Showing posts with label Tuisonderwys. Show all posts
Showing posts with label Tuisonderwys. Show all posts

Tuesday, 24 October 2017

Oop brief vir die veterane

Dit is ongelooflik om te sien hoeveel mense daar nou is wat Tuisonderwys of oorweeg om te Tuisonderwys vandat ons begin het.

Net soos ons begin het, het enige ouer baie vrae en navorsing wat hulle doen. Met die vinnige lewe waarin ons vandag lewe is dit soveel makliker om vinnig antwoorde op Facebook groepe te ontvang van soveel verskillende ouers.

Daar is nou al baie veteraan moeders. Diegene wat al meer as 7+ jaar hul kinders Tuisonderwys. Dit is gewoonlik hulle na wie nuwe ouers graag draai vir raad en advies.

Ek was onlangs in 'n situasie wat my vir die eerste keer so laat skaam het om myself 'n Tuisonderwys moeder te noem. 'n Dame wat navorsing doen oor Tuisonderwys, was so aangeval op 'n Facebook groep dat ek wonder of sy dit nou ooit eens gaan oorweeg. Hierdie was 'n plaaslike dorp groen, nie eens 'n Tuisonderwys groep nie.

In my poging om die dame te verwys na 'n instansie, word ek gebombadeer deur die ander veteraan moeder. Ek het die dame persoonlik probeer kontak en sy het my dood eenvoudig geblok. Die kersie op die koek, amper twee dae later kom daar iemand anders te voorskyn wat my uit my sokkies uit vloek. Dit alles net omdat ek iemand verwys het na 'n plek.

Ek Tuisonderwys nou amper 9 jaar. In my lewe het ek my nog nooit so geskaam om eens deel te wees van die Tuisonderwys beweging nie. Hierdie vrou wat haar soos 'n vark op sosiale media gedra het, staan as 'n bekende onder die Tuisonderwys gemeenskap in ons dorp. Dieselfde dame wat my en ander aanval en van dinge beskuldig doen inteendeel die ding wat sy uitwys as onwettig.

Dit is die plig van 'n veteraan of enige ander Tuisonderwys moeder om op 'n mooi manier ander te help. Vandag is daar so baie opsies ens dat dit maklik oorweldigend kan wees vir enige persoon wat Tuisonderwys oorweeg.

Wie gee ons veterane die reg om ander 'af te skiet' en soos 'n buffel op te tree. As jy iemand is wat geirriteerd raak oor dalk dieselfde vrae oor en oor. Moet eenvoudig nie op plasings kommentaar lewer nie, lees verby en gaan aan met jou lewe.

Tuisonderwys kry reeds baie aanvalle, ons het werklik nie nog nodig dat ouers in opstanding met mekaar raak nie. 

Elke persoon het hul eie siening en jy kan nie jou siening en wat vir jou werk soos 'n formule ook op ander afdruk nie. Indien jy ander wil help en raad gee, doen dit op 'n mooi manier. 

Ons, of aldan ek is daar om mense by te staan en te help. Met graagte en met liefde ;) Vra jouself dit, waar pas jy in? Hoe sien die gemeenskap jou? Jy mag dalk dink jy beweeg onder die rader. Maar sodra jy 'n lelike woord op sosiale media plaas, word jy gebrandmerk en 'n beeld word van jou geskep.

Wees die Tuisonderwys ouer op wie jou kinders kan trots wees.

Groete

Maryna

Wednesday, 12 July 2017

Woorde met Woema Kursus

Tuisonderwys moeder en skryfster Marisa Haasbroek het vir ons nog 'n wonderlike Afrikaanse kursus saamgestel, Woorde met Woema.

Die mini-kurus is so pas geloods. Hier kan ons 'n insig kry van wat haar volledige kursus gaan bied. Ek het deur die mini-kursus gewerk en dit is absoluut puik. Nes die 15 Minuut Afrikaans kursus het Marisa alles ingesit om ons wat Tuisonderwys te help in Afrikaans. Dit neem nie baie tyd nie en dit is 'n prettige kursus.

Wat presies is Woorde met Woema? Dit is 'n Afrikaanse skryfkursus vir kinders (maar ma kan ook baie daaruit leer).  Hul neem 'n kort sin (wat deel uitmaak van 'n storie) en kikker dit 'n bietjie op in 'n unieke opwinende storielyn.

Kyk na die Woorde met Woema bekendstellingsvideo.


Die mini-kursus is GRATIS. Ja totaal gratis. Die volledige kurus is in werking en sal eersdaags te koop beskikbaar wees. Moet nie die een mis nie. 

Skryf HIER in by die gratis mini-kursus. 

Lekker leer.

Groete

Maryna

Monday, 10 July 2017

Hou Net Op Sukkel - Youtube hulp

Ek het onlangs op 'n baie oulike Youtube kanaal afgekom Hou Net Op Sukkel.

Die kanaal is vir Graad 10 tot 12 leerlinge en het videos vir Wiskunde, Wetenskap, Chemie en Fisika.

Hierdie is een van daai moet volg kanale. Die verduidelikings is puik.Dit word aangebied op 'n manier waarvan jong mense sal hou en is nie afgewater of vervelig nie. Gaan loer gerus op Youtube na die kanaal en volg hul, daar is baie videos om van te kies. 

Kyk gerus hier na die inleidings video.


Laat weet gerus wat jul van die kanaal dink. 

Lekker leer.

Groete

Maryna



Thursday, 6 July 2017

Slakkepas deur die jaar

2017 Het verseker sy uitdagings opgelewer. Nie net op die huis front nie maar selfs in Tuisonderwys. Daar is so baie dinge wat eenvoudig net nie gewerk het nie en met ander is ons nog nie nastenby waar ons, of altans ek wou gewees het nie.

