Monday 28 October 2013

Oorweeg jy Tuisonderwys?

Die wêreld van Tuisonderwys is besonders vreemd vir iemand wat hul hele lewe gewoond was aan ’n gewone skool sisteem. Daar is baie vrae en vrese.

Die meeste ouers vra altyd, maar gaan my kind genoeg leer? Gaan ek hul nie van iets ontneem nie? Wat van maats? Wat van matriek?

Voor ek begin Tuisonderwys het, het ek nooit myself kon indink om my hakskoene te ruil om ’n ma te wees wat haar kinders tuis leer nie. Na die gedagte by my begin opkom het, het ek elke dag daaroor gebid. Ek was bang en onseker. Ek het begin navorsing doen soveel as wat ek kon.

Vandag kan ek terug kyk en alles waaroor ek in begin gekommer het, was eintlik net onnodig. Ons leer soos ons gaan en leer ook uit ons foute uit.

Dit is baie belangrik dat indien jy begin dit eers rustig vat. Die laaste ding wat jy wil doen is om te skool by die huis. Dit beteken om te verwag jy gaan nou Laerskool of Hoërskool X in jou eie huis voortsit. Julle wil juis weg beweeg van al die ‘vissies in ’n blik’. In die skole word daar verwag dat alle kinders eenders moet wees, reageer en dink.

Met jou kind by die huis gaan daar ’n hele nuwe wêreld oop. Jou kind(ers) kry die geleentheid om hulself te ontdek. Hul kan wees wie hul werklik is. Hul hoef nie te kompeteer of iemand te beïndruk nie. Jou kinders kan leer deur te ontdek. Julle kan onder die kombers lê en stories luister, liedjies sing en sommer lekker speletjies speel.

Baie ouers wat begin gebruik formele kurrikulum verskaffers se materiaal. In werklikheid is dit ’n onnodige uitgawe, maar ons het almal ons behoeftes hoe ons dinge wil doen. Party het baie struktuur nodig, ander leer soos die dae hul neem. Jy kan eenvoudig net 'n paar lekker boeke kry en lees vir die kinders. LEES, LEES en nogmaals LEES vir jou kinders voor (ongeag hoe oud hulle is)

Leer hulle deur speletjies te speel. Weet jy dat jou kinders leer baie meer deur in jou tuin rond te krap as om in ’n boek te moet sit en skryf heeltyd.

Die biblioteek is jou beste maat. Maak jou kinders gewoond daaraan om boeke uit te neem. Al is dit nie wat jy vir hulle wil hê nie, laat hulle uitneem waarin hulle belangstel. Lees daaruit. Moet nie jou kinders druk nie, gee dit tyd, dinge kom vanself.

Sluit aan by Tuisonderwys kuier groepe. Gaan op uitstappies en leer ander ook ken by sport oefeninge.

Om te Tuisonderwys is ’n ongelooflike voorreg en ek persoonlik glo dit is ’n roeping van die Here af. Net Hy kan jou elke dag daardeur dra. Dit is nie altyd maklik nie. Sommige dae gaan ’n mens maar moedeloos voel, jy gaan soos ’n mislukking voel. Dit is alles deel van die pakket.

Jy kan nie onderwyser en ma wees nie. Jy is net ma met ’n tikkie meer om te gee.

Geniet jou kinders!

Groete


Maryna

0 comments:

Post a Comment