Sunday 27 November 2016

Boek loer: Somme(r) Pret (Wiskunde)

Tuisonderwys moeder Lizelle Rademeyer het 'n oulike reeks boekies saamgestel vir Wiskunde Pret aka Somme(r) Pret.

Die reeks bestaan uit vier boekies: (Informasie geneem uit Lizelle se blog)
Somme(r) Pret Begin is vir 5-6 jariges. Dit fokus op tel, getalbegrippe en ander basiese vaardighede waarop wiskunde van graad 1 af gebou word.
Somme(r) Pret 1 bevat graad 1 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-20)
Somme(r) Pret 2 bevat graad 3 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-100, maaltafels van 1 tot 5 en 10.) – Daar is heelwat in Somme(r) Pret 2 wat graad 2 kinders sal geniet, maar omdat hulle nog die 3 en 4 maaltafels geleer het nie is daar aktiwiteite in wat hulle nog nie sal kan doen nie.
Somme(r) Pret 3 bevat graad 6 vaardighede (oa. optel en aftrek in die getalgebied 0-999, maal en deel tot die 12 maaltafel en breuksomme) – Daar is heelwat in Somme(r) Pret 3 wat graad 4 en 5 kinders sal geniet, maar omdat hulle nog net maaltafels tot 10x doen en eenvoudiger breuksomme is daar aktiwiteite in wat hulle nog nie sal kan doen nie.

Lizelle Rademeyer was so gaaf gewees om Boek 3 aan ons beskikbaar te stel om 'n gevoel te kry van hoe die boek is en wat die kinders daarvan dink. Ek moet egter net bynoem dat my kinders wel bietjie ouer is, maar ek steeds van die aktiwiteite gekies en vir hul gegee om te doen.


Hier is 'n paar voorbeelde uit die boekie.



Wat dink ons van die boekie? Dit is baie goed uiteengesit. Lizelle het ongelooflik baie moeite gedoen met die samestelling van die boekie en aan alles probeer dink wat nuttig en prettig sal wees. Dit bevat ook die nodige instruksie van wat gedoen moet word en ook antwoordbladsye. Die kinders sê dat dit lekker aktiwiteite is.

Die boekie is ideaal om sommer oor die vakansie tyd te gebruik te word of vir ekstra verryking. 

Vir meer inligting oor al die boekies, volledige uiteensetting en meer voorbeelde gaan loer gerus op haar blog en ook op haar Facebook bladsy. Jy kan ook die boekies bestel deur 'n e-pos te stuur aan info@lomi.co.za. 

Alhoewel die boekies 'n digitale produk is vra ons dat ouers asseblief die Kopiereg sal respekteer en die tyd in ag neem wat Lizelle daaraan spandeer het. Moet dit dus nie vir mekaar aanstuur nie, ondersteun haar en koop jou eie kopie aan.

Neem kennis ek kry geen beloning vir my terugvoering oor die boekies nie, dit is slegs my eie opinie.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Friday 18 November 2016

'n Terug kyk na 2016 en...

Kan julle glo die jaar is so te sê op sy rug. Sjoe watter jaar was dit nie. 

Ons het seker nie alles vermag wat ek wou in die skool jaar nie. Met Wiskunde het ons egter so ver verooruit al gewerk dat ek eenvoudig nou net moes stop. Weereens het die kinders fantastiese punte opgelewer.

Dit is ongelooflik om te sien hoe ons kinders groei, nie net in lengte nie, maar hoe hul karakters vorm en hul persoonlikhede verander.

Ek is ongelooflik trots op my kinders. Hulle is fluks, nie net by die huis nie, maar help ook altyd by die kerk. Help skoonmaak, tafels opruim en nog veel meer, sonder om te boe of te ba. Hulle is vriendelik en gee om vir ander. Wat meer kan 'n ma wil hê.

Op 'n persoonlike noot was die jaar baie swaar. Deur baie moeilike tye gegaan, maar God het ons staande gehou en ons kan net vasklou aan Sy beloftes en Woord.

In die volgende paar weke gaan ek resensies (of aldan my boekloer) plaas oor twee produkte van moeders. Ek gaan ook  'n paar nuwe aflaaibare hulpmiddels plaas wat ek met toestemming vertaal het. Ek gaan ook bietjie terugvoer gee oor 'n ander produk waaroor ons baie gek was en dalk nie so meer. So hou die spasie dop.

Groete

Maryna

Friday 7 October 2016

Verskietende ster? Dink weer...

Hoe wonderlik is hierdie wêreld van ons darem nie. Maar kyk bietjie na hierdie "verskietende ster" insetsel. Dinge is nie altyd wat ons dink dit is nie. 




Groete

Maryna

Wednesday 14 September 2016

Math U See Blokkies - aflaai

As jy een van die mense is wat Math U See Wiskunde program gebruik, sal jy weet van watter onskagbare waarde die blokkies is.

Ek het 'n stel 'blokkies' saamgestel wat afgelaai kan word.