Het jul al ooit ook so gevoel? Jy het jou plan en jy is seker dit gaan so vir jou werk. Voor jy jou oë uitvee het jy of dinge verander, of jy het nie eens by iets uitgekom nie.

Ons is in die helfde van die jaar en in sekere vak areas het dit goed gegaan. In ander was dit nie so suksesvol.

Ons het 'n baie groot verandering in een van ons kurrikulums gemaak, Twee keer! Ja, wraggies, twee keer verander. Was die eerste verandering die regte een, ek is nie so seker, kon dalk harder probeer het. Die tweede verandering was 'n moet, dit was eenvoudig een van daai kop teen die muur stamp slegte besluite om dit in die eerste plek aan te pak. Ek het egter baie navorsing gedoen en 'n besluit geneem. Ek sal oor 'n paar weke meer hieroor deel.

Hoe verloop jou jaar sover? Is jul waar jy gehoop het jul gaan wees? Het jul 'uit' gegooi? Iets nuut in gebring? Deel bietjie jul ervarings.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Wednesday, 17 May 2017

Wat regverdig kurrikulum kostes?

Elke jaar koop ons almal moontlik duisende rande se kurrikulum of verskeie boeke om in ons Tuisonderwys te gebruik.

Dit is geen geheim dat die pragtige kurrikulums met al sy bygevoegde boeke en addisionele bronne meestal van Amerika af kom. Ons monde water behoorlik as ons sien wat alles daar buite beskikbaar is. Bob Jones, Abeka, IEW, Apologia net om 'n paar te noem. Die boeke word gewoonlik saamgestel deur 'n span kenners.

Vir ons om kurrikulum van oorsee aan te koop, beteken nie net boeke in dollar pryse nie, maar natuurlik ook die kostes om dit in Suid Afrika te kry en dan ook doeane kostes. Dit is genoeg om enige persoon te laat sidder of twee keer te laat dink. Tog is ons steeds bereid om daai kostes te betaal. Ons moet in ag neem dat hierdie boeke deur massaproduksie gedruk en versprei word. Duisende boeke word elke jaar verkoop.

Kom ons kyk na ons plaaslike kurrikulum/boeke verskaffers. Hier verwys ek nie na die gewone CAPS boeke ens. Ek verwys na boeke wat Tuisonderwys moeders saam gestel het. Daar word menigte ure in die saamstel van boeke gespandeer. Tyd wat daai moeder saam met haar kinders kon spandeer het (ja, die ander vat ook tyd, alhoewel die ander groot name dit voltyds vir 'n lewe doen). Baie navorsing wat gedoen moet word. Hierdie alles om te verseker dat ons wat in Suid Afrika die produkte aankoop gelukkig sal wees met wat ons ontvang. Hierdie kurrikulum/boeke/kursus is nie massaproduksie nie. Die word op aanvraag gedruk met groot koste uitgawes. Dit word noukeurig verpak en aangestuur.

Wat regverdig die kostes van die plaaslike kurrikulums in vergelyking met buitelands? Dit is bloot die reg op keuse.

Kom ons kyk gou na net 'n paar om te noem 15 Minuut Afrikaans, Footprints of our Land, Omvattende Afrikaans, Toetentaal Afrikaans en Somme(r) Pret (skuus as ek iemand uitlaat) Ons kan probeer vergelyk dat 'n jaar studie boek met Studenteboek en Onderwyser van Platinum bv. R400 sal kos. Waar 'n program soos 15 Minuut Afrikaans wat ook oor 'n jaar strek ook net oor die R400 sal kos. Maar dan bv. 'n engelse skryfprogram sal jou 'n paar duisend uit die sak ruk as jy dit van oorsee bestel.

Indien jy 'n plaaslike Tuisonderwys moeder wil ondersteun of dalk net eenvoudig daai spesifieke program gebruik. Hou die volgende in gedagte voor jy dalk voel die prys is nie bekostigbaar nie.
- Is die boeke gedruk en hoe?
- Word dit per aanvraag gedruk? Boeke wat honderde op 'n slag gedruk word kos goedkoper, dit is egter net nie prakties vir die Tuisonderwys ouer of samesteller om dit te doen tensy jou beursie nie 'n bodem het nie.
- Waaruit bestaan die program?
- Oor hoe lank tydperk strek die program?
- Kan 'n opvolg kind dit weer gebruik?
- Uit hoeveel bladsye bestaan die program? Wat het jy addisioneel nodig?
- Indien 'n elektroniese formaat beskikbaar is, hou in gedagte dat jy geen posgeld op dit betaal nie en is dadelik beskikbaar.

Baie ouers koop boeke aan met die wete dat hul dit weer kan verkoop. Sommiges voel dat elektroniese boeke nie die prys waardig is omdat hul 'niks' weer daaruit kan kry. Jou kind het egter 'n hele jaar se kennis ontvang danksy 'n ander ouer se deursettings vermoë. As jou kind in 'n publieke skool was, sou jy ook niks terug kry na jy 'n jaar R20000 plus aan net skoolfonds betaal het nie, behalwe 'n rapport en 'n kind wat hopenlik gevorder het.

Ondersteun gerus om plaaslike kurrikulum/boek/kursus verskaffer. Hul skryf die produkte juis vir ons wat Tuisonderwys.

Ek sal graag julle insette wil hoor.

Groete

Maryna

NB: Indien jy 'n produk elektronies koop, moet dit asb nie aangestuur vir iemand anders nie. Respekteer die kopiereg daarop.

Saturday, 10 September 2016

Jy doen dalk te veel?

