Monday 13 January 2014

2014 Kurrikulum

Baie mense vra altyd vir my wat ons gebruik. Vandag deel ek so vinnig hoe ons plan lyk.

Afrikaans: sal ons 'n kombinasie van boeke gebruik. Onder ander die Clever werkkaarte en ook 'n boek Maak Spelling Maklik (ontvang dit binnekort). Saam met dit lees ons uit verskillende boeke. Ons probeer ons Taalwerk prettig maak deur speletjies en woordbou met letterkaarte.

Engels: Ons het verlede jaar begin met LLATL (Learning Language Arts through Literature). Ons is nog besig met die rooi boek. Ons het nie baie streng fokus op Engels geplaas verlede jaar nie, net begin voete nat maak. Hierdie jaar gaan ons egter hard werk. LLATL word in Suid-Afrika versprei deur Oikos Family Ministries. Vir die eerste twee boeke in die reeks, die blou en rooi moet die boeke deur Oikos aangekoop word aangesien daar ander leesboekies ingesluit is in die pakket. Daarna kan die e-boeke indien jy dit so verkies aankoop deur Common Sense Press. Daar is addisionele leesboeke wat nogsteeds ekstra by gekoop moet word.

Wiskunde: MUS (Math U See) is ons gunstelling Wiskunde program en ons gaan voortgaan met dit tot die laaste jaar. Hierdie jaar gaan ons begin met die Gamma boek. Ons het verlede jaar die groot stap geneem om hierdie buitelandse program te gebruik. Ek was baie onseker oor die Engelse faktor, maar ek was verbaas om te sien hoe baie my kinders die program geniet. Ons het wel 'n paar 'tree' terug gegee in Wiskunde sodat ons eers hulle manier van werk kon leer en vertroud raak met die Engels. Ons kyk saam die DVD, ek verduidelik vir die kinders en hulle werk dan in die werkboek. Ek is baie beindruk met MUS.



Geskiedenis - Ek het baie lank deur baie voorgestelde Geskiedenis boeke en programme gekyk en het werklik moeilik besluit wat om te gebruik. Ek het toe besluit om SOTW (Story of the World) te probeer en kyk of my kinders daarvan hou. My grootste vrees met die boek is omdat dit natuurlik in Engels is. Ek het verlede week die inleiding gelees vir die kinders om te verduidelik wat Geskiedenis is en 'n kykie na Argeologie. Hulle het gelyk of hulle daarvan hou. Ek het weer daarna Hoofstuk een vir hulle gelees oor die Nomades. Soos 'n mens van die naam van die boek kan aflei, word dit vertel in 'n storie formaat. Die kinders is baie opgewonde daaroor en ek voel ook baie meer gerus gestel. Ons gaan dus amptelik met SOTW werk en sien hoe dit gaan. Hou die spasie dop vir lekker aktiwiteite. Ek het die boeke aangekoop in e-boek formaat deur Peace Hill Press.

Geografie - Ons gaan 'n groot verskeidenheid boeke gebruik. Onder ander Geography Through Art wat 'n kunstige boek is, teken en maak. Ek het dit in e-formaat gekoop deur Currclick. Ons gaan moontlik ook gedeeltes van Expedition Earth deur Confessions of a Homeschooler gebruik. Moontlik ook 'n paar eenheid studies van Amanda Bennett's unit studies. Ons is ook tans besig om te leer van planete en gebruik die boek My Reisgids tot die Sonnestelsel en daarbuite.




Bybel - Learning the World through Life book 1 en 2. Hierdie is 'n oulike boek om Bybel teksverse te memoriseer. Alhoewel die boek in Engels is, gaan ons dit in Afrikaans gebruik. Die kinders leer gedeeltes van 'n teksvers deur te teken en 'n prent te koppel aan 'n kernvers. Hierdie boek kan gekoop word deur Oikos. Op Oikos se webblad kan julle 'n kort  video kyk van waaroor dit gaan.
 
Ons Bybels wat ons saam met die gaan gebruik is Bybel@Kinders. Dit is 'n pragtige Bybel geskryf sodat jong kinders die Woord van God kan verstaan. Ek maak ook gebruik van 'n 1933/53 vertaling.



 

Kuns: Alhoewel ons baie kuns aktiwiteite doen, gaan ons ook 'n meer formele kuns klas doen. Ek gaan die boek Drawing with Children as een van my verwysings gebruik. Kuns is ongelooflik belangrik vir my en my kinders geniet dit geweldig baie. 



 
Wetenskap: Sjoe dit is nou 'n lekker een. Baie mense sidder as hulle aan Wetenskap dink. Ons spring behoorlik op en af. Daar is baie boeke waaruit ons werk. Een van hulle wat ek uit voorlees en meer ontdek is Geheimenisse van die Natuur en die Wetenskap. Ons het 'n magdom ander boeke waaruit ons gaan voorlees. Ons gaan ook buite natuurstudie doen. Dan ook 'n lekker prettige studie doen van die menslike liggaam.

Dit is alles so in 'n neutedop. Dit gaan 'n wonderlike jaar wees met nuwe uitdagings en nuwe projekte. Ek sien uit daarna om alles nog met julle te deel. Hou maar die blog dop, ek sal nog meer besonderhede oor die boeke plaas.

Volg gerus my blog - leer en ontdek saam met ons. 

Groete

Maryna



0 comments:

Post a Comment