Maak so:
Druk die bladsye uit van jou keuse - inkleur of volkleur (11 bladsye in die stel) - verkieslik op karton.
Die voorkante is die een kleur blokkie. Die agterkant is die met die kleiner donkerder blokkie binne in.
Na dit ingekleur is/indien jy die volkleur aflaai volg net die stappe verder, knip die stroke van mekaar en plak dit rug teen rug. Jou blokkie stroke gaan dus 'n voor en agterkant hê.
Lamineer dit om te verseker dit hou baie lank.
Dit kan maklik op 'n witbord gebruik word, sit net bietjie wondergom agterop.
*Die eenkleur kant voor is natuurlik plus (+) en die met die kleiner blokkie binne, die donkerder deeltjie is minus (-).

Daar is twee weergawes. Die eerste een kan jy self inkleur.

Die tweede keuse is volkleur.

Jy kan dit gratis aflaai en gebruik deur op die skakels bo te kliek self inkleur / volkleur.

Vertrou dit sal nuttig wees.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Saturday 10 September 2016

Jy doen dalk te veel?

Menigte Tuisonderwys ouers is oortuig dat hul eenvoudig net nie genoeg doen nie. Daar is twee sye van die onderwerp, wanneer jy regtig net amper niks doen en wanneer jy besig is om jou kind dood te maak - op meer as een manier.

Ek gaan eers die aspek van nader bekyk van jy doen nie genoeg. Jul doen net Wiskunde elke dag, lees dalk een boek en dit is klaar. Of... jy los jou kind aan sy eie genade oor en hy/sy sit en blaai dalk deur 'n boek, teken 'n prent, speel op die rekenaar. NEE! Dit is nie genoeg nie.

Wat is dan te veel? Hierdie is slegs my siening, jammer as ek op tone trap. Voorbeeld: Jy koop die duurste programme van bv Math U See, Teaching Textbooks, Saxon/Singapore en jy gebruik almal om uit te werk. Jy gebruik dalk MUS se video les, TT se oefening op rekenaar, 'n les of twee uit Saxon/Singapore. STOP!!! Jy is besig om jouself en jou kind en jou beursie dood te maak. Elkeen van die bogenoemde is volledige progamme op hul eie. Ek vat MUS en TT as 'n voorbeeld. Hierdie is twee programme wat totaal anders werk. Een is spiraal (TT) en een is 'mastery' (MUS). Jy kan nie die twee saam gebruik. Een program gaan moontlik al aan 'n konsep geraak het wat die ander een nog nie aan gewerk het. Nee een is nie agter die ander een nie, dit is net twee verskillende benaderings. Jou kind gaan later nie weet of hy Harry of Sally is nie. Jou kind gaan oorwerk wees, jy gaan hom uitbrand. Moontlik gaan jou kind Wiskunde en/of skool haat!

Dit geld egter nie vir Taal vakke nie. Baie boeke bied bv. goeie vaslegging met letterkunde, gramattika ens, maar dit het baie min of niks vir spelling. Dan voeg jy iets ekstra by. Daar moet 'n balans wees van hoeveel jy doen.

Om die duurste kurrikulums te koop maak nie van jou 'n beter Tuisonderwys moeder of van jou kind 'n beter student nie. Glad nie! 'n Kurrikulum moet daar wees as jou gids indien nodig. Jy moet nie 'n slaaf wees vir dit nie, maar dit moet vir jou werk soos nodig.

Ek lees gereeld op die buitelandse forums hoe mense so baie goed gebruik en dan sit hul soms tot laat en skoolwerk doen en selfs op naweke. Ek persoonlik dink daai mense is in die bol gepik - jammer.

Daar is eenvoudig kurrikulum of boeke waarvoor 'n mens nou maar 'n bietjie baie meer moet spandeer as ander. Maar maak seker dit werk vir jou kinders voor jul besluit om by te voeg of te verander. Meeste plekke bied voorbeelde van hul produkte. Moet nie net daarna loer nie. Laat jou kind 'n voorbeeld les doen en laat hul voel hoe dit voel om die program te gebruik. Wat hul gaan ervaar is die belangrikste. Help nie jy as ouer verander iets omdat Sannie langsaan dit en dit gebruik en of omdat JY voel dit is nie prettig nie. Dalk hou jou kind baie daarvan, dalk doen jou kind baie goed daarin, dalk hou jou kind van vaal goed. Jou kind se opinie is belangrik. MAAR as jou kind vir jou sê hy/sy het nie lus vir dit nie. Dan neem jy beheer!

Nou waar is die middel van alles, wat is dan genoeg? As jou kind leer wat nodig is om eendag 'n verantwoordelike volwasse te wees met goeie morele waardes en goeie algemene kennis en 'n groot liefde vir God. Dan is jy reg. Brei jou kind se kennis uit en fokus veral op jou kind se passie. 

Ek hoor graag julle opinies.

Groete

Maryna 

NB: Ek het TT en MUS as basiese voorbeeld gebruik aangesien ek onlangs daaroor geskryf het.

Thursday 8 September 2016

Teaching Textbooks vs. Math U See

Ons het laat in verlede jaar oorgeskakel na Teaching Textbooks toe. Math7 om presies te wees.


 

Voor ek my hele opinie oor die program gee, wil ek net weer noem ons rede hoekom ons dit begin gebruik het. My kinders het vir 'n hele paar jaar Math U See gebruik waaroor ek nooit genoeg kan praat nie. Hul het egter met tye lank gedraai en dit het 'n groot hap uit ons dag geneem en dan kom ons nie by al die ander dinge uit nie. In alle eerlikheid wil ek nie tot laat middag nog skoolwerk doen nie ;) Ek het dit gesien as 'n tyd waar die kinders op hul eie kan werk, verantwoordelikheid neem vir hul werk en pogings en bietjie meer tyd beskikbaar maak. Hier is my vorige skrywe oor my besluit om Teaching Textbooks te probeer en hoe dit werk.

