Wednesday 14 September 2016

Math U See Blokkies - aflaai

As jy een van die mense is wat Math U See Wiskunde program gebruik, sal jy weet van watter onskagbare waarde die blokkies is.

Ek het 'n stel 'blokkies' saamgestel wat afgelaai kan word.

Maak so:
Druk die bladsye uit van jou keuse - inkleur of volkleur (11 bladsye in die stel) - verkieslik op karton.
Die voorkante is die een kleur blokkie. Die agterkant is die met die kleiner donkerder blokkie binne in.
Na dit ingekleur is/indien jy die volkleur aflaai volg net die stappe verder, knip die stroke van mekaar en plak dit rug teen rug. Jou blokkie stroke gaan dus 'n voor en agterkant hê.
Lamineer dit om te verseker dit hou baie lank.
Dit kan maklik op 'n witbord gebruik word, sit net bietjie wondergom agterop.
*Die eenkleur kant voor is natuurlik plus (+) en die met die kleiner blokkie binne, die donkerder deeltjie is minus (-).

Daar is twee weergawes. Die eerste een kan jy self inkleur.

Die tweede keuse is volkleur.

Jy kan dit gratis aflaai en gebruik deur op die skakels bo te kliek self inkleur / volkleur.

Vertrou dit sal nuttig wees.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Saturday 10 September 2016

Jy doen dalk te veel?

Menigte Tuisonderwys ouers is oortuig dat hul eenvoudig net nie genoeg doen nie. Daar is twee sye van die onderwerp, wanneer jy regtig net amper niks doen en wanneer jy besig is om jou kind dood te maak - op meer as een manier.

Ek gaan eers die aspek van nader bekyk van jy doen nie genoeg. Jul doen net Wiskunde elke dag, lees dalk een boek en dit is klaar. Of... jy los jou kind aan sy eie genade oor en hy/sy sit en blaai dalk deur 'n boek, teken 'n prent, speel op die rekenaar. NEE! Dit is nie genoeg nie.

Wat is dan te veel? Hierdie is slegs my siening, jammer as ek op tone trap. Voorbeeld: Jy koop die duurste programme van bv Math U See, Teaching Textbooks, Saxon/Singapore en jy gebruik almal om uit te werk. Jy gebruik dalk MUS se video les, TT se oefening op rekenaar, 'n les of twee uit Saxon/Singapore. STOP!!! Jy is besig om jouself en jou kind en jou beursie dood te maak. Elkeen van die bogenoemde is volledige progamme op hul eie. Ek vat MUS en TT as 'n voorbeeld. Hierdie is twee programme wat totaal anders werk. Een is spiraal (TT) en een is 'mastery' (MUS). Jy kan nie die twee saam gebruik. Een program gaan moontlik al aan 'n konsep geraak het wat die ander een nog nie aan gewerk het. Nee een is nie agter die ander een nie, dit is net twee verskillende benaderings. Jou kind gaan later nie weet of hy Harry of Sally is nie. Jou kind gaan oorwerk wees, jy gaan hom uitbrand. Moontlik gaan jou kind Wiskunde en/of skool haat!

Dit geld egter nie vir Taal vakke nie. Baie boeke bied bv. goeie vaslegging met letterkunde, gramattika ens, maar dit het baie min of niks vir spelling. Dan voeg jy iets ekstra by. Daar moet 'n balans wees van hoeveel jy doen.

Om die duurste kurrikulums te koop maak nie van jou 'n beter Tuisonderwys moeder of van jou kind 'n beter student nie. Glad nie! 'n Kurrikulum moet daar wees as jou gids indien nodig. Jy moet nie 'n slaaf wees vir dit nie, maar dit moet vir jou werk soos nodig.

Ek lees gereeld op die buitelandse forums hoe mense so baie goed gebruik en dan sit hul soms tot laat en skoolwerk doen en selfs op naweke. Ek persoonlik dink daai mense is in die bol gepik - jammer.

