Tuesday 24 October 2017

Oop brief vir die veterane

Dit is ongelooflik om te sien hoeveel mense daar nou is wat Tuisonderwys of oorweeg om te Tuisonderwys vandat ons begin het.

Net soos ons begin het, het enige ouer baie vrae en navorsing wat hulle doen. Met die vinnige lewe waarin ons vandag lewe is dit soveel makliker om vinnig antwoorde op Facebook groepe te ontvang van soveel verskillende ouers.

Daar is nou al baie veteraan moeders. Diegene wat al meer as 7+ jaar hul kinders Tuisonderwys. Dit is gewoonlik hulle na wie nuwe ouers graag draai vir raad en advies.

Ek was onlangs in 'n situasie wat my vir die eerste keer so laat skaam het om myself 'n Tuisonderwys moeder te noem. 'n Dame wat navorsing doen oor Tuisonderwys, was so aangeval op 'n Facebook groep dat ek wonder of sy dit nou ooit eens gaan oorweeg. Hierdie was 'n plaaslike dorp groen, nie eens 'n Tuisonderwys groep nie.

In my poging om die dame te verwys na 'n instansie, word ek gebombadeer deur die ander veteraan moeder. Ek het die dame persoonlik probeer kontak en sy het my dood eenvoudig geblok. Die kersie op die koek, amper twee dae later kom daar iemand anders te voorskyn wat my uit my sokkies uit vloek. Dit alles net omdat ek iemand verwys het na 'n plek.

Ek Tuisonderwys nou amper 9 jaar. In my lewe het ek my nog nooit so geskaam om eens deel te wees van die Tuisonderwys beweging nie. Hierdie vrou wat haar soos 'n vark op sosiale media gedra het, staan as 'n bekende onder die Tuisonderwys gemeenskap in ons dorp. Dieselfde dame wat my en ander aanval en van dinge beskuldig doen inteendeel die ding wat sy uitwys as onwettig.

Dit is die plig van 'n veteraan of enige ander Tuisonderwys moeder om op 'n mooi manier ander te help. Vandag is daar so baie opsies ens dat dit maklik oorweldigend kan wees vir enige persoon wat Tuisonderwys oorweeg.

Wie gee ons veterane die reg om ander 'af te skiet' en soos 'n buffel op te tree. As jy iemand is wat geirriteerd raak oor dalk dieselfde vrae oor en oor. Moet eenvoudig nie op plasings kommentaar lewer nie, lees verby en gaan aan met jou lewe.

Tuisonderwys kry reeds baie aanvalle, ons het werklik nie nog nodig dat ouers in opstanding met mekaar raak nie. 

Elke persoon het hul eie siening en jy kan nie jou siening en wat vir jou werk soos 'n formule ook op ander afdruk nie. Indien jy ander wil help en raad gee, doen dit op 'n mooi manier. 

Ons, of aldan ek is daar om mense by te staan en te help. Met graagte en met liefde ;) Vra jouself dit, waar pas jy in? Hoe sien die gemeenskap jou? Jy mag dalk dink jy beweeg onder die rader. Maar sodra jy 'n lelike woord op sosiale media plaas, word jy gebrandmerk en 'n beeld word van jou geskep.

Wees die Tuisonderwys ouer op wie jou kinders kan trots wees.

Groete

Maryna

Wednesday 27 September 2017

Suid Afrika en Wêreld Kaart aflaai

Ek het jare terug die pragtige twee kaarte van Onnies Online van Huisgenoot gekry.

Jy kan die kaarte in hoë definisie formaat aflaai. Sien skakel onder elke foto. 

Die formaat kan op baie groot papier ook uitgedruk word sonder om kwaliteit te verloor. PostNet druk op groot velle. Jy kan dit ook laat lamineer sodat dit baie jare mooi bly en lank gebruik kan word.


Laai die Suid Afrika kaart HIER af.
 

Laai die Wêreld kaart HIER af.

Lekker leer.

Maryna

Wednesday 12 July 2017

Woorde met Woema Kursus

Tuisonderwys moeder en skryfster Marisa Haasbroek het vir ons nog 'n wonderlike Afrikaanse kursus saamgestel, Woorde met Woema.

