Tuesday 28 January 2014

SOTW - Hoofstuk 1: Die vroegste mense

Hierdie week het ons gewerk aan Hoofstuk 1: Die vroegste Mense - uit die boek Story of the World.

Die kinders het geleer van Nomades (swerwers). Wat hulle geeet het, hoe hulle geleef het, hoe hulle huise gelyk het ens. Hulle het ook geleer hoe hierdie mense begin het om te boer en hoe dit gekom het om hul in een plek te vestig.

Hier is 'n kykie na 'n oulike video van die Nomades tot boere. (Engelse video)





Na die meer 'formele' sy van die hoofstuk het hulle 'n unieke  rots tekening gemaak.
Makayla se rotskuns
Matthew se rotskuns

Maak 'n rotskuns tekening so:
Neem 'n gekleurde papier. Frommel dit op en maak dit weer oop. Laat jou kind hul unieke kuns in swart op verf. Slegs buitelyne. Neem daarna 'n menskleurige verf en verf die binnekant van die voorwerp. As dit droog is, neem 'n rooi-bruinerige verf en gaan om die swart buitelyne.

Kyk hierdie oulike agter die skerms video van die rotskuns toneel soos dit ontwikkel was vir die film The Groods.


Terwyl ek die hoofstuk vir hulle gelees het, het hulle 'n prent van 'n 'Shaduf' ingekleur. Hierdie implement was die eerste van sy soort om die mense van daai era te help om water van een punt na 'n volgende te kry.

Die kinders het hulle eie voorstelling van dit gemaak. 

Die fotos hieronder: Die boonste een is 'n gesamentlik poging om 'n groot een te maak. Takke van 'n boom wat gebreek het, 'n swembadnet (baksteen in vir die gewig) met sy pyp, 'n ou tou en 'n ou 'HTH' emmer.

Die onderste klein model aan die linkerkant is Matthew sin en die kleintjie in die middel Makayla sin. Die bakkie is gemaak met 'n ou lee eierhouer doppie. Die laaste fototjie is die inkleurprent van die Shaduf wat ek in die Aktiwiteits boek gekry het.




Ek het glad nie van Geskiedenis gehou op skool nie. Nou leer en net so baie soos die kinders aangesien ons nie eens die onderwerpe behandel het nie. Nou hou ek ook daarvan.

Maak Geskiedenis prettig en wys bietjie wat julle doen.

Groete

Maryna

Monday 27 January 2014

Meervoud soldate

Ek het onlangs hierdie by iemand gekry en soos ek verstaan bestaan dit al baie jare. 'n Oulike manier om vir kinders te leer van meervoude.

Ek het dit oorgetik en vir die soldate nuwe prentjies geskep.











Jy kan die pdf van dit hier aflaai.

Geniet dit!

Groete

Maryna

Teenoorgesteldes en Antonieme


 Die basiese taalwerk wat jonger kinders begin om te leer is teenoorgesteldes. Ek het 'n paar kaartjies saamgestel wat kinders kan gebruik om 'snap' mee te speel. 

Soos julle teenoorgesteldes behandel kan julle ook vir hul verduidelik van Antonieme, wat tog maar dieselfde is. Verduidelik altyd eers wat nuwe woorde beteken voor julle met die woorde werk.

Vir ouderdoms doeleindes het ek twee stelle gemaak. Teenoorgesteldes vir jonger kinders en Antonieme vir bietjie ouer kinders.

Laai die teenoorgestelde snap kaarte hier af. Die pakkie bestaan uit 50 kaarte (saam met sy teenoorgestelde maat)

Druk dit so uit:
Druk die kaarte op karton uit. Lamineer die kaarte sodat dit nog baie lank netjies kan bly.



Vir die kinders wat al klaar die basiese teenoorgesteldes baasgeraak het, kan dan met die Antonieme kaarte ook 'snap' speel.


Laai die Antonieme snap kaarte hier af. Die pakkie bestaan uit 80 kaarte (saam met sy Antoniem maat).

Druk uit soos bo verduidelik.




Die kaarte kan natuurlik ook gebruik word as flitskaarte en spelling vaslegging.

Nog idees hoe om die kaarte te gebruik:

Klop die klok (woordpas) speletjie:
Plak 'n paar van die woorde op 'n muur of witbord vas. Sit die ander op 'n tafel met al die woorde na onder (sit eers agterop elke woord 'n stukkie wondergom vas). Neem 'n stophorlosie en laat jou kind dan so vinnig as moontlik die regte teenoorgesteldes of antonieme by sy regte maat sit. Julle kan elke ander dag die oefening doen. As die kind sy eie rekord gebreek het gee vir hom/haar 'n prys. Broers en susters kan dit saam doen, eerste een met meeste korrekte plasings wen.



