Ek was die vraag gevra of ek dink Tuisonderwys is minderwaardige onderwys. Lees gerus my mening hieroor.
Dit kan geensins as minderwaardig beskou word nie, dit is net ’n meer
individuele metode van onderwys. Party ouers verkies om hul kinders in
duur privaatskole te sit en ander het die voorreg om hulle kinders te
tuisonderwys.
Tuisonderwys is nie daar om die ouer se ego te streel nie,
dit is daar om die beste belange van die kinders op hul hart te dra.
Die kinders kry 100% individuele aandag, daar kan gefokus word op areas
waarmee hulle sukkel. Elke kind is anders en as ’n kind uitblink in ’n
sekere area kan daaraan ook gewerk word en dit kan help dat die kind nog
meer dinge bemeester.
Tuisonderwys kan nie gesien word as
sit by die huis en niks doen nie, inteendeel is daar baie werk daarin en
baie verantwoordelikheid van die ouer wat die skoling gee.
Voorbereidings moet gedoen word, onvoorwaardelike voltydse aandag, uitstappies moet gereël word en nog meer.
Die tuisonderwys jaarlikse matriek slaagsyfer is baie hoër as wat die
staat nog ooit kon bereik. In 2012 se Ana toetse is daar weer bewys dat
meer as 61% van kinders in die hoër grade nie Wiskunde kon doen nie.
Daar was nog nooit sulke gevalle onder tuisskolers nie. Tuisskolers
presteer baie hoër as kinders van hulle eie ouderdom in hoofstroom
skole.
Behalwe vir die goeie onderwys opvoeding wat
tuisskolers ontvang by die huis, is hul ten alle tye veilig. In die
laaste jaar was daar menigte gevalle van kinders wat aangeval was op die
skoolterrein hetsy met ’n mes en selfs geskiet, daar was ook gevalle
van verkragting. Dit is ons as ouer se plig om te verseker dat ons
kinders altyd veilig is, dit beteken nie ons plaas ons kinders in
kokonne nie, dit beteken dat ons net die beste vir hulle wil hê.
Kinders in hoofstroomskole word blootgestel aan geweld, slegte morele
waardes van ander kinders en groepsdruk. Hulle kan ook net verstandig
kommunikeer met ander kinders van hul ouderdom. Tuisskolers kan op alle
vlakke kommunikeer, dit kan die dame by die biblioteek wees, die seniors
by ’n ouertehuis, op die sportveld en nog vele ander plekke. Hulle kry
baie meer blootstelling tot mense van alle ouderdomme en alle areas van
die ‘regte’ wêreld daar buite.
Om kinders te kan tuisonderwys is ’n baie groot voorreg en moet as ernstig beskou word.
Groete
Maryna
No comments:
Post a Comment