Thursday, 26 May 2016

Boekloer: Ensiklopedie van Kennis

Boekloer oor die Ensiklopedie van Kennis - Alles wat jy oor die wêreld wil weet.

Dit is 'n pragtige groot volkleur boek. Dit bestaan uit die volgende afdelings (altesaam 360 bladsye):

Ruimte: Die Heelal, Ruimteverkenning

Aarde: Planeet Aarde, Tektoniese Aarde, Die Aarde se bronne, Weer, Vorming van land, Aarde se Oseane

Natuur: Hoe lewe begin het, Die lewende wêreld, Ongewerweldes, Werweldiere, Geheime van oorlewing

Menslike Liggaam: Basiese Liggaamsfeite, Aandrywing van die liggaam, In beheer, Lewensiklus

Wetenskap: Materie, Kragte, Energie, Elektronika 

Geskiedenis: Die Antieke Wêreld, Die Middeleeuse Wêreld, Die Era van Ontdekkings, Die Moderne Wêreld

Dan is daar ook agter in die boek, naslaanbronne en 'n woordelys.

Hieronder is voorbeelde uit die boek om vir julle te wys hoe dit lyk.

Voorbeeld uit die gedeelte oor Soogdiere
Voorbeeld uit die gedeelte van die Skelet

Voorbeeld uit die afdeling oor Materie
Voorbeeld ut die afdeling oor Die Middeleeuse Wêreld
Hierdie boek is geskik vir jonk en oud. Daar is onderwerpe wat baie jong kinders moontlik nie kan verstaan nie. Die boek is baie goed uiteengesit met baie besonderhede.

Die Ensiklopedie van Kennis kan maklik as 'n steunboek gebruik word en nog meer lesse kan om 'n onderwerp uitgewerk word om nog dieper daarin te delf.

Ek beveel die boek hoogs aan vir almal.

Lekker lees en leer.

Groete

Maryna

Sunday, 22 May 2016

Bybel Bingo speletjie

Lukas 6:39 - 8:15 Bybel Bingo 

Terwyl julle Lukas 6 - 8 vir die kinders voorlees, kan hul 'n prettige Bingo speletjie speel. Dit is ook 'n goeie manier om natuurlik hul begrip te toets en kyk of hul luister. Die speletjie is oorspronklik saamgestel deur Ellen McHenry van die Basement workshop en ek het dit met toestemming vertaal.

Maak so:
 
Elke speler kry ’n afskrif van die onderstaande prentjies en ’n bladsy met die oop blokkies. Spelers knip die prentjies van mekaar. Indien moontlik lamineer die prentjies en die oop blokkiebord sodat dit herhaaldelik gebruik kan word. Spelers kan met wondergom die prentjies rond en bond op die skoon speelbord plak.
Elke speler moet ook merkers kry waarmee hul keuses kan merk: soos stukkies papier, smarties ens. Indien die blokkies gelamineer was, kan die prentjies afgemerk word met ’n witbord merkpen.

Lees Lukas 6:39 – 8:15 voor. Elke keer wanneer die speler iets hoor wat ooreenstem met die prentjie, word dit afgemerk. Kies ’n beloning van jou keuse vir die wenner.



Laai die speletjie HIER af.

Lekker speel.

Groete

Maryna 

Wednesday, 13 April 2016

Gebruik jul die regte leerstyl?

Watter styl gebruik jy om jou kinders mee te leer en met watter styl leer hulle? Sien die twee kort videos hieronder van Diana Waring se gedagtes hieroor.



Groete

Maryna

Thursday, 17 March 2016

Te veel, te gou

Is jy dalk skuldig daaraan dat jy te veel skoolwerk, te gou vir jou kind gee?

Alles moet nou en dan gebeur. Kyk na die video hieronder. Diana Waring wys vir ons hoe te vee,l te gou 'n negatiewe impak kan hê.

Groete

Maryna

Monday, 14 March 2016

Nie volgens plan

Ek het hierdie jaar behoorlik uitgewerk vir ons en het geweet daar sal moontlik tye wees wat dinge net nie volgens plan verloop nie.

Verlede week in nood moet Makayla by 'n hospitaal kom wees haar Blindederm wat moet uit. Dit was 'n taamlik traumatiese ervaring, nie net vir haar nie, maar vir ons ook. Die feit dat ons na 'n staatshospitaal moes gaan was beslis nie wat ek vir my kind wou gehad het nie. Ek het heeltyd myself blameer en skuldig gevoel omdat sy daar moes wees en dat ons nie vir haar beter kon doen nie. Die realiteit is egter dit wat dit is, as jy nie anders kan nie, kan 'n mens nie. Sy is Vrydag ontslaan en herstel goed by die huis. 

Intussen is Matthew ook nog siek met griep en mangelonsteking. 

Ons vat nou maar die week ook af. Ons sal moontlik in die vakansie werk. Dit is seker nie 'n moet nie, maar daar sommige dinge waarby ek graag sou wou hou. Op die stadium gaan ons dit maar vat soos dit kom, dag vir dag.

Om eerlik te sê is ek baie uitgeput. Die enigste dag wat ons nie op en af ry vir een of ander iets nie, is op 'n Saterdag. Elke dag is besig, sport, jeug, woordskool ens. Alhoewel ek fisies moeg is, is dit tog eintlik 'n groot voorreg wat ons het dat ons kinders so betrokke kan wees met die dinge van die Here (wat natuurlik meeste van ons tyd in besit neem). Dink nie daar is enige iets wat 'n ouer se hart blyer maak nie.

