Friday, 10 October 2014

Gewyde liedjies vir die jongspan

Ek het op 'n boekie afgekom wat my kinders gekry het toe hulle nog in die kleuterskool was jare gelede.

Ek deel graag die liedjies met julle. Ek ken wel nie almal nie en ook nie al die versies nie maar dalk kan jul dit gebruik :)


Jesus is so lief vir Kinders

Jesus is so lief vir kinders,
Hy roep kindertjies na Hom.
Geel of wit of swart of bruin,
Elke kindjie groot en klein.
Jesus roep nou al die kindertjies na Hom.

God is so goed

God is so goed  x3
Hy’s so goed vir my
Hy maak my vry.
Hy maak my bly.
Hy is so goed
Hy’s so goed vir my.

Hy hou die hele wêreld

Hy hou die hele werêld in Sy hand x3
Hy hou ons almal in Sy hand.
Hy hou vir Mamma en Pappa in Sy hand x3
Hy hou ons almal in sy hand.

Saggeus

Saggeus was ‘n klein, klein man
Kort en klein was hy.
Toe maak  hy ‘n slim, slim plan
Want Jesus stap verby.
En hy wou ook vir Jesus sien
Toe klim hy in ‘n boom.
Maar Jesus roep: “Saggues Kom!”
Ek wil by jou woon.
Ek wil by jou woon.

Noag se ark

Daar was ‘n perd en ‘n bees en skaap
En ‘n vark en ander diere in Noag se ark.
Die Here het gesê
“ ‘n ark moet jy bou,
Die reen kan maar kom,
Ek sal sorg vir jou.”
Noag was getrou,
‘n ark het hy gebou.
Loof Hom met die tromme

Loof hom met die tromme,
Loof Hom met die harp,
Loof Hom met die klinkende simbale,
Alles wat asem het,
Loof, loof die Here.
Alles wat asem het,
Loof, loof die Heer.

Stille Nag

Stille nag, Heilige nag!
Jesus kind lank verwag
Lig uit lig, uit die Vader se ryk,
Word uit liefde aan mense gelyk.
Loof die hemelse kind x2

Ho-Ho-Ho-Hosana

Ho-ho-ho-hosanna
Hier kom Jesus aan
Hy kom as ‘n koning
Kom ons loof Sy naam.

Dit borrel in my

Dit borrel in my want ek is so bly,
Jesus het my lief.
Vir my’t Hy gesterf en
Gered van verderf.
Ja, Jesus het my lief.
(herhaal lied twee keer)

Ek is lief vir Jesus

God het my lief x 2
Ek lees dit in die Bybel
God het my lief.

Jesus kan alles doen.

Jesus kan alles doen,
Alles doen, alles doen
Jesus kan alles doen,
Alles doen.
(herhaal lied drie keer)
Vader Abraham

Vader Abraham het baie seuns,
Baie seuns het Vader Abraham.
Ek is een van hul en so ook jy
Kom sing saam en wees bly!
Kyk links!
Kyk regs!
Sit plat

Die Wyse man

Die wyse man ou sy huis op die rots x 3
En die reen het neergeval
En die reen val neer en die vloed styg op x 3

Die dwase man bou sy huis op die sand x 3
En die reen het neergeval
En die reen val neer en die vloed styg op x 3
En die huis op die sand val plat

Kumbaja

Kumbaja O heer, kom na my x 3
O He-re bly by my.

Laat jou liggie skyn

Laat jou liggies skyn x 2
En sal my lig laat skyn x 2
Laat dit skyn, laat dit skyn, laat dit skyn.

Weet jy nie, jy’s ‘n temple

Weet jy nie, weet jy nie,
Jy’s ‘n temple. X 3
Jy is ‘n temple van die Heilige gees.

Vol van lof, vol krag,
Vol van vreugde. X 3
Jy is ‘n temple van die Heilige gees.

The love of Jesus

The love of Jesus is so wonderful x 3
Oh, wonderful love.
It’s  so high, you can’t get over it
It’s so low, you can’t get under it
It’s so wide, you can’t get around it
Oh, wonderful love.

Kyk hoe dat die voëltjies vlieg

Kyk hoe dat die voëltjies vlieg.
Sommer so, hoog daarbo.
God laat al die voëljies vlieg.
Hoog daar bo.
Hy doen soveel meer vir my.
Ek sal altyd dankbaar bly
En my nie bekommer nie,
Hy’s by my.

Keer jou tong

Keer jou tong van kwaad-praat,
Keer jou tong.
Keer jou tong van kwaad-praat,
Keer jou tong van jou lippe van stories dra.
Keer joutong van kwaad-praat
Keer jou tong.

Lekker sing ;)

Groete

Maryna

Tuesday, 16 September 2014

Livebinder - jou aanlyn webblad boekmerk kortpad

Meeste mense boekmerk sekere webbladsye in hulle 'browser' om later weer daarna te kyk. Het jy al ooit gevind dat al het jy bladsye geboekmerk dat jy soms nie weet wat dit was of waarvoor nie?