Geheue speletjie:
Sit die woorde met die woord kante na onder. (rond en bond maar in netjies rye). Jou kind kan dan twee kaarte op 'n slag om draai. As die twee kaarte 'pas' bly die gesig kant na bo. Indien dit nie pas nie, moet dit weer omgedraai word met die 'gesigte' na onder. Hou so aan tot al die kaarte se woorde na bo wys. Om dit af te wissel kan dit ook met 'n stophorlosie gedoen word vir die kinders wat hou van kompetisies. Dit is baie goeie oefening om 'n goeie geheue op te bou.


Lekker speel.

Groete

Maryna

Sunday 26 January 2014

SOTW - Tydlyn

Ek het oorspronlik die Tydlyn idee vir Story of the World Volume 1 op die Tending Our Lord's Garden se blog gesien. Ek het 'n Afrikaanse weergawe van die Tydlyn stroke en bord gemaak.

Hier is 'n kykie na hoe ons finale bord lyk. Ons bord is massief. Dit is meer as 'n meter wyd en hoog.


Tydlyn bord

Nader kykie na die Opskrif

Hoe ek die bord gemaak het:
Ek het 'n blad 'chip board' gebruik. Die bord is oorgetrek met 'n nagemaakte leer. (die wat hul gebruik om die seil agter op 'n bakkie te maak - oorskiet wat ons gratis gekry het). Ek het die seil met 'n kramgeweer agter vas gekram. Die opstrifte is ook vasgekram. Die lyne en spasies het ek uitgewerk en met bordkryt gemerk. Sien die foto onder. Al die stroke is met duimspykers vasgesit (amper almal). Amper klaar en ons besef daar kort stroke (het op die bank in hul 'klaskamer' gelê). Ek moes die onderste twee rye ingedruk het. (het nie kans gesien vir alles uithaal en opskuif nie) Ek het die laastes (oranje) met die kramgeweer vas geskiet.(my duim kon dit nie meer hou nie)


Makayla pak die stroke in die regte orde.


Tydlyn stroke
Bo kan jy sien hoe die tydlyn stroke lyk. Ek het dit uitgedruk en gelamineer en van mekaar geknip. Jy kan dit hier aflaai.

Jy kan ook die opskrif wat ek vir die bord gemaak het hier aflaai.

Alhoewel ek hierdie gemaak het vir ons studie van die boek The Story of the World (Die storie van die wêreld), kan dit maklik vir enige ander Geskiedenis studie gebruik word.

Daar is klomp tydlyn foto kaartjies op die internet beskikbaar en ook op Tending to our Lord's Garden se blog. Ek wil egter probeer om my eie saam te stel. Dit is huidiglik die plan, maar dit kan verander. Soos ons elke hoofstuk behandel, so sal ons 'n kaartjie op die regte tyd era heg.

Geniet dit, en lekker leer.

Groete

Maryna

Friday 24 January 2014

Boek loer: HAT Aktiwiteite en speletjies boek



Die HAT Aktiwiteite en speletjies by die Afrikaanse skoolwoordeboek en Afrikaanse sakwoordeboek. Die boek is 'n hulpmiddel om met die bogenoemde boeke vertroud te raak.

"Elke werkblad mag gekopieer en na willekeur gebruik word om leerders se woordeskat en spelvermoë uit te brei en hulle speel-speel verskillende soorte inligting uit woordeboeke te leer ontsluit..."

Wat is in die boekie:
- Leer die woordeboek ken (alfabetiese oefeninge)
- Leer om reg te spel
- Ontwikkel 'n begrip van die grammatiese funksies van woorde (bepaal 'n woordsoort)
- Betekenisse van woorde (onderskei tussen definisies)
- Homonieme en homofone
- Hoe woorde gebruik kan word (meervoude, verkleining ens)
- Subtrefwoorde wat met 'n hooftrefwoorde verband hou (bv. musikant en musiek)
- Blokraaisels
- Woordsoek

Voorbeelde van die boekie binne
Hierdie boek is geskik vir kinders vanaf ongeveer Graad 4. Dit is 'n oulike hulpmiddel om kinders te help en kan vir ons ook 'n goeie basis verskaf om soortgelyke aktiwiteite saam te stel.

