Tuesday, 25 August 2015

Knutsel met Skribbel masjiene

In my vorige skrywe het ek julle bekendgestel aan die die konsep om te knutsel. Daarna het ons afgeskop met die elektriese stroombaan aktiwiteit. Vandag wys ek vir julle hoe om skribbel masjiene te maak.


Verskeie van ons skribbel masjiene
Hieronder is 'n paar video's om te wys hoe ons masjiene beweeg het.






Wat jy alles benodig:
- Bakkies of glasies (enige iets wat nie te swaar is nie)
- Baie velle papier
- Maskeer band
- Kryte of koukie penne
- 'n battery
- 'n motortjie (die tipe wat 'n mens in speelgoed aantref) (maak seker dit het 'n positiewe en negatiewe draadjie aan)
- 'n stukkie gomgeweer stafie (of iets om te gebruik as 'n gewig sodat die motor kan vibreer)
- Opsioneel: pyp skoonmakers, ogies - enige iets om kreatief mee te wees.
Maak so:
- Plak die kryte of penne aan die glasie of bakkie vas met maskeer band. Jy kan enige hoeveelheid gebruik.
- Plak die battery teen jou glasie/bakkie vas.
- Sit vir jou motortjie 'n gewig aan - sny 'n stukkie van die gom stafie, maak 'n gaatjie in. Maak seker die gaatjie is nader aan die een kant as die ander kant sodat die gom nie in gelyk is aan albei kante nie. Druk die gom stafie in die lang deeltjie van die motortjie.
- Plak die motortjie aan jou glasie/bakkie vas. - Jy kan dit enige plek plaas solank dit kan vibreer, op die kante vibreer dit gewoonlik meer. Jy kan self die motortjie onder vasplak dat die glasie/bakkie daarop hop.
-Plaas die velle papier op 'n tafel, so groot as moontlik aangesien die masjiene wild rond hardloop en krap.
- Plak die negatiewe en positiewe dele aan jou battery vas en laat jou masjien hardloop.

Met die aktiwiteit moet jy die kinders vry laat ontdek. Die moontlikhede is eindeloos.

In die volgende knutsel inskrywing gaan ek vir julle wys hoe om naaldwerk stroombane te maak.

Lekker leer en speel.

Groete

Maryna

Tuesday, 11 August 2015

Knutsel met Elektriese stroombane

In my skooldae het ons formeel van stroombane geleer. Die juffrou het die demonstrasie gedoen en ons moes die diagramme teken en al die betekenisse skryf en leer. Klink opwindend nê! Nee nie regtig nie.

Wat as...



Wat as jy vir jou kind komponente kan saamstel wat tot die jongste peuter kan gebruik om te leer hoe elektriese stroombane werk. Sonder dat jy enige insette gee, gee jy jou kind die geleentheid om te beproef en te toets hoe 'n gloeilampie werk en ook 'n skakelaar ens.



Wat jy alles benodig:
- Houtblokkies
- Spykers (geleibaar)
- Soldeerbout
- Krokodil knippies (rooi en swart)
- Gom geweer
- Verskeie batterye 
- Battery houers
- Gloeilamp houers
- Gloeilampies (die wat jy in 'n flits gebruik)
- Gonsers (buzzers)
- Skakelaars
- Enige ander komponente - opsioneel (waaiertjies, verskeie skakelaars, motortjies, ratte wat beweeg ens)

Verskeie komponente en benodighede
Maak so:
Houtblokkies:
Sny houtblokkies groot genoeg om afsonderlike komponente daarop vas te kan sit. (Ek het afval hout stukkies gebruik.) Jy kan 'n handsaag of elektriese saag hiervoor gebruik. Skuur die kante sodat daar geen skerp dele is en om van enige splinters ontslae te raak.

