Tuesday 11 August 2015

Knutsel met Elektriese stroombane

In my skooldae het ons formeel van stroombane geleer. Die juffrou het die demonstrasie gedoen en ons moes die diagramme teken en al die betekenisse skryf en leer. Klink opwindend nê! Nee nie regtig nie.

Wat as...



Wat as jy vir jou kind komponente kan saamstel wat tot die jongste peuter kan gebruik om te leer hoe elektriese stroombane werk. Sonder dat jy enige insette gee, gee jy jou kind die geleentheid om te beproef en te toets hoe 'n gloeilampie werk en ook 'n skakelaar ens.



Wat jy alles benodig:
- Houtblokkies
- Spykers (geleibaar)
- Soldeerbout
- Krokodil knippies (rooi en swart)
- Gom geweer
- Verskeie batterye 
- Battery houers
- Gloeilamp houers
- Gloeilampies (die wat jy in 'n flits gebruik)
- Gonsers (buzzers)
- Skakelaars
- Enige ander komponente - opsioneel (waaiertjies, verskeie skakelaars, motortjies, ratte wat beweeg ens)

Verskeie komponente en benodighede
Maak so:
Houtblokkies:
Sny houtblokkies groot genoeg om afsonderlike komponente daarop vas te kan sit. (Ek het afval hout stukkies gebruik.) Jy kan 'n handsaag of elektriese saag hiervoor gebruik. Skuur die kante sodat daar geen skerp dele is en om van enige splinters ontslae te raak.

Sit komponente op die blokkie:
Battery houers: Jy kan die battery houer op die houtblok vas skroef. Die enkel battery houers het slegs een gaatjie, ek het dus net een skroef gebruik. Die vier battery houers het vier gaatjies, twee-twee bymekaar, ek het slegs 2 skroewe gebruik, een aan elke kant. Alternatief kan jy die battery houer met 'n gom geweer aan die houtblok vas gom. Slaan twee spykers 'n entjie uit mekaar in die houtblok in. Ek het nuwe plafon spykers gebruik. (My eerste poging met ou gewone spykers was nie suksesvol.) Draai die oop draadjie gedeelte om die spyker en soldeer die draadjie aan die spyker vas. Maak seker daar is behoorlike konneksie teen die spyker om te verseker dat die krag daardeur kan vloei. Plaas nou gom waar die draadjie op die houtblok lê om te verseker alles bly mooi in plek. (sien foto hieronder)



Ander komponente: Alle komponente sal op die blokkie gesit word met of 'n skroef of teen die blokkie vas gegom word. Dit sal presies dan verder vasgesit word soos bo verduidelik. Neem kennis die gloeilamp houers wat ek het is wat ek in die hande kon kry, daar is ander wat slegs met 'n skroefie vas gesit kan word aan die blokkie. Indien jy van die soort het wat ons het, sit dit vas met 'n skroef en slaan die spyker teen die metaal plaat vas sodat daar 'n konneksie kan wees.

Die kind kan met die krokodil knippe die komponente met mekaar verbind. Die doel van die aktiwiteit is om NIE (die ouer) die stroombane vir die kind te bind nie. Dit is slegs jou verantwoordelikheid om alle komponente saam te stel.



Die knutsel aktiwiteite met die stroombane kan kinders van enige ouderdom doen, selfs kleintjies. Die kinders geniet dit baie. Moet nie sommer inspring en met jou eie hande wys nie, jy kan slegs met jou mond voorstelle maak. Laat hulle verskillende skakelaars probeer en ook waaiertjies aansit ens.

Neem kennis:
Gloeilampies: Maak seker wat die volt sterkte van jou gloeilampie is, moet nie meer as een battery wat 1.5V is op 'n gloeilampie sit wat ook slegs net 1.5V is nie, jy sal dit blaas. Indien jou gloeilampie 3.5V is, gebruik dan twee batterye ens.
Skakelaars: Indien jou skakelaar meer as een posisie het is dit belangrik om te onthou daar is altyd net een negatief op die skakelaar en die res is almal positief.

Ek het 'n multimeter (multitester) by my man gekry. Dit het my baie gehelp om te toets of al my komponente kontak het op die spykers. Dit is nie 'n moet item nie.

Wenk: Neem jou tyd met die aktiwiteit en ook om die komponente bymekaar te sit. Toets eers alle komponente voor jy dit vir jou kind gee om mee te werk. 

Neem dit verder: Indien jou kind vertroud is en voel hy/sy het genoeg dae met dit spandeer leer hulle hoe om stroombaan diagramme te maak. Laat hulle 'n spesifieke stroombaan bou en dit dan te teken. Verduidelik hoekom wat gebeur of hoekom nie. Leer vir hulle die simbole ens. 

'n Woord oor soldeer: Dit was my eerste keer dat ek self gesoldeer het. Dit neem geduld en oefening. Ek is tans in die proses om 'n kort Strokiesprentboek in Afrikaans te vertaal wat wys hoe om te soldeer. Ek sal dit plaas sodra ek klaar is.

Ek hoop julle geniet die aktiwiteit soveel soos wat ons dit geniet. Indien julle enige vrae het, vra gerus en deel julle ondervinding met dit.

In die volgende knutsel inskrywing gaan ek vir julle wys hoe om skribbel masjiene te maak. Dit is vet pret vir die kinders!

Groete

Maryna

3 comments:

Anonymous said...

Dit is so oulik! Ek sal beslis hierdie naweek ons hardeware winkel moet inval vir van hierdie goed. Ek dink as mens 'n klein tassie het waarin mens klein gloeilampies, houertjies, ens. kan sit, sal dit sommer lekker werk.

Jammer julle kan nie stelletjies maak en verkoop nie! Veral saam met 'n boekie wat verduidelik van stroombane, positief en negatief, ens. ;)

Maryna Moolman said...

Dankie vir die inloer Elize. Dit is n lekker aktiwiteit die ja.
Dankie vir die voorstel oor die stelletjies, ons is besig om aan iets te werk wat ek glo tot nut sal kan wees.

mariaan said...

Dankie vir die info.

Post a Comment