Wednesday 17 May 2017

Wat regverdig kurrikulum kostes?

Elke jaar koop ons almal moontlik duisende rande se kurrikulum of verskeie boeke om in ons Tuisonderwys te gebruik.

Dit is geen geheim dat die pragtige kurrikulums met al sy bygevoegde boeke en addisionele bronne meestal van Amerika af kom. Ons monde water behoorlik as ons sien wat alles daar buite beskikbaar is. Bob Jones, Abeka, IEW, Apologia net om 'n paar te noem. Die boeke word gewoonlik saamgestel deur 'n span kenners.

Vir ons om kurrikulum van oorsee aan te koop, beteken nie net boeke in dollar pryse nie, maar natuurlik ook die kostes om dit in Suid Afrika te kry en dan ook doeane kostes. Dit is genoeg om enige persoon te laat sidder of twee keer te laat dink. Tog is ons steeds bereid om daai kostes te betaal. Ons moet in ag neem dat hierdie boeke deur massaproduksie gedruk en versprei word. Duisende boeke word elke jaar verkoop.

Kom ons kyk na ons plaaslike kurrikulum/boeke verskaffers. Hier verwys ek nie na die gewone CAPS boeke ens. Ek verwys na boeke wat Tuisonderwys moeders saam gestel het. Daar word menigte ure in die saamstel van boeke gespandeer. Tyd wat daai moeder saam met haar kinders kon spandeer het (ja, die ander vat ook tyd, alhoewel die ander groot name dit voltyds vir 'n lewe doen). Baie navorsing wat gedoen moet word. Hierdie alles om te verseker dat ons wat in Suid Afrika die produkte aankoop gelukkig sal wees met wat ons ontvang. Hierdie kurrikulum/boeke/kursus is nie massaproduksie nie. Die word op aanvraag gedruk met groot koste uitgawes. Dit word noukeurig verpak en aangestuur.

Wat regverdig die kostes van die plaaslike kurrikulums in vergelyking met buitelands? Dit is bloot die reg op keuse.

Kom ons kyk gou na net 'n paar om te noem 15 Minuut Afrikaans, Footprints of our Land, Omvattende Afrikaans, Toetentaal Afrikaans en Somme(r) Pret (skuus as ek iemand uitlaat) Ons kan probeer vergelyk dat 'n jaar studie boek met Studenteboek en Onderwyser van Platinum bv. R400 sal kos. Waar 'n program soos 15 Minuut Afrikaans wat ook oor 'n jaar strek ook net oor die R400 sal kos. Maar dan bv. 'n engelse skryfprogram sal jou 'n paar duisend uit die sak ruk as jy dit van oorsee bestel.

Indien jy 'n plaaslike Tuisonderwys moeder wil ondersteun of dalk net eenvoudig daai spesifieke program gebruik. Hou die volgende in gedagte voor jy dalk voel die prys is nie bekostigbaar nie.
- Is die boeke gedruk en hoe?
- Word dit per aanvraag gedruk? Boeke wat honderde op 'n slag gedruk word kos goedkoper, dit is egter net nie prakties vir die Tuisonderwys ouer of samesteller om dit te doen tensy jou beursie nie 'n bodem het nie.
- Waaruit bestaan die program?
- Oor hoe lank tydperk strek die program?
- Kan 'n opvolg kind dit weer gebruik?
- Uit hoeveel bladsye bestaan die program? Wat het jy addisioneel nodig?
- Indien 'n elektroniese formaat beskikbaar is, hou in gedagte dat jy geen posgeld op dit betaal nie en is dadelik beskikbaar.

Baie ouers koop boeke aan met die wete dat hul dit weer kan verkoop. Sommiges voel dat elektroniese boeke nie die prys waardig is omdat hul 'niks' weer daaruit kan kry. Jou kind het egter 'n hele jaar se kennis ontvang danksy 'n ander ouer se deursettings vermoë. As jou kind in 'n publieke skool was, sou jy ook niks terug kry na jy 'n jaar R20000 plus aan net skoolfonds betaal het nie, behalwe 'n rapport en 'n kind wat hopenlik gevorder het.