Die mini-kurus is so pas geloods. Hier kan ons 'n insig kry van wat haar volledige kursus gaan bied. Ek het deur die mini-kursus gewerk en dit is absoluut puik. Nes die 15 Minuut Afrikaans kursus het Marisa alles ingesit om ons wat Tuisonderwys te help in Afrikaans. Dit neem nie baie tyd nie en dit is 'n prettige kursus.

Wat presies is Woorde met Woema? Dit is 'n Afrikaanse skryfkursus vir kinders (maar ma kan ook baie daaruit leer).  Hul neem 'n kort sin (wat deel uitmaak van 'n storie) en kikker dit 'n bietjie op in 'n unieke opwinende storielyn.

Kyk na die Woorde met Woema bekendstellingsvideo.


Die mini-kursus is GRATIS. Ja totaal gratis. Die volledige kurus is in werking en sal eersdaags te koop beskikbaar wees. Moet nie die een mis nie. 

Skryf HIER in by die gratis mini-kursus. 

Lekker leer.

Groete

Maryna

Monday 10 July 2017

Hou Net Op Sukkel - Youtube hulp

Ek het onlangs op 'n baie oulike Youtube kanaal afgekom Hou Net Op Sukkel.

Die kanaal is vir Graad 10 tot 12 leerlinge en het videos vir Wiskunde, Wetenskap, Chemie en Fisika.

Hierdie is een van daai moet volg kanale. Die verduidelikings is puik.Dit word aangebied op 'n manier waarvan jong mense sal hou en is nie afgewater of vervelig nie. Gaan loer gerus op Youtube na die kanaal en volg hul, daar is baie videos om van te kies. 

Kyk gerus hier na die inleidings video.


Laat weet gerus wat jul van die kanaal dink. 

Lekker leer.

Groete

Maryna



Thursday 6 July 2017

Slakkepas deur die jaar

2017 Het verseker sy uitdagings opgelewer. Nie net op die huis front nie maar selfs in Tuisonderwys. Daar is so baie dinge wat eenvoudig net nie gewerk het nie en met ander is ons nog nie nastenby waar ons, of altans ek wou gewees het nie.

Het jul al ooit ook so gevoel? Jy het jou plan en jy is seker dit gaan so vir jou werk. Voor jy jou oë uitvee het jy of dinge verander, of jy het nie eens by iets uitgekom nie.

Ons is in die helfde van die jaar en in sekere vak areas het dit goed gegaan. In ander was dit nie so suksesvol.

Ons het 'n baie groot verandering in een van ons kurrikulums gemaak, Twee keer! Ja, wraggies, twee keer verander. Was die eerste verandering die regte een, ek is nie so seker, kon dalk harder probeer het. Die tweede verandering was 'n moet, dit was eenvoudig een van daai kop teen die muur stamp slegte besluite om dit in die eerste plek aan te pak. Ek het egter baie navorsing gedoen en 'n besluit geneem. Ek sal oor 'n paar weke meer hieroor deel.

Hoe verloop jou jaar sover? Is jul waar jy gehoop het jul gaan wees? Het jul 'uit' gegooi? Iets nuut in gebring? Deel bietjie jul ervarings.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Sunday 28 May 2017

Wat is die gogga in die water?

Het jy al opgemerk hoeveel goggas en larwes daar in water is. Ken jy egter die algemene name van al daai goggas?



Hierdie kaartjies is oorspronklik saamgestel deur Ellen McHenry van die Basement Workshop en met toestemming deur my vertaal.

Die teiken ouderdom vir die aktwititeit is vanaf 8 jaar en op. Jy kan die kaartjies gebruik as 'n geheue tipe speletjie, of jy kan snap met dit speel. Alternatief kan jy die kaartjies gebruik as verwysing wat deel uitmaak van jou studie.

Indien jy die kaartjies gaan gebruik om mee te speel, stel ek voor jy druk dit op karton en lamineer dit. Dit sal die kaartjies nog baie lank laat hou. 