As jy deur 'n tyd gaan van moeg of nood, staan terug en neem 'n breuk. Dit is ok! Regtig dit is! Onthou 'ons is tot alles in staat deur God wat ons krag gee'

Groete

Maryna

Monday, 22 February 2016

Paas aktiwiteite en die waarheid!

Met paasfees om die draai, is winkels oorlaai met paashase en lekkergoed eiers.Ons weet mos wat die werklikheid omtrent Paasfees is!!

Ondertoe is twee videos wat ALMAL moet kyk! 

Hier is 'n paar knip en plak aktiwiteite van My little house. 'n 3D papier prentjie, inkleur bladsye, ietsie om te lees (is wel in Engels maar jul kan dit vir die kinders oorvertaal) en papier mannetjies om te bou.
Inkleur prente
3D Mannetjies (toneel)
Gaan na die bladsy om alles daar af te laai.



Dit is ons verantwoordelikheid as ouers om die werklike paas storie van Jesus lewendig te hou vir ons kinders. Ons en ons kinders moet weet en besef watter groot opoffering gemaak was vir ons.

Kyk gerus na die musiek video Above all van Micheal W. Smith wat dele van Passion of the Christ wys. Dit is ongelooflik hartroerend.



Kan ons werklik begryp waardeur Jesus moes gegaan het. Nie net die fisiese pyn wat hy ervaar het nie, maar oor die pyn om verraai en verloon te gewees het deur die manne wat hom gevolg het.

Indien jul nog nie die film Son of God gekyk het nie, doen julself 'n guns en kyk dit. Dit beeld Jesus se lewe kortliks uit. Hier is 'n kort voorskou van die kruisiging.


Baie mense mag moontlik nie die films kyk of selfs vir hul kinders wys omdat dit so wreeds was. Maar kyk dit! Wys dit vir hulle. Dit het gebeur en dit is wat onvoorwaardlike liefde doen! God het sy enigste Seun gegee sodat ons kan lewe!


Daar is geen groter liefde en genade!

Groete

Maryna

Saturday, 20 February 2016

Hoe om 'n opstel/storie te skryf

Opstelle hoef nie hande in die hare of trane op 'n bladsy te wees nie. Daar is baie eenvoudige maniere hoe om dit te doen.

Die basiese wegtrek plek vir jongerige kinders, (Graad 1 tot 3) is daar op Leer Afrikaans 123 'n eenvoudige boekie wat jy kan aflaai. Dit gee vir jou 'n prentjie en 'n basiese uitleg van wat jy in jou storietjie wil vertel. Laai dit HIER af.

Meer in diepte is om te begin eerstens met 'n littlelosmaker. 'n Littelosmaker is iets wat jy skryf oor enige iets wat in jou kop inkom. Geen beplanning, net skryf dat die biessies bewe of natuurlik tik as jy nie graag met die hand skryf. Dit is goeie opwarming en perfek om die ys te breek. Onthou 'n littelosmaker is 'n vinnige storie, alles vloei net vinnig. Al is dit 'n klomp bog, skryf net!

Nou waar kan jy idees kry vir 'n littelosmaker? Kyk na 'n tydskrif of 'n koerant of selfs net om jou. Wat lees jy in opskrifte of wat sien jy om jou. Voorbeelde as jy om jou kyk:'n tent, 'n dier, 'n bang broer, 'n donker nag... So kan jy enige iets om jou gebruik. Of self snaakse prentjies of fotos.

Wat kan jy hieruit skryf? Lees heel onder aan die inskrywing 'n vinnige littelosmaker wat ek jare terug geskryf het net as 'n idee. Petro en die tent gedaante. (dit is 'n onversorgde storie, so dit is baie rou!)

Die kind se littelosmaker kan jul dan nasien, styl en spelfoute reg maak. Die storie verkort, of 'n nuwe storie uit die konsep ontwikkel.

Maar wat as jy iets beter wil beplan? Dan gebruik jy 'n plek, karakter en storiekaart (ook genoem 'n storie geraamte!

Wat is 'n plekkaart? Dit is waar jou storie afspeel. Waar is die plek, enige geskiedkundige landmerke, watter seisoen is dit, wat wil jy vir iemand vertel oor die plek ens...

Wat is 'n karakterkaart? Dit is wie jou karakters is. Hoe lyk hulle, wat trek hul aan, het hul enige spesifieke maniere of trekke, praat hulle op 'n spesifieke manier ens...

Wat is 'n storiekaart? Dit is wat jy wil hê in jou storie moet gebeur. Hoe begin jou storie (bekendstelling van die karakter en plek), wat wil jy in die middelvan die storie vir jou leser vertel (is daar 'n probleem wat opgelos moet word? Is daar struweling met 'n maat?) en hoe gaan die storie eindig (hoe het jou karakter sy doelwit of probleem opgelos/bereik)?

Die leser van die storie moet in hul kop 'n beeld kan skep soos hul die storie lees.

Onthou geskrewe taal is nie dieselfde as gesproke taal nie. Hierdie sal ingeoefen moet word. As jy ernstig daaroor is om jou kind se Skryfstyl (of jou eie) op te knap dan beveel ek Janie Oosthuisen (bekroonde SA skrywer en vertaler) se kursus, Slyp jou skryfstyl aan. Dit is van ontskatbare ware. Daar is baie selfdoentake en alles word volledig behandel. Stuur 'n e-pos aan Janie@skryfgeheime.co.za vir volledige inligting.

Ek glo hierdie is 'n goeie vertrekpunt om mee te begin. Laat weet my as jul nog enige idees of hulp nodig het. Vat dit maar rustig, as ons te veel reëls ens op kinders gaan afdruk gaan hul nie wil skryf. Maak dit prettig en laat hul skryf van dinge waarvan hul hou!

Lekker skryf!

Groete

Maryna