Sit komponente op die blokkie:
Battery houers: Jy kan die battery houer op die houtblok vas skroef. Die enkel battery houers het slegs een gaatjie, ek het dus net een skroef gebruik. Die vier battery houers het vier gaatjies, twee-twee bymekaar, ek het slegs 2 skroewe gebruik, een aan elke kant. Alternatief kan jy die battery houer met 'n gom geweer aan die houtblok vas gom. Slaan twee spykers 'n entjie uit mekaar in die houtblok in. Ek het nuwe plafon spykers gebruik. (My eerste poging met ou gewone spykers was nie suksesvol.) Draai die oop draadjie gedeelte om die spyker en soldeer die draadjie aan die spyker vas. Maak seker daar is behoorlike konneksie teen die spyker om te verseker dat die krag daardeur kan vloei. Plaas nou gom waar die draadjie op die houtblok lê om te verseker alles bly mooi in plek. (sien foto hieronder)



Ander komponente: Alle komponente sal op die blokkie gesit word met of 'n skroef of teen die blokkie vas gegom word. Dit sal presies dan verder vasgesit word soos bo verduidelik. Neem kennis die gloeilamp houers wat ek het is wat ek in die hande kon kry, daar is ander wat slegs met 'n skroefie vas gesit kan word aan die blokkie. Indien jy van die soort het wat ons het, sit dit vas met 'n skroef en slaan die spyker teen die metaal plaat vas sodat daar 'n konneksie kan wees.

Die kind kan met die krokodil knippe die komponente met mekaar verbind. Die doel van die aktiwiteit is om NIE (die ouer) die stroombane vir die kind te bind nie. Dit is slegs jou verantwoordelikheid om alle komponente saam te stel.



Die knutsel aktiwiteite met die stroombane kan kinders van enige ouderdom doen, selfs kleintjies. Die kinders geniet dit baie. Moet nie sommer inspring en met jou eie hande wys nie, jy kan slegs met jou mond voorstelle maak. Laat hulle verskillende skakelaars probeer en ook waaiertjies aansit ens.

Neem kennis:
Gloeilampies: Maak seker wat die volt sterkte van jou gloeilampie is, moet nie meer as een battery wat 1.5V is op 'n gloeilampie sit wat ook slegs net 1.5V is nie, jy sal dit blaas. Indien jou gloeilampie 3.5V is, gebruik dan twee batterye ens.
Skakelaars: Indien jou skakelaar meer as een posisie het is dit belangrik om te onthou daar is altyd net een negatief op die skakelaar en die res is almal positief.

Ek het 'n multimeter (multitester) by my man gekry. Dit het my baie gehelp om te toets of al my komponente kontak het op die spykers. Dit is nie 'n moet item nie.

Wenk: Neem jou tyd met die aktiwiteit en ook om die komponente bymekaar te sit. Toets eers alle komponente voor jy dit vir jou kind gee om mee te werk. 

Neem dit verder: Indien jou kind vertroud is en voel hy/sy het genoeg dae met dit spandeer leer hulle hoe om stroombaan diagramme te maak. Laat hulle 'n spesifieke stroombaan bou en dit dan te teken. Verduidelik hoekom wat gebeur of hoekom nie. Leer vir hulle die simbole ens. 

'n Woord oor soldeer: Dit was my eerste keer dat ek self gesoldeer het. Dit neem geduld en oefening. Ek is tans in die proses om 'n kort Strokiesprentboek in Afrikaans te vertaal wat wys hoe om te soldeer. Ek sal dit plaas sodra ek klaar is.

Ek hoop julle geniet die aktiwiteit soveel soos wat ons dit geniet. Indien julle enige vrae het, vra gerus en deel julle ondervinding met dit.

In die volgende knutsel inskrywing gaan ek vir julle wys hoe om skribbel masjiene te maak. Dit is vet pret vir die kinders!

Groete

Maryna

Tuesday, 4 August 2015

Om te knutsel

Die woord knutsel mag moontlik vreemd wees vir sommiges. Meeste ken dit maar as die Engelse woord Tinker.

Nou wat presies is knutsel en hoekom is dit so belangrik?

Knutsel gee jouself en jou kinders die vryheid om te kreatief te raak, om 'n oplossing te vind vir moontlike struikelblokke, om te leer terwyl hul met hul hande werk. Hul leer om hul verstand te gebruik en toe te pas wat hul ontdek of leer het.