Daar is nog gratis woordaktiwiteite en speletjies op Pearson se webblad. Registreer gratis op hul blad om toegang tot die aflaai bladsye te kry. Daar is ook aanlyn speletjies.


Voorbeeld van Blokraai speletjie op die webblad

Voorbeeld van Pasmaats speletjie op die webblad


Die boek is A4 grootte met ongeveer 30 bladsye. Die antwoorde/oplossings kan agter in die boek gevind word.

Elke Tuisonderwys ouer moet 'n HAT besit :)

Lekker soek.

Groete

Maryna





Klank vaslegging met flitskaarte

Klank vaslegging kan soms moeilik wees vir kinders veral as hulle net in 'n boek die oop spasies moet invul. Daar is nie werklik vaslegging nie, net herhaling van bewegings. 

Ek het gevind met my eie kinders as hulle bladsye vol moet invul hier en daar raak hulle baie negatief teenoor taalwerk. Dit is darem so vervelig. Daar is geen geheim dat daar werklik 'n tekort is aan lekker 'goed' vir taalwerk in Afrikaanse veral vir Tuisskolers. 

Op Juffer Juffrou se blog is daar baie oulike aflaai bladsye. Kyk hier is die flitskaarte vir die dubbleklanke, tweeklanke ens. Hier is ook 'n artikel met idees hoe om hersiening te doen van klanke.

In die foto hieronder is die flitskaarte wat ek van Juffer se bladsy afgelaai het. Ek het dit gelamineer en hou alles saam in 'n plastiek houer. 



Ons gebruik nie net die kaartjies om bloot klanke te leer nie, maar hulle leer ook lees en spel op hierdie manier.

Ek vra hulle eers wat is bv. 'n 'eu' klank. Hulle moet dit vir my opbreek en die regte fonetiese klanke daarvoor sê. As hulle dit nie reg het nie, gee ek vir hulle 'n voorbeeld - 'eu - soos in deur' ens. As hulle dit reg het dan wys ek vir hulle die flitskaarte een vir een. Hulle moet elke woord vir my sê. Langer woorde kan hulle opbreek in lettergrepe om die korrekte woord te kry.

Soos ons deur die woorde gaan vra ek ook vir hulle om of  'n sin met die woord te maak (mondelings) en ook om dit te dramatiseer (hulle geniet dit vreeslik). Hulle moet ook vir my sê wat 'n woord beteken. As 'n woord meer as een betekenis het moet hulle dit vir my sê of ek vertel hulle. Ek vra altyd eers wat dink hulle beteken 'n woord voor ek vir hulle die regte antwoord gee. Daar is vir my niks ouliker om hulle antwoorde te hoor nie.

Ek vertrou dit kan vir julle 'n idee gee waar om te begin met klank vaslegging. Dit kan natuurlik ook saam met letterkaarte gebruik word om die woorde te bou en so ook hulle spelling te oefen.

Lekker leer.

Groete

Maryna
 


Monday 20 January 2014

SOTW - Inleiding - Argeologie

Inleiding - Story of the World Volume 1 word daar vertel wat Geskiedenis en Argeologie is.

Dit is hoe ons die les gedoen het: Ek het eers vir die kinders die inleiding gelees oor wat Geskiedenis en Argeologie is. Alhoewel die storie in Engels is, kon die kinders dit maklik volg, maar ek het dit ook in Afrikaans vir hulle verduidelik.

Ons het op 'n later geleentheid die videos hieronder gekyk en daarna geskryf, geteken en lekker aktiwiteite gedoen.

Hier is 'n kykie na 'n video wat ek op youtube gekry het van 'n klomp jong kinders wat 'n geleetheid kry om ook Argeologie te beproef en bietjie rond te krap in die grond.




 
Hier kan jy sien wat doen 'n Argeoloog. (ongelukkig in Engels)


In die volgende video kan jy 'n volledige episode sien van Bill Nye the Science Guy oor Argeologie. (Engelse video)


Ek het vir elkeen 'n Argeologie boekie gemaak. Laai die boekie hier af.


 In die boekie moet hulle skryf wat is Geskiedenis, 'n Geskiedkundige, Argeologie en 'n Argeoloog. Ook moet hul skryf waar hul die opgrawing gedoen het en teken wat hul gevind het. In die eerste teken bladsy het hul geteken wat hul in die eerste harde opgrawing gevind het. Die volgende bladsye moes hul teken wat hul in die grond gevind het presies op die plek, die items skoonmaak en dan meer presies teken. Op die laaste twee bladsye moes hul lys wat hul gevind het en dan wat hulle leer het van die 'mense'.


