik in die speletjie. Sien die skakel net onder die karretjies op hul webblad vir die aflaai. 

Gebruik van Engelse materiaal

’n Geruime tyd terug was daar op die Tuisonderwys in Afrikaans groep gevra hoekom gebruik van ons ouers Engelse Kurrikulums om ons kinders te leer. Is dit wat in Afrikaans beskikbaar is nie voldoende?

In my opinie is daar een reg of verkeerd nie. Elke gesin gebruik wat werk vir hulle. 

Hierdie is ons persoonlike ervaring: Ons het 'n Afrikaanse Wiskunde program gebruik wat baie goed is MAAR dit gee nie genoeg fondasie nie en ek het oorbeweeg na die Engelse program Math-U-See. (dit help ook vir die tipe kind wat ek het) 

Al die ander vakke gebruik ek Konos (Engels) maar vertaal dit in Afrikaans en ons verwysings boeke wat ons uitneem is Afrikaans of ek vertaal as ek nie 'n goeie Afrikaanse een kan kry. 

Hoekom gebruik ek Engels? Die Afrikaanse goed in my opinie is so vas aan die Dept se riglyne dat dit nie veel ruimte gee vir ekstra ontdek en bietjie meer 'hands-on' leer nie. Ons gebruik nog steeds 'n goeie Afrikaanse program vir Afrikaans. 

Engels as vak gebruik ons 'n 1ste taal program van Amerika. Hoekom? - omdat my kinders moontlik die GED/SAT gaan doen. 

Weereens vra jy seker hoekom, wat is fout met SA se matriek? Seker niks behalwe dat hul eendag so besluit en volgende dag so, omdat matrieks verlede jaar van bakboord na stuurboord gestuur was met goed wat moes gedoen word.   

OOK om my kinders in te skryf by 'n formele verskaffer beteken dat ek R120000 (inskryf van Gr9-12) gaan moet opdok op hul (al twee skryf saam) matriek te laat skryf (bereken teen hierdie jaar se pryse) in vergelyking met ongeveer R20000 vir die GED en SAT (vir albei). Ek weet geld is nie alles nie MAAR as my kinders moontlik verder wil leer gaan ons na matriek geen fondse hê vir hul om dit te doen, daarom spaar ons eerder daai ekstra geld. 

Ek wil ook net dit noem ek was baie anti-Engels, tot ek gesien het wat vir ons alles beskikbaar is. Ons kan nog steeds lekker goed leer uit Engelse materiaal, die enigste verskil vir ons Afrikaanse mense is net bietjie meer moeite van ma se kant af om te vertaal (en ons varkies bymekaar te hou). Ja ek erken my voorbereidings ens vat tyd maar dit is die moeite werd. 

Ek glo ’n mens moet ’n basiese plan hê. Wat alles beskikbaar is vir tuisonderwys oorsee is ongelooflik en dit kan ’n mens geweldig oorweldig. Besluit wat dit is wat julle wil doen en gaan so voort. As iets werk vir julle moet dit NIE verander net om te verander nie.

Dit is ons rede vir die gebruik van Engelse materiaal.

Groete

Maryna

Oorweeg jy Tuisonderwys?

Die wêreld van Tuisonderwys is besonders vreemd vir iemand wat hul hele lewe gewoond was aan ’n gewone skool sisteem. Daar is baie vrae en vrese.

Die meeste ouers vra altyd, maar gaan my kind genoeg leer? Gaan ek hul nie van iets ontneem nie? Wat van maats? Wat van matriek?

Voor ek begin Tuisonderwys het, het ek nooit myself kon indink om my hakskoene te ruil om ’n ma te wees wat haar kinders tuis leer nie. Na die gedagte by my begin opkom het, het ek elke dag daaroor gebid. Ek was bang en onseker. Ek het begin navorsing doen soveel as wat ek kon.

Vandag kan ek terug kyk en alles waaroor ek in begin gekommer het, was eintlik net onnodig. Ons leer soos ons gaan en leer ook uit ons foute uit.

Dit is baie belangrik dat indien jy begin dit eers rustig vat. Die laaste ding wat jy wil doen is om te skool by die huis. Dit beteken om te verwag jy gaan nou Laerskool of Hoërskool X in jou eie huis voortsit. Julle wil juis weg beweeg van al die ‘vissies in ’n blik’. In die skole word daar verwag dat alle kinders eenders moet wees, reageer en dink.

