Monday, 24 March 2014

Waar is ons?

Ek het lank laas 'n plasing gemaak. Wou maar net laat weet dat ons nog hier is.

Ons familie is deur 'n traumatiese tyd en dinge begin nou weer na normaal terug keer.

Skole sluit Vrydag, maar ons neem reeds die week af, dalk ook volgende week. Ek sal die tyd gebruik om alles in orde te kry en die nodige beplanning te doen vir die komende weke.

Ek sal binnekort weer plasings maak. Julle kan uitsien na die laaste SOTW aktiwiteite wat ons gedoen het.

Groete

Maryna

Friday, 7 March 2014

Leer Bybel verse op 'n maklike manier

In ons huis word God betrek by elke deel van ons lewe. Dit is vir ons ongelooflik belangrik dat ons kinders moet weet wat van hulle verwag word en hoe om 'n Goddelike karakter te bou en dit toe te pas.

Om 'n verhouding met God te bou moet jy ook die Woord ken.


Ons gebruik tans 'n oulike reeks boeke Learning the Word for Life. Hierdie boeke kan as e-boeke aangekoop word van Bible Draw wat ook beter bekend staan as Picture Bible. Of jy kan die gedrukte boeke koop deur Oikos Ministries in Suid Afrika.

Die doel agter die boek is om vir 'n kind teksverse uit die Bybel te leer deur dit aan 'n prentjie te verbind. Jy kan vir jou kind eers die hele teks lees. Dan net die eerste gedeelte wat hulle kan koppel aan die eerste deel van die prentjie - soos dit uiteengesit word in die boek (sien foto hieronder). Elke dag doen hul net een deel en ook sy ooreenstemmende deel van die vers. Aan die einde van 'n week behoort die kind elke dag 'n stukkie by te geleer het en kan die hele vers aan jou oordra. Daar word dus een kerngedagte per week geleer wat uit meer as een opvolgende verse bestaan.

Die reeks bestaan uit drie boeke. Die opvolg hiervan is die Picture Bible wat in twee boeke beskikbaar is: Die Nuwe Testament en Die Ou Testament.
 
In die foto hieronder kan jy sien hoe elke deel opgebreek word. Aan die linkerkant wys die dele van die prent en ook die teks gedeelte onder dit. Aan die regterkant sien jy hoe die student se bladsy lyk. Ek het in potlood die Afrikaanse teksverse geskryf aangesien ons dit natuurlik in Afrikaans doen. Ons gebruik die 1933/53 vertaling van die Bybel.

Voorbeeld uit die ouergids

Die foto hieronder is uit die studente boek. Aan die linkerkant is daar 'n plek wat jy 'n 'gesprek' met God kan neerpen. Ons gebruik dit egter om die verse in Afrikaans te skryf.


Voorbeeld uit die studente boek

Hier is voorbeelde van hoe die kinders dit gedoen het. Ek moet ook bynoem dat ek ook 'n boek het en dit saam met hulle doen.

Voorbeelde uit Makayla se boek

Voorbeelde uit Matthew se boek



Die kinders geniet dit geweldig om die teksverse te leer en die prentjie te doen. Ja ma ook! Dit is belangrik dat ons nie net altyd vir ons kinders goed gee om te doen en verwag hulle moet net self voortgaan nie. Ons moet self toepas wat ons vir hulle leer en dit saam met hulle geniet.

Maak God deel van julle dag.

Groete

Maryna

Monday, 3 March 2014

Sport Aktiwiteite

Die kinders het verlede jaar begin met Figuurskaats, wat hul nogsteeds doen.

Hierdie komende naweek het hulle hul eerste amptelike graderings toetse.

Met hul groot liefde om vinnig op die ys te beweeg het hulle nou ook begin met Yshokkie. Matthew het amptelik besluit om deel te word van die DurbaKnights Ice Hockey Club. Makayla kan nog hierdie week 'n les neem en dan besluit of sy ook die hokkie meer ernstig gaan aandurf.


DurbaKnights is Durban se amptelike Yshokkie Klub. Vir tyd en wyl maak hul gebruik van Galleria in Amanzimtoti se ysskaatsbaan. Die Durban ysskaatsbaan is tans besig met 'n groot transformasie. Dit gaan 'n massiewe olimpiese grootte baan wees as dit klaar wees en ons sien baie uit daarna. (Dit is natuurlik ook baie nader vir ons om te ry)


Huidiglik maak die kinders van die Klub se toerusting gebruik. Indien hul meer gevorderd is sal ons vir hul hul eie toerusting aankoop. Yshokkie is nie vir bangbroeke nie. Dit is 'n baie vinnige kontaksport. Dit is 'n wonderlike spansport en is fantastiese vir kinders se selfvertroue en om uit hulle doppe uit te klim.


