Monday 28 October 2013

Is Tuisonderwys minderwaardige onderwys?

Ek was die vraag gevra of ek dink Tuisonderwys is minderwaardige onderwys. Lees gerus my mening hieroor.

Dit kan geensins as minderwaardig beskou word nie, dit is net ’n meer individuele metode van onderwys. Party ouers verkies om hul kinders in duur privaatskole te sit en ander het die voorreg om hulle kinders te tuisonderwys. 


Tuisonderwys is nie daar om die ouer se ego te streel nie, dit is daar om die beste belange van die kinders op hul hart te dra. 

Die kinders kry 100% individuele aandag, daar kan gefokus word op areas waarmee hulle sukkel. Elke kind is anders en as ’n kind uitblink in ’n sekere area kan daaraan ook gewerk word en dit kan help dat die kind nog meer dinge bemeester.

Tuisonderwys kan nie gesien word as sit by die huis en niks doen nie, inteendeel is daar baie werk daarin en baie verantwoordelikheid van die ouer wat die skoling gee.
Voorbereidings moet gedoen word, onvoorwaardelike voltydse aandag, uitstappies moet gereël word en nog meer.

Die tuisonderwys jaarlikse matriek slaagsyfer is baie hoër as wat die staat nog ooit kon bereik. In 2012 se Ana toetse is daar weer bewys dat meer as 61% van kinders in die hoër grade nie Wiskunde kon doen nie. Daar was nog nooit sulke gevalle onder tuisskolers nie. Tuisskolers presteer baie hoër as kinders van hulle eie ouderdom in hoofstroom skole.

Behalwe vir die goeie onderwys opvoeding wat tuisskolers ontvang by die huis, is hul ten alle tye veilig. In die laaste jaar was daar menigte gevalle van kinders wat aangeval was op die skoolterrein hetsy met ’n mes en selfs geskiet, daar was ook gevalle van verkragting. Dit is ons as ouer se plig om te verseker dat ons kinders altyd veilig is, dit beteken nie ons plaas ons kinders in kokonne nie, dit beteken dat ons net die beste vir hulle wil hê.

Kinders in hoofstroomskole word blootgestel aan geweld, slegte morele waardes van ander kinders en groepsdruk. Hulle kan ook net verstandig kommunikeer met ander kinders van hul ouderdom. Tuisskolers kan op alle vlakke kommunikeer, dit kan die dame by die biblioteek wees, die seniors by ’n ouertehuis, op die sportveld en nog vele ander plekke. Hulle kry baie meer blootstelling tot mense van alle ouderdomme en alle areas van die ‘regte’ wêreld daar buite.

Om kinders te kan tuisonderwys is ’n baie groot voorreg en moet as ernstig beskou word.

Groete


Maryna

0 comments:

Post a Comment