Met jou kind by die huis gaan daar ’n hele nuwe wêreld oop. Jou kind(ers) kry die geleentheid om hulself te ontdek. Hul kan wees wie hul werklik is. Hul hoef nie te kompeteer of iemand te beïndruk nie. Jou kinders kan leer deur te ontdek. Julle kan onder die kombers lê en stories luister, liedjies sing en sommer lekker speletjies speel.

Baie ouers wat begin gebruik formele kurrikulum verskaffers se materiaal. In werklikheid is dit ’n onnodige uitgawe, maar ons het almal ons behoeftes hoe ons dinge wil doen. Party het baie struktuur nodig, ander leer soos die dae hul neem. Jy kan eenvoudig net 'n paar lekker boeke kry en lees vir die kinders. LEES, LEES en nogmaals LEES vir jou kinders voor (ongeag hoe oud hulle is)

Leer hulle deur speletjies te speel. Weet jy dat jou kinders leer baie meer deur in jou tuin rond te krap as om in ’n boek te moet sit en skryf heeltyd.

Die biblioteek is jou beste maat. Maak jou kinders gewoond daaraan om boeke uit te neem. Al is dit nie wat jy vir hulle wil hê nie, laat hulle uitneem waarin hulle belangstel. Lees daaruit. Moet nie jou kinders druk nie, gee dit tyd, dinge kom vanself.

Sluit aan by Tuisonderwys kuier groepe. Gaan op uitstappies en leer ander ook ken by sport oefeninge.

Om te Tuisonderwys is ’n ongelooflike voorreg en ek persoonlik glo dit is ’n roeping van die Here af. Net Hy kan jou elke dag daardeur dra. Dit is nie altyd maklik nie. Sommige dae gaan ’n mens maar moedeloos voel, jy gaan soos ’n mislukking voel. Dit is alles deel van die pakket.

Jy kan nie onderwyser en ma wees nie. Jy is net ma met ’n tikkie meer om te gee.

Geniet jou kinders!

Groete


Maryna

Konos


Wat is Konos?

KONOS is 'n Bybels-gebaseerde eenheid studies kurrikulum geskryf deur twee tuisonderwys moeders.

Die visie van Konos is om kinders op te lei met Goddelike karakter eienskappe. Liefde vir leer word gekweek deur ‘hands-on’ aktiwiteite deur ontdekking, goedere te bou, dramatiseer stukke, krap in die tuin, bak en brou en nog baie ander. 

Die steun pilaar is die Bybel en God se woord. Wat ons alles kan leer uit Sy woord en hoe ons dit in ons lewens kan toepas.

Hoe werk Konos?

Konos is eenheidstudies. Jy het geen spesiale boeke nodig behalwe hulle Volume leêrs. Jy kan van enige boeke in die biblioteek gebruik maak of jy inligting op die internet soek.

In Volume 1 word die volgende eienskappe gedek:
Oplettendheid (Attentiveness)
Gehoorsaamheid (Obedience)
Ordelikheid (Orderliness)
Vertroue (Trust)
Geduld (Patience)
Rentmeesterskap (Stewardship)
Eer (Honor)

 *Konos is slegs in Engels beskikbaar, maar jy kan maklik jou kinders in Afrikaans leer.
 Onder elk van die karakter eienskappe word ’n verskeidenheid goed geleer wat in pas by die karakter.
 Sien die volledige lys op Konos se webwerf. 

Konos het 3 leêrs wat karakter eienskappe dek van Gr R tot Graad 8. Jy kan solank vat op ’n eenheid soos dit jou pas. 1 Leêr kan in 2 jaar gedoen word of selfs langer. Daar is ’n magdom van aktiwiteite wat julle kan saam doen. Dit is ook belangrik om spesiale familie oomblikke in te ruim.

Vir die ander ouer kinders is daar Konos How, wat geskiedenis van die wêreld dek. Konos behandel ’n klein hoeveelheid taal, dus moet jy ’n aparte program aanskaf vir jou tale en Wiskunde.

Konos boeke kan aangekoop word van Oikos Ministries in Suid Afrika. Kyk ook op hul webwerf die video insetsels hoe dit werk en wat jy kan verwag. (kyk onder die Support tab)

Ek stel voor dat jul ook die video voorbeelde op die Homeschoolmentor werf (van Konos) en insetsels op Konos se webwerf self ook bestudeer. 