Menigte Tuisonderwys ouers is oortuig dat hul eenvoudig net nie genoeg doen nie. Daar is twee sye van die onderwerp, wanneer jy regtig net amper niks doen en wanneer jy besig is om jou kind dood te maak - op meer as een manier.

Ek gaan eers die aspek van nader bekyk van jy doen nie genoeg. Jul doen net Wiskunde elke dag, lees dalk een boek en dit is klaar. Of... jy los jou kind aan sy eie genade oor en hy/sy sit en blaai dalk deur 'n boek, teken 'n prent, speel op die rekenaar. NEE! Dit is nie genoeg nie.

Wat is dan te veel? Hierdie is slegs my siening, jammer as ek op tone trap. Voorbeeld: Jy koop die duurste programme van bv Math U See, Teaching Textbooks, Saxon/Singapore en jy gebruik almal om uit te werk. Jy gebruik dalk MUS se video les, TT se oefening op rekenaar, 'n les of twee uit Saxon/Singapore. STOP!!! Jy is besig om jouself en jou kind en jou beursie dood te maak. Elkeen van die bogenoemde is volledige progamme op hul eie. Ek vat MUS en TT as 'n voorbeeld. Hierdie is twee programme wat totaal anders werk. Een is spiraal (TT) en een is 'mastery' (MUS). Jy kan nie die twee saam gebruik. Een program gaan moontlik al aan 'n konsep geraak het wat die ander een nog nie aan gewerk het. Nee een is nie agter die ander een nie, dit is net twee verskillende benaderings. Jou kind gaan later nie weet of hy Harry of Sally is nie. Jou kind gaan oorwerk wees, jy gaan hom uitbrand. Moontlik gaan jou kind Wiskunde en/of skool haat!

Dit geld egter nie vir Taal vakke nie. Baie boeke bied bv. goeie vaslegging met letterkunde, gramattika ens, maar dit het baie min of niks vir spelling. Dan voeg jy iets ekstra by. Daar moet 'n balans wees van hoeveel jy doen.

Om die duurste kurrikulums te koop maak nie van jou 'n beter Tuisonderwys moeder of van jou kind 'n beter student nie. Glad nie! 'n Kurrikulum moet daar wees as jou gids indien nodig. Jy moet nie 'n slaaf wees vir dit nie, maar dit moet vir jou werk soos nodig.

Ek lees gereeld op die buitelandse forums hoe mense so baie goed gebruik en dan sit hul soms tot laat en skoolwerk doen en selfs op naweke. Ek persoonlik dink daai mense is in die bol gepik - jammer.

Daar is eenvoudig kurrikulum of boeke waarvoor 'n mens nou maar 'n bietjie baie meer moet spandeer as ander. Maar maak seker dit werk vir jou kinders voor jul besluit om by te voeg of te verander. Meeste plekke bied voorbeelde van hul produkte. Moet nie net daarna loer nie. Laat jou kind 'n voorbeeld les doen en laat hul voel hoe dit voel om die program te gebruik. Wat hul gaan ervaar is die belangrikste. Help nie jy as ouer verander iets omdat Sannie langsaan dit en dit gebruik en of omdat JY voel dit is nie prettig nie. Dalk hou jou kind baie daarvan, dalk doen jou kind baie goed daarin, dalk hou jou kind van vaal goed. Jou kind se opinie is belangrik. MAAR as jou kind vir jou sê hy/sy het nie lus vir dit nie. Dan neem jy beheer!

Nou waar is die middel van alles, wat is dan genoeg? As jou kind leer wat nodig is om eendag 'n verantwoordelike volwasse te wees met goeie morele waardes en goeie algemene kennis en 'n groot liefde vir God. Dan is jy reg. Brei jou kind se kennis uit en fokus veral op jou kind se passie. 

Ek hoor graag julle opinies.

Groete

Maryna 

NB: Ek het TT en MUS as basiese voorbeeld gebruik aangesien ek onlangs daaroor geskryf het.

Thursday, 11 August 2016

Moet leer altyd pret wees?

Ek moet erken, ons hou daarvan om pret te hê terwyl ons leer. Daar is egter sekere leerareas wat 'n mens net nie verby kan kom en dinge baie meer ernstig moet opneem en ekstra hard werk.

Kyk gerus na Diana Waring se video oor die onderwerp.


Loer ook gerus na die video.


Groete

Maryna

Wednesday, 13 April 2016

Gebruik jul die regte leerstyl?

Watter styl gebruik jy om jou kinders mee te leer en met watter styl leer hulle? Sien die twee kort videos hieronder van Diana Waring se gedagtes hieroor.



Groete

Maryna

Thursday, 17 March 2016

Te veel, te gou

Is jy dalk skuldig daaraan dat jy te veel skoolwerk, te gou vir jou kind gee?

Alles moet nou en dan gebeur. Kyk na die video hieronder. Diana Waring wys vir ons hoe te vee,l te gou 'n negatiewe impak kan hê.

Groete

Maryna

Tuesday, 26 January 2016

Sien die potensiaal!

Met die onlangse gesprek in die Tuisonderwys yahoo forum oor kinders wat reeds klaar is met hul skoling, het ek gedink om iets met julle te deel.


Julle weet ek het twee kinders, maar baie weet moontlik nie dat ek ook twee stiefseuns het. Hul is woonagtig by hul ma in Pretoria.

Albei het begin Tuisonderwys in laerskool (dink van graad 4/5 af). Hul ma het hul ingeskryf by 'n formele kurrikulum verskaffer en daar was hul vir baie jare. Die oudste een later in Graad 11 oorgegaan na 'n baie bekende kurrikulum verskaffer en die ander seun toe Graad 10. Dinge het so verloop dat daar oneindige probleme met die verskaffer was, opdragte konsuis nooit ontvang ens. Die oudste het op die einde van die dag Graad 12 gedruip. Hy was reeds baie ouer aangesien hy alreeds tevore ander grade nie geslaag het nie.

