Showing posts with label Afrikaans taal. Show all posts
Showing posts with label Afrikaans taal. Show all posts

Wednesday, 12 July 2017

Woorde met Woema Kursus

Tuisonderwys moeder en skryfster Marisa Haasbroek het vir ons nog 'n wonderlike Afrikaanse kursus saamgestel, Woorde met Woema.

Die mini-kurus is so pas geloods. Hier kan ons 'n insig kry van wat haar volledige kursus gaan bied. Ek het deur die mini-kursus gewerk en dit is absoluut puik. Nes die 15 Minuut Afrikaans kursus het Marisa alles ingesit om ons wat Tuisonderwys te help in Afrikaans. Dit neem nie baie tyd nie en dit is 'n prettige kursus.

Wat presies is Woorde met Woema? Dit is 'n Afrikaanse skryfkursus vir kinders (maar ma kan ook baie daaruit leer).  Hul neem 'n kort sin (wat deel uitmaak van 'n storie) en kikker dit 'n bietjie op in 'n unieke opwinende storielyn.

Kyk na die Woorde met Woema bekendstellingsvideo.


Die mini-kursus is GRATIS. Ja totaal gratis. Die volledige kurus is in werking en sal eersdaags te koop beskikbaar wees. Moet nie die een mis nie. 

Skryf HIER in by die gratis mini-kursus. 

Lekker leer.

Groete

Maryna

Friday, 3 February 2017

15 Minuut Afrikaans

15 Minuut Afrikaans is 'n wonderlike Afrikaanse Taalprogram wat aan die einde van 2016 deur bekroonde skrywer en Tuisonderwys moeder Marisa Haasbroek geloods is.


15 Minuut Afrikaans is presies net wat dit sê. Dit neem jou slegs 15 minute elke dag om taalwerk te oefen deur 'n storieboek stukkie vir stukkie te ontleed. Die program bestaan uit 'n Onderwysergids en 'n Studentegids. Alles wat jy benodig word saamgevat in die twee boeke. Ek stel egter voor dat jul 'n HAT of HAT Afrikaanse sakwoordeboek aanskaf, indien jul nog nie een het nie. 'n Lyntjieboek moet ook aangeskaf word.

Daar is ook kaartjies wat jy kan uitdruk wat die Woordsoorte opsom vir maklike gebruik en om na terug te verwys. 

Die program bestaan uit 30 lesse (weke). Genoeg om jou die hele jaar besig te hou. Elke les/week word in dae opgedeel. Daar is dus 5 'lesse/dae' binne 'n les/week.

Diegene wat al Fix It Grammar van die IEW (Institute of Excellence in Writing) gedoen het, sal presies die formaat van die program ken. Ek verduidelik kortliks vir diegene wat nie bekend is met dit nie.

Elke week word 'n nuwe woordsoort bekend gestel. Soos bv. week 1 leer die kinders van selfstandige naamwoorde. Elke dag gaan hulle dan 'n sin uit die boek Die klein kleremakertjie word koning gebruik. Uit die sin gaan hul leer om al die selfstandinge naamwoorde te merk. 'n Woordeskat woord word opgesoek en dit word agter in 'n lyntjieboek neergeskryf. Voor in daai boek sal die kinders die sin oorskryf, met al die nodige hoofletters, punte en die regte homofone ens. So word taalwerk happie vir happie bekend gestel en die kind raak vertroud met Afrikaanse taalwerk.



Ons gebruik die program al vir 'n paar weke en geniet dit vreeslik baie. Dit is eenvoudig uiteengesit en daar is niks wat die ouer verder nodig het om te doen behalwe om die nodige lesse uit te druk. Omdat die lesse vinnig gedoen kan word, word die nodige taalwerk geoefen en die kinders raak natuurlik nie verveeld met taal nie. Dit laat natuurlik ekstra ruimte in die dag om ander goed by te voeg en ook te doen.

Kyk gerus na die promo video oor 15 Minuut Afrikaans. Daar is ook 'n Facebook bladsy wat jy van kan gaan hou en skryf ook sommer in op die nuusbrief wat oulike brokkies en ook bonus blokraaisels bevat. 

Ek sal aanbeveel dat die program eers gebruik word na die kinders hul fondasie in Afrikaans vasgelê het. Dit kan egter op enige stadium gebruik word, self hoërskool.

Hierdie is tans een van die Afrikaanse programme wat ek hoogs aanbeveel.

Laaste nota: Omdat die program in elektronies formaat beskikbaar is, vra ek dat julle asseblief die kopiereg hierop sal respekteer dit nie sal aanstuur vir ander mense nie. Indien iemand belangstel laat hulle dit self aankoop. Daar is baie tyd in die samestelling van die program belê.

