Wednesday 12 February 2014

Geslote hoofstukke

Ons almal kom op 'n punt van ons lewens waar ons baie moeilike besluite moet neem. Dit is nie altyd ten goede van ander nie, maar dit moet geneem word.

Vandag na amper 2 jaar nadat ek die Facebook groep Tuisonderwys in Afrikaans geskep het, het ek dit gesluit. Dit is 'n hartseer dag vir my. Tuisonderwys in Afrikaans was spesiaal, dit was 'n plek waar uitsluitelik mense wat in Afrikaans Tuisonderwys ekstra raad en hulp kon verkry. 'n Plek waar hulle idees kon uitruil en Afrikaans as taal bevorder.

Die groep het in die tyd van sy bestaan baie sterk gegroei. Soos met enige iets in sosiale media was daar ongelukkig ook nie altyd goeie oomblikke nie. Die laaste maand was daar 'n skielike ontploffing in die hoeveelheid mense wat wil begin Tuisonderwys, wat natuurlik ook goed is.

Dink hieroor: Wat is mense se redes agter die besluit om te Tuisonderwys? Neem die mense die besluit as 'n werklike roeping van die Here? Wat het God in jou hart geplaas? Gaan jy Hom gehoorsaam? Gaan jy dat Hy jou die pad wys, of gaan jy na mense luister?

Mense wat nuut in Tuisonderwys is verwag soms ook dat diegene wat al lank Tuisonderwys hul hand moet neem en hulle stap vir stap deur die proses moet neem. Ongelukkig is die realitieit van Tuisonderwys 'n 'trail and error' reis. Ons wat al 'n geruime tyd Tuisonderwys, het werklik baie navorsing gedoen deur boeke te lees. Facebook kan 'n goeie hulpmiddel wees as jy dadelik net gou raad wil kry of ietsie wil deel. In werklikheid is dit ook oppervlakkig. Mense se opinies verskil baie. Dit is ook ongelukkig so dat dieselfde mense oor en oor vir raad vra en werklik nie daarna 'luister' nie. 

Tuisonderwys is 'n baie intieme leefstyl. Dit is baie tyd wat jy daarin belê om jou kinders te leer volgens hoe God wil hê hulle geleer moet word. Hulle moet 'n verhouding met die Here bou, hulle moet goeie karakter kan hê. 

In Tuisonderwys is daar nie 'n 'one size fits all' nie. Elke gesin is uniek, so ook elke kind. Wat vir een persoon goed is, is moontlik bog vir 'n volgende. Mense raak slawe van boeke en kurrikulums. Ouers raak so betrokke in gesels forums en die internet dat hulle kosbare tyd saam met hulle kinders verloor. Mense raak behep met tegnologie en die ewige selfoon in die hand. Jou kind soek tyd van jou. Speel saam met jou kinders, maak dit vir hulle lekker om te Tuisonderwys. Leer gebeur nie net met 'n boek in die hand en sit by 'n tafel nie. Elke dag elke oomblik is 'n geleentheid om iets te leer.

Tuisonderwys is nie aldag maklik nie. Daar gaan dae wees wat jy baie mismoedig voel. Die enigste manier om deur daai dae te kom is om op jou kniee voor die Here te gaan.

As jy nie 'n verhouding met God het nie, is dit tyd om daar te kom. Hy is die een wat ons krag, wysheid en insig gee. Niemand kan dit sonder die Here maak nie.

Tuisonderwys in Afrikaans se Facebook groep mag dalk gesluit wees. Daai hoofstuk is gesluit, maar Tuisonderwys vir ons wat Afrikaans is sal altyd leef.

Maak die beste van elke dag. Spandeer tyd saam met jou kinders. 

Groete

Maryna

6 comments:

Anonymous said...

Elke woord is so waar, veral dat ons dit nie sonder ons God, ons geloof, krag en hoop vir die dag kan aanpak nie.
Maar ek verruil dit vir niks in die wêreld nie. Ja, ons het ons op en af dae, maar die samesyn met my kinders. Die liggie in hul oë, of selfs in my oë as ek iets nuut snap, is net te kosbaar om te mis.
Ek persoonlik probeer ook my Fb tyd baie inperk, maar dit is moeilik.
Hierdie is 'n nuwe begin vir jou, of 'n hartseer einde, maar weet dat jy regtig 'n hele klomp mense daagliks gehelp het.
Hulle kan regtig maar hier ook kom gesels en nog raad kry, want ek leer nog steeds ontsettend baie by jou.

Maryna Moolman said...

Baie dankie Elize. Jou ondersteuning beteken baie vir my.

Unknown said...

Hallo Maryn, Ek was ook van die begin af by jou FB groep en het vreeslik baie geleer. Ek het baie goeie raad daar gekry en het almal se kommentare altyd geniet en waardeer. Ek mis die groep baie, maar wil vir jou baie dankie se vir alles! Sterkte met jou pad vorentoe. Ek bid dat die Here jou en jou gesin ryklik sal seen op julle TO pad vorentoe. Soos Elize ook gese het - Ons kan die pad nie sonder die Here stap nie. Groete Hannelize

Maryna Moolman said...

Dankie vir die seenwense Hannelize, dieselfde vir julle ook.

Unknown said...

Ek mis jou net so baie op Facebook, maar het ongelooflike respek vir jou besluit. Dit is so maklik om ure voor die rekenaar te regverdig met "navorsing oor tuisonderrig". Dis so waar wat jy sê: Niks kan opmaak vir tyd saam met ons kinders nie.

Maryna Moolman said...

Dankie vir die inloer Lenda. Mens raak so 'betrokke' in dinge soms, dan 'n mens vergeet wat werklik belangrik is.

Post a Comment