Showing posts with label Kuns. Show all posts
Showing posts with label Kuns. Show all posts

Monday, 13 July 2015

Blender 3D Skeppings: 2

Ek het 'n geruime tyd terug vir julle vertel van Matthew se Kreatiewe 3D Skeppings

Ek deel graag nog 'n paar skeppings wat hy ontwerp het. Daar is nog vele meer.


 Vliegtuie, motorfietse, skaak, masjiengewere en 'n yskas. Van die fototjies het afgesny, die yskas was 'n versoek van iemand ;)

Die motorfiets heel bo regs was deel van 'n klas, die res alles sy eie skeppings.

Lees gerus my vorige inskrywing as jy meer van Blender wil weet en hoe jou kinders klasse kan neem.

Groete

Maryna



Sunday, 21 June 2015

My kunstige lewe

Ons as Tuisonderwys moeders het soveel meer in ons as net ons kinders te leer.

Wat sommiges dalk nie weet van my is dat ek ook 'n vryskutskrywer, vertaler en kunstenaar is. Die kunste is 'n baie groot deel van my lewe. Ek skilder in olie, aktriel en waterverf. Ek teken ook met pen & ink en potlood, werk met pastelle en ook waterverf potlode. 'n Keer of wat ook 'scratcboard' probeer.

Hieronder is 'n kykie na van my tekeninge wat ek in Pen en Ink gedoen het.



Hieronder is 'n paar van my waterverf skilderye wat ek geverf het.



Hieronder is 'n paar van my olie skilderye wat ek geverf het.



Hieronder is 'n paar van my potlood sketse.


Om kuns goed te kan beoefen het jy baie oefening nodig, teken elke dag, werk aan tegnieke. As jy ernstig is oor kuns, belê in goeie kwaliteit produkte, dit geld vir alles, van verf tot potlode tot die papier. 

As jou kinders baie belangstel in kuns, laat hul eers met studente kwaliteit materiale werk en soos hul vorder koop vir hul beter kwaliteit goedere. Kuns is nie 'n goedkoop aktiwiteit nie, maar dit is werklik elke sent werd. 

Groete

Maryna

Friday, 10 April 2015

Voël kunswerke

Nog 'n projek wat ons baie lank terug gedoen het. As deel van ons voël kunswerke het Matthew 'n paar papier voëls aangepak.

Die papierkuns is geskik vir iemand wat taamlike ondervinding het met die plak en bou van die soort 3D papierkuns. Vir 'n jonger kind kan dit moontlik moeilik wees.

Valk
Kingfisher
Jy kan die instruksies en patrone gratis aflaai van Canon Creative Park site se webblad. Valk en die Kingfisher. Daar is oor verskeie ander voëls wat afgelaai kan word.

Ons volgende verfkuns het ons die prentjies in die tydskrif Craftwise gevind.
Matthew se weergawe

Makayla se weergawe
My weergawe
Ons het hierdie op 'canvas' borde geverf met akriel verf. Die lekker ding van akriel verf is dat dit vinnig droog word en is dus ideaal vir kinders om mee te werk. Indien dit nog bietjie nat is en jy wil dit vinnig droog kry, gebruik net 'n haardroër. In my weergawe het ek papier blare met die verf op geplak.

Probeer dit, lekker speel en skep.

Groete

Maryna

Thursday, 9 April 2015

Vis kuns

'n Kuns projek wat ons baie lank gelede aangepak het.

Op my Pinterest bord vir kinder kuns projekte het ek hierdie een van Koi visse gemerk.Die oorspronklike projek kan by Art Projects for Kids gevind word. Hierdie was ons poging.

Dit was met waterverf gedoen.


Makayla se Koi
Matthew se Koi
Ek het myne in my kunsjoernaal geverf. My joernaal bestaan uit verskillende sketse, verf stukke en skryfstukkies. Indien jy ook vir jou 'n kunsjoernaal wil aanskaf, maak seker die papier is dik.



Hieronder is 'n skildery in olie wat ek in 2012 voltooi het as deel van 'n kuns klas wat ek geneem het deur Paint Basket.


Probeer gerus die Koi projek soos wat die kinders gedoen het en wys julle weergawe.

Groete

Maryna

Wednesday, 12 February 2014

Kinder Kreatiwiteit

My kinders geniet dit baie om goed te maak. Makayla sal stil verdwyn en besig wees om iets te skep. Matthew sal gewoonlik eerder teken.

Hier is 'n paar goedjies wat hulle onlangs gemaak het.

Makayla het hierdie stadtoneel gemaak uit 'n ou boks wat sy opgeknip het. Een deel is bo die ander geplak en geverf om dit 'n 3D aansig te gee.