Lekker leer.

Groete

Maryna


Wednesday, 25 January 2017

Toetentaal Taalkunste Program


Toetentaal Taalkunste Program is 'n nuwe Afrikaanse Taalkunste Program. 

Die program is saamgestel deur Erika Nothnagel en haar moeder. Die program is glad nie in lyn met CAPS nie en gebruik die Charlotte Mason se benadering. Neem kennis ek het geen ondervinding met die Charlotte Mason se program nie, ek kan dus nie uitlating gee oor hoe dit in lyn met die metode is nie.

Die volledige program is gepas vir kinders vanaf graad 4 tot graad 10. Daar sal in totaal ses boeke wees. Huidiglik is boek 1 beskikbaar. Die boeke kan nie net deur Afrikaanse eerstetaal leerders gebruik word nie, maar ook deur tweedetaal leerders vanaf ongeveer 11 jaar oud.

Aangesien ons Boek 1 deurwerk gaan ek ons ervaring en terugvoering oor boek 1 gee. Huidiglik is ek onseker of ons die opvolg boeke gaan doen, afhangende van wat gedek gaan word ens.

Elke boek het verskillende temas. Boek 1 het Kosstories, Reisigers, Grensloos, Het jy geweet...? Elke afdeling is in lesse opgedeel. Jy kan so lank of so vinnig deur die boek werk soos wat nodig is. 

Aangesien my kinders al heelwat ouer is as die teikenmark vir boek 1 werk ons baie vinnig daardeur aangesien konsepte nie nuut is. Ek moet byvoeg dat ons maar 'n paar kort weke aan die boek werk waar ons een les per dag doen (ons het een les uitgerek oor twee dae) en ons het reeds amper helfde van die boek deurgewerk. Jy kan die boek langer behandel deur die voorgestelde boeke voor te lees ens.
Taalwerk word sagkuns deur die loop van 'n tema/eenheid aan die kind voorgestel. Uittreksels uit stories, gedigte ens word verkaf. Daar is ook 'n lys van aanbevele boeke wat aangeskaf kan word. Ek moet net egter noem, dit is nie maklik bekombare boeke nie. Die boeke is nie 'n moet nie en jy kan steeds die program suksesvol voltooi sonder die voorgestelde boeke. Jy kan jou eie boeke ook gebruik. 
Ek moet dit net duidelik maak, (dit is my opinie). Jou kind moet kan lees en skryf voor jul met die boek begin. Alhoewel die ouer alle stukke voorlees sou dit baie moeilik wees om deur die boek te werk sonder die nodige lees vaardighede. As jou kinders dus nou eers met fondasie begin, wag dan eerder eers met die boek.
Ons hou van die navorsings, en dialoog dele. Baie geskiedkundige persone en gebeure word bekend gestel en hulle leer hulle taalwerk, woordeskat, spelling en nog meer sommer sonder dat hulle dit agter kom. 


Ek sou voorstel dat bv. die gonswoorde wat in elke afdeling agter aangegee word, op 'n manier gebruik word as spelwoorde. In my opinie sal spelling apart hanteer moet word en nog sal bygevoeg moet word.

Die taal is suiwer ou Afrikaans. As dit iets is wat jul geniet dan jul van die boek hou. Vir ander kan dit moontlik vreemd wees. 
Die boek is gedruk as hardeband in kleur en bevat die student en onderwyser in een. Al die nodige instruksies is in die boek en ook al die nodige plekke vir die kind om antwoorde neer te skryf. Indien jy die boek wil hou vir verdere kinders, sou ek eerder aanbeveel dat die kind dan in 'n aparte lyntjie boek skryf.

Die Facebook bladsy vir Toetentaal en dan ook die webwerf vir Toetentaal. Jy kan ook 'n e-pos stuur vir meer les voorbeelde en om bestellings te plaas aan toetentaaltuisskool@gmail.com. 


As 'n laaste punt, ek het die boek gratis ontvang om te evalueer en my eerlik terugvoering oor die program te gee. Dit is hoe ons die boek ervaar en dit is my eie persoonlik opinie. Ander sal verskil wie se kinders heelwat jonger is. Gaan kyk na die voorbeelde en doen 'n toetslopie om self te bepaal of die program reg is vir jou kinders. 


Lekker leer.

Groete

Maryna

Nota: ek het die skrywe opgedateer op 7 Feb 2017.