Daar is eenvoudig kurrikulum of boeke waarvoor 'n mens nou maar 'n bietjie baie meer moet spandeer as ander. Maar maak seker dit werk vir jou kinders voor jul besluit om by te voeg of te verander. Meeste plekke bied voorbeelde van hul produkte. Moet nie net daarna loer nie. Laat jou kind 'n voorbeeld les doen en laat hul voel hoe dit voel om die program te gebruik. Wat hul gaan ervaar is die belangrikste. Help nie jy as ouer verander iets omdat Sannie langsaan dit en dit gebruik en of omdat JY voel dit is nie prettig nie. Dalk hou jou kind baie daarvan, dalk doen jou kind baie goed daarin, dalk hou jou kind van vaal goed. Jou kind se opinie is belangrik. MAAR as jou kind vir jou sê hy/sy het nie lus vir dit nie. Dan neem jy beheer!

Nou waar is die middel van alles, wat is dan genoeg? As jou kind leer wat nodig is om eendag 'n verantwoordelike volwasse te wees met goeie morele waardes en goeie algemene kennis en 'n groot liefde vir God. Dan is jy reg. Brei jou kind se kennis uit en fokus veral op jou kind se passie. 

Ek hoor graag julle opinies.

Groete

Maryna 

NB: Ek het TT en MUS as basiese voorbeeld gebruik aangesien ek onlangs daaroor geskryf het.

Thursday 8 September 2016

Teaching Textbooks vs. Math U See

Ons het laat in verlede jaar oorgeskakel na Teaching Textbooks toe. Math7 om presies te wees.


 

Voor ek my hele opinie oor die program gee, wil ek net weer noem ons rede hoekom ons dit begin gebruik het. My kinders het vir 'n hele paar jaar Math U See gebruik waaroor ek nooit genoeg kan praat nie. Hul het egter met tye lank gedraai en dit het 'n groot hap uit ons dag geneem en dan kom ons nie by al die ander dinge uit nie. In alle eerlikheid wil ek nie tot laat middag nog skoolwerk doen nie ;) Ek het dit gesien as 'n tyd waar die kinders op hul eie kan werk, verantwoordelikheid neem vir hul werk en pogings en bietjie meer tyd beskikbaar maak. Hier is my vorige skrywe oor my besluit om Teaching Textbooks te probeer en hoe dit werk.

Die kinders het ongeveer 'n week of twee terug klaar gemaak met Math7 en hier sit ons nou. Ek het gewik en geweeg en was onseker Teaching Textbooks of Math U See vir Pre-Algebra. Watter besluit ek ookal sou neem sou bepaal wat ons vir die hele Hoërskool gaan gebruik want ons verander nie weer nie.

Teaching Textbooks is baie duur nuut. Math U See kan ook taamlik prysig wees afhangende van wat jy moet aankoop. Ek koop twee studente boeke altyd aan wat die prys baie meer maak. Ek het altyd probeer om boeke tweedehands te kry om kostes te bespaar. Na baie oorwegings het ek my finale besluit gemaak vir die pad vorentoe. Math U See het weer gewen. Ons begin binne die volgende paar weke met MUS Pre-Algebra.



Nou wat dink ek eerlikwaar van Teaching Textbooks? Dit is oulik! Die kinders geniet dit. Matthew het sy Wiskunde jaar geeindig met 93% en Makayla met 94%, dit werk dus.

Maar, ja daar is 'n maar ongelukkig. Die prys het 'n baie groot rol gespeel. Dit is eenvoudig net nie bekostigbaar vir ons nie. Ek hou nie van die spirale sisteem nie. Soos wat die skole werk, bietjie dit, bietjie dat. Daar is in my opinie net nie genoeg oefening van nuwe probleme nie. Matthew het baie dae hande in die hare gesit. Daar was trane en daar was oplossings.

My opinie, is presies dit, net myne. Baie mense sal sê dit is vrot, dit is agter. Ander sal sê dit is fantasties. Dit is baie belangrik om mooi te besluit wat jul wil doen en wat jul wil bereik voor jul sulke groot finansiële besluite neem. As iets werk, hou by dit!! Moet nie baie rond kyk wat alles op die mark is nie. Dit kan 'n mens se kop behoorlik deurmekaar krap.

Lekker somme doen :)

Groete

Maryna