Thursday 8 September 2016

Teaching Textbooks vs. Math U See

Ons het laat in verlede jaar oorgeskakel na Teaching Textbooks toe. Math7 om presies te wees.


 

Voor ek my hele opinie oor die program gee, wil ek net weer noem ons rede hoekom ons dit begin gebruik het. My kinders het vir 'n hele paar jaar Math U See gebruik waaroor ek nooit genoeg kan praat nie. Hul het egter met tye lank gedraai en dit het 'n groot hap uit ons dag geneem en dan kom ons nie by al die ander dinge uit nie. In alle eerlikheid wil ek nie tot laat middag nog skoolwerk doen nie ;) Ek het dit gesien as 'n tyd waar die kinders op hul eie kan werk, verantwoordelikheid neem vir hul werk en pogings en bietjie meer tyd beskikbaar maak. Hier is my vorige skrywe oor my besluit om Teaching Textbooks te probeer en hoe dit werk.

Die kinders het ongeveer 'n week of twee terug klaar gemaak met Math7 en hier sit ons nou. Ek het gewik en geweeg en was onseker Teaching Textbooks of Math U See vir Pre-Algebra. Watter besluit ek ookal sou neem sou bepaal wat ons vir die hele Hoërskool gaan gebruik want ons verander nie weer nie.

Teaching Textbooks is baie duur nuut. Math U See kan ook taamlik prysig wees afhangende van wat jy moet aankoop. Ek koop twee studente boeke altyd aan wat die prys baie meer maak. Ek het altyd probeer om boeke tweedehands te kry om kostes te bespaar. Na baie oorwegings het ek my finale besluit gemaak vir die pad vorentoe. Math U See het weer gewen. Ons begin binne die volgende paar weke met MUS Pre-Algebra.



Nou wat dink ek eerlikwaar van Teaching Textbooks? Dit is oulik! Die kinders geniet dit. Matthew het sy Wiskunde jaar geeindig met 93% en Makayla met 94%, dit werk dus.

Maar, ja daar is 'n maar ongelukkig. Die prys het 'n baie groot rol gespeel. Dit is eenvoudig net nie bekostigbaar vir ons nie. Ek hou nie van die spirale sisteem nie. Soos wat die skole werk, bietjie dit, bietjie dat. Daar is in my opinie net nie genoeg oefening van nuwe probleme nie. Matthew het baie dae hande in die hare gesit. Daar was trane en daar was oplossings.

My opinie, is presies dit, net myne. Baie mense sal sê dit is vrot, dit is agter. Ander sal sê dit is fantasties. Dit is baie belangrik om mooi te besluit wat jul wil doen en wat jul wil bereik voor jul sulke groot finansiële besluite neem. As iets werk, hou by dit!! Moet nie baie rond kyk wat alles op die mark is nie. Dit kan 'n mens se kop behoorlik deurmekaar krap.

Lekker somme doen :)

Groete

Maryna 

2 comments:

ElizevdM said...

Ek is bly julle het reg gekom met MUS. Finansies speel maar altyd 'n rol, soos ek ook nou gesien het. Wat die wiskunde aanbetref, ek moet erken dat ek al hoe meer van MUS se metode van een konsep op 'n slag begin hou, en al hoe minder van die spiraal leer metode.

Maryna Moolman said...

Hallo, as 'n mens nie iets probeer sal 'n mens seker nooit weet wat is reg vir jou nie. Vir party mense werk die spiraal systeem, glo dit is maar omdat ons almal met dit groot geword het. So verskil mense maar :)

Post a Comment