Tuesday, 17 January 2017

Nuwe Afrikaanse Taalprogramme

2017 Het beslis baie goed vir ons begin wat ons Tuisonderwys betref.

Die lekker sappige kersie op die koek is ons gebruik twee splinternuwe Afrikaanse taalprogramme. Hoe lekker is dit. Tuisonderwysers sukkel werklik om goeie Afrikaanse taalprogramme in die hande te kry en hier is ons in 2017 met sommer twee splinternuwe programme.

15 Minuut Afrikaans en Toetentaal Taalkunste Program. Alhoewel albei Afrikaanse taalprogramme is, verskil hulle hemelsbreed van mekaar. En ons is mal oor albei en gebruik albei. 

15 Minuut Afrikaans Voorbladsye van Onderwyserboek en Studenteboek
Ek kan sommer al hoor dat mense vra, hoekom gebruik ek albei, is een nie voldoende? Ja, een is voldoende op sy eie. Maar soos ek genoem het hulle verskil so baie van mekaar. Ons het besluit om albei te gebruik om die volgende redes:

Toetentaal Taalkunste Program Voorblad van Boek 1
Ek toets graag nuwe produkte in die mark. Dit is die enigste manier om werklik eerlike terugvoering en aanbevelings te gee. 

15 Minuut Afrikaans is gebaseer op die Engelse Fix It program van IEW. Ons is bekend daarmee, ons hou van die formaat en hoe elke woordsoort bekendgestel en geoefen word. 

Alhoewel my kinders al heelwat ouer is as die teikenmark vir die eerste boek van Toetentaal Taalkunse Program, het ek steeds besluit om dit te gebruik om die gevoel te kry en deur die benadering te werk. Ons het nog nie tevore Charlotte Mason se benadering gebruik nie en geniet nou hierdie manier van werk.

My kinders geniet werklik albei baie. Dit neem nie so baie tyd in beslag nie. 

15 Minuut Afrikaans is in e-formaat beskikbaar. (Weereens net almal daaraan herhinner asseblief respekteer die skryfster se harde werk en moet nie die boeke vir jou vriende aanstuur nie. Ondersteun haar deur dit nuut te koop. Dit is egter teen die wet om digitale produkte weer te verkoop ens.)

Toetentaal Taalkunste Program is in 'n gedrukte boekformaat beskikbaar.

Ek sal binnekort meer volledige terugvoering plaas oor elke program in afsonderlike skrywes. Gaan loer gerus solank na die boeke en waaroor dit gaan.


Groete

Maryna



Saturday, 20 February 2016

Hoe om 'n opstel/storie te skryf

Opstelle hoef nie hande in die hare of trane op 'n bladsy te wees nie. Daar is baie eenvoudige maniere hoe om dit te doen.

Die basiese wegtrek plek vir jongerige kinders, (Graad 1 tot 3) is daar op Leer Afrikaans 123 'n eenvoudige boekie wat jy kan aflaai. Dit gee vir jou 'n prentjie en 'n basiese uitleg van wat jy in jou storietjie wil vertel. Laai dit HIER af.

Meer in diepte is om te begin eerstens met 'n littlelosmaker. 'n Littelosmaker is iets wat jy skryf oor enige iets wat in jou kop inkom. Geen beplanning, net skryf dat die biessies bewe of natuurlik tik as jy nie graag met die hand skryf. Dit is goeie opwarming en perfek om die ys te breek. Onthou 'n littelosmaker is 'n vinnige storie, alles vloei net vinnig. Al is dit 'n klomp bog, skryf net!

Nou waar kan jy idees kry vir 'n littelosmaker? Kyk na 'n tydskrif of 'n koerant of selfs net om jou. Wat lees jy in opskrifte of wat sien jy om jou. Voorbeelde as jy om jou kyk:'n tent, 'n dier, 'n bang broer, 'n donker nag... So kan jy enige iets om jou gebruik. Of self snaakse prentjies of fotos.

Wat kan jy hieruit skryf? Lees heel onder aan die inskrywing 'n vinnige littelosmaker wat ek jare terug geskryf het net as 'n idee. Petro en die tent gedaante. (dit is 'n onversorgde storie, so dit is baie rou!)

Die kind se littelosmaker kan jul dan nasien, styl en spelfoute reg maak. Die storie verkort, of 'n nuwe storie uit die konsep ontwikkel.

Maar wat as jy iets beter wil beplan? Dan gebruik jy 'n plek, karakter en storiekaart (ook genoem 'n storie geraamte!

Wat is 'n plekkaart? Dit is waar jou storie afspeel. Waar is die plek, enige geskiedkundige landmerke, watter seisoen is dit, wat wil jy vir iemand vertel oor die plek ens...

Wat is 'n karakterkaart? Dit is wie jou karakters is. Hoe lyk hulle, wat trek hul aan, het hul enige spesifieke maniere of trekke, praat hulle op 'n spesifieke manier ens...