Ondersteun gerus om plaaslike kurrikulum/boek/kursus verskaffer. Hul skryf die produkte juis vir ons wat Tuisonderwys.

Ek sal graag julle insette wil hoor.

Groete

Maryna

NB: Indien jy 'n produk elektronies koop, moet dit asb nie aangestuur vir iemand anders nie. Respekteer die kopiereg daarop.

3 comments:

ElizevdM said...

Dit is uitstekend dat ouers na vore getree het en hierdie kurrikulums opgestel en beskikbaar gestel het vir ons.

Ons het egter nog meer sulke ouers nodig, wat miskien as (vorige) beroep gespesialiseer het in rigtings soos die wetenskappe, aardrykskunde/geologie, geskiedenis (alhoewel die professors en geleerdes hier in Suid-Afrika 'n goeie werk gedoen het met boeke oor Suid-Afrikaanse geskiedenis), wiskunde, ens.

Watter ander rigtings is ook al gedek deur Suid-Afrikaanse ouers? Ek dink daar is verskeie produkte oor kuns/kunstenaars?

Unknown said...

Dankie Maryna dat jy dit so mooi uiteen sit. Met soveel opsies vir boeke en kurrikulums is dit soms moeilik om te kies wat reg sal wees vir jou kinders.
Maar wanneer iets deur 'n Suid-Afrikaner geskryf is, en spesifiek vir tuisonderrig in hierdie land, dan weet mens die hart van daardie werk is waar jou hart ook lê: jou kinders se opvoeding. Kurrikulums moet nie slegs gekies word op grond van prys nie, maar eerder volgens dit wat die program vir jou kind kan beteken.
Iets wat wonderlik vir 'n ouer/mamma lyk, is dalk net nie so wonderlik vir die spesifieke kind vir wie dit aangeskaf word nie.

Laastens, dit is net wanneer mens iets self doen (soos om 'n kurrikulum op te stel) dat mens regtig besef wat so 'n projek behels. Vir baie van ons wat dit doen, het dit begin met iets wat ons vir ons eie kinders opgestel het. Maar omdat daar 'n behoefte daaraan is, maak ons dit wat ons 'ontdek' het beskikbaar vir ons mede-tuisskolers, met die hoop dat ander kinders net soveel genot en nut daaruit sal put soos wat ons eie kinders het.
Eindelose ure en energie word spandeer om so iets op die been te kry, en die ondersteuning van die gemeenskap maak hierdie werk net soveel makliker - ons is immers almal in dieselfde boot met tuisonderrig: kwaliteit opvoeding met vryheid om die kind se potensiaal te bereik.

So, BAIE DANKIE vir jou skrywe om ouers die insig te gee dat 'n boek nie net 'n hopie papiere is wat gebind is nie - dit is iemand wat ure sit en hulself in daardie blaaie inskryf, al hul passie, energie, kennis en ervaring. Die kind sit dan elke keer by hierdie leermeester en werk, elke keer as hy daardie boek oopmaak. Om boeke te kies wat vir jou kind WERK behoort die grootste oorweging te wees met kurrikulums aankoop, en om raad te kry hieroor by mense in dieselfde boot is 'n goeie begin.

Maryna Moolman said...

Dankie vir die inloer Elize en Erika.

Elize, daar is seker nog baie produkte waarvan ek nie bewus is en wat ek ook nie hier genoem het nie. Ek beoog om 'n lys saam te stel van alles deur plaaslike Tuisonderwys ouers.

Erika,baie waar wat jy noem. Op die einde van die dag is ons kinders ons motivering en ons grootste ondersteuners. Alle sterkte met jou produkte ook.

Post a Comment