Kom ons neem die Disney karakter Tinkerbell vir 'n oomblik, sy Tinker, sy skep, maak iets uit niks.

Stel jul skooldae so voor: Wiskunde werkboek, taal werkboek, Wetenskap - vul hier, kyk 'n video daar, ma wys en hulle sit en gaap. Dit geld vir menigte vakke.

MAAR stel jouself nou dit voor: Jul haal 'n boks uit die kas vol verrassings. Dit is nou natuurlik as jy nie reeds 'n knutsel ruimte het nie. Binne is daar draadjies, batterye, liggies, ratte, wieletjies, waaiertjies en nog vele meer. Jou kinders se oë rek van opgewondenheid.

Hulle pas en toets en speel. Dit werk saam, dit werk nie saam nie, dit kan so beweeg en dit hop op en af. Ma antwoord net nou en dan as die kind 'n vraag vra. Baie belangrik ma help nie, ma bou nie. Ma kyk hoe haar kinders ontdek en skep.

Nie net kan knutsel gebruik word in Wetenskap nie, maar hul kan ook Wiskunde daaruit leer, of Aardrykskunde of self hul taalvermoë uitbrei en opbou. Knutsel stel hul in staat om 'n wye spektrum van dinge te leer sonder dat hul besef hul leer.

In die Ted video hieronder wys die kunstenaar CH Huang wat hy alles met sy geknutsel maak.


Dit klink en lyk opwindend!

In my volgende inskrywing gaan ek jul wys hoe om basiese elektroniese komponente saam te stel vir die kinders om mee te knutsel. Dit gaan vet pret wees.

Groete

Maryna

Friday, 24 July 2015

Deurbraak in lees

Baie Tuisonderwys ouers se grootste kommer is gewoonlik hul kind se vaardigheid om te lees.

Ek wil graag ons storie met julle deel.

Albei my kinders het taamlik vroeg begin leer lees (probeer). Iemand het eendag vir my gevra hoekom laat ek hulle elke dag lees? Dit het vir my ongelukkig slegte gevolge gehad. Ek was baie hard op hulle en wou net hê hul moes suksesvol wees.ROOI VLAG!!



Makayla was die voorloper, sy het fantasties gelees. Matthew het baie gesukkel. Voor ek my oë kon uitvee het Matthew skielik goed gevaar. Ek het met 'n skok terug aarde toe geval nadat Makayla eendag vir my voorlees en basies nie kon lees. Dit was asof sy jare se stappe terug gegee het. Ek kon dit nie verstaan nie. Hoe kon my kind nie lees nie?

Ek het 'n goeie vriendin genader en sy het met my meegedeel dat Makayla 'n lees blok het. Ja kan jul glo daar is so iets. Lees blok kan gebeur deur twee redes. Die persoon word te veel gedruk en is onder stress of as gevolg van 'n emosionele situasie. ROOI VLAG!

Ons het die lees net eenvoudig laat staan. Ja, ek het vir hulle voorgelees en nie dat hulle vir my enige iets voorlees nie. Stadig maar seker het hulle weer ietsie begin lees. Dit was moeilik vir Makayla alhoewel sy baie daarvan gehou het. 

Elke aand lees Makayla haar Bybel. Die Bybel@Kinders die een met altwee vertalings (uit druk uit). Sy het altyd baie hulp gevra met die woorde. Ek het haar hier en daar gehelp maar vir haar gesê as sy dit mooi hardop spel en in lettergrepe opdeel, sal sy weet wat dit is. Matthew het haar natuurlik baie gehelp.

Met hul Math U See lesse lees hul self hul woordsomme. Sukkel-sukkel het Makayla probeer aangaan met die somme wat sy dit nie wou en kon lees, ma het maar altyd ingespring en gelees.

Skielik uit die bloute lees sy haar sinne vlot. Ek is uit die veld geslaan en so gelukkig soos wat kan kom.

Wat leer ek hier uit. Leer die kind lees wanneer hulle reg is. Moet hul NIE druk nie. Hul sal daar kom een of ander tyd.