Nou vir 'n lekker aktiwiteit - Kom ons grawe en soek iets.

Ons eerste soek noem ek sommer die harde krap stene. Manlief het vir die kinders elkeen twee soek vorms gemaak. Jy meng 'Polifilla' of gips met water nie te pap. Sit jou item binne in en laat dit goed droog en hard word.


Dit is hoe die harde krap stene lyk.

Wat hulle binne gevind het.

Die volgende krap oefening het hulle in ouma se tuin rond gekrap. Spasie was baie beprek. Ek het die items vlak onder die grond begrawe en met lyn omgespan.



 Hier is wat hulle alles gevind het. Ek wou graag stukkende potte ook in die grond sit en dat hulle dit daarna aanmekaar sit, maar het ongelukkig nie gehad nie.



Die kinders het eers in hul boekie geskryf en na elke aktiwiteit hul items geteken en dan aanbeweeg na die volgende aktiwiteit.

Soos hulle in die grond krap kan julle bespreek wat die moontlike redes hoekom wat waar gevind is.

Geniet dit.

Groete

Maryna

Monday 13 January 2014

2014 Kurrikulum

Baie mense vra altyd vir my wat ons gebruik. Vandag deel ek so vinnig hoe ons plan lyk.

Afrikaans: sal ons 'n kombinasie van boeke gebruik. Onder ander die Clever werkkaarte en ook 'n boek Maak Spelling Maklik (ontvang dit binnekort). Saam met dit lees ons uit verskillende boeke. Ons probeer ons Taalwerk prettig maak deur speletjies en woordbou met letterkaarte.

Engels: Ons het verlede jaar begin met LLATL (Learning Language Arts through Literature). Ons is nog besig met die rooi boek. Ons het nie baie streng fokus op Engels geplaas verlede jaar nie, net begin voete nat maak. Hierdie jaar gaan ons egter hard werk. LLATL word in Suid-Afrika versprei deur Oikos Family Ministries. Vir die eerste twee boeke in die reeks, die blou en rooi moet die boeke deur Oikos aangekoop word aangesien daar ander leesboekies ingesluit is in die pakket. Daarna kan die e-boeke indien jy dit so verkies aankoop deur Common Sense Press. Daar is addisionele leesboeke wat nogsteeds ekstra by gekoop moet word.

Wiskunde: MUS (Math U See) is ons gunstelling Wiskunde program en ons gaan voortgaan met dit tot die laaste jaar. Hierdie jaar gaan ons begin met die Gamma boek. Ons het verlede jaar die groot stap geneem om hierdie buitelandse program te gebruik. Ek was baie onseker oor die Engelse faktor, maar ek was verbaas om te sien hoe baie my kinders die program geniet. Ons het wel 'n paar 'tree' terug gegee in Wiskunde sodat ons eers hulle manier van werk kon leer en vertroud raak met die Engels. Ons kyk saam die DVD, ek verduidelik vir die kinders en hulle werk dan in die werkboek. Ek is baie beindruk met MUS.



Geskiedenis - Ek het baie lank deur baie voorgestelde Geskiedenis boeke en programme gekyk en het werklik moeilik besluit wat om te gebruik. Ek het toe besluit om SOTW (Story of the World) te probeer en kyk of my kinders daarvan hou. My grootste vrees met die boek is omdat dit natuurlik in Engels is. Ek het verlede week die inleiding gelees vir die kinders om te verduidelik wat Geskiedenis is en 'n kykie na Argeologie. Hulle het gelyk of hulle daarvan hou. Ek het weer daarna Hoofstuk een vir hulle gelees oor die Nomades. Soos 'n mens van die naam van die boek kan aflei, word dit vertel in 'n storie formaat. Die kinders is baie opgewonde daaroor en ek voel ook baie meer gerus gestel. Ons gaan dus amptelik met SOTW werk en sien hoe dit gaan. Hou die spasie dop vir lekker aktiwiteite. Ek het die boeke aangekoop in e-boek formaat deur Peace Hill Press.

