Tuesday 17 January 2017

Nuwe Afrikaanse Taalprogramme

2017 Het beslis baie goed vir ons begin wat ons Tuisonderwys betref.

Die lekker sappige kersie op die koek is ons gebruik twee splinternuwe Afrikaanse taalprogramme. Hoe lekker is dit. Tuisonderwysers sukkel werklik om goeie Afrikaanse taalprogramme in die hande te kry en hier is ons in 2017 met sommer twee splinternuwe programme.

15 Minuut Afrikaans en Toetentaal Taalkunste Program. Alhoewel albei Afrikaanse taalprogramme is, verskil hulle hemelsbreed van mekaar. En ons is mal oor albei en gebruik albei. 

15 Minuut Afrikaans Voorbladsye van Onderwyserboek en Studenteboek
Ek kan sommer al hoor dat mense vra, hoekom gebruik ek albei, is een nie voldoende? Ja, een is voldoende op sy eie. Maar soos ek genoem het hulle verskil so baie van mekaar. Ons het besluit om albei te gebruik om die volgende redes:

Toetentaal Taalkunste Program Voorblad van Boek 1
Ek toets graag nuwe produkte in die mark. Dit is die enigste manier om werklik eerlike terugvoering en aanbevelings te gee. 

15 Minuut Afrikaans is gebaseer op die Engelse Fix It program van IEW. Ons is bekend daarmee, ons hou van die formaat en hoe elke woordsoort bekendgestel en geoefen word. 

Alhoewel my kinders al heelwat ouer is as die teikenmark vir die eerste boek van Toetentaal Taalkunse Program, het ek steeds besluit om dit te gebruik om die gevoel te kry en deur die benadering te werk. Ons het nog nie tevore Charlotte Mason se benadering gebruik nie en geniet nou hierdie manier van werk.

My kinders geniet werklik albei baie. Dit neem nie so baie tyd in beslag nie. 

15 Minuut Afrikaans is in e-formaat beskikbaar. (Weereens net almal daaraan herhinner asseblief respekteer die skryfster se harde werk en moet nie die boeke vir jou vriende aanstuur nie. Ondersteun haar deur dit nuut te koop. Dit is egter teen die wet om digitale produkte weer te verkoop ens.)

Toetentaal Taalkunste Program is in 'n gedrukte boekformaat beskikbaar.

Ek sal binnekort meer volledige terugvoering plaas oor elke program in afsonderlike skrywes. Gaan loer gerus solank na die boeke en waaroor dit gaan.


Groete

Maryna



0 comments:

Post a Comment