Al ooit gehoor van Livebinder? Livebinder is 'n virtuele lêer, dit is 'n beter manier om gunstelling webbladsye te boekmerk en almal onder een plek te stoor en vinnig kan kyk wat is waar en vinnig iets te soek. Dit is ook 'n bonus indien jou rekenaar nie meer wil saamwerk dat jy steeds al jou gunstelling webbladsye veilig kan stoor.

Jy kan jou 'lêer' stoor as 'n privaat een waar net jy dit kan sien, of jy kan dit oopstel waar almal in die publiek dit kan sien. Keuse is joune. 

Hier onder is 'n voorbeel van een van my 'lêers'. Hier sien jy die boonste gedeelte met elke afdeling en die bladsye wat ek onder die afdeling gestoor het. Jy kan bladsye byvoeg deur dit te 'link' of met die Livebinder se knoppie in jou 'browser' te instaleer. Jy kan maklik en vinnig webbladsye stoor presies onder die afdeling waar jy dit wil hê. 



Bo kan jy sien dat ek die Wetenskap 'Science' vak oop het (Die donker blou gedeelte). Onder dit in grys vertoon die bladsye wat ek onder Wetenskap gestoor het. 



Bo kan jy sien dat ek op ARKive gekliek het. Binne in Livebinder kan jy die webbladsye sien. Jy kan so na alles binne daai webbladsy kyk of jy kan die skakel net bo die prentjie volg om na die amptelike losstaande webbladsy te gaan.   
Om dit so deur Livebinder te stoor kan ek vinnig na elke webbladsy kyk sonder om fisies eers deur net name van boekmerke wat dalk gestoorr is te gaan kyk om te kry wat ek soek - al het ek dit in verskillende afdelings.



Bo is nog 'n voorbeeld van een van my kuns (papierkuns) bladsye.

Jy kan gratis aansluit. Met die gratis rekening kan jy tot 10 'lêers' skep en tot en met 100 MB stoor. Jy kan selfs jou eie dokumente oplaai. Gaan gerus na Livebinder en kyk presies hoe dit werk, speel rond en geniet dit.

Dit is baie eenvoudig en maklik om te gebruik.

Geniet dit en organiseer jou Tuisonderwys skakels op 'n maklike manier.

Groete

Maryna

Saturday, 23 August 2014

Bly Glo

2014 was moontlik sover een van die moeilikse jare ooit vir ons.

Met alles wat oor ons pad gestap het die jaar staan ons steeds sterk. Ons het gelag en ons het baie gehuil, ons was moedeloos en ons het hoop gevind.

Ek is seker almal het al sulke seisoene in hul lewe ervaar. Ongeag hoe omstandighede ons in die grond wil druk moet ons altyd bly glo. Elke probleem is tydelik en elke situasie kan ons na terug kyk en verstaan hoekom dinge gebeur soos dit gebeur.

Ek glo vas dat alles gebeur vir 'n rede. Meeste situasies wat oor ons pad stap is deur 'n keuse wat ons iewers gemaak het en dit die gevolg daarvan was.

Deur alles moet ons altyd bly glo in God. Altyd bly vertrou dat die son more weer sal skyn. Vertrou op uitkoms en glo vir genesing.

Ek deel graag 'n gunstelling teksvers:

"Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand." Jesaja 41:10 

God sien ons raak, Hy hoor ons gebede, Hy antwoord op Sy tyd.

Vertrou en Glo!

Liefde

Maryna

Friday, 22 August 2014

Hoe gemaak met Engelse Spelling?

Vir ons Engelse kurrikulum gebruik ons LLATL (Learning Language Arts through Literature). Ek en die kinders is mal oor die kurrikulum.

Spelling is 'n bietjie lig in die broek met LLATL. Dit is slegs ons persoonlike ondervinding en ek weet baie ouers verskil van my.  Die kinders is in 'n fase waar hulle skryfstukke moet doen, maar kan nie eens behoorlik spel nie. Met die gevolg skryf kan 'n traumatiese ervaring wees.

Ek het gesoek en rond gevra, na voorbeelde gekyk en nog meer. Ek moes iets vind wat die kinders geniet om te doen, wat nie vervelig is nie, waar hulle werklik leer hoe om te spel en dit moet natuurlik bekostigbaar wees.

Ek het verskeie kere gelees van Sequential Spelling. Ek het na die voorbeelde gekyk en die e-boek van die eerste boek in die reeks gekoop .