Geografie - Ons gaan 'n groot verskeidenheid boeke gebruik. Onder ander Geography Through Art wat 'n kunstige boek is, teken en maak. Ek het dit in e-formaat gekoop deur Currclick. Ons gaan moontlik ook gedeeltes van Expedition Earth deur Confessions of a Homeschooler gebruik. Moontlik ook 'n paar eenheid studies van Amanda Bennett's unit studies. Ons is ook tans besig om te leer van planete en gebruik die boek My Reisgids tot die Sonnestelsel en daarbuite.




Bybel - Learning the World through Life book 1 en 2. Hierdie is 'n oulike boek om Bybel teksverse te memoriseer. Alhoewel die boek in Engels is, gaan ons dit in Afrikaans gebruik. Die kinders leer gedeeltes van 'n teksvers deur te teken en 'n prent te koppel aan 'n kernvers. Hierdie boek kan gekoop word deur Oikos. Op Oikos se webblad kan julle 'n kort  video kyk van waaroor dit gaan.
 
Ons Bybels wat ons saam met die gaan gebruik is Bybel@Kinders. Dit is 'n pragtige Bybel geskryf sodat jong kinders die Woord van God kan verstaan. Ek maak ook gebruik van 'n 1933/53 vertaling.



 

Kuns: Alhoewel ons baie kuns aktiwiteite doen, gaan ons ook 'n meer formele kuns klas doen. Ek gaan die boek Drawing with Children as een van my verwysings gebruik. Kuns is ongelooflik belangrik vir my en my kinders geniet dit geweldig baie. 



 
Wetenskap: Sjoe dit is nou 'n lekker een. Baie mense sidder as hulle aan Wetenskap dink. Ons spring behoorlik op en af. Daar is baie boeke waaruit ons werk. Een van hulle wat ek uit voorlees en meer ontdek is Geheimenisse van die Natuur en die Wetenskap. Ons het 'n magdom ander boeke waaruit ons gaan voorlees. Ons gaan ook buite natuurstudie doen. Dan ook 'n lekker prettige studie doen van die menslike liggaam.

Dit is alles so in 'n neutedop. Dit gaan 'n wonderlike jaar wees met nuwe uitdagings en nuwe projekte. Ek sien uit daarna om alles nog met julle te deel. Hou maar die blog dop, ek sal nog meer besonderhede oor die boeke plaas.

Volg gerus my blog - leer en ontdek saam met ons. 

Groete

Maryna



Saturday 11 January 2014

Die Kasteel van Goeie Hoop

In 1666 en 1679 is Die Kasteel van Goeie Hoop gebou vir die verversingspos vir seevarendes deur die Oos-Indiese Maatskappy (OIC). Dit is tans die oudste koloniale gebou in Suid Afrika.

Kyk na 'n infografika oor Die Kasteel van Goeie Hoop.



Hieronder is 'n video hoe jy die papier kasteel aan mekaar kan sit en onder is al die skakels vir die nodige dele. Kliek op die naam om jou na die pdf te neem.




Die grondplan
Hoofkonstruksie
Bastionne
Binne geboue

Leer meer van Die Kasteel van Goeie Hoop by die volgende plekke:
My volk
Kasteel Goeie Hoop se ryk geskiedenis
Die verhaal van 'n reddingsdaad



Lekker leer en bou.

Opdateer 18/10/2017 ek het opgemerk dat die aflaaie van die aktiwiteit nie meer beskikbaar is nie. Sodra ek weer die pdf aflaai bladsye kan opspoor sal ek dit plaas.

Groete

Maryna

Friday 10 January 2014

Sonnestelsel Paspoort


Verlede jaar het ons met die boek begin My Reisgids tot die Sonnestelsel en Verder. Dit is 'n opwindende boek wat vertel word uit die oog van iemand wat rond reis. 

In die boek kan die basiese inligting geleer word van verskillende planete en dinge in die sonnestelsel. 

Voorbeeld uit die boek oor Venus

Voorbeeld uit die boek oor Jupiter
Ek het 'n Paspoort gemaak wat die kinders net 'n paar feite kan inskryf en ook 'n 'stempel' kan inplak van watter plek hulle laaste besoek het. 

Voorbeeld van hoe die Paspoort lyk

Soos daar deur die boek gewerk word en elke afdeling behandel is, kan die kind sy stempel uitknip en by die nodige plek plak.  Op die bladsy van Vinnige Feite kan hulle enige ietsie wat hulle geleer het van daai  planeet of ster skryf.

Hierdie is net ‘n ekstra  bron om dit bietjie meer prettig te maak. Laai die Paspoort HIER af.