Die kinders het ongeveer 'n week of twee terug klaar gemaak met Math7 en hier sit ons nou. Ek het gewik en geweeg en was onseker Teaching Textbooks of Math U See vir Pre-Algebra. Watter besluit ek ookal sou neem sou bepaal wat ons vir die hele Hoërskool gaan gebruik want ons verander nie weer nie.

Teaching Textbooks is baie duur nuut. Math U See kan ook taamlik prysig wees afhangende van wat jy moet aankoop. Ek koop twee studente boeke altyd aan wat die prys baie meer maak. Ek het altyd probeer om boeke tweedehands te kry om kostes te bespaar. Na baie oorwegings het ek my finale besluit gemaak vir die pad vorentoe. Math U See het weer gewen. Ons begin binne die volgende paar weke met MUS Pre-Algebra.



Nou wat dink ek eerlikwaar van Teaching Textbooks? Dit is oulik! Die kinders geniet dit. Matthew het sy Wiskunde jaar geeindig met 93% en Makayla met 94%, dit werk dus.

Maar, ja daar is 'n maar ongelukkig. Die prys het 'n baie groot rol gespeel. Dit is eenvoudig net nie bekostigbaar vir ons nie. Ek hou nie van die spirale sisteem nie. Soos wat die skole werk, bietjie dit, bietjie dat. Daar is in my opinie net nie genoeg oefening van nuwe probleme nie. Matthew het baie dae hande in die hare gesit. Daar was trane en daar was oplossings.

My opinie, is presies dit, net myne. Baie mense sal sê dit is vrot, dit is agter. Ander sal sê dit is fantasties. Dit is baie belangrik om mooi te besluit wat jul wil doen en wat jul wil bereik voor jul sulke groot finansiële besluite neem. As iets werk, hou by dit!! Moet nie baie rond kyk wat alles op die mark is nie. Dit kan 'n mens se kop behoorlik deurmekaar krap.

Lekker somme doen :)

Groete

Maryna 

Thursday 11 August 2016

Moet leer altyd pret wees?

Ek moet erken, ons hou daarvan om pret te hê terwyl ons leer. Daar is egter sekere leerareas wat 'n mens net nie verby kan kom en dinge baie meer ernstig moet opneem en ekstra hard werk.

Kyk gerus na Diana Waring se video oor die onderwerp.


Loer ook gerus na die video.


Groete

Maryna

Thursday 30 June 2016

Inleiding tot kodering

Kodering of aldan Coding is amper deesdae op almal se lippe. Maar wat is dit en hoe kan jy en jou kinders dit leer?

Kodering is rekenaartaal. Dit is die instruksies agter sagteware. As daar nie kodering was nie, kon ons nie vandag op rekenaars, slimfone, tablette ens werk nie. Alles in die tegnologie wêreld draai om kodes.

Die maklikste manier om vir jou kinders blootstelling tot kodering te gee is met die gratis program Scratch. 


Laai Scratch program HIER af. Neem asb kennis dat jul na die 3 betrokke stappe kyk op daai webblad. Jul moet Adobe AIR aflaai (by nr 1), dan Scratch (by nr 2). dan kan jul van die addisionele materiaal aflaai (by nr 3). Ek stel voor dat jul die kaarte aflaai. Dit gee 'n vinnige kort oorsig om basiese goed te doen. Sien hieronder twee voorbeelde.



Amptelike lesse kan afgelaai word by Code Club World. Gaan HIER. Registrasie is gratis. Dit gee vir jou toegang tot die lesse. Op die volgende skerm, kliek op die English blokkie en dan verskyn al die lesse onder mekaar. Laat die kinders eers met Scratch 1 begin en dan aangaan na al die ander. Dit is voordelig dat hulle die klasse in die regte volgorde voltooi.

In die project materials aflaai is die volledige gekodeerde aktiwiteit. Moet nie dit vir jou kind gee nie. Gee vir hulle die les en indien nodig die agtergrond prentjie ens. Soos jy deur die lesse werk sal jy sien wat is waar nodig. Moet nie jou kind help, laat hulself dit uitwerk.
 
Later kan die HTML, CSS en Python ook gedoen word soos hul vorder. Onder sal jul sien is Code Kingdom, dit werk op die Minecraft coding, dit is 'n betaal program met 'n maandelikse fooi.

Scratch is 'n baie oulike program om vir die kinders 'n gevoel van kodering te gee. Hul sal jou verbaas met dinge wat hul self ontwerp uit verbeelding.

Op 'n later stadium sal ek nog meer kodering hulpmiddels met jul deel en hoe die kinders self 'n toep (app) kan ontwerp.

Lekker speel en leer.

Groete

Maryna

Thursday 26 May 2016

Boekloer: Ensiklopedie van Kennis

Boekloer oor die Ensiklopedie van Kennis - Alles wat jy oor die wêreld wil weet.