Makayla se stadtoneel




Op die Tv program Art Attack het Makayla gesien hoe hulle 'n boks speletjie maak. Sy het muurtjies gemaak met koerant. Die koerant het sy opgeskeer en oornag in water laat lê. Die volgende oggend het ek die water vir haar uitgedruk en sy het die koerant verder in stukkies gemaak. Sy het die koerant met gom gemeng en die muurtjies gevorm. Dit vir 'n paar dae laat staan om droog te word en toe geverf. Die blou balletjie aan die regterkant in die middel beweeg tussen die muurtjies om by die gaatjie regs onder in die hoek uit te gaan.


Makayla se speletjie
Is dit 'n gaar eier op die stoel? Matthew het die nagemaakte eier gemaak met gom en verf. Hy het wit gom met verf gemeng en dit op 'n stuk plastiek gesit en dit 'n vorm gegee. Nadat dit heeltemal droog geword het, het hy die eiergeel op geverf. Die het hy ook op Art Attack gesien.


Matthew se nagemaakte kuns eier.
'n Nader kykie na die eier.


 Makayla het 'n boek by die biblioteek uitgeneem Die Sonskyndag Boek. Dit het allerhande kuns goedjies wat jy kan maak in. Hierdie was een van die items - 'n Sonvanger. Ons het nie al die benodighede gehad soos dit in die boek wys nie, maar sy het sommer haar eie weergawe daarvan gemaak.

Die boonste blink 'tou' het sy gemaak deur 'n stuk kombuisfoelie op te rol en te draai. Die blom het sy uit 'n papierbord gesny. Sy het kombuisfoelie in stukkies geskeur en opgerol om dit tekstuur te gee. Sy het die balletjies weer oopgerol en oor die papierbord getrek. Die binneste deel van die blom het sy ook foelie gebruik deur dit te rol en met kleefband vas geplak. Sy het die blomdele geverf en versierings opgeplak. Die toutjie onder het sy met kraletjies gemaak.

Makayla se Sonvanger
'n Naby kykie na die Sonvanger se blom.
Kinders hoef nooit niks te hê om te doen nie. Kry hul besig en laat hul kreatief raak.

Groete

Maryna

Thursday, 9 January 2014

Die wonder van 'n vergrootglas

Daar is darem niks lekkerder vir 'n kind as wanneer pa ook vir hulle ietsie kreatief leer of laat doen nie.

Manlief het 'n paar stukke weggooi planke by 'n hout plek naby ons gekry - verniet :) Elke een met 'n vergrootglas in die hand en die son wat lekker bak, skep hulle vir hul 'n brandende kunswerk.

Hier is die eerste kunswerke. Makayla het natuurlik die hart gedoen. Matthew het 'n knaldemper (exhaust) van 'n motor gemaak. Wie sou nou daaraan dink.


Die doel agter die is nie net om vir die kinders te wys hulle kan iets ouliks maak nie. Dit kan ook 'n oorlewings wenk wees - wat om te doen as jy net 'n stuk glas of 'n bril by jou het en jy moet vuur maak. Dit wys ook vir hulle hoe kragtig die son is. Natuurlik ook dat dit nie 'n speelding is en dat vuur gevaarlik kan wees.

Het jy dit met jou kinders ook al gedoen?


Groete

Maryna

Wednesday, 8 January 2014

Die Pottebakkers


My kinders is albei baie kreatief (kan jul sien hoe groot glimlag ek). Makayla het hierdie oulike Pottebakkers-wiel vir kersfees gekry.

Die Pottebakkers-wiel werk met batterye en ons het dit by CNA gekoop. Saam die wiel is daar verf, 'n kwas, 'n snymessie (plastiek) en 2 pakkies duursame klei.

In die foto bo kan jul sien hoe die boksie lyk. As jul nou werklik baie mooi kyk het Makayla 'n seekoei se kop gemaak wat in haar vinger hang. Dan ook natuurlik 'n meesterstuk potjie. Die kinders van vandag is darem oulik.

Matthew gaan natuurlik nie eenkant sit terwyl sussie lekker 'speel' nie. Klein potjies gebruik maar 'n paar vingers :) Hy konsentreer baie hard daarom gee hy ma net 'n halwe skeef glimlag.


Ons hoop om die talent te ontwikkel en later ook die Pottebakkers-wiel te gebruik as ons oulike goed maak as ons van verskillende lande leer.

Net 'n waarskuwing: Dit is baie morsig, maak seker jy het sakke byderhand om op te werk en 'n bak water vir die hande om die klei te kan vorm.

Nou julle beurt, wys bietjie watter kreatiewe goed jou kinders maak of doen.

Groete

Maryna