Wat is 'n storiekaart? Dit is wat jy wil hê in jou storie moet gebeur. Hoe begin jou storie (bekendstelling van die karakter en plek), wat wil jy in die middelvan die storie vir jou leser vertel (is daar 'n probleem wat opgelos moet word? Is daar struweling met 'n maat?) en hoe gaan die storie eindig (hoe het jou karakter sy doelwit of probleem opgelos/bereik)?

Die leser van die storie moet in hul kop 'n beeld kan skep soos hul die storie lees.

Onthou geskrewe taal is nie dieselfde as gesproke taal nie. Hierdie sal ingeoefen moet word. As jy ernstig daaroor is om jou kind se Skryfstyl (of jou eie) op te knap dan beveel ek Janie Oosthuisen (bekroonde SA skrywer en vertaler) se kursus, Slyp jou skryfstyl aan. Dit is van ontskatbare ware. Daar is baie selfdoentake en alles word volledig behandel. Stuur 'n e-pos aan Janie@skryfgeheime.co.za vir volledige inligting.

Ek glo hierdie is 'n goeie vertrekpunt om mee te begin. Laat weet my as jul nog enige idees of hulp nodig het. Vat dit maar rustig, as ons te veel reëls ens op kinders gaan afdruk gaan hul nie wil skryf. Maak dit prettig en laat hul skryf van dinge waarvan hul hou!

Lekker skryf!

Groete

Maryna

Friday, 15 January 2016

Boekloer: Kominpas met Afrikaans

Kominpas met Afrikaans is werklik 'n handige boek.

Dit is saamgestel deur Onderwysers vir Graad 4 tot 7. Daar is 'n huistaal en tweedetaal uitgawe van die boek beskikbaar.

Hierdie is een van daai wat ek glo, 'n moet boek. Die boek dek 'n goeie basis van taalwerk. 

Dit dek onder taalleer; alfabetisering, woordeboekgebruik, klankleer, spelling, hoofletters en lettergrepe, woordvorming, woordsoorte, sinsleer, betekenisleer, woordeskat en afkortings.

Dit dek ook leesvaardigheid, letterkunde - prosa en poësie.

Onder is voorbeelde uit die boek.

Leestekens

Intensiewe vorme

Lydende en Bedrywende vorm
 Die leer van Afrikaanse taalwerk toegepas word uit leesstukke. Jy kan self van die Bybel gebruik maak. Ek stel voor om altyd eers een konsep op 'n slag bekend te stel en later aan te gaan sodra die kinders dit volkome verstaan. Maak seker hul hou aan hersien.

Hier is kaartjies wat ek gemaak het vir woordsoorte, opgesom in 'n neutedop.

Jy kan Kominpas aankoop deur Takelot.com.

Groete

Maryna

Wednesday, 13 January 2016

Boekloer: Pharos AWS

Ek het onlangs die nuwe Pharos: Afrikaanse Woordelys en Spelreëls aangeskaf. (10de Omvattende herbewerkte uitgawe)


As jy 'n boek soek wat vir jou die Afrikaanse Spelreëls goed uiteensit is die AWS beslis die boek om te hê. Dit dek natuurlik nie net die spelreëls nie maar ook 'n goed saamgestelde woordelys, afkoringslys, buitelandse geografiese name met afleidings en nog meer.

Onder is 'n paar voorbeelde uit die boek van wat om te verwag.


Spelreëls
Spelreëls
Woordelys

Afkortings
Geografiese name
Wanneer jul die spelreëls en woordsoorte aan die kinders leer, pas dit op skryfstukke toe. Moet nie dat hul net tonne bladsye hier invul en daar invul nie. Gebruik 'n leesstuk en laat hul dit redigeer. Dus gaan jy die tyd moet neem om foute in 'n stuk te plaas sodat hul dit reg maak. Stel elke nuwe reël een vir een bekend en laat hul dit beoefen tot hul vertroud is daarmee voor jy na die volgende een gaan. Onthou om steeds die ou reëls wat reeds bekendgestel was te hersien. 

Ek sal met verloop van tyd kort opsommings kaartjies maak van die spelreëls soos wat ek vir die woordsoorte gemaak het.

Ek hoop die AWS sal van nut wees.

Groete

Maryna


Saturday, 9 January 2016

Manlik en Vroulik blokraaisel

Ek het blokraaisels gemaak wat gebruik kan word om kinders se kennis te toets met manlike en vroulike geslagte.

Daar is twee blokraaisels en elkeen het 'n oplossing op 'n aparte bladsy.

Laai dit HIER af.