Laai die kaartjies HIER af.

Lekker speel en leer.

Groete

Maryna


Wednesday 17 May 2017

Wat regverdig kurrikulum kostes?

Elke jaar koop ons almal moontlik duisende rande se kurrikulum of verskeie boeke om in ons Tuisonderwys te gebruik.

Dit is geen geheim dat die pragtige kurrikulums met al sy bygevoegde boeke en addisionele bronne meestal van Amerika af kom. Ons monde water behoorlik as ons sien wat alles daar buite beskikbaar is. Bob Jones, Abeka, IEW, Apologia net om 'n paar te noem. Die boeke word gewoonlik saamgestel deur 'n span kenners.

Vir ons om kurrikulum van oorsee aan te koop, beteken nie net boeke in dollar pryse nie, maar natuurlik ook die kostes om dit in Suid Afrika te kry en dan ook doeane kostes. Dit is genoeg om enige persoon te laat sidder of twee keer te laat dink. Tog is ons steeds bereid om daai kostes te betaal. Ons moet in ag neem dat hierdie boeke deur massaproduksie gedruk en versprei word. Duisende boeke word elke jaar verkoop.

Kom ons kyk na ons plaaslike kurrikulum/boeke verskaffers. Hier verwys ek nie na die gewone CAPS boeke ens. Ek verwys na boeke wat Tuisonderwys moeders saam gestel het. Daar word menigte ure in die saamstel van boeke gespandeer. Tyd wat daai moeder saam met haar kinders kon spandeer het (ja, die ander vat ook tyd, alhoewel die ander groot name dit voltyds vir 'n lewe doen). Baie navorsing wat gedoen moet word. Hierdie alles om te verseker dat ons wat in Suid Afrika die produkte aankoop gelukkig sal wees met wat ons ontvang. Hierdie kurrikulum/boeke/kursus is nie massaproduksie nie. Die word op aanvraag gedruk met groot koste uitgawes. Dit word noukeurig verpak en aangestuur.

Wat regverdig die kostes van die plaaslike kurrikulums in vergelyking met buitelands? Dit is bloot die reg op keuse.

Kom ons kyk gou na net 'n paar om te noem 15 Minuut Afrikaans, Footprints of our Land, Omvattende Afrikaans, Toetentaal Afrikaans en Somme(r) Pret (skuus as ek iemand uitlaat) Ons kan probeer vergelyk dat 'n jaar studie boek met Studenteboek en Onderwyser van Platinum bv. R400 sal kos. Waar 'n program soos 15 Minuut Afrikaans wat ook oor 'n jaar strek ook net oor die R400 sal kos. Maar dan bv. 'n engelse skryfprogram sal jou 'n paar duisend uit die sak ruk as jy dit van oorsee bestel.

Indien jy 'n plaaslike Tuisonderwys moeder wil ondersteun of dalk net eenvoudig daai spesifieke program gebruik. Hou die volgende in gedagte voor jy dalk voel die prys is nie bekostigbaar nie.
- Is die boeke gedruk en hoe?
- Word dit per aanvraag gedruk? Boeke wat honderde op 'n slag gedruk word kos goedkoper, dit is egter net nie prakties vir die Tuisonderwys ouer of samesteller om dit te doen tensy jou beursie nie 'n bodem het nie.
- Waaruit bestaan die program?
- Oor hoe lank tydperk strek die program?
- Kan 'n opvolg kind dit weer gebruik?
- Uit hoeveel bladsye bestaan die program? Wat het jy addisioneel nodig?
- Indien 'n elektroniese formaat beskikbaar is, hou in gedagte dat jy geen posgeld op dit betaal nie en is dadelik beskikbaar.

Baie ouers koop boeke aan met die wete dat hul dit weer kan verkoop. Sommiges voel dat elektroniese boeke nie die prys waardig is omdat hul 'niks' weer daaruit kan kry. Jou kind het egter 'n hele jaar se kennis ontvang danksy 'n ander ouer se deursettings vermoë. As jou kind in 'n publieke skool was, sou jy ook niks terug kry na jy 'n jaar R20000 plus aan net skoolfonds betaal het nie, behalwe 'n rapport en 'n kind wat hopenlik gevorder het.