Ek sal in die toekoms nog plasings maak oor hul sport.

Groete

Maryna

Wednesday, 12 February 2014

Kinder Kreatiwiteit

My kinders geniet dit baie om goed te maak. Makayla sal stil verdwyn en besig wees om iets te skep. Matthew sal gewoonlik eerder teken.

Hier is 'n paar goedjies wat hulle onlangs gemaak het.

Makayla het hierdie stadtoneel gemaak uit 'n ou boks wat sy opgeknip het. Een deel is bo die ander geplak en geverf om dit 'n 3D aansig te gee.

Makayla se stadtoneel




Op die Tv program Art Attack het Makayla gesien hoe hulle 'n boks speletjie maak. Sy het muurtjies gemaak met koerant. Die koerant het sy opgeskeer en oornag in water laat lê. Die volgende oggend het ek die water vir haar uitgedruk en sy het die koerant verder in stukkies gemaak. Sy het die koerant met gom gemeng en die muurtjies gevorm. Dit vir 'n paar dae laat staan om droog te word en toe geverf. Die blou balletjie aan die regterkant in die middel beweeg tussen die muurtjies om by die gaatjie regs onder in die hoek uit te gaan.


Makayla se speletjie
Is dit 'n gaar eier op die stoel? Matthew het die nagemaakte eier gemaak met gom en verf. Hy het wit gom met verf gemeng en dit op 'n stuk plastiek gesit en dit 'n vorm gegee. Nadat dit heeltemal droog geword het, het hy die eiergeel op geverf. Die het hy ook op Art Attack gesien.


Matthew se nagemaakte kuns eier.
'n Nader kykie na die eier.


 Makayla het 'n boek by die biblioteek uitgeneem Die Sonskyndag Boek. Dit het allerhande kuns goedjies wat jy kan maak in. Hierdie was een van die items - 'n Sonvanger. Ons het nie al die benodighede gehad soos dit in die boek wys nie, maar sy het sommer haar eie weergawe daarvan gemaak.

Die boonste blink 'tou' het sy gemaak deur 'n stuk kombuisfoelie op te rol en te draai. Die blom het sy uit 'n papierbord gesny. Sy het kombuisfoelie in stukkies geskeur en opgerol om dit tekstuur te gee. Sy het die balletjies weer oopgerol en oor die papierbord getrek. Die binneste deel van die blom het sy ook foelie gebruik deur dit te rol en met kleefband vas geplak. Sy het die blomdele geverf en versierings opgeplak. Die toutjie onder het sy met kraletjies gemaak.

Makayla se Sonvanger
'n Naby kykie na die Sonvanger se blom.
Kinders hoef nooit niks te hê om te doen nie. Kry hul besig en laat hul kreatief raak.

Groete

Maryna

Geslote hoofstukke

Ons almal kom op 'n punt van ons lewens waar ons baie moeilike besluite moet neem. Dit is nie altyd ten goede van ander nie, maar dit moet geneem word.

Vandag na amper 2 jaar nadat ek die Facebook groep Tuisonderwys in Afrikaans geskep het, het ek dit gesluit. Dit is 'n hartseer dag vir my. Tuisonderwys in Afrikaans was spesiaal, dit was 'n plek waar uitsluitelik mense wat in Afrikaans Tuisonderwys ekstra raad en hulp kon verkry. 'n Plek waar hulle idees kon uitruil en Afrikaans as taal bevorder.

Die groep het in die tyd van sy bestaan baie sterk gegroei. Soos met enige iets in sosiale media was daar ongelukkig ook nie altyd goeie oomblikke nie. Die laaste maand was daar 'n skielike ontploffing in die hoeveelheid mense wat wil begin Tuisonderwys, wat natuurlik ook goed is.

Dink hieroor: Wat is mense se redes agter die besluit om te Tuisonderwys? Neem die mense die besluit as 'n werklike roeping van die Here? Wat het God in jou hart geplaas? Gaan jy Hom gehoorsaam? Gaan jy dat Hy jou die pad wys, of gaan jy na mense luister?

Mense wat nuut in Tuisonderwys is verwag soms ook dat diegene wat al lank Tuisonderwys hul hand moet neem en hulle stap vir stap deur die proses moet neem. Ongelukkig is die realitieit van Tuisonderwys 'n 'trail and error' reis. Ons wat al 'n geruime tyd Tuisonderwys, het werklik baie navorsing gedoen deur boeke te lees. Facebook kan 'n goeie hulpmiddel wees as jy dadelik net gou raad wil kry of ietsie wil deel. In werklikheid is dit ook oppervlakkig. Mense se opinies verskil baie. Dit is ook ongelukkig so dat dieselfde mense oor en oor vir raad vra en werklik nie daarna 'luister' nie. 