Laat weet my gerus wat julle daarvan dink. Lekker leer.

Groete

Maryna

Friday, 8 January 2016

Taalwerk - woordsoorte

Woordsoorte is nie altyd die maklikste ding om te onthou as dit by taalwerk kom nie. 

Ek het kaartjies saamgestel wat elke woordsoort in 'n neutedop opsom.
Kaartjie voor
Die kaartjies kan gebruik word om kinders se geheue te verfris. Dit kan ook een vir een aan die kind gegee word soos die betrokke woordsoort behandel word. 

Kaartjie agter
Druk dit uit en lamineer dit, dit sal vir jare hou. Hou dit in 'n klein plastiekhouer of druk 'n gaatjie aan die kant deur en steek 'n sleutelringetjie daardeur.

Daar is twee opsies wat jy kan aflaai en uitdruk.
Opsie een:
Die kaartjies is twee op 'n bladsy, dit is die voorkant bo en die agterkant reg onder die betrokke woordsoort. Soos in die foto hieronder. Laai dit HIER af.
Opsie twee:
Die kaartjies is vier op 'n bladsy met die voorkant per bladsy en die opvolgende bladsy is die agterkant. Soos in die foto hieronder. Jy druk dit een vir een uit (woordsoort opskrif met afkorting) en draai die bladsy om, vir die verduideliking (die onderstebo bladsy). BAIE BELANGRIK - druk die bladsye in Letter formaat uit en nie A4 nie. (Ek het eers later agtergekom die formaat was verkeerd en wou nie weer alles skuif en maak pas, in Letter pas die agterkant presies in die blokkies voor in.Laai dit HIER af.
Ek vertrou julle sal nut kan vind met die.

Vir nog taal aflaai bronne (verskeie ouderdomme) sien:
Idioresies speletjie - Idiome bordspel
Sinonieme
Antonieme
Meervoud soldate
Boekloer: Maak spelling maklik
Klank vaslegging met flitskaarte


Groete

Maryna

Thursday, 7 January 2016

Sinonieme

Om sinonieme vas te lê het ek 'n paar kaartjies gemaak wat gebruik kan word om snap mee te speel.


Verduidelik altyd eers wat nuwe woorde beteken voor julle met die woorde werk.
 
Laai die sinonieme snap kaarte hier af. Die pakkie bestaan uit 90 kaarte 

Druk dit so uit:
Druk die kaarte op karton uit. Lamineer die kaarte sodat dit nog baie lank netjies kan bly. 

Onder is 'n voorbeeld van een van die bladsye.
Voorbeeld van die sinoniem kaarte

Die kaarte kan natuurlik ook gebruik word as flitskaarte en spelling vaslegging waar nodig.


Nog idees hoe om die kaarte te gebruik:

Klop die klok (woordpas) speletjie:
Plak 'n paar van die woorde op 'n muur of witbord vas. Sit die ander op 'n tafel met al die woorde na onder (sit eers agterop elke woord 'n stukkie wondergom vas). Neem 'n stophorlosie en laat jou kind dan so vinnig as moontlik die regte sinonieme by sy regte maat sit. Julle kan elke ander dag die oefening doen. As die kind sy eie rekord gebreek het gee vir hom/haar 'n prys. Broers en susters kan dit saam doen, eerste een met meeste korrekte plasings wen.

Geheue speletjie:
Sit die woorde met die woord kante na onder. (rond en bond maar in netjies rye). Jou kind kan dan twee kaarte op 'n slag om draai. As die twee kaarte 'pas' bly die gesig kant na bo. Indien dit nie pas nie, moet dit weer omgedraai word met die 'gesigte' na onder. Hou so aan tot al die kaarte se woorde na bo wys. Om dit af te wissel kan dit ook met 'n stophorlosie gedoen word vir die kinders wat hou van kompetisies. Dit is baie goeie oefening om 'n goeie geheue op te bou.


Sien ook die skrywe en kaartjies vir teenoorgesteldes en antonieme.

Lekker speel.

Groete

Maryna 

Wednesday, 30 September 2015

Boekloer: Blokraaisels vir Aapsterte

'n Baie goeie en oulike manier om kinders te help met hul woordeskat en spelling is deur blokraaisels te voltooi.

My kinders geniet die boek vreeslik. Ons het na aanbeveling van Lindi Malan van Beithasefer die boek aangeskaf. Ons het egter besluit om eers boek drie te probeer.



Ek het die antwoord gedeeltes in die boek uitgehaal sodat die kinders nie na dit kan loer nie. Ons doen dit saam en die kinders kry elkeen 'n beurt om te lees en te antwoord. Ek kan al klaar 'n verbetering in hul spelling sien.