Ondersteun gerus om plaaslike kurrikulum/boek/kursus verskaffer. Hul skryf die produkte juis vir ons wat Tuisonderwys.

Ek sal graag julle insette wil hoor.

Groete

Maryna

NB: Indien jy 'n produk elektronies koop, moet dit asb nie aangestuur vir iemand anders nie. Respekteer die kopiereg daarop.

Monday 1 May 2017

Chinese Papier Lantern

Maak 'n Chinese papier lantern. Die praktiese aktitwiteit kan gemaak word as deel van 'n studie van China.

Die aktitiwteit is oorspronklik deur Ellen McHenry van die Basement Workshop saamgestel en met toestemming deur my vertaal.

Teiken ouderdoms groep: Enige
 
Tyd benodig: Dit hang alles af van hoeveel tyd die kind spandeer om die draak in te kleur. Gee ongeveer ‘n uur om die hele projek te voltooi.

Wat jy benodig:
-Afskrifte van die patroon bladsye.
-Skêr
-Kryte of inkleur potlode
-Gom
-Skuifspelde
-Kleefband
-Dun wol  (voorgestelde kleure: rooi, geel, swart, wit)

Maak so:
1)Maak afskrifte van die patroon bladsye. Ek stel voor dat jul dit op karton druk, maar gewone papier sal ook werk. Kleur papier of karton sal goed werk, soos bv. geel of oranje vir die draak en rooi en geel vir die buitenste deel van die lantern. Die Chinese gebruik meestal rooi en swart wanneer hulle versierings maak.
2)Kleur die draak in.
3)Volg die aanwysings om die lantern aanmekaar te sit.

Laai die aktiwiteit HIER af.

Lekker skep en leer.

Groete

Maryna

Saturday 29 April 2017

Papier Virus Model aktiwitiet

Leer 'n bietjie van mikrobiologie deur te leer van die T2 en adenovirusse.

Die aktiwiteit is oorspronklik saamgestel deur Ellen McHenry van die Basement Workshop. Met toestemming is dit vertaal deur my.

  
Agtergrond informasie
’n Virus is reg op die lyn van lewende en nie-lewend. Alhoewel dit DNS bevat, die boustene van lewe, het ’n virus baie min in gemeen met ’n lewende sel. Dit het nie die organelle wat in lewende selle gevind word nie, soos bv. mitochondria, nukleus, endoplasmiese retikulum en ander buitenste membraan.  ’n Virus beskik nie oor geslagtelike voortplanting nie,  dit kan egter genetiese materiaal uitruil tussen selle. Dit moet homself heg aan ’n lewende sel om nog virusse te maak. ’n Sekere tipe virus kan homself slegs heg op ’n spesifieke sel. Soos bv. ’n virus wat jou longe aanval, val nie jou maag aan nie.
  Virusse het ’n baie geometriese voorkoms. Dit lyk meer soos geometriese figure as
lewende kreatiere. Die adenovirus soos hier gewys het 20 sye. Soms is daar lang skerp pennetjies wat by die hoeke uitsteek. Soek gerus op die internet rond vir nog voorbeelde.
  Die ander virus soos hier aangewys is die T2, dit heg homself slegs aan bakterieë. Jy sal nooit die een kan vang nie. Dit word ’n bakteriofaag genoem. Sy vorm is moontlik die mees interessantste van al die virusse. Soos wat lyk dit vir jou? Dalk ’n ruimtetuig? Die protein is op die boonste deel en die bene onder is wat aan bakterieë vasheg. Die bene trek die lyf af sodat dit aan die sel kan raak, en die virus DNS word in die sel in geblaas.

Doel van die aktiwiteit:
Leer 'n bietjie meer van die T2 en adenovirusse. Maak papier modelle van die twee virusse.

Ouderdomsgroep:
Ongeveer 10 tot 16 jaar.

Tyd benodig:
Ongeveer 15 tot 20 minute per model afhangende of jy dit gaan versier.

