Saturday, 20 February 2016

Hoe om 'n opstel/storie te skryf

Opstelle hoef nie hande in die hare of trane op 'n bladsy te wees nie. Daar is baie eenvoudige maniere hoe om dit te doen.

Die basiese wegtrek plek vir jongerige kinders, (Graad 1 tot 3) is daar op Leer Afrikaans 123 'n eenvoudige boekie wat jy kan aflaai. Dit gee vir jou 'n prentjie en 'n basiese uitleg van wat jy in jou storietjie wil vertel. Laai dit HIER af.

Meer in diepte is om te begin eerstens met 'n littlelosmaker. 'n Littelosmaker is iets wat jy skryf oor enige iets wat in jou kop inkom. Geen beplanning, net skryf dat die biessies bewe of natuurlik tik as jy nie graag met die hand skryf. Dit is goeie opwarming en perfek om die ys te breek. Onthou 'n littelosmaker is 'n vinnige storie, alles vloei net vinnig. Al is dit 'n klomp bog, skryf net!

Nou waar kan jy idees kry vir 'n littelosmaker? Kyk na 'n tydskrif of 'n koerant of selfs net om jou. Wat lees jy in opskrifte of wat sien jy om jou. Voorbeelde as jy om jou kyk:'n tent, 'n dier, 'n bang broer, 'n donker nag... So kan jy enige iets om jou gebruik. Of self snaakse prentjies of fotos.

Wat kan jy hieruit skryf? Lees heel onder aan die inskrywing 'n vinnige littelosmaker wat ek jare terug geskryf het net as 'n idee. Petro en die tent gedaante. (dit is 'n onversorgde storie, so dit is baie rou!)

Die kind se littelosmaker kan jul dan nasien, styl en spelfoute reg maak. Die storie verkort, of 'n nuwe storie uit die konsep ontwikkel.

Maar wat as jy iets beter wil beplan? Dan gebruik jy 'n plek, karakter en storiekaart (ook genoem 'n storie geraamte!

Wat is 'n plekkaart? Dit is waar jou storie afspeel. Waar is die plek, enige geskiedkundige landmerke, watter seisoen is dit, wat wil jy vir iemand vertel oor die plek ens...

Wat is 'n karakterkaart? Dit is wie jou karakters is. Hoe lyk hulle, wat trek hul aan, het hul enige spesifieke maniere of trekke, praat hulle op 'n spesifieke manier ens...

Wat is 'n storiekaart? Dit is wat jy wil hê in jou storie moet gebeur. Hoe begin jou storie (bekendstelling van die karakter en plek), wat wil jy in die middelvan die storie vir jou leser vertel (is daar 'n probleem wat opgelos moet word? Is daar struweling met 'n maat?) en hoe gaan die storie eindig (hoe het jou karakter sy doelwit of probleem opgelos/bereik)?

Die leser van die storie moet in hul kop 'n beeld kan skep soos hul die storie lees.

Onthou geskrewe taal is nie dieselfde as gesproke taal nie. Hierdie sal ingeoefen moet word. As jy ernstig daaroor is om jou kind se Skryfstyl (of jou eie) op te knap dan beveel ek Janie Oosthuisen (bekroonde SA skrywer en vertaler) se kursus, Slyp jou skryfstyl aan. Dit is van ontskatbare ware. Daar is baie selfdoentake en alles word volledig behandel. Stuur 'n e-pos aan Janie@skryfgeheime.co.za vir volledige inligting.

Ek glo hierdie is 'n goeie vertrekpunt om mee te begin. Laat weet my as jul nog enige idees of hulp nodig het. Vat dit maar rustig, as ons te veel reëls ens op kinders gaan afdruk gaan hul nie wil skryf. Maak dit prettig en laat hul skryf van dinge waarvan hul hou!

Hier is my littelosmaker vir die wat lus het om dit te lees:


Petro en die tent gedaante

Petro se oë vlieg oop. Met ‘n knop in haar keel kyk sy rond. Sy gryp na haar kussing en sit dit oor haar gesig.  Haar hart klop vinniger en harder.  Sy wonder of sy moet waag om te kyk wat daar buite die tent is.
Dit is pikdonker buite.  Sy loer onderdeur die kussing.  Die skaduwee van die straatlig op die boom takke lyk soos lang maer gedaantes teen die seil.  Sy voel hoe die sweet teen haar voorkop vorm en afrol.
Gert snork meteens hardop. Petro wip soos sy skrik en druk die kussing oor sy mond.  “Sssjjtt,” fluister sy benoud.  Gert klap haar hand weg en spring op en kyk verbasend rond.
“Aauuwww” kom ‘n harde geluid van buite die tent.  Petro en Gert kyk gespanne na mekaar en gryp mekaar om die lyf.  “Wat was dit sus?” vra Gert behoud.  Petro trek haar skouers op en wys hy moet stil wees.
“Gaan kyk.” sê Gert en stoot Petro na die tent se deur toe. 
“Vergeet dit! Ek gaan nie kyk nie.  Wat as dit ‘n boef is, of ‘n monster?” vra sy vir Gert en val agteroor. Sy duik onder haar kombers in en trek dit op tot onder haar neus.
Sieklik verskyn ‘n swart gedaante teen die kant van die tent.  Dit beweeg. Dit loop van links na regs.  Dit skuur-skuur teen die hoeke.
Petro en Gert se oё volg die figuur heen en weer. Stamp-stamp en krap-krap hoor hul dit teen die tent. 
’n Halfuur gaan verby, dit is doodstil.  Die skaduwee is weg.  Petro besluit sy gaan kyk of dit veilig is om eerder terug te gaan in die huis in.  Stadig maak sy die zip van die tent se deur oop.  Sy lig die seil op en met ‘n groot lawaai en geskree spring iets swart die tent binne.
Petro skree.  Gert skree.  “Paaaaa... kom help”  Die tent rol rond met ‘n groot geskarrel en baklei daar binne.
Die kombuis lig gaan aan en pa sukkel om die deur oop te kry.  Hy hardloop met een voet in ‘n pantoffel en ’n besem in die hand na redding.
“Petro, Gert?” roep pa hulle. 
“Pappa dit is vreeslik, die ding... die ding is daar binne,” huil Petro en wys met haar vinger na die tent se rigting.
Pa stap stadig nader. Hy stamp-stamp met die besem aan die kant van die tent.  Niks gebeur.  Hy buk af en maak die seil deur versigtig oop.  Hy loer binne.  Pa skree skielik hardop en val agteroor.
Kerneels kom uit gespring en hardloop in Petro se rigting.  Sy tel die kat op en knoes hom saggies.  Prrrr prrrr, vryf Kerneels hom tevrede teen Petro se wang. Petro skater van die lag.
“Pa kan maar gaan slaap.  Dit was Kerneels wat by ons wou kom slaap.  Skuus pa!” sê Petro verleë.
Pa staan op en skud die gras uit sy hare.  Kwaai kyk hy Kerneels aan en lag vir Petro.  “Kom julle?” vra hy met ‘n lag in sy stem.
“Nooit, nooit ooit weer kamp ek saam met jou nie!” brom Gert kwaai en loop na sy kamer en klap die deur agter hom toe.

Hoop jul het die storietjie geniet.

Groete

Maryna

0 comments:

Post a Comment