Voorbeeld uit die boek
Sodra daar iets nuuts opkom wat ons dalk nie behandel het nie, staan ons 'n oomblik stil by dit en ons bespreek dit.


Antwoorde vir elke blokraaisel
Die boek het vyftig blokraaisels in en daar is tans drie boeke in die reeks.

Opdateer Julie 2017: Blokraaisels vir Aapsterte is ongelukkig uit druk uit. Jy kan egter die boekies Blokkies vir Slimkoppies in e-formaat HIER bestel. Dit is saamgestel deur dieselfde dame wat Blokraaisels vir Aapsterte saamgestel het.

Gee dit gerus 'n kans.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Tuesday, 15 September 2015

Lettergrepe - Is dit oop of toe?

Hier is 'n kort animasie videotjie wat ek gemaak het.

Dit is my eerste poging. Laat weet my wat julle dink.




Ek het die video 'n bietjie langer gemaak soos versoek.

Groete

Maryna

Friday, 24 July 2015

Deurbraak in lees

Baie Tuisonderwys ouers se grootste kommer is gewoonlik hul kind se vaardigheid om te lees.

Ek wil graag ons storie met julle deel.

Albei my kinders het taamlik vroeg begin leer lees (probeer). Iemand het eendag vir my gevra hoekom laat ek hulle elke dag lees? Dit het vir my ongelukkig slegte gevolge gehad. Ek was baie hard op hulle en wou net hê hul moes suksesvol wees.ROOI VLAG!!



Makayla was die voorloper, sy het fantasties gelees. Matthew het baie gesukkel. Voor ek my oë kon uitvee het Matthew skielik goed gevaar. Ek het met 'n skok terug aarde toe geval nadat Makayla eendag vir my voorlees en basies nie kon lees. Dit was asof sy jare se stappe terug gegee het. Ek kon dit nie verstaan nie. Hoe kon my kind nie lees nie?

Ek het 'n goeie vriendin genader en sy het met my meegedeel dat Makayla 'n lees blok het. Ja kan jul glo daar is so iets. Lees blok kan gebeur deur twee redes. Die persoon word te veel gedruk en is onder stress of as gevolg van 'n emosionele situasie. ROOI VLAG!

Ons het die lees net eenvoudig laat staan. Ja, ek het vir hulle voorgelees en nie dat hulle vir my enige iets voorlees nie. Stadig maar seker het hulle weer ietsie begin lees. Dit was moeilik vir Makayla alhoewel sy baie daarvan gehou het. 

Elke aand lees Makayla haar Bybel. Die Bybel@Kinders die een met altwee vertalings (uit druk uit). Sy het altyd baie hulp gevra met die woorde. Ek het haar hier en daar gehelp maar vir haar gesê as sy dit mooi hardop spel en in lettergrepe opdeel, sal sy weet wat dit is. Matthew het haar natuurlik baie gehelp.

Met hul Math U See lesse lees hul self hul woordsomme. Sukkel-sukkel het Makayla probeer aangaan met die somme wat sy dit nie wou en kon lees, ma het maar altyd ingespring en gelees.

Skielik uit die bloute lees sy haar sinne vlot. Ek is uit die veld geslaan en so gelukkig soos wat kan kom.

Wat leer ek hier uit. Leer die kind lees wanneer hulle reg is. Moet hul NIE druk nie. Hul sal daar kom een of ander tyd.

As jou kind sukkel, maak eers seker jou kind ken al hul klanke goed. Stel lettergrepe bekend en leer woorde so aan. Vat dit dag vir dag, bietjie op 'n slag. Gebruik 'n boek wat hulle baie geniet. Vir Makayla was dit haar Bybel want sy wou meer weet en dit is geskryf spesiaal vir kinders. Vir iemand anders kan dit dalk 'n strokiesprentboek wees. Begin eers as jy sien jou kind is reg daarvoor.

Ek hoop werklik iemand kan baat uit ons ondervinding.

Groete

Maryna

Monday, 3 February 2014

Boek loer: Maak Spelling Maklik

Maak Spelling Maklik deur Elsabe Visser gepubliseer in 1993 is seker een van min skatte vir die Afrikaanse Taal. Veral as dit by spelling probleme kom.

Die boek is hoofsaaklik saamgestel om jonger kinders te help met verskeie spelling probleme, maar kan maklik aangepas word om ouer kinders ook te help. 