As jou kind sukkel, maak eers seker jou kind ken al hul klanke goed. Stel lettergrepe bekend en leer woorde so aan. Vat dit dag vir dag, bietjie op 'n slag. Gebruik 'n boek wat hulle baie geniet. Vir Makayla was dit haar Bybel want sy wou meer weet en dit is geskryf spesiaal vir kinders. Vir iemand anders kan dit dalk 'n strokiesprentboek wees. Begin eers as jy sien jou kind is reg daarvoor.

Ek hoop werklik iemand kan baat uit ons ondervinding.

Groete

Maryna

Tuesday, 21 July 2015

Uit 'n Tuisonderwys moeder se pen

Marelize Keyter, veteraan Tuisonderwys moeder het die skrywe vandag op die Tuisonderwys yahoo forum geplaas. Met toestemming plaas ek dit hier.

Dit is vir almal wat nuut is in Tuisonderwys. 


"Gereeld sien ek hierdie opskrif op die e-poslys.

Gewoonlik met vrae en stellings soos: Ons is nuut in tuisonderwys. Moet ons registreer? Watter kurrikulum moet ons koop? Watter is die beste Afrikaanse kurrikulum? Ens...

En ek wag vir die antwoorde op hierdie vrae.

Want sien, na meer as 10 jaar op die pad van tuisopvoeding (en dis maar betreklik kort, daar is ander gesinne wat my jare voor is) het ek die hele sirkel voltooi...maar genadiglik darem nie oorweeg om die kinders terug te sit in die skool nie!

Dit bly interessant om te sien hoe ander ouers raad vra, dit kry en in die wind gooi. Maar miskien is dit juis daardie eiewyse wegdraai en self koers kies wat TO anders maak.

Ons besef "iets" is fout in die hoofstroom-skooltipe onderwys, maar ons kan om de dooi dood nie daarvandaan wegbeweeg nie. Ons klou erger as 'n neet aan 'n kleuterkop.

Ongeag hoeveel veterane aan nuwelinge verduidelik dat kurrikula die allerlaaste ding is waaroor jy jou moet kwel, dit bly die nr 1 vertrekpunt. So asof die kurrikulum aan jou vastigheid in 'n totaal onseker veld en wêreld sal gee. Dan ruk ma pa se tjekboek uit, laat die kredietkaart sing en binne minute is R20 000 van bank verwissel....maar geen waarborg vir enige leer, onderwys en veral opvoeding is gegee nie. Geen.

Die indrukwekkendste kurrikulum kan op die rak staan en stof vergader, gewoonlik omdat dit vir 'n skoolsituasie geskryf is. Ekself het al na kurrikulums gekyk en gewonder watter graad ek as ouer nodig het om  enigsins te verstaan wat van my verwag word. Dit is doodeenvoudig nie prakties vir 'n huisgesin met kinders van verskillende ouderdomme, belangstellings en leerfases nie. Dis absurd.
Die gesinsdinamika het nie verander in 'n skoolklaskamer nie. Die telefoon lui, die rys brand, die tuinjong het sy toon met die grassnyer bygekom, Liesbeth daag nie op nie, dinge gebeur. En as pa van die huis af werk, soveel te meer. Hiermee het geen kurrikulumskrywer tred gehou nie, want nie een van hulle het tuisonderwys gedoen nie, bloot onderwys.

En eerlik, 'n onderwyser verstaan nie die "werklike" lewe nie. Hulle opleiding en realiteit is bloot klaskamers. Verwaterde, kliniese, stukkies van die werklike, kleurryke en aksiebelaaide, polsende lewe.

Hoekom wil ouers dan hul kinders, wat hulle juis nou uit die skool gehaal het, terugsit in 'n miniatuur laboratorium?

Leef die lewe!!

Gebruik die lewe as kurrikulum. Benut elke dag se onbenullighede as leergeleenthede. Stap op 'n koue wintersoggend uit en blaas in die lug. Let op hoe "rook" die hele gesin. Gesels oor waterdamp, kook die ketel en let op die stoom. Hang wasgoed op en los die raaisel oor waar die water heengaan op. Plant saadjies, laat bone oornag in water opswel, spit erdwurms uit. Hou 'n jagspinnekop dop, besoek 'n plaas, die winkels, die biblioteek, hospitaal, brandweer, poskantoor, bank. Leer jou kinders hoe om met geld te werk, laat hulle bak en brou. Leef bloot jou lewe...dis al wat regtig nodig is. Dis kurrikulum genoeg.

