Tuesday 21 July 2015

Uit 'n Tuisonderwys moeder se pen

Marelize Keyter, veteraan Tuisonderwys moeder het die skrywe vandag op die Tuisonderwys yahoo forum geplaas. Met toestemming plaas ek dit hier.

Dit is vir almal wat nuut is in Tuisonderwys. 


"Gereeld sien ek hierdie opskrif op die e-poslys.

Gewoonlik met vrae en stellings soos: Ons is nuut in tuisonderwys. Moet ons registreer? Watter kurrikulum moet ons koop? Watter is die beste Afrikaanse kurrikulum? Ens...

En ek wag vir die antwoorde op hierdie vrae.

Want sien, na meer as 10 jaar op die pad van tuisopvoeding (en dis maar betreklik kort, daar is ander gesinne wat my jare voor is) het ek die hele sirkel voltooi...maar genadiglik darem nie oorweeg om die kinders terug te sit in die skool nie!

Dit bly interessant om te sien hoe ander ouers raad vra, dit kry en in die wind gooi. Maar miskien is dit juis daardie eiewyse wegdraai en self koers kies wat TO anders maak.

Ons besef "iets" is fout in die hoofstroom-skooltipe onderwys, maar ons kan om de dooi dood nie daarvandaan wegbeweeg nie. Ons klou erger as 'n neet aan 'n kleuterkop.

Ongeag hoeveel veterane aan nuwelinge verduidelik dat kurrikula die allerlaaste ding is waaroor jy jou moet kwel, dit bly die nr 1 vertrekpunt. So asof die kurrikulum aan jou vastigheid in 'n totaal onseker veld en wêreld sal gee. Dan ruk ma pa se tjekboek uit, laat die kredietkaart sing en binne minute is R20 000 van bank verwissel....maar geen waarborg vir enige leer, onderwys en veral opvoeding is gegee nie. Geen.

Die indrukwekkendste kurrikulum kan op die rak staan en stof vergader, gewoonlik omdat dit vir 'n skoolsituasie geskryf is. Ekself het al na kurrikulums gekyk en gewonder watter graad ek as ouer nodig het om  enigsins te verstaan wat van my verwag word. Dit is doodeenvoudig nie prakties vir 'n huisgesin met kinders van verskillende ouderdomme, belangstellings en leerfases nie. Dis absurd.
Die gesinsdinamika het nie verander in 'n skoolklaskamer nie. Die telefoon lui, die rys brand, die tuinjong het sy toon met die grassnyer bygekom, Liesbeth daag nie op nie, dinge gebeur. En as pa van die huis af werk, soveel te meer. Hiermee het geen kurrikulumskrywer tred gehou nie, want nie een van hulle het tuisonderwys gedoen nie, bloot onderwys.

En eerlik, 'n onderwyser verstaan nie die "werklike" lewe nie. Hulle opleiding en realiteit is bloot klaskamers. Verwaterde, kliniese, stukkies van die werklike, kleurryke en aksiebelaaide, polsende lewe.

Hoekom wil ouers dan hul kinders, wat hulle juis nou uit die skool gehaal het, terugsit in 'n miniatuur laboratorium?

Leef die lewe!!

Gebruik die lewe as kurrikulum. Benut elke dag se onbenullighede as leergeleenthede. Stap op 'n koue wintersoggend uit en blaas in die lug. Let op hoe "rook" die hele gesin. Gesels oor waterdamp, kook die ketel en let op die stoom. Hang wasgoed op en los die raaisel oor waar die water heengaan op. Plant saadjies, laat bone oornag in water opswel, spit erdwurms uit. Hou 'n jagspinnekop dop, besoek 'n plaas, die winkels, die biblioteek, hospitaal, brandweer, poskantoor, bank. Leer jou kinders hoe om met geld te werk, laat hulle bak en brou. Leef bloot jou lewe...dis al wat regtig nodig is. Dis kurrikulum genoeg.

Lees, lees en lees. Verryk jou kind se verbeelding, verbreed hul woordeskag en algemene kennis. Vergeet daarvan dat hulle op 6 self moet lees, dis belaglik. Lees eerder self goeie opvoedkundige boeke (Better late than early, deur Raymond en Dorothy Moore; How children Fail en ook How children Learn, deur John Holt; Om seuns groot te maak deur James Dobson) en staan verstom voor die almag van ons Skepper wat die vermoë tot leer in elkeen geplant het, en elkeen individueel tot wasdom lei. Geen twee kinders ontwikkel teen dieselfde tempo of leer enigiets op dieselfde moment aan nie. Jy gaan jou kinders 'n groter onreg aandoen deur hulle te vroeg te druk.

Lees hardop voor. Verbreed horisonne, breek onbekende wêrelde oop en verryk hul karakter.
Gooi weg: TV, videos, rekenaarspeletjies (veral die opvoedkundige tipe), dank die bediende af en laat die kinders verantwoordelikheid in die huis aanvaar.

Ek het aan die begin gesê dat ek die sirkel voltooi het.... ons het. Kurrikulum regdeur tot volbloed "unschooling".... en ons kinders het die meeste geleer die moment toe ons opgehou het om vir hulle te wil leer.

Kinders leer vanself. Maar net wanneer ouers terugstaan en hulle toelaat om self te leer.
Raak self stil, en gaan dink baie mooi na oor wanneer jy werklik iets geleer het.

Groetnis
Marelize Keyter
Tuisopvoeder sedert 2005, ma van Leticia (20, GED en Montessori-opvoeder), Henry (18, GED en aspirerende student), Johan (13) en André (11). Boervrou, wiskunde ekstra-klas tannie en passievol oor TO."

Ek kon nie dit beter gestel het as Marelize nie. 


Groete

Maryna

2 comments:

Anonymous said...

Jip, so waar! Ek kry self baie navraag van nuwe TO gesinne en die eerste vraag is: "watter kurrikulum?" Dit is TuisOpvoeding mense, nie TuisSkool nie. Ons is self sterk oppad na grotendeels "unschooling", met net taal en wiskunde as 'n weeklikse "skoolwerk", maar selfs die is nou meer in die vorm van voorlees en bespreek (en wiskunde is doen) as om blokkies en strepies in te vul. Die seuns leer soveel meer, en is so leergierig!
Persoonlik het ek nie 'n probleem met opvoedkundige speletjies op die rekenaar of bordspeletjies nie, want dit hang af WATTER speletjies jy kry en gebruik. Die formele goed wat skole gebruik? Glad nie!
Maar nou ja... ons kan baie en lank oor hierdie goed gesels. Party mense leer van ander; ander moet weer self die koppie stamp om te leer.

Maryna Moolman said...

Ons self geniet ook opvoedkundige speletjies.

Post a Comment