Dit is 'n pragtige groot volkleur boek. Dit bestaan uit die volgende afdelings (altesaam 360 bladsye):

Ruimte: Die Heelal, Ruimteverkenning

Aarde: Planeet Aarde, Tektoniese Aarde, Die Aarde se bronne, Weer, Vorming van land, Aarde se Oseane

Natuur: Hoe lewe begin het, Die lewende wêreld, Ongewerweldes, Werweldiere, Geheime van oorlewing

Menslike Liggaam: Basiese Liggaamsfeite, Aandrywing van die liggaam, In beheer, Lewensiklus

Wetenskap: Materie, Kragte, Energie, Elektronika 

Geskiedenis: Die Antieke Wêreld, Die Middeleeuse Wêreld, Die Era van Ontdekkings, Die Moderne Wêreld

Dan is daar ook agter in die boek, naslaanbronne en 'n woordelys.

Hieronder is voorbeelde uit die boek om vir julle te wys hoe dit lyk.

Voorbeeld uit die gedeelte oor Soogdiere
Voorbeeld uit die gedeelte van die Skelet

Voorbeeld uit die afdeling oor Materie
Voorbeeld ut die afdeling oor Die Middeleeuse Wêreld
Hierdie boek is geskik vir jonk en oud. Daar is onderwerpe wat baie jong kinders moontlik nie kan verstaan nie. Die boek is baie goed uiteengesit met baie besonderhede.

Die Ensiklopedie van Kennis kan maklik as 'n steunboek gebruik word en nog meer lesse kan om 'n onderwerp uitgewerk word om nog dieper daarin te delf.

Ek beveel die boek hoogs aan vir almal.

Lekker lees en leer.

Groete

Maryna

Sunday 22 May 2016

Bybel Bingo speletjie

Lukas 6:39 - 8:15 Bybel Bingo 

Terwyl julle Lukas 6 - 8 vir die kinders voorlees, kan hul 'n prettige Bingo speletjie speel. Dit is ook 'n goeie manier om natuurlik hul begrip te toets en kyk of hul luister. Die speletjie is oorspronklik saamgestel deur Ellen McHenry van die Basement workshop en ek het dit met toestemming vertaal.

Maak so:
 
Elke speler kry ’n afskrif van die onderstaande prentjies en ’n bladsy met die oop blokkies. Spelers knip die prentjies van mekaar. Indien moontlik lamineer die prentjies en die oop blokkiebord sodat dit herhaaldelik gebruik kan word. Spelers kan met wondergom die prentjies rond en bond op die skoon speelbord plak.
Elke speler moet ook merkers kry waarmee hul keuses kan merk: soos stukkies papier, smarties ens. Indien die blokkies gelamineer was, kan die prentjies afgemerk word met ’n witbord merkpen.

Lees Lukas 6:39 – 8:15 voor. Elke keer wanneer die speler iets hoor wat ooreenstem met die prentjie, word dit afgemerk. Kies ’n beloning van jou keuse vir die wenner.



Laai die speletjie HIER af.

Lekker speel.

Groete

Maryna 

Wednesday 13 April 2016

Gebruik jul die regte leerstyl?

Watter styl gebruik jy om jou kinders mee te leer en met watter styl leer hulle? Sien die twee kort videos hieronder van Diana Waring se gedagtes hieroor.



Groete

Maryna

Thursday 17 March 2016

Te veel, te gou

Is jy dalk skuldig daaraan dat jy te veel skoolwerk, te gou vir jou kind gee?

Alles moet nou en dan gebeur. Kyk na die video hieronder. Diana Waring wys vir ons hoe te vee,l te gou 'n negatiewe impak kan hê.

Groete

Maryna

Monday 14 March 2016

Nie volgens plan

Ek het hierdie jaar behoorlik uitgewerk vir ons en het geweet daar sal moontlik tye wees wat dinge net nie volgens plan verloop nie.

Verlede week in nood moet Makayla by 'n hospitaal kom wees haar Blindederm wat moet uit. Dit was 'n taamlik traumatiese ervaring, nie net vir haar nie, maar vir ons ook. Die feit dat ons na 'n staatshospitaal moes gaan was beslis nie wat ek vir my kind wou gehad het nie. Ek het heeltyd myself blameer en skuldig gevoel omdat sy daar moes wees en dat ons nie vir haar beter kon doen nie. Die realiteit is egter dit wat dit is, as jy nie anders kan nie, kan 'n mens nie. Sy is Vrydag ontslaan en herstel goed by die huis. 

Intussen is Matthew ook nog siek met griep en mangelonsteking. 

Ons vat nou maar die week ook af. Ons sal moontlik in die vakansie werk. Dit is seker nie 'n moet nie, maar daar sommige dinge waarby ek graag sou wou hou. Op die stadium gaan ons dit maar vat soos dit kom, dag vir dag.

Om eerlik te sê is ek baie uitgeput. Die enigste dag wat ons nie op en af ry vir een of ander iets nie, is op 'n Saterdag. Elke dag is besig, sport, jeug, woordskool ens. Alhoewel ek fisies moeg is, is dit tog eintlik 'n groot voorreg wat ons het dat ons kinders so betrokke kan wees met die dinge van die Here (wat natuurlik meeste van ons tyd in besit neem). Dink nie daar is enige iets wat 'n ouer se hart blyer maak nie.