Wat jy benodig:
-Skêr
-Gom
-Patrone wat uitgedruk is in kleure van jou keuse
-‘Chenille stems’ (pypskoonmakers) in enige kleur (3 per virus)
-Skuifspelde of wasgoedpenne om die dele aanmekaar te hou terwyl dit droog word
-Enige iets ekstra wat jy wil gebruik om jou virusse mee te versier


Laai die patrone en instruksies HIER af.  

Lekker leer.

Groete

Maryna 

Monday 3 April 2017

Afwesig

Jammer ek het so lanklaas inskrywings geplaas. Ek behoort deur die vakansie n paar nuwe goedjies te plaas. Die lewe gooi ons bietjie omver.

Groete

Maryna

Tuesday 7 February 2017

Menslike Wonder - Infografika


Friday 3 February 2017

15 Minuut Afrikaans

15 Minuut Afrikaans is 'n wonderlike Afrikaanse Taalprogram wat aan die einde van 2016 deur bekroonde skrywer en Tuisonderwys moeder Marisa Haasbroek geloods is.


15 Minuut Afrikaans is presies net wat dit sê. Dit neem jou slegs 15 minute elke dag om taalwerk te oefen deur 'n storieboek stukkie vir stukkie te ontleed. Die program bestaan uit 'n Onderwysergids en 'n Studentegids. Alles wat jy benodig word saamgevat in die twee boeke. Ek stel egter voor dat jul 'n HAT of HAT Afrikaanse sakwoordeboek aanskaf, indien jul nog nie een het nie. 'n Lyntjieboek moet ook aangeskaf word.

Daar is ook kaartjies wat jy kan uitdruk wat die Woordsoorte opsom vir maklike gebruik en om na terug te verwys. 

Die program bestaan uit 30 lesse (weke). Genoeg om jou die hele jaar besig te hou. Elke les/week word in dae opgedeel. Daar is dus 5 'lesse/dae' binne 'n les/week.

Diegene wat al Fix It Grammar van die IEW (Institute of Excellence in Writing) gedoen het, sal presies die formaat van die program ken. Ek verduidelik kortliks vir diegene wat nie bekend is met dit nie.

Elke week word 'n nuwe woordsoort bekend gestel. Soos bv. week 1 leer die kinders van selfstandige naamwoorde. Elke dag gaan hulle dan 'n sin uit die boek Die klein kleremakertjie word koning gebruik. Uit die sin gaan hul leer om al die selfstandinge naamwoorde te merk. 'n Woordeskat woord word opgesoek en dit word agter in 'n lyntjieboek neergeskryf. Voor in daai boek sal die kinders die sin oorskryf, met al die nodige hoofletters, punte en die regte homofone ens. So word taalwerk happie vir happie bekend gestel en die kind raak vertroud met Afrikaanse taalwerk.



Ons gebruik die program al vir 'n paar weke en geniet dit vreeslik baie. Dit is eenvoudig uiteengesit en daar is niks wat die ouer verder nodig het om te doen behalwe om die nodige lesse uit te druk. Omdat die lesse vinnig gedoen kan word, word die nodige taalwerk geoefen en die kinders raak natuurlik nie verveeld met taal nie. Dit laat natuurlik ekstra ruimte in die dag om ander goed by te voeg en ook te doen.

Kyk gerus na die promo video oor 15 Minuut Afrikaans. Daar is ook 'n Facebook bladsy wat jy van kan gaan hou en skryf ook sommer in op die nuusbrief wat oulike brokkies en ook bonus blokraaisels bevat. 

Ek sal aanbeveel dat die program eers gebruik word na die kinders hul fondasie in Afrikaans vasgelê het. Dit kan egter op enige stadium gebruik word, self hoërskool.

Hierdie is tans een van die Afrikaanse programme wat ek hoogs aanbeveel.

Laaste nota: Omdat die program in elektronies formaat beskikbaar is, vra ek dat julle asseblief die kopiereg hierop sal respekteer dit nie sal aanstuur vir ander mense nie. Indien iemand belangstel laat hulle dit self aankoop. Daar is baie tyd in die samestelling van die program belê.