Ek is werklik baie aangenaam verras. Die kinders is mal daaroor, hulle vra elke keer om nog woorde te doen of as die dag begin wil hul die graagste spelling doen. Ek moet eerlik sê is nie aldag dat sulke goed gebeur nie. :)

Hoe ons die program volg:
Die kinders het elk 'n hardeband boek waarin hulle skryf. Heel bo aan elke bladsy skryf hulle Day 1, Day 2 ens. Slegs 1 dag per bladsy - al is dit net 'n paar woorde. Die eerste paar dae het 'n paar woorde, van dag ses is dit 20 woorde en later beweeg dit aan na 25 woorde per dag.
Ek sê vir hul die woord, ek gee 'n sin vir die woord en herhaal die woord. Sonder dat hul ooit die woord gesien het skryf hul die woord soos hulle dink dit gespel word. 
Ek skryf dan die hoof woord waaruit gebou word soos bv 'in' op die witbord neer in groen en dan die ander letters in blou of rooi. 
As hulle woord verkeerd is, vee hulle dit uit en skryf die regte woord neer. As hul woord reg was, maak hulle 'n regmerkie langs die woord.
Dan beweeg ons aan na die volgende woord. Elke woord word eers geskryf en dan wys ek en hul maak reg en dan eers bewees ons aan.
Die hele doel is dat hulle dit dadelik reg maak en dadelik die regte spelling daarvoor sien en skryf.
Moet nie dat hulle die hele lys skryf en dan eers reg maak nie, hulle gaan nie so leer nie.

Hier is 'n voorbeeld van die eerste paar dae.

Om meer te verduidelik:
Hulle begin by die woord 'in'. Dan is 'in' die basis van alle woorde wat volg, 'pin', 'sin', 'spin' ensovoorts. Die woorde word in groepe aangebied.

Ons het vandag dag 6 gedoen en albei my totale Afrikaanse kinders het 'beginnings' geskryf sonder om 'n fout te maak. Ja, dit is hoe goed die program werk. Om die waarheid te sê is ek skoon uit die veld geslaan oor hoe vinning hulle in 'n kort tyd vorder. Die wonderlikste vir my is dat hulle dit so baie geniet. 

Die kinders leer ook die homofone van woorde wat dieselfde klink maar anders geskryf word. As so 'n woord voorkom, verduidelik ek wat dit is en wys vir hulle hoe dit gespel word.

Almal onthou seker hoe ons spelling geleer het op skool, skryf die woord x keer uit, maar 'n sin met dit. Vrydag skryf jy toets. *Gaap* Nie met die program nie.

Doen gerus die eerste paar dae wat jy gratis as voorbeeld kan aflaai. Almal moet by boek 1 begin maak nie saak hoe goed hul al kan spel nie.

Indien jul dit gaan aanpak, laat weet my hoe dit gaan.

Groete

Maryna

Saturday, 9 August 2014

Oeroue plante - Welwitschia

Indien julle tans besig is met plantestudie kan julle hierdie 'ou' plant ondersoek.

Nou wat op des aarde is 'n Welwitschia plant? Kyk hierdie infografika oor hierdie oer oue plant en waar dit voorkom.


Het jy geweet dat die algemene Afrikaanse naame vir die plans is die Tweeblaarkanniedood.

Jy kan meer by Wikipedia lees oor die plant.

Groete

Maryna

Friday, 8 August 2014

Infografika: Muskiete en Malaria

Leer meer oor muskiete en die dodelike siektes wat hul dra naamlik Malaria.
Sien die infografika oor Malaria


Leer meer oor Malaria.
Leer meer oor die muskiet.


Groete

Maryna

Monday, 4 August 2014

Boek loer: Geheimenisse van die Natuur en die Wetenksap

Dit is geen geheim dat ons 'n voorliefde vir Wetenskap het nie. Die wêreld is so ongelooflik en daar is so baie om te ontdek.


Die boek Geheimenisse van die Natuur en die Wetenskap uitgegee deur Protea is 'n ongelooflike boek. Die fotos is uit die boonste rakke, kleurvol en propvol inligting. Op elke bladsy kan jy ook verder gaan soek by die internetskakels vir verdere inligting, videos en nog veel meer.

Die boek bestaan uit twee dele: Geheimenisse van die natuur en Geheimenisse van die Wetenskap.
Onder die natuur kan jy vind: Voeding; Beweging; Aanval; Verdediging; Verhoudings; Kommunikasie; Lewensloop; Tuistes; Uiterstes; Sintuie en spesial kenmerke.
Onder die wetenskap kan jy vind: Van nader gesien; Maar dis mos materie; Reg en weg; Bewegende molekules; Briljante vonke; Sien die lig; Tegnologiese praatjies en Beheerliggaam.

Die boek is 'n stewige 224 bladsye.

Sien hieronder 'n paar voobeelde uit die boek.


Vleisvretendeplante
Hier kan jy 'n video sien hoe die vlieëvanger sy prooi vang.


Glip en gly
Hierdie video wys vir ons hoe geitjies aan 'n muur kan 'vas plak'.



Goggas


Piepklein Pioniers
In die video hieronder kan meer sien oor die Afrika besie.



Robotte

Die Robotte kom!
In die video hieronder is 'n voorstelling van hoe robotbye tot die mensdom se redding sal kom.


Van die videos wat ek hierbo gewys het en nog baie meer kan alles gevind word by die skakels in die boek. 

Ons lees gereeld uit die boek en kyk na al die videos en verken die onderwerpe. Werklik een van ons gunsteling boeke.

Geniet dit!

Groete

Maryna