Hy het later in verlede jaar (2015) by 'n FET kollege ingeskryf en daar leer hy nou. (Na hy net nie geweet het wat om met sy lewe te doen nie.) (Hy is tans 21)

Die jonger seun (word binnekort 18) het heel jaar verlede jaar (2015) goed gevaar en toe skielik met eksamen alles gedruip, dus nie die jaar gemaak. Hy het egter ook hierdie jaar ingeskryf by dieselfde FET kollege deur wie sy broer leer.

Met die laaste kuier vorige kersfees, het albei seuns vir ons vertel hoe min hul van Tuisonderwys gehou het en dat hul dit NOOIT vir enige iemand sal aanbeveel nie.

Ek het amper van my stoel afgeval. Ek kon nie my ore glo nie. My twee jonger kinders is gek daaroor en floreer en leer ontsaglik baie.

Nou wat is my punt nou eintlik hier.

As jy nuut is, dink mooi voor jul net by 'n plek inskryf omdat dit 'n groot naam het met al die sogenaamde 'bells and whistles'. Dinge is nie altyd soos dit voorkom nie. Doen jou huiswerk. Daar is ander alternatiewe.

Of Tuisonderwys 'n sukses is of nie, het alles te doen met die ouer se betrokkenheid. As jy nie jou kind gaan help en hul leer en die proses saam hul deur gaan nie, gaan jou kind probleme ondervind. Hy/sy gaan dit moontlik haat en natuurlik sukkel.

Ek gesels nou die dag met 'n Tuisonderwys moeder wat vir my vertel sy het nie tyd om vir haar kind goed te doen nie. Ek kon nie help om te wonder  nou hoe op des aarde doen hul dan Tuisonderwys? Nou kyk, in alle eerlikheid, as jy wil Tuisonderwys maak jy eenvoudig tyd. Dit is 'n ongelooflike voorreg om dit te kan doen.

Sien jou kind se potensiaal raak en help hul om hul passie te ontwikkel, dit alleen gaan baie deure vir jou kind oopmaak.

Ek hoor graag van jul en jul opinies hieroor.

Groete

Maryna

Tuesday, 12 January 2016

Is jou Geskiedenis lesse soos kits koffie?

Is jou Geskiedenis lesse soos 'n koppie suiwer kits koffie? Sonder melk, suiker en warm water?

Ek is seker julle dink ek is nou die klits kwyt. Dink daaraan... volg jy lesse uit 'n boek wat almal aan die slaap wil maak (suiwer kits koffie). Of is jul lesse vol avontuur en ontdekking, prettig en 'n lus vir meer (koffie,melk, suiker en warm water).

Kyk hierdie video van Diana Waring, dit sal ons twee keer laat dink.



Lekker leer...en werk aan daai opwinding ;)

Groete 

Maryna

Monday, 16 November 2015

Kurrikulum vir 2016

Ons voorgestelde program vir 2016 lyk soos volg.

Wiskunde
Teaching Textbooks Math 7
(Later in die jaar oorgaan na Teaching Textbooks se Pre-Algebra afhangende hoe Teaching Textbooks vir ons werk. Huidiglik is dit 'n sukses en kinders geniet dit baie. Hul het reeds met Math 7 begin)

Engels
Fix it Grammar! Book 2 Robin Hood
Student Writing Intensive level B
Teaching Writing Structure and Style (vir my)
Spelling: Sequential Spelling

Afrikaans
Gebruik verskeie bronne om n volledige program te kan maak, bronne is:
Maak spelling maklik (daar is baie idees in om op ander werk toe te pas)
Kominpas met Afrikaans
Taal Oefenboek deur Japie Stander
Blokraaisels
HAT
Afrikaanse woord en spelreel boek
Leesboeke
Speletjies soos antonieme, idiome ens

Aardrykskunde
Aarde Ensiklopidie
Geography through art
Lewende planeet

Geskiedenis
Story of the world

Wetenskap
Verskeie eksprimente
Ellen McHenry bronne: The Elements, Botany en ander aktiwiteite van haar (ek sal Afrikaanse vertalings plaas soos ek dit vertaal het van haar gratis bronne/speletjies.)

Kuns
Bronne/idees uit Pinterest
Aktiwiteite wat gepaard gaan met lesse uit Aardrykskunde en Geskiedenis.


Rekenaar
Blender vir Matthew

Sport
Yshokkie

Daar mag moontlik nog ander bronne bygevoeg word. 

Ek sal 'n skrywe plaas oor Afrikaans en hoe 'n mens dit kan maak werk sonder om 'n formele kurrikulum (CAPS - gaap) te gebruik.

Dit is ons beplanning sover in 'n neutedop. As jy enige vrae dalk het oor enige van die, vra gerus.

Groete

Maryna

Tuesday, 4 August 2015

Om te knutsel

Die woord knutsel mag moontlik vreemd wees vir sommiges. Meeste ken dit maar as die Engelse woord Tinker.

Nou wat presies is knutsel en hoekom is dit so belangrik?

Knutsel gee jouself en jou kinders die vryheid om te kreatief te raak, om 'n oplossing te vind vir moontlike struikelblokke, om te leer terwyl hul met hul hande werk. Hul leer om hul verstand te gebruik en toe te pas wat hul ontdek of leer het.

Kom ons neem die Disney karakter Tinkerbell vir 'n oomblik, sy Tinker, sy skep, maak iets uit niks.