Lekker leer.

Groete

Maryna


Wednesday 25 January 2017

Toetentaal Taalkunste Program


Toetentaal Taalkunste Program is 'n nuwe Afrikaanse Taalkunste Program. 

Die program is saamgestel deur Erika Nothnagel en haar moeder. Die program is glad nie in lyn met CAPS nie en gebruik die Charlotte Mason se benadering. Neem kennis ek het geen ondervinding met die Charlotte Mason se program nie, ek kan dus nie uitlating gee oor hoe dit in lyn met die metode is nie.

Die volledige program is gepas vir kinders vanaf graad 4 tot graad 10. Daar sal in totaal ses boeke wees. Huidiglik is boek 1 beskikbaar. Die boeke kan nie net deur Afrikaanse eerstetaal leerders gebruik word nie, maar ook deur tweedetaal leerders vanaf ongeveer 11 jaar oud.

Aangesien ons Boek 1 deurwerk gaan ek ons ervaring en terugvoering oor boek 1 gee. Huidiglik is ek onseker of ons die opvolg boeke gaan doen, afhangende van wat gedek gaan word ens.

Elke boek het verskillende temas. Boek 1 het Kosstories, Reisigers, Grensloos, Het jy geweet...? Elke afdeling is in lesse opgedeel. Jy kan so lank of so vinnig deur die boek werk soos wat nodig is. 

Aangesien my kinders al heelwat ouer is as die teikenmark vir boek 1 werk ons baie vinnig daardeur aangesien konsepte nie nuut is. Ek moet byvoeg dat ons maar 'n paar kort weke aan die boek werk waar ons een les per dag doen (ons het een les uitgerek oor twee dae) en ons het reeds amper helfde van die boek deurgewerk. Jy kan die boek langer behandel deur die voorgestelde boeke voor te lees ens.
Taalwerk word sagkuns deur die loop van 'n tema/eenheid aan die kind voorgestel. Uittreksels uit stories, gedigte ens word verkaf. Daar is ook 'n lys van aanbevele boeke wat aangeskaf kan word. Ek moet net egter noem, dit is nie maklik bekombare boeke nie. Die boeke is nie 'n moet nie en jy kan steeds die program suksesvol voltooi sonder die voorgestelde boeke. Jy kan jou eie boeke ook gebruik. 
Ek moet dit net duidelik maak, (dit is my opinie). Jou kind moet kan lees en skryf voor jul met die boek begin. Alhoewel die ouer alle stukke voorlees sou dit baie moeilik wees om deur die boek te werk sonder die nodige lees vaardighede. As jou kinders dus nou eers met fondasie begin, wag dan eerder eers met die boek.
Ons hou van die navorsings, en dialoog dele. Baie geskiedkundige persone en gebeure word bekend gestel en hulle leer hulle taalwerk, woordeskat, spelling en nog meer sommer sonder dat hulle dit agter kom. 


Ek sou voorstel dat bv. die gonswoorde wat in elke afdeling agter aangegee word, op 'n manier gebruik word as spelwoorde. In my opinie sal spelling apart hanteer moet word en nog sal bygevoeg moet word.

Die taal is suiwer ou Afrikaans. As dit iets is wat jul geniet dan jul van die boek hou. Vir ander kan dit moontlik vreemd wees. 
Die boek is gedruk as hardeband in kleur en bevat die student en onderwyser in een. Al die nodige instruksies is in die boek en ook al die nodige plekke vir die kind om antwoorde neer te skryf. Indien jy die boek wil hou vir verdere kinders, sou ek eerder aanbeveel dat die kind dan in 'n aparte lyntjie boek skryf.

Die Facebook bladsy vir Toetentaal en dan ook die webwerf vir Toetentaal. Jy kan ook 'n e-pos stuur vir meer les voorbeelde en om bestellings te plaas aan toetentaaltuisskool@gmail.com. 