**Net bynoem die koste mag dalk baie lyk vir 1 Volume, maar onthou jy het net dit nodig vir ongeveer 2 jaar se werk. Die leêr het ongeveer 445 bladsye waarvan jy moet uitsoek watter aktiwiteite julle wil doen ens. Daar is boek voorstelle, ongelukkig kan 'n mens nie alles in SA kry, maar jy kan enige boeke kies onder daai onderwerp. Daar is ook 'n lys van voorgestelde films waarna julle kan kyk.

Groete

Maryna

Hoe raad ons en ander kan beinvloed.

 Wil graag ’n paar gedagtes deel:

Baie TO moeders is nog in hulle groentjie skoene, ander so in die middel en ander veterane. Ons almal het van tyd tot tyd leiding nodig ongeag hoe ver ons in die TO is. Dit is belangrik dat ons almal net ’n oop kop hou. Dit is goed om raad te gee en voorstelle te deel. Ons moet egter net onthou wat vir een persoon werk, werk nie noodwendig vir ’n volgende persoon nie.

Ons praat baie van ons eie ding doen, in sommige gevalle is ek ook een van hulle MAAR ek moet dan nou ook by sê ek het struktuur nodig. Ek moet weet waarnatoe ons beweeg, ek moet beplan. Ek vind myself in dae wat ek verlore raak onder tonne inligting en dit is die laaste ding wat enige een van ons wil hê. Ons almal leer maar soos ons aangaan, ons maak foute, ons probeer nuwe dinge. Indien iets nie werk beweeg dan na ’n volgende ding wat wel kan werk.

Sommige ouers verkies formele kurrikulums. Ons het almal maar ons redes hoekom ons sekere goed volg en hoe ons ʼn program wil doen. Baie verkies om formeel te werk omdat hul struktuur wil hê, al die nodige materiaal byderhand hê en nie ure hoef te spandeer om vir goed rond te snuffel of nog navorsing ook te doen.

Ander verkies weer om vry te wees en hul eie ‘pakket’ saam te stel, dit volg soos hulle voel dit is reg.

Daar is geen reg of verkeerd hier nie, dus of jy nou ’n program gebruik wat R16000 kos of die internet gebruik wat amper niks kos of net al amper aandele by die biblioteek het, dit maak nie saak nie.

Ons eerste fokus hier moet wees wat God vir ons wil hê, Hy sal vir ons die regte pad wys. Dan moet ons fokus waarop dit wat werk vir ons kinders. Geen twee kinders is dieselfde nie en met tyd leer ons hoe om dit te benader en hoe hulle wil leer.

Dit is lekker om na ander se raad te luister, onthou net op die einde van die dag moet elkeen doen wat vir julle reg is en nie omdat ander so sê!

Groete

Maryna


Is Tuisonderwys minderwaardige onderwys?

Ek was die vraag gevra of ek dink Tuisonderwys is minderwaardige onderwys. Lees gerus my mening hieroor.

Dit kan geensins as minderwaardig beskou word nie, dit is net ’n meer individuele metode van onderwys. Party ouers verkies om hul kinders in duur privaatskole te sit en ander het die voorreg om hulle kinders te tuisonderwys. 


Tuisonderwys is nie daar om die ouer se ego te streel nie, dit is daar om die beste belange van die kinders op hul hart te dra. 

Die kinders kry 100% individuele aandag, daar kan gefokus word op areas waarmee hulle sukkel. Elke kind is anders en as ’n kind uitblink in ’n sekere area kan daaraan ook gewerk word en dit kan help dat die kind nog meer dinge bemeester.

Tuisonderwys kan nie gesien word as sit by die huis en niks doen nie, inteendeel is daar baie werk daarin en baie verantwoordelikheid van die ouer wat die skoling gee.
Voorbereidings moet gedoen word, onvoorwaardelike voltydse aandag, uitstappies moet gereël word en nog meer.

Die tuisonderwys jaarlikse matriek slaagsyfer is baie hoër as wat die staat nog ooit kon bereik. In 2012 se Ana toetse is daar weer bewys dat meer as 61% van kinders in die hoër grade nie Wiskunde kon doen nie. Daar was nog nooit sulke gevalle onder tuisskolers nie. Tuisskolers presteer baie hoër as kinders van hulle eie ouderdom in hoofstroom skole.

Behalwe vir die goeie onderwys opvoeding wat tuisskolers ontvang by die huis, is hul ten alle tye veilig. In die laaste jaar was daar menigte gevalle van kinders wat aangeval was op die skoolterrein hetsy met ’n mes en selfs geskiet, daar was ook gevalle van verkragting. Dit is ons as ouer se plig om te verseker dat ons kinders altyd veilig is, dit beteken nie ons plaas ons kinders in kokonne nie, dit beteken dat ons net die beste vir hulle wil hê.