Lees, lees en lees. Verryk jou kind se verbeelding, verbreed hul woordeskag en algemene kennis. Vergeet daarvan dat hulle op 6 self moet lees, dis belaglik. Lees eerder self goeie opvoedkundige boeke (Better late than early, deur Raymond en Dorothy Moore; How children Fail en ook How children Learn, deur John Holt; Om seuns groot te maak deur James Dobson) en staan verstom voor die almag van ons Skepper wat die vermoë tot leer in elkeen geplant het, en elkeen individueel tot wasdom lei. Geen twee kinders ontwikkel teen dieselfde tempo of leer enigiets op dieselfde moment aan nie. Jy gaan jou kinders 'n groter onreg aandoen deur hulle te vroeg te druk.

Lees hardop voor. Verbreed horisonne, breek onbekende wêrelde oop en verryk hul karakter.
Gooi weg: TV, videos, rekenaarspeletjies (veral die opvoedkundige tipe), dank die bediende af en laat die kinders verantwoordelikheid in die huis aanvaar.

Ek het aan die begin gesê dat ek die sirkel voltooi het.... ons het. Kurrikulum regdeur tot volbloed "unschooling".... en ons kinders het die meeste geleer die moment toe ons opgehou het om vir hulle te wil leer.

Kinders leer vanself. Maar net wanneer ouers terugstaan en hulle toelaat om self te leer.
Raak self stil, en gaan dink baie mooi na oor wanneer jy werklik iets geleer het.

Groetnis
Marelize Keyter
Tuisopvoeder sedert 2005, ma van Leticia (20, GED en Montessori-opvoeder), Henry (18, GED en aspirerende student), Johan (13) en André (11). Boervrou, wiskunde ekstra-klas tannie en passievol oor TO."

Ek kon nie dit beter gestel het as Marelize nie. 


Groete

Maryna

Nuwe kwartaal skop af

En so het die nuwe kwartaal afgeskop.

Ons het getrek, ons is rustig in ons eie huisie. Sondag hardloop ek toe rond en kry bokse uit die motorhuis om ons boeke, potlode, penne ens bymekaar te skraap. Die kas het net soveel plek, waar pak ek alles, wat kies ek, wat sit ek eers terug in 'n boks? My kop het behoorlik gedraai.

Hier sit ons en doen Wiskunde en taal by die eetkamertafel en op die bank. Ons het nie 'n skoolkamer en alles voel net nie lekker vir my. Ek soek my plek, my plek waar ek op 'n witbord vir die kinders kan verduidelik, goed skryf, dinge daarteen plak. Waar sit ek die skeppings?

Ja ek neem baie die rol van juffrou in, my kinders hou van orde, hulle hou van ma wat saam leer.

Lui lui begin ons die nuwe kwartaal, ek het baie planne ja, maar vir die week sleep ek nog die voete.

Verder plant ons blomme en plante uit, ontdek plante en bome se name, bekyk die tuin, voer die magdom voëls wat hul ete kom haal. Ons leer om ons papier, plastiek en karton te hernu en geniet net die lewe.

Is dit nie wonderlik om te Tuisonderwys nie ;)

Groete

Maryna

Monday, 13 July 2015

Blender 3D Skeppings: 2

Ek het 'n geruime tyd terug vir julle vertel van Matthew se Kreatiewe 3D Skeppings

Ek deel graag nog 'n paar skeppings wat hy ontwerp het. Daar is nog vele meer.


 Vliegtuie, motorfietse, skaak, masjiengewere en 'n yskas. Van die fototjies het afgesny, die yskas was 'n versoek van iemand ;)

Die motorfiets heel bo regs was deel van 'n klas, die res alles sy eie skeppings.

Lees gerus my vorige inskrywing as jy meer van Blender wil weet en hoe jou kinders klasse kan neem.

Groete

Maryna