As jy deur 'n tyd gaan van moeg of nood, staan terug en neem 'n breuk. Dit is ok! Regtig dit is! Onthou 'ons is tot alles in staat deur God wat ons krag gee'

Groete

Maryna

Monday 22 February 2016

Paas aktiwiteite en die waarheid!

Met paasfees om die draai, is winkels oorlaai met paashase en lekkergoed eiers.Ons weet mos wat die werklikheid omtrent Paasfees is!!

Ondertoe is twee videos wat ALMAL moet kyk! 

Hier is 'n paar knip en plak aktiwiteite van My little house. 'n 3D papier prentjie, inkleur bladsye, ietsie om te lees (is wel in Engels maar jul kan dit vir die kinders oorvertaal) en papier mannetjies om te bou.
Inkleur prente
3D Mannetjies (toneel)
Gaan na die bladsy om alles daar af te laai.



Dit is ons verantwoordelikheid as ouers om die werklike paas storie van Jesus lewendig te hou vir ons kinders. Ons en ons kinders moet weet en besef watter groot opoffering gemaak was vir ons.

Kyk gerus na die musiek video Above all van Micheal W. Smith wat dele van Passion of the Christ wys. Dit is ongelooflik hartroerend.



Kan ons werklik begryp waardeur Jesus moes gegaan het. Nie net die fisiese pyn wat hy ervaar het nie, maar oor die pyn om verraai en verloon te gewees het deur die manne wat hom gevolg het.

Indien jul nog nie die film Son of God gekyk het nie, doen julself 'n guns en kyk dit. Dit beeld Jesus se lewe kortliks uit. Hier is 'n kort voorskou van die kruisiging.


Baie mense mag moontlik nie die films kyk of selfs vir hul kinders wys omdat dit so wreeds was. Maar kyk dit! Wys dit vir hulle. Dit het gebeur en dit is wat onvoorwaardlike liefde doen! God het sy enigste Seun gegee sodat ons kan lewe!


Daar is geen groter liefde en genade!

Groete

Maryna

Saturday 20 February 2016

Hoe om 'n opstel/storie te skryf

Opstelle hoef nie hande in die hare of trane op 'n bladsy te wees nie. Daar is baie eenvoudige maniere hoe om dit te doen.

Die basiese wegtrek plek vir jongerige kinders, (Graad 1 tot 3) is daar op Leer Afrikaans 123 'n eenvoudige boekie wat jy kan aflaai. Dit gee vir jou 'n prentjie en 'n basiese uitleg van wat jy in jou storietjie wil vertel. Laai dit HIER af.

Meer in diepte is om te begin eerstens met 'n littlelosmaker. 'n Littelosmaker is iets wat jy skryf oor enige iets wat in jou kop inkom. Geen beplanning, net skryf dat die biessies bewe of natuurlik tik as jy nie graag met die hand skryf. Dit is goeie opwarming en perfek om die ys te breek. Onthou 'n littelosmaker is 'n vinnige storie, alles vloei net vinnig. Al is dit 'n klomp bog, skryf net!

Nou waar kan jy idees kry vir 'n littelosmaker? Kyk na 'n tydskrif of 'n koerant of selfs net om jou. Wat lees jy in opskrifte of wat sien jy om jou. Voorbeelde as jy om jou kyk:'n tent, 'n dier, 'n bang broer, 'n donker nag... So kan jy enige iets om jou gebruik. Of self snaakse prentjies of fotos.

Wat kan jy hieruit skryf? Lees heel onder aan die inskrywing 'n vinnige littelosmaker wat ek jare terug geskryf het net as 'n idee. Petro en die tent gedaante. (dit is 'n onversorgde storie, so dit is baie rou!)

Die kind se littelosmaker kan jul dan nasien, styl en spelfoute reg maak. Die storie verkort, of 'n nuwe storie uit die konsep ontwikkel.

Maar wat as jy iets beter wil beplan? Dan gebruik jy 'n plek, karakter en storiekaart (ook genoem 'n storie geraamte!

Wat is 'n plekkaart? Dit is waar jou storie afspeel. Waar is die plek, enige geskiedkundige landmerke, watter seisoen is dit, wat wil jy vir iemand vertel oor die plek ens...

Wat is 'n karakterkaart? Dit is wie jou karakters is. Hoe lyk hulle, wat trek hul aan, het hul enige spesifieke maniere of trekke, praat hulle op 'n spesifieke manier ens...

Wat is 'n storiekaart? Dit is wat jy wil hê in jou storie moet gebeur. Hoe begin jou storie (bekendstelling van die karakter en plek), wat wil jy in die middelvan die storie vir jou leser vertel (is daar 'n probleem wat opgelos moet word? Is daar struweling met 'n maat?) en hoe gaan die storie eindig (hoe het jou karakter sy doelwit of probleem opgelos/bereik)?

Die leser van die storie moet in hul kop 'n beeld kan skep soos hul die storie lees.

Onthou geskrewe taal is nie dieselfde as gesproke taal nie. Hierdie sal ingeoefen moet word. As jy ernstig daaroor is om jou kind se Skryfstyl (of jou eie) op te knap dan beveel ek Janie Oosthuisen (bekroonde SA skrywer en vertaler) se kursus, Slyp jou skryfstyl aan. Dit is van ontskatbare ware. Daar is baie selfdoentake en alles word volledig behandel. Stuur 'n e-pos aan Janie@skryfgeheime.co.za vir volledige inligting.