Tuisonderwys is 'n baie intieme leefstyl. Dit is baie tyd wat jy daarin belê om jou kinders te leer volgens hoe God wil hê hulle geleer moet word. Hulle moet 'n verhouding met die Here bou, hulle moet goeie karakter kan hê. 

In Tuisonderwys is daar nie 'n 'one size fits all' nie. Elke gesin is uniek, so ook elke kind. Wat vir een persoon goed is, is moontlik bog vir 'n volgende. Mense raak slawe van boeke en kurrikulums. Ouers raak so betrokke in gesels forums en die internet dat hulle kosbare tyd saam met hulle kinders verloor. Mense raak behep met tegnologie en die ewige selfoon in die hand. Jou kind soek tyd van jou. Speel saam met jou kinders, maak dit vir hulle lekker om te Tuisonderwys. Leer gebeur nie net met 'n boek in die hand en sit by 'n tafel nie. Elke dag elke oomblik is 'n geleentheid om iets te leer.

Tuisonderwys is nie aldag maklik nie. Daar gaan dae wees wat jy baie mismoedig voel. Die enigste manier om deur daai dae te kom is om op jou kniee voor die Here te gaan.

As jy nie 'n verhouding met God het nie, is dit tyd om daar te kom. Hy is die een wat ons krag, wysheid en insig gee. Niemand kan dit sonder die Here maak nie.

Tuisonderwys in Afrikaans se Facebook groep mag dalk gesluit wees. Daai hoofstuk is gesluit, maar Tuisonderwys vir ons wat Afrikaans is sal altyd leef.

Maak die beste van elke dag. Spandeer tyd saam met jou kinders. 

Groete

Maryna

Monday, 10 February 2014

SOTW - Hoofstuk 2 Egiptenare langs die Nyl Rivier

Ons het verlede week in ons studie van Story of the World Hoofstuk 2 geleer oor die Egiptenare wat langs die Nyl rivier gewoon het.

In hierdie hoofstuk het hulle twee dinge geleer:
Die vloede van die Nyl en watter nut dit vir die boere ingehou het. Die mite verhaal hoekom die Nyl een keer 'n jaar oorstroom het.
Hulle het ook geleer van die twee koningkryke van Egipte en hoe hulle een geword het. Die storie agter Koning Narmer se twee-kleurige kroon.

Leer op Mieliestronk meer oor die mense en die antieke beskawings en ook Die Nyl van die Farao's.

Die kinders het begin om 'n pratige 3D kaart van die Nyl Rivier te maak van koerant en gom. Ongelukkig het 'n klomp goggas besluit om dit hul huis te maak terwyl dit besig was om droog te word. Die projekte het egter in die asblik beland voor die heeltemal klaar was.

Die foto hieronder is 'n beweegbare Koning Namer wat hul gemaak het. Jy kan die mannetjie HIER aflaai. Daar is 'n opsie vir 'n kleur een of een wat die kinders self kan inkleur. 




In die video hieronder kan jy sien hoe die twee Egiptiese dele een geword het.




Kunswerke van Koning Narmer met olie pastelle gedoen.


Makayla se kunswerk

Matthew se kunswerk

Op Artfactory se blad is daar 'n groot verskeidenheid van Egiptiese kunswerke wat julle kan doen.

Hier is 'n oulike Egiptiese geheuspeletjie wat jy kan aflaai en uitdruk.


Ek vertrou dat hierdie idees julle kanhelp met jul Egiptiese studies.

Groete

Maryna

Wednesday, 5 February 2014

Prettige bordspeletjies

Ons is baie groot aanhangers van animasie films.

Ek het op twee oulike drukbare bordspeletjies afgekom. Sien hieronder die skakels na waar dit afgelaai kan word. 

Ek het dit uitgedruk in volkleur op karton en dit oorgetrek met Contact Film. (daai plak plastiek) Dit help dat die speletjies lank mooi bly.

Die instruksies van hoe om die speletjies te speel is ingesluit in die aflaai dokument.

Hier is die speletjie wat gebaseer is op die karakters in die animasie film Rise of the Guardians.

Laai die speletjie HIER af. 



Hier is nog 'n prettige speletjie wat gebaseer is op die animasie film Turbo.

Laai die speletjie HIER af. 



Lekker speel

Groete

Maryna