Dit is wat jy in die boek sal vind:

1. Inleiding
2. Spellingprobleme en hoe dit behandel kan word.
2.1. Voorbeelde van kinders se spellingfoute
2.2 Stappe wat gevolg kan word ten opsigte van die remediëring van spelling
3. Voorbereiding
3.1 Ouditiewe persepsie (waarneming)
3.2 Visuele persepsie (waarneming)
4. Die aanleer van klanke
4.1. Diagnostisering van probleme
4.2. Die remediëring van klanke
4.3. Kort en lang klanke
4.4 Dubbelklanke
4.5. Die uitspreek van klanke en woorde
4.6. Konsonantgroeperings
5. Lettergreepverdeling
6. Spellingreëls
6.1. Die gebruik van e en i
6.2. Woorde wat op -ig, -ik, en -ing eindig.
6.3. Woorde wat op -ng eindig.
6.4. Woorde wat op -d, of -t eindig.
6.5. Woorde wat op -rm en -lm eindig.
6.6. Verkleinwoorde
6.7. Geslote lettergrepe
6.8. Oop lettergrepe
6.9. Hersiening van spellingreëls wat tot dusver behandel is
6.10. Die gebruik van i of ie in woorde.
6.11. Kappies en deeltekens.
6.12. Die gebruik van f en v
6.13. Die ei/y verwarring
6.14. Sigwoorde
7. Die lees en skryf van lang woorde met toepassing van die spellingreëls.
7.1. Twee medeklinkers
7.2. Een medeklinker
7.3. Die implementering van die reëls.
7.4. Woorde

Hier is 'n voorbeeld uit die boek in die afdeling Spellingprobleme en hoe dit behandel kan word.

naby kyk na die voorbeeld

Hoe spelling probleme behandel word

Klanke

Hierdie is nie 'n werkboek vir 'n kind nie, maar 'n hulpmiddel vir die ouer/onderwyser. Dit is werklik 'n wonderlike boek om te besit. Jy sal nie spyt wees nie. Die boek het oulik idees om spelling te oefen, hoe om blokraaisels te maak, hoe om te help met die b en d verwarring en nog baie meer.


Jy kan die boek aankoop van Beithasefer deur 'n e-pos te stuur aan info@beithasefer.co.za .

Geniet dit.

Groete

Maryna

Monday, 27 January 2014

Meervoud soldate

Ek het onlangs hierdie by iemand gekry en soos ek verstaan bestaan dit al baie jare. 'n Oulike manier om vir kinders te leer van meervoude.

Ek het dit oorgetik en vir die soldate nuwe prentjies geskep.











Jy kan die pdf van dit hier aflaai.

Geniet dit!

Groete

Maryna

Teenoorgesteldes en Antonieme


 Die basiese taalwerk wat jonger kinders begin om te leer is teenoorgesteldes. Ek het 'n paar kaartjies saamgestel wat kinders kan gebruik om 'snap' mee te speel. 

Soos julle teenoorgesteldes behandel kan julle ook vir hul verduidelik van Antonieme, wat tog maar dieselfde is. Verduidelik altyd eers wat nuwe woorde beteken voor julle met die woorde werk.

Vir ouderdoms doeleindes het ek twee stelle gemaak. Teenoorgesteldes vir jonger kinders en Antonieme vir bietjie ouer kinders.

Laai die teenoorgestelde snap kaarte hier af. Die pakkie bestaan uit 50 kaarte (saam met sy teenoorgestelde maat)

Druk dit so uit:
Druk die kaarte op karton uit. Lamineer die kaarte sodat dit nog baie lank netjies kan bly.



Vir die kinders wat al klaar die basiese teenoorgesteldes baasgeraak het, kan dan met die Antonieme kaarte ook 'snap' speel.


Laai die Antonieme snap kaarte hier af. Die pakkie bestaan uit 80 kaarte (saam met sy Antoniem maat).

Druk uit soos bo verduidelik.




Die kaarte kan natuurlik ook gebruik word as flitskaarte en spelling vaslegging.

Nog idees hoe om die kaarte te gebruik:

Klop die klok (woordpas) speletjie:
Plak 'n paar van die woorde op 'n muur of witbord vas. Sit die ander op 'n tafel met al die woorde na onder (sit eers agterop elke woord 'n stukkie wondergom vas). Neem 'n stophorlosie en laat jou kind dan so vinnig as moontlik die regte teenoorgesteldes of antonieme by sy regte maat sit. Julle kan elke ander dag die oefening doen. As die kind sy eie rekord gebreek het gee vir hom/haar 'n prys. Broers en susters kan dit saam doen, eerste een met meeste korrekte plasings wen.