Stel jul skooldae so voor: Wiskunde werkboek, taal werkboek, Wetenskap - vul hier, kyk 'n video daar, ma wys en hulle sit en gaap. Dit geld vir menigte vakke.

MAAR stel jouself nou dit voor: Jul haal 'n boks uit die kas vol verrassings. Dit is nou natuurlik as jy nie reeds 'n knutsel ruimte het nie. Binne is daar draadjies, batterye, liggies, ratte, wieletjies, waaiertjies en nog vele meer. Jou kinders se oë rek van opgewondenheid.

Hulle pas en toets en speel. Dit werk saam, dit werk nie saam nie, dit kan so beweeg en dit hop op en af. Ma antwoord net nou en dan as die kind 'n vraag vra. Baie belangrik ma help nie, ma bou nie. Ma kyk hoe haar kinders ontdek en skep.

Nie net kan knutsel gebruik word in Wetenskap nie, maar hul kan ook Wiskunde daaruit leer, of Aardrykskunde of self hul taalvermoë uitbrei en opbou. Knutsel stel hul in staat om 'n wye spektrum van dinge te leer sonder dat hul besef hul leer.

In die Ted video hieronder wys die kunstenaar CH Huang wat hy alles met sy geknutsel maak.


Dit klink en lyk opwindend!

In my volgende inskrywing gaan ek jul wys hoe om basiese elektroniese komponente saam te stel vir die kinders om mee te knutsel. Dit gaan vet pret wees.

Groete

Maryna

Friday, 24 July 2015

Deurbraak in lees

Baie Tuisonderwys ouers se grootste kommer is gewoonlik hul kind se vaardigheid om te lees.

Ek wil graag ons storie met julle deel.

Albei my kinders het taamlik vroeg begin leer lees (probeer). Iemand het eendag vir my gevra hoekom laat ek hulle elke dag lees? Dit het vir my ongelukkig slegte gevolge gehad. Ek was baie hard op hulle en wou net hê hul moes suksesvol wees.ROOI VLAG!!



Makayla was die voorloper, sy het fantasties gelees. Matthew het baie gesukkel. Voor ek my oë kon uitvee het Matthew skielik goed gevaar. Ek het met 'n skok terug aarde toe geval nadat Makayla eendag vir my voorlees en basies nie kon lees. Dit was asof sy jare se stappe terug gegee het. Ek kon dit nie verstaan nie. Hoe kon my kind nie lees nie?

Ek het 'n goeie vriendin genader en sy het met my meegedeel dat Makayla 'n lees blok het. Ja kan jul glo daar is so iets. Lees blok kan gebeur deur twee redes. Die persoon word te veel gedruk en is onder stress of as gevolg van 'n emosionele situasie. ROOI VLAG!

Ons het die lees net eenvoudig laat staan. Ja, ek het vir hulle voorgelees en nie dat hulle vir my enige iets voorlees nie. Stadig maar seker het hulle weer ietsie begin lees. Dit was moeilik vir Makayla alhoewel sy baie daarvan gehou het. 

Elke aand lees Makayla haar Bybel. Die Bybel@Kinders die een met altwee vertalings (uit druk uit). Sy het altyd baie hulp gevra met die woorde. Ek het haar hier en daar gehelp maar vir haar gesê as sy dit mooi hardop spel en in lettergrepe opdeel, sal sy weet wat dit is. Matthew het haar natuurlik baie gehelp.

Met hul Math U See lesse lees hul self hul woordsomme. Sukkel-sukkel het Makayla probeer aangaan met die somme wat sy dit nie wou en kon lees, ma het maar altyd ingespring en gelees.

Skielik uit die bloute lees sy haar sinne vlot. Ek is uit die veld geslaan en so gelukkig soos wat kan kom.

Wat leer ek hier uit. Leer die kind lees wanneer hulle reg is. Moet hul NIE druk nie. Hul sal daar kom een of ander tyd.

As jou kind sukkel, maak eers seker jou kind ken al hul klanke goed. Stel lettergrepe bekend en leer woorde so aan. Vat dit dag vir dag, bietjie op 'n slag. Gebruik 'n boek wat hulle baie geniet. Vir Makayla was dit haar Bybel want sy wou meer weet en dit is geskryf spesiaal vir kinders. Vir iemand anders kan dit dalk 'n strokiesprentboek wees. Begin eers as jy sien jou kind is reg daarvoor.

Ek hoop werklik iemand kan baat uit ons ondervinding.

Groete

Maryna

Tuesday, 21 July 2015

Uit 'n Tuisonderwys moeder se pen

Marelize Keyter, veteraan Tuisonderwys moeder het die skrywe vandag op die Tuisonderwys yahoo forum geplaas. Met toestemming plaas ek dit hier.

Dit is vir almal wat nuut is in Tuisonderwys. 


"Gereeld sien ek hierdie opskrif op die e-poslys.

Gewoonlik met vrae en stellings soos: Ons is nuut in tuisonderwys. Moet ons registreer? Watter kurrikulum moet ons koop? Watter is die beste Afrikaanse kurrikulum? Ens...

En ek wag vir die antwoorde op hierdie vrae.

Want sien, na meer as 10 jaar op die pad van tuisopvoeding (en dis maar betreklik kort, daar is ander gesinne wat my jare voor is) het ek die hele sirkel voltooi...maar genadiglik darem nie oorweeg om die kinders terug te sit in die skool nie!

Dit bly interessant om te sien hoe ander ouers raad vra, dit kry en in die wind gooi. Maar miskien is dit juis daardie eiewyse wegdraai en self koers kies wat TO anders maak.