Ek glo hierdie is 'n goeie vertrekpunt om mee te begin. Laat weet my as jul nog enige idees of hulp nodig het. Vat dit maar rustig, as ons te veel reëls ens op kinders gaan afdruk gaan hul nie wil skryf. Maak dit prettig en laat hul skryf van dinge waarvan hul hou!

Lekker skryf!

Groete

Maryna

Saturday 13 February 2016

Formele skryf program (Engels) - IEW

Ek het 'n geruime tyd terug al die IEW (Institute for Excellence in Writing) se SWI (Student Writing Intensive) level b program gekoop.

Ek was bang om dit te gebruik. Ek was bang dit is bo my kinders se vlak en dat ek nie gaan weet waar om te vat en waar om te los nie. 

Die waarheid is eintlik dat ek totaal my kinders onderskat het.

'n Paar weke gelede het ek alles bymekaar gekry en vir die kinders elkeen hul stel uitgedruk. Ons het begin deur die video les te kyk waar Andrew Pudewa presies stap vir stap verduidelik wat die kinders moet doen. Dit is asof hul saam met hom in die klas sit.

Tot my verbasing het die kinders sommer dadelik gesnap en dadelik weg gespring met hul werkstukke.

Die eerste les storie doen Mnr Pudewa met hul. Daarna is daar twee addisionele storie stukke wat die ouer met die kind moet doen.

Die lesse word begin deur te leer van kernwoorde wat hul uit die stuk haal. Daarna moet hul kan terug vertel uit hul kernwoorde presies waaroor die stuk gegaan het. Woorde kan geskuif en vervang word, solank die storie of feite dieselfde boodskap oordra. Daarna word twee-twee sinne met mekaar verbind deur 'n 'dress-up' woord. Die kinders skryf dan hul eerste konsep storie. Die volgende dag hersien ons alle foute en skuif woorde rond en dan tik hul dit oor. Die keuse is daar om dit netjies oor te skryf, maar die kinders het gevra om die finale een uit te tik.

Met elke nuwe video les word daar nuwe 'dress-ups' bekend gestel. Hul leer ook meer oor die skryf proses en hoe hul kan verbeter.

Die program beveel aan dat jy ook die TWSS (Teaching Writing Structure and Style) dvd's saam gebruik om die ouer te help met die leer van die hele skryf proses. Ek het die DVD's MAAR dit is moontlik om die SWI lesse te doen sonder die TWSS. Ek persoonlik sien dit as groot waarde, maar dit hang van ouer tot ouer se behoefte af.

In ons persoonlike ervaring dink ek dit is 'n uitstekende program. Die kinders verbaas my elke dag meer en meer. Ons werk elke dag aan die program, party dae bietjie langer as ander. Ons rek 'n les uit oor ongeveer drie tot vier dae.

Wat vir my opvallend is, is dat die kinders altyd gretig is om dit te doen. Ek hoef nie eens te vra nie. Die video aanbieding is baie snaaks, wat dit natuurlik prettig maak. Die kinders dink werklik en verbreed hul woordeskat ongelooflik uit. Dit help ook met begrip. Ek moet net bynoem die speltoetser is nie opgestel op ons rekenaars nie, so hul moet self die woorde kan spel. Ons maak egter nie 'n hele spel les hieruit nie, dit kom apart. 

Ek is baie trots oor wat my kinders tot dusver vermag het met die progam.

SWI kom in drie vlakke. A, B en C. Sien asb hul webblad vir meer besonderhede en voorbeelde. Dit kan aangekoop word by IEW direk van oorsee of deur Oikos Ministries hier in Suid Afrika.



Groete

Maryna

Thursday 4 February 2016

Ons eerste maand 2016

Sjoe, en so is Januarie maand ook reeds verby. Wat 'n ongelooflike maand was dit nie gewees nie.

Ek moet eerlik terug kyk en sê hierdie was moontlik een van ons beste maande nog ooit gewees. Alles het net reg verloop. Kinders leer soveel meer, nuwe dinge is bekend gestel en hul het totaal en al my verwagtinge oortref.

Ons het begin werk aan ons nuwe Wetenskap studie - The Elements van Ellen McHenry (Basement workshop). Dit is 'n inleiding tot chemie en 'n bekendstelling aan die periodieke tabel ens. Ek sal 'n meer volledige skrywe nog hieroor plaas. Al wat ek net gou daaroor kan sê is wow en al te lekker!

Ons het ook uiteindelik begin met IEW (Institute for Excellene in Writing) se Student Writing Intensive level B skryf program. Ek het dit lank uitgestel en is so bly ons het uiteindelik met dit begin. Ek is in my noppies en die kinders verbaas my elke dag net meer en meer. Ek sal ook 'n meer volledige skrywe hieroor plaas.

Ons is geneig om soms ons kinders te onderskat met werk. Ek is self skuldig daaraan. As 'n mens nie gaan probeer en iets nuuts bekend stel nie, sal hul nie groei en verder ontwikkel nie.

Ek sien uit na die res van die jaar en alles wat ons nuut gaan ontdek

Groete

Maryna

Tuesday 26 January 2016

Sien die potensiaal!

Met die onlangse gesprek in die Tuisonderwys yahoo forum oor kinders wat reeds klaar is met hul skoling, het ek gedink om iets met julle te deel.