Maak die Paspoort so:
Druk bladsy 2 uit op karton. Dit is die buiteblad.  Indien moontlik  lamineer dit. Moet nie die twee blokke van mekaar wegknip nie. Sien die foto hieronder. (een van die stempel en feite bladsy as voorbeeld)



Druk bladsy  3 to 10 voor en agter. Met ander woorde bladsy 3 voor en bladsy 4 agter ens.  Op bladsy 3 is die eerste twee blokke oop. Dit moet so wees om die binneste bladsy van die boeke oop te hou en sodat die stempel en feite bladsy oop oormekaar vertoon.

Op die eerste skoon bladsy kan jou kind ‘n fototjie van hom/haar plak of ‘n prentjie van hulself teken.

Druk bladsy 11 tot 13 op enkel bladsye uit. Dit is die stempel wat uitgeknip
moet word. 
 
Kram die die bladsye nou in die middel vas sodat dit ‘n boekie vorm. Boontoe kan jy 'n voorbeeld sien van my klaargemaakte Paspoort boekie.

Indien julle hierdie met iemand wil deel, laat hulle dit asseblief van my blog aflaai. Plaas dus 'n skakel hierheen. Dankie!

Geniet dit en laat weet my of die kinders daarvan gehou het.

Groete

Maryna


Thursday 9 January 2014

Die wonder van 'n vergrootglas

Daar is darem niks lekkerder vir 'n kind as wanneer pa ook vir hulle ietsie kreatief leer of laat doen nie.

Manlief het 'n paar stukke weggooi planke by 'n hout plek naby ons gekry - verniet :) Elke een met 'n vergrootglas in die hand en die son wat lekker bak, skep hulle vir hul 'n brandende kunswerk.

Hier is die eerste kunswerke. Makayla het natuurlik die hart gedoen. Matthew het 'n knaldemper (exhaust) van 'n motor gemaak. Wie sou nou daaraan dink.


Die doel agter die is nie net om vir die kinders te wys hulle kan iets ouliks maak nie. Dit kan ook 'n oorlewings wenk wees - wat om te doen as jy net 'n stuk glas of 'n bril by jou het en jy moet vuur maak. Dit wys ook vir hulle hoe kragtig die son is. Natuurlik ook dat dit nie 'n speelding is en dat vuur gevaarlik kan wees.

Het jy dit met jou kinders ook al gedoen?


Groete

Maryna

Nuwe gesig vir die blog

Ek het vandag vir die blog 'n nuwe 'jas' aangetrek. Nuwe jaar, nuwe dinge.

Ek het baie van die ou 'template' gehou, maar met die een is die plasings bietjie groter.

Julle is welkom om my blog te volg. Hier aan die linkerkant is 'n Followers knoppie, en jy kan via e-pos ook volg.

Ondertoe sal jy twee Waldo boeke sien en twee Geskiedenis boeke, dit kan aanlyn gelees word. Ek sal nog plaas as ek nog vind.

Skakels na ander webbladsye is aan die regterkant.

Hoop julle geniet my blog. Dankie vir die ondersteuning.

Groete

Maryna

Wednesday 8 January 2014

Die Pottebakkers


My kinders is albei baie kreatief (kan jul sien hoe groot glimlag ek). Makayla het hierdie oulike Pottebakkers-wiel vir kersfees gekry.

Die Pottebakkers-wiel werk met batterye en ons het dit by CNA gekoop. Saam die wiel is daar verf, 'n kwas, 'n snymessie (plastiek) en 2 pakkies duursame klei.

In die foto bo kan jul sien hoe die boksie lyk. As jul nou werklik baie mooi kyk het Makayla 'n seekoei se kop gemaak wat in haar vinger hang. Dan ook natuurlik 'n meesterstuk potjie. Die kinders van vandag is darem oulik.

Matthew gaan natuurlik nie eenkant sit terwyl sussie lekker 'speel' nie. Klein potjies gebruik maar 'n paar vingers :) Hy konsentreer baie hard daarom gee hy ma net 'n halwe skeef glimlag.


Ons hoop om die talent te ontwikkel en later ook die Pottebakkers-wiel te gebruik as ons oulike goed maak as ons van verskillende lande leer.

Net 'n waarskuwing: Dit is baie morsig, maak seker jy het sakke byderhand om op te werk en 'n bak water vir die hande om die klei te kan vorm.

Nou julle beurt, wys bietjie watter kreatiewe goed jou kinders maak of doen.

Groete

Maryna