Ons besef "iets" is fout in die hoofstroom-skooltipe onderwys, maar ons kan om de dooi dood nie daarvandaan wegbeweeg nie. Ons klou erger as 'n neet aan 'n kleuterkop.

Ongeag hoeveel veterane aan nuwelinge verduidelik dat kurrikula die allerlaaste ding is waaroor jy jou moet kwel, dit bly die nr 1 vertrekpunt. So asof die kurrikulum aan jou vastigheid in 'n totaal onseker veld en wêreld sal gee. Dan ruk ma pa se tjekboek uit, laat die kredietkaart sing en binne minute is R20 000 van bank verwissel....maar geen waarborg vir enige leer, onderwys en veral opvoeding is gegee nie. Geen.

Die indrukwekkendste kurrikulum kan op die rak staan en stof vergader, gewoonlik omdat dit vir 'n skoolsituasie geskryf is. Ekself het al na kurrikulums gekyk en gewonder watter graad ek as ouer nodig het om  enigsins te verstaan wat van my verwag word. Dit is doodeenvoudig nie prakties vir 'n huisgesin met kinders van verskillende ouderdomme, belangstellings en leerfases nie. Dis absurd.
Die gesinsdinamika het nie verander in 'n skoolklaskamer nie. Die telefoon lui, die rys brand, die tuinjong het sy toon met die grassnyer bygekom, Liesbeth daag nie op nie, dinge gebeur. En as pa van die huis af werk, soveel te meer. Hiermee het geen kurrikulumskrywer tred gehou nie, want nie een van hulle het tuisonderwys gedoen nie, bloot onderwys.

En eerlik, 'n onderwyser verstaan nie die "werklike" lewe nie. Hulle opleiding en realiteit is bloot klaskamers. Verwaterde, kliniese, stukkies van die werklike, kleurryke en aksiebelaaide, polsende lewe.

Hoekom wil ouers dan hul kinders, wat hulle juis nou uit die skool gehaal het, terugsit in 'n miniatuur laboratorium?

Leef die lewe!!

Gebruik die lewe as kurrikulum. Benut elke dag se onbenullighede as leergeleenthede. Stap op 'n koue wintersoggend uit en blaas in die lug. Let op hoe "rook" die hele gesin. Gesels oor waterdamp, kook die ketel en let op die stoom. Hang wasgoed op en los die raaisel oor waar die water heengaan op. Plant saadjies, laat bone oornag in water opswel, spit erdwurms uit. Hou 'n jagspinnekop dop, besoek 'n plaas, die winkels, die biblioteek, hospitaal, brandweer, poskantoor, bank. Leer jou kinders hoe om met geld te werk, laat hulle bak en brou. Leef bloot jou lewe...dis al wat regtig nodig is. Dis kurrikulum genoeg.

Lees, lees en lees. Verryk jou kind se verbeelding, verbreed hul woordeskag en algemene kennis. Vergeet daarvan dat hulle op 6 self moet lees, dis belaglik. Lees eerder self goeie opvoedkundige boeke (Better late than early, deur Raymond en Dorothy Moore; How children Fail en ook How children Learn, deur John Holt; Om seuns groot te maak deur James Dobson) en staan verstom voor die almag van ons Skepper wat die vermoë tot leer in elkeen geplant het, en elkeen individueel tot wasdom lei. Geen twee kinders ontwikkel teen dieselfde tempo of leer enigiets op dieselfde moment aan nie. Jy gaan jou kinders 'n groter onreg aandoen deur hulle te vroeg te druk.

Lees hardop voor. Verbreed horisonne, breek onbekende wêrelde oop en verryk hul karakter.
Gooi weg: TV, videos, rekenaarspeletjies (veral die opvoedkundige tipe), dank die bediende af en laat die kinders verantwoordelikheid in die huis aanvaar.

Ek het aan die begin gesê dat ek die sirkel voltooi het.... ons het. Kurrikulum regdeur tot volbloed "unschooling".... en ons kinders het die meeste geleer die moment toe ons opgehou het om vir hulle te wil leer.

Kinders leer vanself. Maar net wanneer ouers terugstaan en hulle toelaat om self te leer.
Raak self stil, en gaan dink baie mooi na oor wanneer jy werklik iets geleer het.

Groetnis
Marelize Keyter
Tuisopvoeder sedert 2005, ma van Leticia (20, GED en Montessori-opvoeder), Henry (18, GED en aspirerende student), Johan (13) en André (11). Boervrou, wiskunde ekstra-klas tannie en passievol oor TO."

Ek kon nie dit beter gestel het as Marelize nie. 


Groete

Maryna

Tuesday, 26 May 2015

Aanstuur van bronne

Ek wil graag 'n versoek doen aan almal wat my blog lees, volg en dalk net inloer vir hulpmiddels. 

Indien jul van die goed wil gebruik wat ek gemaak of vertaal het, vra ek dat julle dit asseblief van my blog sal aflaai. Indien jul vir iemand anders wil gee, verwys hul terug na my blog om dit af te laai.

Dit neem baie tyd om goed op te stel en toestemming te kry om die vertalings te doen ens, moet asb dus nie die hulpmiddels elders berg of deurstuur as jou eie skeppings nie.

Dankie vir die samewerking.

Groete

Maryna

Wednesday, 12 February 2014

Geslote hoofstukke

Ons almal kom op 'n punt van ons lewens waar ons baie moeilike besluite moet neem. Dit is nie altyd ten goede van ander nie, maar dit moet geneem word.