Julle weet ek het twee kinders, maar baie weet moontlik nie dat ek ook twee stiefseuns het. Hul is woonagtig by hul ma in Pretoria.

Albei het begin Tuisonderwys in laerskool (dink van graad 4/5 af). Hul ma het hul ingeskryf by 'n formele kurrikulum verskaffer en daar was hul vir baie jare. Die oudste een later in Graad 11 oorgegaan na 'n baie bekende kurrikulum verskaffer en die ander seun toe Graad 10. Dinge het so verloop dat daar oneindige probleme met die verskaffer was, opdragte konsuis nooit ontvang ens. Die oudste het op die einde van die dag Graad 12 gedruip. Hy was reeds baie ouer aangesien hy alreeds tevore ander grade nie geslaag het nie.

Hy het later in verlede jaar (2015) by 'n FET kollege ingeskryf en daar leer hy nou. (Na hy net nie geweet het wat om met sy lewe te doen nie.) (Hy is tans 21)

Die jonger seun (word binnekort 18) het heel jaar verlede jaar (2015) goed gevaar en toe skielik met eksamen alles gedruip, dus nie die jaar gemaak. Hy het egter ook hierdie jaar ingeskryf by dieselfde FET kollege deur wie sy broer leer.

Met die laaste kuier vorige kersfees, het albei seuns vir ons vertel hoe min hul van Tuisonderwys gehou het en dat hul dit NOOIT vir enige iemand sal aanbeveel nie.

Ek het amper van my stoel afgeval. Ek kon nie my ore glo nie. My twee jonger kinders is gek daaroor en floreer en leer ontsaglik baie.

Nou wat is my punt nou eintlik hier.

As jy nuut is, dink mooi voor jul net by 'n plek inskryf omdat dit 'n groot naam het met al die sogenaamde 'bells and whistles'. Dinge is nie altyd soos dit voorkom nie. Doen jou huiswerk. Daar is ander alternatiewe.

Of Tuisonderwys 'n sukses is of nie, het alles te doen met die ouer se betrokkenheid. As jy nie jou kind gaan help en hul leer en die proses saam hul deur gaan nie, gaan jou kind probleme ondervind. Hy/sy gaan dit moontlik haat en natuurlik sukkel.

Ek gesels nou die dag met 'n Tuisonderwys moeder wat vir my vertel sy het nie tyd om vir haar kind goed te doen nie. Ek kon nie help om te wonder  nou hoe op des aarde doen hul dan Tuisonderwys? Nou kyk, in alle eerlikheid, as jy wil Tuisonderwys maak jy eenvoudig tyd. Dit is 'n ongelooflike voorreg om dit te kan doen.

Sien jou kind se potensiaal raak en help hul om hul passie te ontwikkel, dit alleen gaan baie deure vir jou kind oopmaak.

Ek hoor graag van jul en jul opinies hieroor.

Groete

Maryna

Friday 22 January 2016

Knip en plak - Noag se ark vir kleuters

Indien jul besig is om van Noag en die Ark te leer, is hier 'n eenvoudige knip en plak projek wat kleuters kan doen.



Dit is oorspronklik saamgestel deur Ellen McHenry van die Basement Workshop. Ek het dit kortliks vertaal met toestemming.

Laai dit HIER af.


Groete

Maryna

Saturday 16 January 2016

Organiese Molekule Kaartspeletjie

Die Organiese Molekule Kaartspeletjie is oorspronklik saamgestel deur Ellen McHenry van die Basement Workshop. Met toestemming het ek dit in Afrikaans vertaal.




Doel van die speletjie
Om die konsep te versterk van hoe atome kombineer met koolstof om organiese molekules te maak, met spesiale aandag aan hoeveel verbindings elke tipe atoom kan maak (koolstof kan vier maak, waterstof net een, ens)

Ouderdoms groep
9 tot 14

Beskrywing van speletjie:
Individuele kaarte is gemerk met die afkortings vir die elemente C, H. O, Cl, N, Br. Elke kaart wys ook hoeveel bindings die atoom kan maak. Spelers sit hul kaarte uit met hul speelbeurt om 'n groot organiese molekule te vorm. So probeer hul om ontslae te raak van al die kaarte in hul hand.

Tyd benodig:
Sommige speletjies is vinnig verby, in net 5-10 minute. Maar die meeste speletjies neem langer, ongeveer 20 minute. Spelers moet aangemoedig word om die speletjie 'n paar keer te speel, die uitkoms van elke spel kan anders wees (soos die molekules gevorm).

Wat jy benodig:
Afskrifte van die patroon bladsye.

Laai die speletjie HIER af. 

Hierdie speletjie kan deel uitmaak as kinders besig is om Chemie en die Periodieke Tabel te leer.

Lekker speel.

Groete

Maryna

Friday 15 January 2016

Boekloer: Kominpas met Afrikaans

Kominpas met Afrikaans is werklik 'n handige boek.

Dit is saamgestel deur Onderwysers vir Graad 4 tot 7. Daar is 'n huistaal en tweedetaal uitgawe van die boek beskikbaar.

Hierdie is een van daai wat ek glo, 'n moet boek. Die boek dek 'n goeie basis van taalwerk. 

