Saturday 13 February 2016

Formele skryf program (Engels) - IEW

Ek het 'n geruime tyd terug al die IEW (Institute for Excellence in Writing) se SWI (Student Writing Intensive) level b program gekoop.

Ek was bang om dit te gebruik. Ek was bang dit is bo my kinders se vlak en dat ek nie gaan weet waar om te vat en waar om te los nie. 

Die waarheid is eintlik dat ek totaal my kinders onderskat het.

'n Paar weke gelede het ek alles bymekaar gekry en vir die kinders elkeen hul stel uitgedruk. Ons het begin deur die video les te kyk waar Andrew Pudewa presies stap vir stap verduidelik wat die kinders moet doen. Dit is asof hul saam met hom in die klas sit.

Tot my verbasing het die kinders sommer dadelik gesnap en dadelik weg gespring met hul werkstukke.

Die eerste les storie doen Mnr Pudewa met hul. Daarna is daar twee addisionele storie stukke wat die ouer met die kind moet doen.

Die lesse word begin deur te leer van kernwoorde wat hul uit die stuk haal. Daarna moet hul kan terug vertel uit hul kernwoorde presies waaroor die stuk gegaan het. Woorde kan geskuif en vervang word, solank die storie of feite dieselfde boodskap oordra. Daarna word twee-twee sinne met mekaar verbind deur 'n 'dress-up' woord. Die kinders skryf dan hul eerste konsep storie. Die volgende dag hersien ons alle foute en skuif woorde rond en dan tik hul dit oor. Die keuse is daar om dit netjies oor te skryf, maar die kinders het gevra om die finale een uit te tik.

Met elke nuwe video les word daar nuwe 'dress-ups' bekend gestel. Hul leer ook meer oor die skryf proses en hoe hul kan verbeter.

Die program beveel aan dat jy ook die TWSS (Teaching Writing Structure and Style) dvd's saam gebruik om die ouer te help met die leer van die hele skryf proses. Ek het die DVD's MAAR dit is moontlik om die SWI lesse te doen sonder die TWSS. Ek persoonlik sien dit as groot waarde, maar dit hang van ouer tot ouer se behoefte af.

In ons persoonlike ervaring dink ek dit is 'n uitstekende program. Die kinders verbaas my elke dag meer en meer. Ons werk elke dag aan die program, party dae bietjie langer as ander. Ons rek 'n les uit oor ongeveer drie tot vier dae.

Wat vir my opvallend is, is dat die kinders altyd gretig is om dit te doen. Ek hoef nie eens te vra nie. Die video aanbieding is baie snaaks, wat dit natuurlik prettig maak. Die kinders dink werklik en verbreed hul woordeskat ongelooflik uit. Dit help ook met begrip. Ek moet net bynoem die speltoetser is nie opgestel op ons rekenaars nie, so hul moet self die woorde kan spel. Ons maak egter nie 'n hele spel les hieruit nie, dit kom apart. 

Ek is baie trots oor wat my kinders tot dusver vermag het met die progam.

SWI kom in drie vlakke. A, B en C. Sien asb hul webblad vir meer besonderhede en voorbeelde. Dit kan aangekoop word by IEW direk van oorsee of deur Oikos Ministries hier in Suid Afrika.



Groete

Maryna

0 comments:

Post a Comment