Kinders in hoofstroomskole word blootgestel aan geweld, slegte morele waardes van ander kinders en groepsdruk. Hulle kan ook net verstandig kommunikeer met ander kinders van hul ouderdom. Tuisskolers kan op alle vlakke kommunikeer, dit kan die dame by die biblioteek wees, die seniors by ’n ouertehuis, op die sportveld en nog vele ander plekke. Hulle kry baie meer blootstelling tot mense van alle ouderdomme en alle areas van die ‘regte’ wêreld daar buite.

Om kinders te kan tuisonderwys is ’n baie groot voorreg en moet as ernstig beskou word.

Groete


Maryna

Tuisonderwys vs. Tuisonderrig



In 2012 toe Tuisonderwys in Afrikaans se Facebook groep geskep was, het ek oorspronklik die naam as Tuisonderrig in Afrikaans gebruik. Daar was uitgewys dat die term verkeerd gebruik word en dat dit Tuisonderwys moet wees. 

Ek het na die ontvangs van onderstaande skrywe die naam verander na Tuisonderwys in Afrikaans. 

Ek haal die skrywe aan van Leendert van Oostrum van die Pestalozzi trust aangaande hierdie aspek. Ek is seker ons sal almal nou die werklike verskil verstaan.

 " Die probleem met "tuisonderrig" in plaas van "tuisonderwys"
Ek merk dat die term "tuisonderrig" feitlik deurgaans hier gebruik word, met die uitsondering van Marelize, wat praat van "tuisopvoeding".

Ek weet dat Naspers se koerante 'n redaksionele beleid het om die woord "tuisonderrig" te gebruik. Dit is egter verkeerd.

Op 'n pedantiese vlak kan mens redeneer: Die term "onderrig" is 'n meer beperkte begrip as "onderwys", en verwys meesal slegs na die "lesgee"-aspek van onderwys. Dit sluit gewoonlik nie aspekte soos kurrikulering, evaluering en die bestuur van die onderwys in nie. Wanneer tuisskolers dus self praat van "tuisonderrig" in plaas van "tuisonderwys", plaas ons self beperkinge op wat ons voorgee om met ons kinders te doen.

Die het op sy beurt regsimplikasies. 'n Kwaadwillige advokaat sou kon argumenteer dat mense wat slegs "onderrig" doen, self erken dat hulle nie geskik is om die "belangriker" onderwysfunksies vir hul kinders te verrig nie, en daarom moet die Staat daardie funksies uitvoer - kurrikulum voorskryf, ons kinders evalueer, voorskryf watter metodes ons moet volg, ensovoorts.

In teenstelling hiermee gebruik die SA Skolewet uitdruklik die term "onderwys" (Eng: "education" in Art 51 wat handel oor tuisonderwys. Die term "onderrig" word nooit in ons wette vir tuisonderwys gebruik nie.

In Engelssprekende lande word feitlik deurgaans van "Home Education" ("Tuisonderwys" of "Tuisopvoeding") gepraat. Die term "Home Instruction" word feitlik nooit gebruik nie, en dan slegs in ouer geskrifte'

In Nederland word die term "Tuisonderwijs" gebruik, en nie "tuisonderricht" nie.

Die Duitsers praat van "Bildung zu Hause" ("Tuisopvoeding"). "Schulunterricht zu Hause" is soms in die verlede gebruik, maar dit was vir 'n baie spesifieke doel in 'n regsituasie wat nie in Suid-Afrika geld nie.

Dit is dus duidelik dat daar internasionaal en in Suid-Afrika feitlik 100% konsensus is onder tuisskolers, tuisonderwysnavorsers, beleidmakers, wetgewers en die media dat hulle die term "tuisonderwys" sal gebruik.

Slegs in Suid-Afrika is daar een mediagroep, Naspers, wat tuisonderwys NIE goedgesind is nie, wat uit pas is en die term "tuisonderrig" gebruik.

Ek wil daarvoor pleit dat tuisskolers daarop bedag sal wees om nie in die lang termyn om hul onderwysregte te ondergrawe deur die beperkende term "onderrig" te gebruik vir wat hulle vir hul kinders doen nie."

Ek is seker ons almal verstaan nou die verskil en sal dit korrek gebruik.

Groete



Maryna