Geheue speletjie:
Sit die woorde met die woord kante na onder. (rond en bond maar in netjies rye). Jou kind kan dan twee kaarte op 'n slag om draai. As die twee kaarte 'pas' bly die gesig kant na bo. Indien dit nie pas nie, moet dit weer omgedraai word met die 'gesigte' na onder. Hou so aan tot al die kaarte se woorde na bo wys. Om dit af te wissel kan dit ook met 'n stophorlosie gedoen word vir die kinders wat hou van kompetisies. Dit is baie goeie oefening om 'n goeie geheue op te bou.


Lekker speel.

Groete

Maryna

Friday, 24 January 2014

Boek loer: HAT Aktiwiteite en speletjies boek



Die HAT Aktiwiteite en speletjies by die Afrikaanse skoolwoordeboek en Afrikaanse sakwoordeboek. Die boek is 'n hulpmiddel om met die bogenoemde boeke vertroud te raak.

"Elke werkblad mag gekopieer en na willekeur gebruik word om leerders se woordeskat en spelvermoë uit te brei en hulle speel-speel verskillende soorte inligting uit woordeboeke te leer ontsluit..."

Wat is in die boekie:
- Leer die woordeboek ken (alfabetiese oefeninge)
- Leer om reg te spel
- Ontwikkel 'n begrip van die grammatiese funksies van woorde (bepaal 'n woordsoort)
- Betekenisse van woorde (onderskei tussen definisies)
- Homonieme en homofone
- Hoe woorde gebruik kan word (meervoude, verkleining ens)
- Subtrefwoorde wat met 'n hooftrefwoorde verband hou (bv. musikant en musiek)
- Blokraaisels
- Woordsoek

Voorbeelde van die boekie binne
Hierdie boek is geskik vir kinders vanaf ongeveer Graad 4. Dit is 'n oulike hulpmiddel om kinders te help en kan vir ons ook 'n goeie basis verskaf om soortgelyke aktiwiteite saam te stel.

Daar is nog gratis woordaktiwiteite en speletjies op Pearson se webblad. Registreer gratis op hul blad om toegang tot die aflaai bladsye te kry. Daar is ook aanlyn speletjies.


Voorbeeld van Blokraai speletjie op die webblad

Voorbeeld van Pasmaats speletjie op die webblad


Die boek is A4 grootte met ongeveer 30 bladsye. Die antwoorde/oplossings kan agter in die boek gevind word.

Elke Tuisonderwys ouer moet 'n HAT besit :)

Lekker soek.

Groete

Maryna





Klank vaslegging met flitskaarte

Klank vaslegging kan soms moeilik wees vir kinders veral as hulle net in 'n boek die oop spasies moet invul. Daar is nie werklik vaslegging nie, net herhaling van bewegings. 

Ek het gevind met my eie kinders as hulle bladsye vol moet invul hier en daar raak hulle baie negatief teenoor taalwerk. Dit is darem so vervelig. Daar is geen geheim dat daar werklik 'n tekort is aan lekker 'goed' vir taalwerk in Afrikaanse veral vir Tuisskolers. 

Op Juffer Juffrou se blog is daar baie oulike aflaai bladsye. Kyk hier is die flitskaarte vir die dubbleklanke, tweeklanke ens. Hier is ook 'n artikel met idees hoe om hersiening te doen van klanke.

In die foto hieronder is die flitskaarte wat ek van Juffer se bladsy afgelaai het. Ek het dit gelamineer en hou alles saam in 'n plastiek houer. 



Ons gebruik nie net die kaartjies om bloot klanke te leer nie, maar hulle leer ook lees en spel op hierdie manier.

Ek vra hulle eers wat is bv. 'n 'eu' klank. Hulle moet dit vir my opbreek en die regte fonetiese klanke daarvoor sê. As hulle dit nie reg het nie, gee ek vir hulle 'n voorbeeld - 'eu - soos in deur' ens. As hulle dit reg het dan wys ek vir hulle die flitskaarte een vir een. Hulle moet elke woord vir my sê. Langer woorde kan hulle opbreek in lettergrepe om die korrekte woord te kry.

Soos ons deur die woorde gaan vra ek ook vir hulle om of  'n sin met die woord te maak (mondelings) en ook om dit te dramatiseer (hulle geniet dit vreeslik). Hulle moet ook vir my sê wat 'n woord beteken. As 'n woord meer as een betekenis het moet hulle dit vir my sê of ek vertel hulle. Ek vra altyd eers wat dink hulle beteken 'n woord voor ek vir hulle die regte antwoord gee. Daar is vir my niks ouliker om hulle antwoorde te hoor nie.

Ek vertrou dit kan vir julle 'n idee gee waar om te begin met klank vaslegging. Dit kan natuurlik ook saam met letterkaarte gebruik word om die woorde te bou en so ook hulle spelling te oefen.

Lekker leer.

Groete

Maryna