Dit dek onder taalleer; alfabetisering, woordeboekgebruik, klankleer, spelling, hoofletters en lettergrepe, woordvorming, woordsoorte, sinsleer, betekenisleer, woordeskat en afkortings.

Dit dek ook leesvaardigheid, letterkunde - prosa en poësie.

Onder is voorbeelde uit die boek.

Leestekens

Intensiewe vorme

Lydende en Bedrywende vorm
 Die leer van Afrikaanse taalwerk toegepas word uit leesstukke. Jy kan self van die Bybel gebruik maak. Ek stel voor om altyd eers een konsep op 'n slag bekend te stel en later aan te gaan sodra die kinders dit volkome verstaan. Maak seker hul hou aan hersien.

Hier is kaartjies wat ek gemaak het vir woordsoorte, opgesom in 'n neutedop.

Jy kan Kominpas aankoop deur Takelot.com.

Groete

Maryna

Wednesday 13 January 2016

Boekloer: Pharos AWS

Ek het onlangs die nuwe Pharos: Afrikaanse Woordelys en Spelreëls aangeskaf. (10de Omvattende herbewerkte uitgawe)


As jy 'n boek soek wat vir jou die Afrikaanse Spelreëls goed uiteensit is die AWS beslis die boek om te hê. Dit dek natuurlik nie net die spelreëls nie maar ook 'n goed saamgestelde woordelys, afkoringslys, buitelandse geografiese name met afleidings en nog meer.

Onder is 'n paar voorbeelde uit die boek van wat om te verwag.


Spelreëls
Spelreëls
Woordelys

Afkortings
Geografiese name
Wanneer jul die spelreëls en woordsoorte aan die kinders leer, pas dit op skryfstukke toe. Moet nie dat hul net tonne bladsye hier invul en daar invul nie. Gebruik 'n leesstuk en laat hul dit redigeer. Dus gaan jy die tyd moet neem om foute in 'n stuk te plaas sodat hul dit reg maak. Stel elke nuwe reël een vir een bekend en laat hul dit beoefen tot hul vertroud is daarmee voor jy na die volgende een gaan. Onthou om steeds die ou reëls wat reeds bekendgestel was te hersien. 

Ek sal met verloop van tyd kort opsommings kaartjies maak van die spelreëls soos wat ek vir die woordsoorte gemaak het.

Ek hoop die AWS sal van nut wees.

Groete

Maryna


Tuesday 12 January 2016

Is jou Geskiedenis lesse soos kits koffie?

Is jou Geskiedenis lesse soos 'n koppie suiwer kits koffie? Sonder melk, suiker en warm water?

Ek is seker julle dink ek is nou die klits kwyt. Dink daaraan... volg jy lesse uit 'n boek wat almal aan die slaap wil maak (suiwer kits koffie). Of is jul lesse vol avontuur en ontdekking, prettig en 'n lus vir meer (koffie,melk, suiker en warm water).

Kyk hierdie video van Diana Waring, dit sal ons twee keer laat dink.



Lekker leer...en werk aan daai opwinding ;)

Groete 

Maryna

Saturday 9 January 2016

Manlik en Vroulik blokraaisel

Ek het blokraaisels gemaak wat gebruik kan word om kinders se kennis te toets met manlike en vroulike geslagte.

Daar is twee blokraaisels en elkeen het 'n oplossing op 'n aparte bladsy.

Laai dit HIER af.

Laat weet my gerus wat julle daarvan dink. Lekker leer.

Groete

Maryna

Friday 8 January 2016

Taalwerk - woordsoorte

Woordsoorte is nie altyd die maklikste ding om te onthou as dit by taalwerk kom nie. 

Ek het kaartjies saamgestel wat elke woordsoort in 'n neutedop opsom.
Kaartjie voor
Die kaartjies kan gebruik word om kinders se geheue te verfris. Dit kan ook een vir een aan die kind gegee word soos die betrokke woordsoort behandel word. 

Kaartjie agter
Druk dit uit en lamineer dit, dit sal vir jare hou. Hou dit in 'n klein plastiekhouer of druk 'n gaatjie aan die kant deur en steek 'n sleutelringetjie daardeur.

Daar is twee opsies wat jy kan aflaai en uitdruk.
Opsie een:
Die kaartjies is twee op 'n bladsy, dit is die voorkant bo en die agterkant reg onder die betrokke woordsoort. Soos in die foto hieronder. Laai dit HIER af.
Opsie twee:
Die kaartjies is vier op 'n bladsy met die voorkant per bladsy en die opvolgende bladsy is die agterkant. Soos in die foto hieronder. Jy druk dit een vir een uit (woordsoort opskrif met afkorting) en draai die bladsy om, vir die verduideliking (die onderstebo bladsy). BAIE BELANGRIK - druk die bladsye in Letter formaat uit en nie A4 nie. (Ek het eers later agtergekom die formaat was verkeerd en wou nie weer alles skuif en maak pas, in Letter pas die agterkant presies in die blokkies voor in.Laai dit HIER af.
Ek vertrou julle sal nut kan vind met die.

Vir nog taal aflaai bronne (verskeie ouderdomme) sien:
Idioresies speletjie - Idiome bordspel
Sinonieme
Antonieme
Meervoud soldate
Boekloer: Maak spelling maklik
Klank vaslegging met flitskaarte


Groete

Maryna