Vandag na amper 2 jaar nadat ek die Facebook groep Tuisonderwys in Afrikaans geskep het, het ek dit gesluit. Dit is 'n hartseer dag vir my. Tuisonderwys in Afrikaans was spesiaal, dit was 'n plek waar uitsluitelik mense wat in Afrikaans Tuisonderwys ekstra raad en hulp kon verkry. 'n Plek waar hulle idees kon uitruil en Afrikaans as taal bevorder.

Die groep het in die tyd van sy bestaan baie sterk gegroei. Soos met enige iets in sosiale media was daar ongelukkig ook nie altyd goeie oomblikke nie. Die laaste maand was daar 'n skielike ontploffing in die hoeveelheid mense wat wil begin Tuisonderwys, wat natuurlik ook goed is.

Dink hieroor: Wat is mense se redes agter die besluit om te Tuisonderwys? Neem die mense die besluit as 'n werklike roeping van die Here? Wat het God in jou hart geplaas? Gaan jy Hom gehoorsaam? Gaan jy dat Hy jou die pad wys, of gaan jy na mense luister?

Mense wat nuut in Tuisonderwys is verwag soms ook dat diegene wat al lank Tuisonderwys hul hand moet neem en hulle stap vir stap deur die proses moet neem. Ongelukkig is die realitieit van Tuisonderwys 'n 'trail and error' reis. Ons wat al 'n geruime tyd Tuisonderwys, het werklik baie navorsing gedoen deur boeke te lees. Facebook kan 'n goeie hulpmiddel wees as jy dadelik net gou raad wil kry of ietsie wil deel. In werklikheid is dit ook oppervlakkig. Mense se opinies verskil baie. Dit is ook ongelukkig so dat dieselfde mense oor en oor vir raad vra en werklik nie daarna 'luister' nie. 

Tuisonderwys is 'n baie intieme leefstyl. Dit is baie tyd wat jy daarin belê om jou kinders te leer volgens hoe God wil hê hulle geleer moet word. Hulle moet 'n verhouding met die Here bou, hulle moet goeie karakter kan hê. 

In Tuisonderwys is daar nie 'n 'one size fits all' nie. Elke gesin is uniek, so ook elke kind. Wat vir een persoon goed is, is moontlik bog vir 'n volgende. Mense raak slawe van boeke en kurrikulums. Ouers raak so betrokke in gesels forums en die internet dat hulle kosbare tyd saam met hulle kinders verloor. Mense raak behep met tegnologie en die ewige selfoon in die hand. Jou kind soek tyd van jou. Speel saam met jou kinders, maak dit vir hulle lekker om te Tuisonderwys. Leer gebeur nie net met 'n boek in die hand en sit by 'n tafel nie. Elke dag elke oomblik is 'n geleentheid om iets te leer.

Tuisonderwys is nie aldag maklik nie. Daar gaan dae wees wat jy baie mismoedig voel. Die enigste manier om deur daai dae te kom is om op jou kniee voor die Here te gaan.

As jy nie 'n verhouding met God het nie, is dit tyd om daar te kom. Hy is die een wat ons krag, wysheid en insig gee. Niemand kan dit sonder die Here maak nie.

Tuisonderwys in Afrikaans se Facebook groep mag dalk gesluit wees. Daai hoofstuk is gesluit, maar Tuisonderwys vir ons wat Afrikaans is sal altyd leef.

Maak die beste van elke dag. Spandeer tyd saam met jou kinders. 

Groete

Maryna

Friday, 20 December 2013

Wat leer jy jou kind?



 

As daar een ding is wat krities is vir my vandat ek begin Tuisonderwys het, is die feit dat ek weet wat my kinders leer en dat ek altyd betrokke is. Dit sal geld tot die dag wat hulle klaar maak met skool.

Ek het onlangs in ‘n groot debat betrokke geraak op ‘n internasionale Tuisonderwys forum oor Suid Afrika. Dit was baie duidelik dat baie ouers en spesifiek Tuisonderwys moeders nie werklik heeltemal betrokke is en weet wat hulle kinders leer en nie leer nie. Dit is regtig baie hartseer. Wat is die nut van Tuisonderwys dan?

Ek was gebombadeer deur ‘n opmerking wat ek gemaak het nadat daar ‘n plasing was oor Suid Africa. Die grootste skok is dat hierdie sogenaamde feite beskikbaar gestel gaan word in ‘n baie bekende internasionale kurrikulum. ‘n Kurrikulum wat ‘n groot treffer onder Tuisskolers is. Ongelukkig is die sogenaade feite baie eensydig en nie goed nagevors nie. Daar word ‘n beeld van ons land geskep wat total en al onwaar is.

Behalwe vir die negatiewe uitkyk van ons land, baie van die ouers wat my aangeval het is onder die indruk dat Suid Afrika basies die Suide van Afrika is. 

Nou vra ek myself dit, hoe op des aarde is so iets moontlik? Hoekom doen mense nie hulle huiswerk en behoorlike navorsing voor hulle kommentaar lewer. Kommentaar moet gestaaf word deur feite en nie wat mense in die media sien en wat jy maar net dink nie. Onder ander is mense onder die indruk dat SA dieselfde is as Sudan. Daar is werklik ‘n eenvoudige oplossing tot sulke dinge en ons noem dit ‘n wêreld kaart. Gaan lees, soek dit op, doen navorsing, dit is so maklik soos dit.

Een moeder het vir my geskryf dat sy nie tyd het om navorsing te doen en te gaan staan en oplees oor goed nie, haar kinders doen hulle eie navorsing. Dit is skokkend! Dit bewys weereens dat baie ouers kies Tuisonderwys as ‘n vinnige uitkoms om hul kinders nie ‘n publieke skool te plaas nie.Hoekom dan Tuisonderwys? 

