Monday 28 October 2013

Tuisonderwys vs. Tuisonderrig



In 2012 toe Tuisonderwys in Afrikaans se Facebook groep geskep was, het ek oorspronklik die naam as Tuisonderrig in Afrikaans gebruik. Daar was uitgewys dat die term verkeerd gebruik word en dat dit Tuisonderwys moet wees. 

Ek het na die ontvangs van onderstaande skrywe die naam verander na Tuisonderwys in Afrikaans. 

Ek haal die skrywe aan van Leendert van Oostrum van die Pestalozzi trust aangaande hierdie aspek. Ek is seker ons sal almal nou die werklike verskil verstaan.

 " Die probleem met "tuisonderrig" in plaas van "tuisonderwys"
Ek merk dat die term "tuisonderrig" feitlik deurgaans hier gebruik word, met die uitsondering van Marelize, wat praat van "tuisopvoeding".

Ek weet dat Naspers se koerante 'n redaksionele beleid het om die woord "tuisonderrig" te gebruik. Dit is egter verkeerd.

Op 'n pedantiese vlak kan mens redeneer: Die term "onderrig" is 'n meer beperkte begrip as "onderwys", en verwys meesal slegs na die "lesgee"-aspek van onderwys. Dit sluit gewoonlik nie aspekte soos kurrikulering, evaluering en die bestuur van die onderwys in nie. Wanneer tuisskolers dus self praat van "tuisonderrig" in plaas van "tuisonderwys", plaas ons self beperkinge op wat ons voorgee om met ons kinders te doen.

Die het op sy beurt regsimplikasies. 'n Kwaadwillige advokaat sou kon argumenteer dat mense wat slegs "onderrig" doen, self erken dat hulle nie geskik is om die "belangriker" onderwysfunksies vir hul kinders te verrig nie, en daarom moet die Staat daardie funksies uitvoer - kurrikulum voorskryf, ons kinders evalueer, voorskryf watter metodes ons moet volg, ensovoorts.

In teenstelling hiermee gebruik die SA Skolewet uitdruklik die term "onderwys" (Eng: "education" in Art 51 wat handel oor tuisonderwys. Die term "onderrig" word nooit in ons wette vir tuisonderwys gebruik nie.

In Engelssprekende lande word feitlik deurgaans van "Home Education" ("Tuisonderwys" of "Tuisopvoeding") gepraat. Die term "Home Instruction" word feitlik nooit gebruik nie, en dan slegs in ouer geskrifte'

In Nederland word die term "Tuisonderwijs" gebruik, en nie "tuisonderricht" nie.

Die Duitsers praat van "Bildung zu Hause" ("Tuisopvoeding"). "Schulunterricht zu Hause" is soms in die verlede gebruik, maar dit was vir 'n baie spesifieke doel in 'n regsituasie wat nie in Suid-Afrika geld nie.

Dit is dus duidelik dat daar internasionaal en in Suid-Afrika feitlik 100% konsensus is onder tuisskolers, tuisonderwysnavorsers, beleidmakers, wetgewers en die media dat hulle die term "tuisonderwys" sal gebruik.

Slegs in Suid-Afrika is daar een mediagroep, Naspers, wat tuisonderwys NIE goedgesind is nie, wat uit pas is en die term "tuisonderrig" gebruik.

Ek wil daarvoor pleit dat tuisskolers daarop bedag sal wees om nie in die lang termyn om hul onderwysregte te ondergrawe deur die beperkende term "onderrig" te gebruik vir wat hulle vir hul kinders doen nie."

Ek is seker ons almal verstaan nou die verskil en sal dit korrek gebruik.

Groete



Maryna

0 comments:

Post a Comment