As 'n laaste punt, ek het die boek gratis ontvang om te evalueer en my eerlik terugvoering oor die program te gee. Dit is hoe ons die boek ervaar en dit is my eie persoonlik opinie. Ander sal verskil wie se kinders heelwat jonger is. Gaan kyk na die voorbeelde en doen 'n toetslopie om self te bepaal of die program reg is vir jou kinders. 


Lekker leer.

Groete

Maryna

Nota: ek het die skrywe opgedateer op 7 Feb 2017.


Tuesday 17 January 2017

Nuwe Afrikaanse Taalprogramme

2017 Het beslis baie goed vir ons begin wat ons Tuisonderwys betref.

Die lekker sappige kersie op die koek is ons gebruik twee splinternuwe Afrikaanse taalprogramme. Hoe lekker is dit. Tuisonderwysers sukkel werklik om goeie Afrikaanse taalprogramme in die hande te kry en hier is ons in 2017 met sommer twee splinternuwe programme.

15 Minuut Afrikaans en Toetentaal Taalkunste Program. Alhoewel albei Afrikaanse taalprogramme is, verskil hulle hemelsbreed van mekaar. En ons is mal oor albei en gebruik albei. 

15 Minuut Afrikaans Voorbladsye van Onderwyserboek en Studenteboek
Ek kan sommer al hoor dat mense vra, hoekom gebruik ek albei, is een nie voldoende? Ja, een is voldoende op sy eie. Maar soos ek genoem het hulle verskil so baie van mekaar. Ons het besluit om albei te gebruik om die volgende redes:

Toetentaal Taalkunste Program Voorblad van Boek 1
Ek toets graag nuwe produkte in die mark. Dit is die enigste manier om werklik eerlike terugvoering en aanbevelings te gee. 

15 Minuut Afrikaans is gebaseer op die Engelse Fix It program van IEW. Ons is bekend daarmee, ons hou van die formaat en hoe elke woordsoort bekendgestel en geoefen word. 

Alhoewel my kinders al heelwat ouer is as die teikenmark vir die eerste boek van Toetentaal Taalkunse Program, het ek steeds besluit om dit te gebruik om die gevoel te kry en deur die benadering te werk. Ons het nog nie tevore Charlotte Mason se benadering gebruik nie en geniet nou hierdie manier van werk.

My kinders geniet werklik albei baie. Dit neem nie so baie tyd in beslag nie. 

15 Minuut Afrikaans is in e-formaat beskikbaar. (Weereens net almal daaraan herhinner asseblief respekteer die skryfster se harde werk en moet nie die boeke vir jou vriende aanstuur nie. Ondersteun haar deur dit nuut te koop. Dit is egter teen die wet om digitale produkte weer te verkoop ens.)

Toetentaal Taalkunste Program is in 'n gedrukte boekformaat beskikbaar.

Ek sal binnekort meer volledige terugvoering plaas oor elke program in afsonderlike skrywes. Gaan loer gerus solank na die boeke en waaroor dit gaan.


Groete

Maryna



Monday 16 January 2017

Hoendereier Ontwikkelings Wiel

Die aktiwiteit is oorspronklik saamgestel deur Ellen J McHenry van die Basement Workshop. Met toestemming het ek dit in Afrikaans vertaal. 


Doel van die aktiwiteit:
Om te leer hoe 'n hoendereier ontwikkel en wat gebeur deur die 21 dae.

Ouderdoms groep: Graad R tot Graad 4

Beskrywing van die aktiwiteit:
Soos gesien in die foto hierbo is dit 'n ontwikkelings wiel met nog 'n wiel agter om die ontwikkelings stadium aan te dui (in die oranje venster) soos die kuiken groei per dag. Wat natuurlik gedraai kan word om elke stadium te sien.

Tyd benodig:
Ongeveer 30 minute met knip en inkleur, kan minder wees indien die kinders nie sou inkleur nie.

Wat jy benodig:
Afdruk van die patroon
'n Skêr
Kleur potlode
Wit karton

Laai die patroon aktiwiteit af.

Ouer kinders kan ook die aktiwiteit gebruik in Biologie deur dit binne 'n Wetenskap Joernaal te plak as deel van hul diere studies.

Lekker leer.

Groete

Maryna