Hoekom wil enige ouer Tuisonderwys as hulle nie die tyd daarin wil belê nie? Ek is werklik seker ek is nie die enigste een wat so dink nie. Voor jy as ouer iets vir jou kinders leer, wees betrokke! Maak seker jy weet wat jou kind leer. Al is jou kind ouer moet jy nogsteeds betrokke wees! Moet nie net op die internet staatmaak vir informasie nie, die media kan dinge baie anders laat lyk as wat dit werklik is. As jy kommentaar lewer op gesprekke, maar seker van jou feite!!

Wees daar vir jou kinders!

Groete

Maryna

Wednesday, 4 December 2013

Die klug van die "Freebies"



Hoe lekker is dit om van die Tuisonderwys groepe of blogs en ook webbladsye al die oulike 'Freebies' te sien. Al wat 'n mens wil doen is net aflaai en dit te hou vir daai dag as jy dit dalk wil gebruik.

'Freebies' kan 'n goeie ding wees. Ongelukkig kan dit ook 'n klug wees. Ja, vra my ek weet. Jy laai dokument vir dokument af. Soms kyk jy gou wat dit is. Ander kere bere jy dit vir later en vergeet daarvan.

Eendag sit jy en gaan jy deur jou eksterne hardeskyf en kyk wat jy kan gebruik. Jy vind jouself oorweldig deur die honderede 'oulike' skoolgoed wat jy afgelaai het. Jy begin stadig maar seker te kyk wat is wat. Kan jy dit gebruik of kan jy dit maar asblik toe stuur?

Ons mors baie tyd deur al die goed wat ons aflaai vir daai dalk dag. Neem 'n besluit vandag. Moet nie alles aflaai wat jy sien is gratis nie.

Kyk presies wat dit is voor jy aflaai. Gaan jy dit werklik gebruik? Indien jy dink dalk, maar dalk nie, los dit dan eerder. Laai net af wat jy werklik gaan gebruik. Hierdie geld veral vir goed wat net vir 'n beperkte tyd gratis beskikbaar is. Boekmerk dan eerder daai bladsy en gaan kyk weer op 'n later stadium. Jy sal verbaas wees om te sien wat is tog weer later beskikbaar.

Hier is waar 'n beplanner ook baie handig is. As jy presies weet wat jy wil doen min of meer wanneer en jy sien iets iewers gratis en dit pas by jou program in, dan laai jy dit af. 
 
Groete

Maryna


Monday, 28 October 2013

Oorweeg jy Tuisonderwys?

Die wêreld van Tuisonderwys is besonders vreemd vir iemand wat hul hele lewe gewoond was aan ’n gewone skool sisteem. Daar is baie vrae en vrese.

Die meeste ouers vra altyd, maar gaan my kind genoeg leer? Gaan ek hul nie van iets ontneem nie? Wat van maats? Wat van matriek?

Voor ek begin Tuisonderwys het, het ek nooit myself kon indink om my hakskoene te ruil om ’n ma te wees wat haar kinders tuis leer nie. Na die gedagte by my begin opkom het, het ek elke dag daaroor gebid. Ek was bang en onseker. Ek het begin navorsing doen soveel as wat ek kon.

Vandag kan ek terug kyk en alles waaroor ek in begin gekommer het, was eintlik net onnodig. Ons leer soos ons gaan en leer ook uit ons foute uit.

Dit is baie belangrik dat indien jy begin dit eers rustig vat. Die laaste ding wat jy wil doen is om te skool by die huis. Dit beteken om te verwag jy gaan nou Laerskool of Hoërskool X in jou eie huis voortsit. Julle wil juis weg beweeg van al die ‘vissies in ’n blik’. In die skole word daar verwag dat alle kinders eenders moet wees, reageer en dink.

Met jou kind by die huis gaan daar ’n hele nuwe wêreld oop. Jou kind(ers) kry die geleentheid om hulself te ontdek. Hul kan wees wie hul werklik is. Hul hoef nie te kompeteer of iemand te beïndruk nie. Jou kinders kan leer deur te ontdek. Julle kan onder die kombers lê en stories luister, liedjies sing en sommer lekker speletjies speel.

Baie ouers wat begin gebruik formele kurrikulum verskaffers se materiaal. In werklikheid is dit ’n onnodige uitgawe, maar ons het almal ons behoeftes hoe ons dinge wil doen. Party het baie struktuur nodig, ander leer soos die dae hul neem. Jy kan eenvoudig net 'n paar lekker boeke kry en lees vir die kinders. LEES, LEES en nogmaals LEES vir jou kinders voor (ongeag hoe oud hulle is)

Leer hulle deur speletjies te speel. Weet jy dat jou kinders leer baie meer deur in jou tuin rond te krap as om in ’n boek te moet sit en skryf heeltyd.

Die biblioteek is jou beste maat. Maak jou kinders gewoond daaraan om boeke uit te neem. Al is dit nie wat jy vir hulle wil hê nie, laat hulle uitneem waarin hulle belangstel. Lees daaruit. Moet nie jou kinders druk nie, gee dit tyd, dinge kom vanself.

Sluit aan by Tuisonderwys kuier groepe. Gaan op uitstappies en leer ander ook ken by sport oefeninge.

Om te Tuisonderwys is ’n ongelooflike voorreg en ek persoonlik glo dit is ’n roeping van die Here af. Net Hy kan jou elke dag daardeur dra. Dit is nie altyd maklik nie. Sommige dae gaan ’n mens maar moedeloos voel, jy gaan soos ’n mislukking voel. Dit is alles deel van die pakket.

Jy kan nie onderwyser en ma wees nie. Jy is net ma met ’n tikkie meer om te gee.

Geniet jou kinders!

Groete


Maryna